05 – Om met God te PRAAT

RUS

Ons kom eers tot rus.  Interessant: Listen het dieselfde letters as die woord Silent.  Laat ’n mens dink, nê!

Hier is ’n prentjie van Nico Simpson wat die proses van stilword illustreer.  Dit is om ’n ruimte van rus en vrede te vind, wat die gewoel van jou lewe en gedagtes terugdwing, laat bedaar, sodat jy kan luister.  Na die luisterproses gaan jy uiteraard weer aan met jou lewe, sodat dit ’n ritme word, ’n balans tussen werk en wees, tussen stryd en stilwees.

silencio2

Ek gebruik vanaand ’n variasie van gister se begeleide gebed, ’n vorm van die Daily Examen van Ignatius van Loyola.  Hy het ons geleer dat God beleef word in die ervarings van desolasie en konsolasie, die gevoelens van God se afwesigheid of afsydigheid (angs, mismoedigheid, hartseer), sowel as in die gevoelens van God se aanwesigheid en vertroosting (vreugde, dankbaarheid, vertroue).

  • Dink aan ervarings vandag wat jou angstig, mismoedig of hartseer gemaak het.
  • Wat het jy van God in dié ervarings van desolasie beleef?
  • Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees” – Eksodus 14:14 (OAV)
  • Dink nou aan ervarings vandag wat jou bly, dankbaar of vol vertroue gemaak het.
  • Wat het jy van God in dié ervarings van konsolasie beleef?
  • “Oor U wil ek my verbly en vrolik wees, u Naam wil ek besing, o Allerhoogste.” – Psalm 9:3

HOOR

Die vier fases van HOOR kan ’n mens ook só uitdruk:

  1. Lees om te begryplectio
  2. Dink na oor wat jou raakmeditatio
  3. Bid om veranderingoratio
  4. Geniet die vrede van God se teenwoordigheid – contemplatio

Alice Fryling praat daarvan as read, reflect, respond, rest (The Art of Spiritual Listening, 2003:42).

LECTIO: Die ding wat ons miskien die maklikste doen, is om te lees.  Die doel van ons lees is om te begryp, om te verstaan, om daaruit die woord van God vir ons te kan hoor.  Maar dit kan nooit al wees nie, anders hoor ons die woord, en omdat ons dit nie persoonlik hoor, en deel van ons menswees maak nie, verander dit ons nie, en verdiep dit nie ons verhouding met die Here nie.  Ons gaan weg, soos Jakobus sê, en vergeet wat ons gehoor het.

MEDITATIO: Daarom moet ons altyd ’n element van meditasie en nadenke of refleksie inbou in ons luister na die Woord.  Henry Nouwen (The Way of the Heart) het gesê van meditasie: “Standing in the presence of God with the mind in the heart.”  Meditasie is om ’n gedagte te herkou, om die praktiese betekenis van dít wat jou raak, in te neem, ter harte te neem. En hierdie nadenke is normaalweg oor ’n korter deel van die gedeelte wat jy gelees het, ’n woord, ’n frase, ’n gedagte, ’n prentjie.

Daaraan het ons gisteraand meer tyd gegee.

ORATIO:  Maar, selfs meditasie is nog nie genoeg nie.  As ons geraak word deur ’n woord van die Here, moet ons uiteindelik met Hom in gesprek tree, ’n respons gee, moet ons die woord wat ons van Hom ontvang met Hom deurgesels, totdat daar ’n klaarheid en ’n helderheid opdaag waarmee ons nie net van binne af kan verander nie, maar waaraan ons ons ook kan verbind om daarvolgens te gaan lewe.  Dit is wat oratio beteken, gebed, ons gesprek met God.  Daarvoor gaan ek vanaand meer tyd gee, hoewel ons uiteraard ook ’n stukkie meditasie moet doen om met betekenis te kan bid.

CONTEMPLATIO: Die uiteinde van dié proses is dan om sulke helderheid by God te ervaar, dat ons in sy teenwoordigheid tot rus kom, sy vrede ervaar, sy liefde ervaar, en sy teenwoordigheid kan geniet.  Daaroor gesels ons meer môreaand.

LECTIO

 ‘n Paar opmerkings oor die die twee boeke 1 en 2 Konings:

  • 1 en 2 Konings vertel die verhaal van Israel van die dood van Dawid tot by die val van sy koninkryk, dws die Dawidsryk.
  • 1 Konings 1 – 11 handel oor die koninkryk van Salomo (waarvan ons gister na 1 Kon3 gekyk het, sy gebed om ‘n luisterryke hart)
  • 1 Konings 12 – 16:20 handel oor die skeuring van die Ryk, die resultaat van beide Salomo se liefde vir vroue en hulle afgode, en sy liefde vir mag en vertoon, wat hom verlei het om sy ryk op groot skaal met dwangarbeid uit te bou.  Jerobeam, die man wat toesig moes hou oor die dwangarbeiders (1 Kon 11:28) kom in opstand en raak die aanvoerder van die wegbreek van die 10 noordelike stamme van die verenigde ryk, met uiteindelik Samaria as hoofstad, waar Omri en sy seun Agab later groot impak gehad het.  Die suidelike 2 stamme bly by Jerusalem as hoofstad.
  • 1 Konings 16:21 – 2 Konings 10, waarin ons teksgedeelte val, vertel dan die verhaal van die verdeelde ryk en fokus spesifiek op die Noordelike ryk, waarin die verhale van Elia – 1 Konings 17 tot 2 Konings 1 – en Elisa – 2 Konings 2 tot 10 – oorheers.
  • 2 Konings 11-25 vertel die verhaal van die Suidelike ryk tot met die val van Juda, sowel as die verhaal van die ballingskap van die Noordelike ryk, wat hulle effektief as volk tot niet laat gaan het.  Juda het wel weer teruggekom na hulle ballingskap.

‘n Bietjie meer agtergrond oor Elia:

  • Die groot profeet Elia verskyn op die toneel om die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal nie te verkondig.
  • Daar is min oor Elia bekend.  Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn.  Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe.  Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in Jak 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was!
  • Dit lyk asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan (17:1).
  • In sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Jahwe is God”.
  • Elia was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant was. Die sinkretisme was natuurlik van altyd af ’n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en sy seun Agab tot ’n wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid.
  • Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl.  Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom (hfst 17).  Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer (hfst 18).  Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek (hfst 18).  Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

1 Konings 19

Kom ons lees die teks, waarna ek ‘n paar opmerkings oor die teks gaan maak, om jou te help om die teks nie net te begryp nie, maar vir jou betekenis te laat kry, sodat jy daaroor kan nadink en bid.

Lees 1 Konings 19

Vers 1-2: Die kragte van die teenstand teen Jahwe is natuurlik nie met die gebeure op Karmel volledig gebreek nie.  Isebel, die vrou wat in die eerste plek die groter skuif na Baäl georkestreer het, ‘n dogter van Etbaäl van Sidon, stuur vir Elia ‘n onheilspellende boodskap dat dit nou sy lewe teen hare is.  Sy is boos, en gaan nie rus nie, en sal nie ophou voor Elia dood is nie.

Vers 3-4: Let op dat Elia se moedeloosheid, moontlik as gevolg van uitbranding, kom na die grootste hoogtepunt van sy bediening, die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense.  In só ’n situasie werk ’n mens se kop natuurlik nie meer logies nie, want die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, wat die gode aanroep, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie!  Hoe ironies dat ’n leë dreigement só ’n uitwerking op Elia kon hê.

Elia weet nie waarheen om te gaan nie, want die noordelike ryk het nou vir hom te warm geraak.  Hy sou egter ook nie veilig wees in die suidelike ryk, in Juda nie, aangesien koning Agab en koning Josafat van Juda ’n goeie verhouding gehad he.  Hulle veg bv. saam in ‘n oorlog soos ons later in 1 Kon 22 lees.  Daarom vlug hy na Berseba, die mees suidelike deel van Israel.

Nou, Berseba was ‘n plek met ‘n lang en betekenisvolle geskiedenis:

  • Dit is die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom word (Gen 21:8-21) wat die plek met God verbind.
  • Dit was ook die plek waar die ooreenkoms tussen Abraham en Abimelek gesluit is (Gen 21:22-34) wat ‘n verklaring vir die naam Berseba gee wat verband hou met die sluit van ‘n ooreenkoms (samevoeging van put en eed).  Dit laat ‘n mens dus aan Berseba dink as ‘n plek waar ooreenkomste gesluit word.

Let op hoe Elia ’n doodsbegeerte het, net soos Moses dit lank tevore gehad het (Num 11).  Hy wil ‘n ooreenkoms met God aangaan dat dié hom wegneem!

Vers 5-8: Die Here kies egter om op dieselfde wyse as met Hagar Hom te openbaar as die Een wat nie verleë is oor die dreigement van Isebel of oor die moedeloosheid van Elia, sy groot profeet nie.

Elia het daarom self ’n ontmoeting met ’n engel en die Here versterk hom deur die brood en water wat die engel vir hom voorberei, en stuur Elia na die (ge)berg(te) Horeb.

Die plek Horeb is natuurlik ten nouste verbind aan Moses, die ander groot figuur uit die ontstaansgeskiedenis van Israel.  En daar gebeur ‘n hele paar soortgelyke dinge met Elia as met Moses, wat die boodskap dra, dat Elia met dieselfde God te make het as met wie Moses te make gehad het.

  • Die brood en water wat Elia versterk kom ooreen met die manna en water in die woestyn wat Moses en die volk voed.
  • Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ooreenmet die tyd wat Moses spandeer op die berg in gesprek met God.
    • Die Horeb gebergte waarheen Elia gestuur word, is ook ten nouste verbind aan die lewe van Moses:
    • Dit is die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Eks 3).
    • Dit is die plek waar hy die wonder beleef dat water uit ‘n rots vloei (Eks 17).
    • En dit is waar Moses uiteindelik die wet van die Here ontvang het (Eks 19-24).  Sinaï was heel waarskynlik ‘n bergpiek in die Horeb gebergtes.
  • Daarmee word ‘n sterk verband tussen Elia en Moses gelê – onthou dat dit ook dié twee was wat in gesprek met Jesus op die berg van verheerliking was (Luk 9), die een as verteenwoordiger van die wet, die ander as die verteenwoordiger van die profete.

Vers 9-10: Na ’n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self.  God ly nooit aan uitbranding nie!

Vers 11-12: Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks 33).  Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie.  Hy is in die fluistering in die windstilte.

Dit is betekenisvol vir ons fokus op God.  God word in die stilte gehoor.  Ander vertalings praat van God se stem as ‘n “still small voice” (KJV), of ‘n ”quiet, gentle sound” (NCV) of ‘n “gentle whisper” (NIV) of “sheer silence” (NRSV).

Vers 13-18: Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?”  Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ’n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …”

God is nie stil nie, maar word in die stilte gehoor.

Vers 19-21: Uit dié opdragte sou ’n hele aantal konsekwensies vir Israel kom:

  • Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige koningskap voltrek asook Isebel en Agab se dood veroorsaak, en
  • Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit.

Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie.  Dit is eintlik vir my die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte.  God sluimer of slaap nooit nie, en Hy ly nooit aan uitbranding nie!

Dit laat my ook dink aan die klein verhaaltjie van Obadja in 1 Konings 18 (nie dieselfde persoon as die profeet van die 6de eeu nie) wat op sy stil en pligsgetroue manier ’n 100 profete weggesteek het wat aan die Here getrou wou bly, en waarvan Elia kennis geneem het.  Elia mis egter dié feit as hy in hoofstuk 19 kla dat hy al een is wat oorgebly het wat die Here bly dien.

Laastens: Dit tref my hoe ’n belangrike rol gebed in Elia se lewe speel en dat gebed ook meesal die wonders voorafgaan.  Dit is in gebed dat die teenwoordigheid van God ons en ander se lewens verander.

Soos Jakobus veel later sou skryf: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.” (Jak 5:16)

James Montgomery  beskryf op ’n baie poëtiese manier hoe jy van die nadenke oor iets wat jou raak, oorgaan tot ’n gesprek met God:

Prayer is the soul’s sincere desire,

Uttered or unexpressed,

The motion of a hidden fire

That trembles in the breast.

En dit is wat ons nou gaan doen

MEDITATIO

Kies nou een vers of woord of gedagte wat jou tref om te herkou, en te dink of reflekteer oor die praktiese betekenis vir jou. Soos Henry Nouwen gesê het: Standing in the presence of God with the mind in the heart”. Ek gee so 4 minute daarvoor.

meditatio

ORATIO

Ons gaan oor tot gebed.

oratio2

Bring jou gedagtes en nadenke nou onder woorde by God – 3 minute

CONTEMPLATIO

Geniet die vrede van God se teenwoordigheid – 1 minuut.

Bespreek

  • Wat het gebeur?
  • Watter vrae het jy?

’n Paar verdere opmerkings oor Lectio Divina

  • Elia help ons om te besef dat ons nie in teorie na God toe gaan nie, maar met ons lewe, elke deel daarvan, die hoogtepunte van Karmel, en die laagtepunte van Berseba.  Want dit is wanneer ons spesifiek raak in ons gesprek met God, dat die Bybel al hoe meer God se stem word vir ons.
  • Ons moet dus agterkom wat in ons aangaan, ons moet tyd maak om bewus te raak van wat in onsself aangaan, hoe ons voel, hoe ons dink, wat ons aanraak, en wat regtig saak maak vir ons.  Want dit is met ons behoeftes en begeertes, ons vrae en versoeke, ons worstelinge en verwarringe waarmee ons na die Here moet gaan – iets wat ek môre met die lees van Filippense 4 gaan aanroer.
  • Ons moet ook verstaan dat dit ’n proses is.  Wanneer ons met die Woord besig raak, moet ons nie net begryp nie, ons moet geraak word deur die teks, dit deurgesels met die Here, totdat sy vrede van ons menswees besit neem.  En dit kan net gebeur as dit werklik is, as ons Lectio Divina beoefen en ons lewe op die tafel plaas.  Dan kan ons werklik luister: kan ons lectio (begryp), meditatio (geraak), oratio (deurbid), en contemplatio (vrede) beoefen.
  • Elia leer ons ook dat ons stilte nodig het om God se stem te hoor, want sy stem is ’n fluistering in die windstilte.  Soos ek reeds gesê het, listen het dieselfde letters as silent.
  • Daarom moet ons genoeg tyd gee met hierdie manier van die lees van die Bybel sodat ons God kan ontmoet daarin.  Dit het Elia 40 dae en nagte en verskillende ervarings op die berg geneem om God se stem te hoor.
  • Lectio Divina raak dus ’n manier van lewe.  Ons dink baie keer dat ons net moet uithou totdat ons vakansie het, of totdat ons kan afvat, of totdat wat ook al gebeur – dan sal ons by God uitkom en ons lewe uitsorteer.  Lectio Divina is vir elke dag bedoel, ’n paar minute op ’n slag – jy kan nie eintlik dit in minder as so 15-20 minute doen nie, maar enigiets is beter as niks nie – totdat dit jou lewe word.
  • En onthou, dit is nie soseer om God in te trek in jou lewe nie, maar om God toe te laat om jou in te trek in Sy lewe in.  Jy kom by Hom tuis.  Sy Woord word die huis waarin jy woon.

Contemplatio – om God te GENIET

Môreaand

contemplatio

Ekstra inligting oor die lewe van Elia

Elia was werklik ’n man van God wat veral vir sy kragtige gebedsbediening onthou word.  Dit is ook opmerklik dat die Here hom nie net wyd en syd gebruik nie, maar ook vir hom sorg.  En let veral daarop dat elke wonder van die Here ’n sinvolle rol speel in sy bediening.  Hier is ‘n sinopsis van die wonders waarvan ons in sy lewe verneem:

  1. Die eerste is die droogte wat Elia aankondig, as teken aan Agab en die
  2. Die tweede is by die Kritspruit waar die kraaie vir hom brood en vleis bring, as teken dat die Here
  3. Die derde is die meel in die kruik en die olie in die kan wat nie opraak nie, weereens as teken dat die Here sorg, net dié keer ook vir die heidense vrou in
  4. Die vierde is die seuntjie wat uit die dood teruggebid word, weereens as teken aan
  5. Die vyfde is die vuur uit die hemel wat die offer verbrand, as teken aan die hele volk dat Jahwe God is en nie Baäl
  6. Die sesde is die reëns wat as antwoord op sy gebed kom, as teken aan Agab en die
  7. Die sewende is die feit dat hy voor die wa van Agab uit kon hardloop deur die mag van die Here, as teken aan Agab.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.