Pinkster 3 – 9 Mei 2016
Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie.
Die eerste ding wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat en dat die lede van dié hemelse vergadering as “gode” beskryf word. Die vraag is dus wie dié “gode” is?
- Sommige interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”. Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word, bv. die Kanaänitiese groep afgode. Indien dié interpretasie geldig is, teken die Psalm vir God as die een wat die afgode se wanpraktyke, onreg, partydigheid en duistere praktyke aan die kaak stel en hulle tot niet maak, soos mense laat uitsterf en soos leiers van hulle magsposisie beroof (vers 7). Sommige vind hierin ook ‘n oordeel oor die politeïsme waarin die monoteïsme van Israel verheerlik word en as die enigste geldige interpretasie van die werklikheid geteken word.
- Sommige interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn. In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is, d.w.s. leiers – soos in die regspraak en die regering – en dat hulle daaroor aangespreek kan word.
In ’n sekere sin dui die “gode” dus op afgode en leiers wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (Tate).
Hier volg die hele erediens
Verwelkoming
Etienne se ma is ernstig siek. Hy en Annelet moes inderhaas Kaap toe. Geen Kinderpinkster vanaand of die res van die week nie. Ons bid vir hulle. Ons het sover ons kon almal laat weet.
Feestelike afsluiting Vrydagaand – julle kan julle name invul op die vorms in die voorportaal of vir Liésl bel by die kerkkantoor môre.
Ek moet bely, dit is ‘n uitdagende tyd met die effek van die inbraak by die huis.
Wat baie help in só ‘n tyd is om dié dinge voor die Here te bring, maar ook te dink oor die goeie dinge wat gebeur. In ons klagtes, sowel as in ons dankgebede, beleef ons die teenwoordigheid van die Here.
Ek wil julle dus nou kans gee:
- Dink oor dié dinge wat swaar op jou hart rus, en gee dit vir die Here.
- Dink oor dié dinge wat jou dankbaar stem, en dank Hom daarvoor.
Terwyl ons so met toe oë sit, kom ons sê in een sin dankie vir iets in die groot groep. Net soveel van julle as wat wil.
Toetrede
Lied 214:1-3 Here, ons sal U loof – sit
Votum en seëngroet
Lofsang
Lied 209 Heer, met my hele hart kom sing ek ‘n lofsang – staan
Lied 439:1-2 O Heil’ge Gees, o God in ons, ons wil u krag besing – staan
Lied 442:1 Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my – sit
Psalm 82
Ons gaan fokus vanaand op Psalm 82 en baie spesifiek op God se handhawing van die reg in of vanuit die hemel.
Die Psalm is op Dinsdae gebid deur die Jode met verwysing na die derde dag van die Skepping, die dag waarop God die aarde van die see geskei het om die aarde voor te berei vir die plantegroei in sy verskeidenheid.
’n Psalm van Asaf.
God staan op op die vergadering van die gode (of in die betekenis van leiers); in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak:
2”Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddelose mense partydig wees? Sela
3Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan die magteloses en verarmdes.
4Bevry die hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddelose mense.
5”Hulle (verwys na die afgode) weet niks en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister. Al die fondamente van die aarde wankel.
6“Ek het self gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal.
7Maar, soos mense (dit kan ook na Adam verwys) sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.”
8Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.
1. Die hemelse vergadering
Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie.
Die eerste ding wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat en dat die lede van dié hemelse vergadering as “gode” beskryf word. Die vraag is dus wie dié “gode” is?
- Sommige interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”. Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word, bv. die Kanaänitiese groep afgode. Indien dié interpretasie geldig is, teken die Psalm vir God as die een wat die afgode se wanpraktyke, onreg, partydigheid en duistere praktyke aan die kaak stel en hulle tot niet maak, soos mense laat uitsterf en soos leiers van hulle magsposisie beroof (vers 7). Sommige vind hierin ook ‘n oordeel oor die politeïsme waarin die monoteïsme van Israel verheerlik word en as die enigste geldige interpretasie van die werklikheid geteken word.
- Sommige interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn. In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is, d.w.s. leiers – soos in die regspraak en die regering – en dat hulle daaroor aangespreek kan word.
In ’n sekere sin dui die “gode” dus op afgode en leiers wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (Tate).
2. Die roeping van leiers
Die tweede ding wat uitstaan in die Psalm is dat dinge verkeerd begin loop het, want diegene in mag het hulle primêre werk versaak en die mense het daaronder begin ly, veral dié mense wat aan die onderpunt van die sosiale en gemeenskapsleer is. Die hulpeloses, die vaderloses, die magteloses, die verarmdes, die behoeftiges.
Ons weet dit mos intuïtief, dat die sterkstes vir die swakstes moet sorg, dat dié wat kan vir dié wat nie kan nie, moet instaan, moet sorg, moet help. Soms sien ‘n mens dit selfs in die diereryk. Ek onthou ‘n luiperd wat eenkeer vir ‘n tyd lank vir ‘n baba bobbejaantjie probeer sorg het, toe die ma bobbejaan doodgemaak is. Dit is asof die jagter, die sterker een, die ma word, die een wat sorg.
Hoeveel te meer nie onder ons as mense nie! Ons is nie “gode” ter wille van onsself nie. Ons is dit ter wille van ander.
Terloops, julle sal miskien die liedjie van Kanye West ken getiteld “I am a god” wat hy na aanleiding van Psalm 82:6 sing, maar gebruik om homself te verheerlik. Dit is ‘n ongelooflike verdraaiing van dié teks. As jy die Psalm vir jouself wil toeëien sal jy moet doen wat die gode doen, en dít is om aandag te gee aan die armes. Dit gaan nie oor jou nie, dit gaan oor die hulpeloses.
En dít is leiers se job. Om vir die magteloses en die behoeftiges te sorg.
3. God staan op vir die reg van behoeftiges
Die derde ding wat uitstaan van die Psalm is baie spesifiek die beskrywing: “God staan op in die vergadering van die gode …” (vers 1-7).
Dit is nogal ‘n anderse beskrywing van wat God doen, eintlik verrassend anders as in die res van die Bybel. Dit lyk asof God die vergadering as’t ware “gatecrash”, want Hy sit nie soos dit normaalweg in die ander hemelse visioene die geval is nie. Hy staan en vat die “gode” ernstig aan oor hulle vergrype en agtelosigheid en beëindig hulle status en invloed (vers 2-7).
Dit is asof Hy dinge moet regstel wat begin verkeerd gaan het. Daarom staan Hy. Daarom tree Hy op en oordeel die gode wat in beheer is van wat op God se wêreld aangaan.
Die implikasie daarvan is dat God baie beter as ons weet as dinge verkeerd gaan. En Hy is nie net bewus nie, maar Hy tree op, Hy stel reg, en maak reg.
Die boodskap is duidelik: God tree op namens hulpeloses, vaderloses, magteloses, verarmdes, hulpeloses en behoeftiges. Hoekom? Want, sê die Psalm, Hy het besitreg oor die aarde en al die nasies. Hy is nie onregverdig en partydig nie. Hy handhaaf die reg en Hy laat reg geskied. Hy wil hê dat hulpeloses en behoeftiges bevry word en uit die mag van goddelose mense gered word. En almal wat aan Hom verbind is, moet met Hom daarin saamwerk.
Anders wankel die fondamente van die aarde – ’n metafoor vir die gemeenskap wat in anargie en wetteloosheid verval en van die wêreld ’n onveilige, onbarmhartige plek maak.
4. God se mense staan op en tree op vir die reg van behoeftiges
En dit is die vierde ding wat ons in die Psalm moet raaksien. Waar ons met Hom rekening hou, word ons uitgenooi om saam te werk in God se werk ten behoewe van die armstes en behoeftigstes.
Dít moet dus ons gebed word – dat God sy besitreg inderdaad sal uitoefen tot bevryding en redding van hulpeloses en behoeftiges. “Staan op, o God …” Stel dinge reg. En as kerk moet ons self opstaan en ons daarvoor beywer in gehoorsaamheid aan God.
Die Psalm is daarom ‘n aanklag teen enigiemand wat die saak van magteloses versaak.
Luther het in 1530 sy uitleg van dié Psalm gebruik om ‘n appèl aan die keurvors Johannes Frederick te rig om met meer vroomheid te lewe en te regeer. Hy het die Psalm as ‘n “spieël vir die heerser” gebruik om vanuit die Woord die heersende politieke situasie aan te spreek.
Marvin Tate (Word kommentaar) sê dat die wyse waarop mense in die wêreld regeer word, is altyd vir God ’n saak van lewe of dood. Wat met mense gebeur, maak saak vir Hom. Onreg skud die fondamente van God se aarde en Hy tree op, al is dit soms anders as wat ons sou verwag, veral omdat ons nie die groter prentjie altyd kan raaksien nie.
Maar ons kan bid. Ons kan optree en die regte ding doen. Ons teologie kan nooit ’n abstrakte saak raak waarin ons nie betrokke raak by dít wat in die wêreld gebeur nie.
Ek dink dit is die motivering agter die wye reaksie op Ntokozo Qwabe se rassistiese hantering van Ashley Shultz (http://www.netwerk24.com/Stemme/Hanlie-Retief/hanlie-retief-gesels-met-ashleigh-schultz-20160508). Die publiek is aangegryp deur die onreg wat ’n “have” – kleur is van geen belang in die storie nie – aan ’n “have-not” gepleeg het. Sê Ashley oor die uitkoms van dié negatiewe optrede: “Want kyk nou net, hierdie beloning ná ’n belediging. Sy beledigings het ’n belegging geraak in genade.”
Ek weet ’n mens kan waarskynlik ander motiverings by mense raaksien, en dit is waarskynlik nie soseer geestelike motiverings nie, eerder medemenslike motiverings, maar dit kom ooreen met die Bybelse boodskap dat die magteloses deur God se mense omarm en versorg moet word.
5. God sal onregverdige leiers vernietig
Daar is vyfde aspek van die Psalm wat ons moet raaksien. Dit vind ons in die interessante gebruik van vers 6 in die NT. Jesus is in die evangelie van Johannes in gesprek met die Fariseërs, die leiers van die volk. Hulle maak beswaar dat Hy van Homself as die Seun van God praat. Jesus se antwoord aan hulle is dat die wet – hier gebruik Jesus die woord wet as ’n aanduiding van die hele OT, want die aanhaling kom uit Psalm 82:6 – self van die leiers van die volk as “gode” praat: “Staan daar nie in julle wet geskryf, ‘Ek het gesê julle is gode’ – nie? As Hy hulle tot wie die woord van God gekom het, gode genoem het – en die Skrif kan nie verbreek word nie – hoe sê julle dan van Hom wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het, ‘Jy laster,’ omdat Ek gesê het, ‘Ek is die Seun van God’?” (Joh. 10:34-36).
Geen wonder die Fariseërs wou Jesus hieroor op die plek doodmaak, want hulle het goed geweet wat Jesus daarmee bedoel het, want Psalm 82:6 gaan aan om by dié frase te voeg in vers 7: “Maar, soos mense sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.”
Wat ons moet raaksien, is die inherente konflik wat daar in Jesus se aanhaling van Psalm 82 is. Hy is nie maar net besig om ’n mooi en relevante aanhaling uit Psalm 82 van toepassing te maak op die godsdienstige leiers van sy tyd nie. Hy maak ’n fundamentele oordeel waarin erken dat hulle leiers is – Ek het self gesê julle is gode, julle is leiers, julle het, mag, julle kan goed laat gebeur – maar terselfdertyd hulle oordeel aan die uitoefening van daardie leierskap.
En omdat hulle nie besig is om na die hulpelose en die behoeftiges, die vaderloses en die magteloses en die verarmdes uit te reik nie, sal God hulle nie net uit leierskap haal nie, Hy sal hulle tot ’n val bring, hulle vernietig.
Hoekom? Want hulle doen nie waarvoor God hulle in leierskap aangestel het nie, en Hy het die mag oor nie net die aarde nie, maar oor die nasies.
Ons moet vir geen oomblik dink dat ’n dwase leier vir altyd sal bestaan nie. Die wiele van geregtigheid draai, al is dit stadig. En die uitsprake wat tel oor leiers, is nie hulle eie beoordeling, of dié van hulle volgelinge nie. Dit is God wat uitspraak lewer in die teenwoordigheid van die gode en hulle oordeel oor hulle onreg en partydigheid en uiteindelik reg sal laat geskied aan dié wat onder hulle hand lei.
6. Die Psalm is ’n uitnodiging om in te tree vir die magteloses
Dit is die tipe besluit wat die Here telkens neem in die hemel, en waarvoor ons moet bid, dat sy koninkryk en sy geregtigheid sal kom. Dit is waarom die gebed in die Ons Vader so belangrik is: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” (Matt. 6:10).
Ons moet by God pleit dat wat Hy in die hemel besluit oor die maghebbers hier op aarde inderdaad uitgevoer sal word. God se wil is dat die boosheid van mense opgehef sal word, dat die dwaasheid van regerings tot stilstand geruk word en sy koninkryk van vrede en geregtigheid gevestig sal word.
En ons werk daartoe mee, deur self aandag te gee aan die hulpeloses en behoeftiges, die vaderloses en magteloses, die verarmdes en die onderdruktes, en die Here te bid dat Hy reg sal laat geskied, dat Hy in sal gryp, dat Hy vrede sal bring.
Gebed
Dink na oor die sake van onreg waarvan jy weet en bring dit voor die Here.
Kom ons probeer nou in die groot groep net in een of twee sinne vir die Here sê om reg te laat geskied in dié sake wat Hy op ons hart lê.
Slotsang
Lied 436:1-3 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – staan
Seën
Amen