Ek het die Here gesien – Johannes 20:1-18

Jaar van die Bybel 2020
Tema: Ek het die Here gesien – Johannes 20:1-18
Somerstrand 09:00 12 April Paassondag

VIDEO OP YOUTUBE

Verwelkoming

My wêreld, maar is dit nou ‘n plesier om soveel mense van soveel plekke te sien inskakel. Uit Humansdorp, uit Riebeeck-Oos, uit talle plekke in ons land en in die wêreld. Bekendes en vriende wat ons nog moet leer ken. ‘n Gemeenskap van 111 families en lidmate wat gelyk gekyk het na die Goeie Vrydag diens, en aan die einde van die dag 300 keer gekyk is. Die Tenebrae diens het Saterdag al by die 500 kyke getrek.

  • Ek wys ‘n paar van die foto’s wat lidmate ingestuur het van hulle nagmaalvieringe. Dit was baie spesiaal om dit so te kon instel.
  • Verjaarsdae: Linda Botha, Rien Du Preez, Nico Prins, Barendene van der Merwe Emma Van Heerden. Baie geluk. Bel en reik uit na mekaar dié week. Die verjaardae is nou op die skerm.
  • Ek hoop julle onthou nog van die benodigdhede vir ons Barcelona en Willowpark projek. Ek gee die lysie wat Theo vir ons gegee het net weer deur.
  • BELANGRIK: die plek waar dit afgelaai word, het geskuif na Total toe in Admiraliteitsweg. Die logistiek by Sasol het te moeilik geraak.
  • Die sopkombuis gaan nog aan. Hulle probeer afstande tussen kinders beheer. Hande was, handreiniger en almal so 300 tot 350 kry nog kos. Dankie vir julle ondersteuning! Hier is ‘n paar foto’s.
  • Elsje Nelson laat weet ook van die behoefte aan kos by ACVV Kamvalethu in Korsten. Hulle benodig ook dringend nie-bederfbare kos soos:
    • Olie
    • Suiker
    • Koekmeel
    • Gis / Yeast
    • Mieliemeel
    • Kits Mieliemeel
    • Mielies & Bone / Samp & Beans droë mengsel
    • Bully Beef
    • Pilchards
    • Knorr Soya Meals (of soortgelyk)
    • Langlewe Melk
    • Stock Cubes
    • Pasta
    • 2 Min Noedels
    • Seep en skoonmaakmiddels
  • Dit kan by afgelaai word by Cecile Lategan, Grosvenor Villas 7, 3de Laan, Summerstrand – 0415831559 of by Spreekkamer, Winkel 20, Hunters Retreat Gardens (Spar Hunters Retreat) – 0413600777

Votum en seëngroet

Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer. Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof! (Ps 30:7,12-13)

Lofsang

Lied 420:1-3 – Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem – koor

Kindertyd

Oom Jaco. Daar is inkleurprent. Jy kan dit in die nuusbrief kry of van die webtuiste of van Facebook aflaai.

Gebed

Skriflesing en prediking

Die leë graf

Die opstandingsverhale begin by die leë graf. Ons lees in Johannes 20:

1 En vroegoggend op die eerste dag van die week, terwyl dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf verwyder is.

Vir Maria beteken die leë graf net een ding. Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie. Dit moet die ander weet om haar ontsteltenis met haar te deel.

2 Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Johannes), en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”

Dit is uiteraard iets wat hulle eerstehands wil ervaar.

3 Petrus en die ander dissipel het toe vertrek en na die graf toe gegaan.

Dan kry ons die interessante stukkie detail oor die een dissipel wat ‘n bietjie vinniger as die ander was. Alles detail wat bydra tot die egtheid van die verhaal.

4 Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf aangekom.

Johannes was dus vinniger as Petrus, maar baie meer skugter.

5 Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. 6 Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, 7 en die doek wat op sy kop was. Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol.

Petrus laai hom deur niks stuit nie, en stap eenvoudig binne. En kom onmiddellik agter, die liggaam is nie weggedra nie. Die doeke is netjies opgevou en opgerol.

8 Ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, het binnegegaan, en hy het gesien en geglo.

Johannes oorkom sy huiwering en kon as tweede getuie Petrus se waarneming bevestig. Jesus se liggaam is nie weggedra nie. Anders sou Jesus se liggaam in die doeke weggeneem gewees het.

Maar, wat het dan met Jesus se liggaam gebeur? Soos Johannes later skryf:

9 Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie.

10 Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie vir hulle sin nie. Duidelik het die dissipels nie rekening gehou met die moontlikheid dat God Jesus uit die dood sou opwek nie. Vir hulle is die graf, nou die leë graf, nog onverstaanbaar.

Wat vir ons sê, die leë graf op sy eie help ons nog nie om in Jesus Christus te glo nie. Ons het meer nodig.

En dit is wat dan gebeur.

Die ontmoeting met Jesus

11 Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk, 12 en twee engele met wit klere aan daar sien sit waar die liggaam van Jesus gelê het — een waar sy kop en een waar sy voete was. 13 Hulle sê toe vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” 14 Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie. 15 Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” 16 Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy draai toe om en sê vir Hom in Hebreeus: “Rabboeni!” Dit beteken Leermeester. 17 Jesus sê vir haar: “Moet My nie aanraak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’ ” 18 Maria Magdalena gaan vertel toe aan die dissipels: “Ek het die Here gesien,” en dat Hy hierdie dinge vir haar gesê het.

Maria huil dus oor die leë graf. Eers was daar darem nog die liggaam van die Here, wat sy volgens Joodse gebruik sou kon versorg. Maar nou is daar niks. Sy dink dat die liggaam van Jesus miskien weggeneem en iewers anders begrawe is.

Maria se ontsteltenis verander egter die oomblik wanneer Jesus Homself aan haar openbaar. Jesus noem haar op haar naam: “Maria!” Oombliklik herken sy vir Jesus. Sy roep uit: “Rabboeni! Leermeester!”

Op hierdie oomblik, in die ontmoeting met die lewende opgestane Jesus, ontdek sy Jesus se ware identiteit. Soos sy dan vir die ander dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!”

Jesus is Here

Maria en die dissipels se ontdekking van Jesus se ware identiteit as die Here, is die fokus van die Johannes evangelie. Die belofte van Johannes 1 dat Jesus God is, die verskeie “Ek is”-uitsprake oor Jesus in Johannes, soos: “Ek is die lig vir die wêreld” (Joh. 8:12) of “Ek is die Goeie Herder” (Joh. 10:11), dié word nou vervul.

Maria Magdalena eien Hom in die teks as die een wat sy as haar geliefde Leermeester geken het, maar nou ook as meer as dit: “Hy is die Here”, sê sy vir die ander dissipels. En aanstons kry Tomas die twyfelaar die voorreg dat Hy kan sê wie Jesus regtig is: “My Here en my God” (Joh. 20:28).

Die opgestane Here versterk ons geloof

Presies met hierdie doel skryf Johannes se Evangelie. Sy bedoeling is om Christene, wie se lewe en wie se wêreld dikwels deur swaarkry gekasty word, aan te moedig om te bly glo dat Jesus die ware Messias, die Seun van God is.

Ons teks is die hoogtepunt van Johannes se evangelie, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh. 20:31). Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Geloof gebou op ooggetuies

Uit Johannes, Paulus en die ander evangeliste se beskrywing van die opgestane Jesus kan ‘n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ‘n werklike, verheerlikte liggaam het, want ‘n mens kan aan Hom vat, en Hy gee vir hulle kos om te eet.

Wat hulle was ooggetuies. Hulle het nie vasgesteek by die leë graf nie. Nee, hulle het die Here Jesus gesien.

Jesus was natuurlik ook anders, omdat Hy kon verskyn en verdwyn soos Hy wou. Hy was dus nie meer aan ruimte gebonde soos die dissipels nie.

Maar selfs hierdie deel van sy bestaan kon die dissipels verifieer. Hulle kon hulle ervarings met ons deel.

Dit maak dus sin, heeltemal rasionele sin, om jou geloof op hierdie getuienis te bou. Die ervarings en getuienisse van hierdie groot groep dissipels bevestig die ontmoeting van die Here Jesus as opgestane werklikheid, ‘n werklikheid wat gou die hele wêreld aan die praat gehad het en wat selfs in die geskiedskrywing van ‘n hele aantal nie-gelowiges historici ‘n neerslag gekry het, Josephus en Tacitus, om twee te noem.

Die teenwoordige Jesus

Sien, ‘n mens moet versigtig wees dat jy nie by die leë graf en die doek vashaak nie. Ten diepste glo Christene nie in die leë graf nie. Ons glo selfs in veel meer as die objektiewe feit van die opstanding. Ons glo in die lewende Here Jesus. En ons glo in die nabyheid en teenwoordigheid van hierdie Here, tot vandag toe.

Draers van hoop

Dit is waarvan die ooggetuies van Jesus se lewende teenwoordigheid getuig. Hulle het die Here gesien. Maria Magdalena het teenoor die dissipels getuig, sy het die Here gesien!

Só verander die lewende Here Jesus Petrus en Johannes se lewe, asook Tomas s’n en Jakobus en Paulus en honderde Christen getuies in die eerste jare van die kerk se bestaan.

En almal van hulle word draers van hoop – die hoop op die lewende Here Jesus, die hoop op die ewige lewe wat nie net eenmaal aanbreek nie, maar nou reeds sin en betekenis aan ons lewe bring.

Dit is aan hulle te danke dat ons vandag mense is wat self getuies is van die lewende Here Jesus en wat dié boodskap nie net voortleef in hierdie wêreld nie, maar ook vir ander daarvan vertel.

Gebed

Dankoffer en kollekte

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Snapscan

Boodskappe

  • Hier is ‘n paar boodskappe van lidmate wat vroeër die week opgeneem is. Dankie Jaco en Annemarie vir julle kreatiewe voorstelle hieroor. Video.
  • Hier is ook ‘n boodskap van Corneille du Plooy, ons sendeling in Frankryk. Video.

John Lennox

Dit is ‘n onderhoud met John Lennox – ‘n bekende Britse wiskundige van Oxford wat ook ‘n uitnemende apologeet vir die Christelike godsdiens is – Michael Ramsden gevoer het oor sy boek wat onlangs verskyn het. Where is God in in a Coronavirus World?

Dit is ‘n verstommende helder onderhoud wat verskillende antwoorde op die vraag ontleed – ook dié van ateïste – en veral die hoop belig wat God ons in hierdie tyd bied. Hy is ‘n vaardige eksegeet wat in die detail ingaan van dit teks dat die betekenis daarvan op ‘n wonderlike manier ontbloot kan word. Hy gebruik veral Johannes 11 – die opwekking van Lasarus – as die lens op lyding.

Hy haal C S Lewis aan: “Pain insists upon being attended to. God whispers to us in our pleasures, speaks in our consciences, but shouts in our pains. It is his megaphone to rouse a deaf world.”

https://youtu.be/WvLfuMlAi18

John Piper

In Coronavirus and Christ nooi John Piper lesers dwarsoor die wêreld uit om op die soliede Rots te staan, Jesus Christus. Piper is van desiringGod.org faam en kanselier van Bethlehem Kollege & Seminarium.

Piper bied ses Bybelse antwoorde op die vraag na wat God in hierdie tyd doen. Hy begin met sy eie storie van prostaatkanker en vertel hoe God deur sy Woord vir hom ‘n Rots was.

Hy gebruik die verhaal van Naomi om God se “bitter providence” te illustreer. Wat Naomi as ‘n ramp beskou het – haar seuns se dood – was die aanleidende oorsaak vir ‘n triomf van haar kleinseun Obed, seun van Rut en Boas, se deel word van die Messiaanse lyn.

En dan gee Piper ses Bybelse antwoorde op die vraag na die Coronavirus en Christus. Piper praat oor God se “thunderclap” roepstem tot bekering, maar ook die ongelooflike vryheid wat kinders van die Here reg oor die wêreld ontvang vir die nuwe wat God bring.

En ons kan alreeds iets hiervan sien in wat ons as ‘n virtuele gemeenskap begin beleef.

Die digitale weergawes is ‘n geskenk van Crossway om gratis af te laai. Daar is ook ‘n oudio weergawe. Laat dit hier af.

Slotsang

Lied 269:1-4 God bly met u waar u ook mag gaan – koor

Seën

Ek sluit met die seën van die Here.

Die Here seën jou en beskerm jou.

Die Here se gesig skyn oor jou en Hy is jou genadig.

Die Here lig sy gesig op na jou en Hy gee aan jou vrede.” (Num 6:24-26)

Respons

En die gemeente sê: Amen!

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.