Leef vir die wil van God – 1 Petrus 4:1-5

Jaar van die Bybel 2020
Tema: Leef vir die wil van God – 1 Petrus 4:1-5
Somerstrand 10 Mei 2020

Verwelkoming

Dit is al ses weke!

Aan die een kant raak ‘n mens nou al gewoond aan die situasie. Is jy bly dat jy darem ‘n bietjie kan stap, draf of fietsry. Al is ‘n masker ‘n moeilike ding! En daar is ‘n bietjie meer lewe in die sentrums en op die paaie.

Aan die ander kant dink ‘n mens al hoe dieper oor wat regtig aangaan. Die globale inperking van nuus wat met die heersende narratief verskil, is onrusbarend. In plaas daarvan dat ons geleer word hoe om die waarheid van die valsheid te onderskei, word ons gedwing om net een weergawe te hoor.

Daar is egter min wat ‘n mens daaraan kan doen. Waaraan ons wel kan werk, is om onsself ingelig te hou. Om nie alles vir soetkoek op te vreet nie, maar dieper vrae te vra. Na verskillende stemme te luister.

Dit is immers wat die reeks oor die eerste brief van Petrus ons leer. Saam met die opdrag om steeds bly te wees in die Here, en te smag na die waarheid, die Woord van God, en te fokus op eensgesindheid, wil Petrus ons hierdie week aanspoor om die wil van die Here te soek en daarvoor te leef.

Pinkster 2020 – “Ek kom gou!”

Die boek Openbaring is die belangrikste boodskap wat Jesus Christus aan sy kerk gegee het in ’n openbaring aan Johannes. Dit is aan die een kant die testament van sy nalatenskap aan ons, maar aan die ander kant ook sy agenda met die verlossingsplan vir die wêreld.

“Ek kom gou!” Dit is die boodskap van Jesus met Pinkster 2020. Dit is die hart van sy Openbaring aan die kerk van die eeue. “Ek kom gou!”

Die seëls is gebreek. Die trompette blaas. Die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Die bruilofsfees van die Lam en sy bruid is amper daar. Die nuwe hemel en aarde is amper voltooi.

Bid saam met die Gees en die kerk van die eeue: “Amen! Kom, Here Jesus!”

Ons begin op Hemelvaart 21 Mei 18:30. Ons sit dit voort vir 10 dae om 18:30 behalwe vir die twee Sondae wat die diens om 09:00 is. Ek stel volgende week by die erediens ‘n boek bekend wat jy vir jou stiltetyd kan gebruik gedurende Pinkster. Jy kan só die hele Openbaring deurwerk.

Ek gee die temas op die webtuiste.

  1. Jesus kom weer – Hemelvaart 21 Mei 18:30 – Openbaring 1
  2. Bly getrou – 24 Mei 09:00 – Openbaring 2
  3. Bekeer julle – 24 Mei 18:30 – Openbaring 3
  4. God se agenda vir die heelal en die sewe seëls – 25 Mei 18:30 – Openbaring 4-7
  5. God se agenda vir die kerk en die sewe trompette – 26 Mei 18:30 – Openbaring 8-11
  6. God beskerm sy kerk – 27 Mei 18:30 – Openbaring 12-15
  7. God bevry sy kerk met die sewe bakke – 28 Mei 18:30 – Openbaring 16-18
  8. Die bruilof van die Lam breek aan – 29 Mei 18:30 – Openbaring 19-20
  9. God skep hemel op aarde vir sy volk – Pinksterdag 31 Mei 18:30 – Openbaring 21-22

Skakel in by NG Kerk Somerstrand se Youtube kanaal.

Doen daagliks Bybelstudie uit Chris se boek: “Ek kom gou!”

Moedersdag

Ons lees op die oomblik in 1 Samuel en die verhaal van Elkana en Hanna het my besonderlik getref. Hulle was baie lief vir mekaar. Maar, sy het nie kinders gehad nie. Elkana was baie lief vir haar. Hy het vir haar twee keer meer van die offervleis gegee as vir die res van sy familie. Maar, sy was baie hartseer. Wou ‘n kind hê. Elkana sê op ‘n punt vir haar by ‘n fees: “Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie?”

Dit is die punt waarop sy opstaan en tempel toe gaan en opnuut gaan bid vir ‘n kind. En die Here hoor haar. Nie net het sy daarna nog ses kinders gehad nie, maar daardie eerste seun was Samuel. Die man van God. Haar loflied weerklink tot in die NT met die geboorte van Jesus vir Maria. Maria het daardie loflied geken, soos ‘n mens agterkom uit die groot ooreenkomste daarin.

Baie geluk vir elke moeder. Of jy nouself die voorreg het om ‘n ma te wees. Of jy ‘n moeder het. ‘n Wonderlike geseënde dag.

Verjaarsdae

Basil Rathbone verjaar vandag. Baie geluk.

Siekes

Johan Griesel gaan in vir operasie môre. Baie sterkte vir jou.

Noodfonds en behoeftes

Mense dra nog steeds by vir ons noodfonds. Onthou ook Theo se lysie en die ACVV. Enige hulp word waardeer.

Youtube

Like sommer nou die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie.

Take the Biscuit Challenge

Karen Becker het ons verlede week uitgedaag rondom hierdie uitreik challenge. Praktiese stappe wat jy kan neem om uit te reik na mense. Gebaseer op die boodskap van 1 Petrus 3. Ek het die volledige uitdaging van 30 dae in die nuusbrief gesit. Dit begin deur vir vier mense te bid. Uitstekende praktiese getuienis. Neem deel en laat ons weet wat die Here daardeur doen.

Votum en Seëngroet

In die woorde van Petrus aangepas vir Somerstrand:

“Aan die vreemdelinge van die Diaspora in Somerstrand, hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word: Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word! (1 Pet 1:1-2)

Lofsang

Lied 184:1-4 – Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere – koor

Kinderkerk

Hier is die pdf vir die kinders.

Gebed

Skriflesing en prediking

Die duiwel se strategie

Miskien onthou van julle CS Lewis se unieke boek: The Screwtape Letters – Letters from a senior to a junior devil (1942). Dit is 31 briewe van ‘n senior duiwel, Screwtape, aan ‘n junior duiwel, Wormwood. Screwtape wil vir Wormwood help om ‘n nuwe Christen te verlei en te keer dat hy die Here dien. Vandaar die reeks briewe wat telkens nuwe strategieë ontwerp om die nuwe Christen se geestelike groei in die wiele te ry.

In die tiende brief van die senior duiwel Screwtape aan sy nefie Wormwood, die junior duiwel, skryf hy oor ’n paar nuwe vriende wat hulle “pasiënt”, die nuwe Christen, ontmoet het, en oor wie hy baie opgewonde was (bl 53-56).

Die senior duiwel gebruik die vriende as sy strategie. Die nuwe vriende is ryk, elegant, oppervlakkig intellektueel, en “brightly skeptical” oor alles in die wêreld. Ongelowiges dus. Hulle stimuleer die nuwe Christen se ydelheid (vanity) om “in” te probeer wees, om “saam te kan gesels.”

Wat Screwtape voorstel vir Wormwood is om die nuwe Christen te laat dink dat hierdie nuwe vriende ’n aanwins vir hom is. Dat hy verby hulle ongeloof moet leer kyk en eerder hulle gewildheid in die samelewing moet raak sien.

Want, sê die senior duiwel, hoe meer die nuwe Christen stilbly as hy eintlik oor sy geloof moes getuig het, of hoe meer hy lag oor hulle siniese en skeptiese grappe eerder as om nie te reageer nie, hoe meer sal hy sy eie geloof begin bevraagteken.

“He will assume, at first only by his manner, but presently by his words, all sort of cynical and sceptical attitudes which are not really his. But if you play him well, they may become his. All mortals tend to turn into the thing they are pretending to be. This is elementary.”

Screwtape besef dat die “Enemy” – uiteraard sy naam vir die Here self – nie stil sal sit nie, en sy nuwe kind sal bystaan. Daarom beplan die senior duiwel ook ‘n strategie vir wanneer die man die gevare van sy nuwe vriende begin insien.

“If he is a big enough fool you can get him to realise the character of the friends only while they are absent; their presence can be made to sweep away all criticism.”

As dit gebeur, sê die senior duiwel, kan jy hom oortuig om ‘n parallelle lewe te lei. Wanneer hy by gelowiges is, doen hy soos gelowiges dinge doen. As hy by vriende is, doen hy soos vriende doen.

“He will not only appear to be, but actually be, a different man in each of the circles he frequents.”

As hy ‘n bietjie slimmer is, is die raad van die senior duiwel, moet die strategie wees om hom te laat dink dat hy eintlik baie vernuftig is om twee lewens te lei.

“This is done by exploiting his vanity.” (ydelheid / pronksug / praalsiekte)

Hy kan aan die een kant dit geniet om saam met gelowiges in die kerk te aanbid, want hy weet hulle verstaan nie eintlik die komplekse wêreld waarin hy daarbuite lewe nie.

Terselfdertyd kan hy dit aan die ander kant geniet om saam met sy vriende allerhande onhebbelike dinge te doen, want hy ken ‘n “dieper”, “geestelike” wêreld wat hulle nooit sal verstaan nie.

“He is the complete, balanced, complex man who sees round them all. Thus, while being permanently treacherous to at least two sets of people, he will feel, instead of shame, a continual undercurrent of self-satisfaction.”

En as hy nogtans begin om die valsheid van hierdie twee lewens raak te sien, sê die senior duiwel, kan jy hom oortuig, op ‘n heel onspesifieke manier, dat hy hierdie ongelowiges vriende van hom ‘n guns doen deur vir hulle grappies te lag. Want, as hy sou ophou, sal hy immers onverdraagsaam wees. En dit sal ‘n groter sonde wees as om volgens die wil van God te begin lewe.

Wonder of jy iets hiervan in jou eie lewe kan raaksien?

Lewe jy twee lewens? Verdra jy die sinisme en skeptisisme van vriende, want jy wil nie aanstoot gee nie? Bly jy maar stil as jy al moes gepraat het? Drink jy maar nog ‘n glasie, al moes jy lankal opgehou het?

Wat is die wil van God?

Ons praat vandag oor die wil van God.

Petrus skryf drie keer in sy brief oor die wil van God.

In hoofstuk 2 moedig Petrus ons aan om ons te weerhou van liggaamlike begeertes. Hoekom?  Twee redes:

  1. Want, sê hy, dit maak oorlog maak teen die siel. Liggaamlike begeertes is dinge wat jou gemeenskap met God bedreig. Wat sy stem in jou lewe stilmaak. Jy kan nie jou eie sondige begeertes vervul en terselfdertyd die wil van die Here doen nie.
  2. Ter wille van jou getuienis in hierdie wêreld. As die ongelowiges sien dat ons leef soos God dit wil, sal hulle God “op die dag van sy koms” kan verheerlik. Jou lewe is ‘n helder stem van God. Of nie.

“Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van dwase mense stilmaak.” (1 Pet 2:15)

Dit is die doel daarvan. As die wêreld nie in ons kan sien hoe God wil hê dat ons moet leef nie, waar sal hulle dit ooit kan sien?

1 Petrus 4:1-5

In hoofstuk 4 gaan Petrus verder met hierdie gedagtegang.

4:1Aangesien Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself met dieselfde denkwyse toerus, dat hy wat liggaamlik gely het, opgehou het met sonde 2sodat hy die res van sy tyd as mens nie langer vir die begeertes van mense leef nie, maar vir die wil van God.

3Immers, die tyd wat verby is, was genoeg om te gedoen het wat die heidene begeer, toe julle geleef het in losbandigheid, wellus, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en afskuwelike aanbidding van afgode.

4Daarom is hulle verbaas omdat julle nie saam ingaan in dieselfde stroom van losbandigheid nie, en beledig hulle julle.

5Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed is om die lewendes en dooies te oordeel. (1 Pet 4:1-5 – ASV)

Die “stroom van losbandigheid”

Petrus moedig ons aan om ons te weerhou van die begeertes van mense. Hy tipeer dit as ‘n “stroom van losbandigheid”.

Dit is sondes van losbandigheid (aselgeia – met geen seksuele morele grense), wellus (epithumia – die bose begeerte vir iets wat aan iemand anders behoort), dronkenskap (oinophlugia – groot hoeveelhede wyn), brassery (kōmos – orgies) en afskuwelike (“disgusting”) aanbidding van afgode.

Maar, wat ons moet raaksien, dit gaan nie net oor jou eie voorliefde vir dié dinge nie, maar ook oor die feit dat jy inval by die begeertes van ander mense. Dit is van beide wat jy jou moet losmaak, selfs al beteken dit dat jy jou gewildheid by ander mense sal moet inboet.

Hoekom is dit só belangrik?

Wel, juis omdat jy vir dié mense omgee! Want, sê Petrus, God is gereed om die lewendes en die dooies te oordeel. Dié dag is naby dat Hy ‘n streep sal trek en almal voor sy regterstoel sal verskyn om geoordeel te word.

En as jy in dieselfde “stroom van losbandigheid” lewe as die ongelowiges, dan stel jy nie net jou eie geestelike lewe in gevaar nie, maar die lewe van elke ongelowige.

Kyk, die wêreld hou ons lewens dop. Ongelowiges kyk wat gelowiges doen. En, ja, natuurlik sal hulle verbaas wees as ons nie saam ingaan in dieselfde stroom van losbandigheid nie. Ja, natuurlik sal hulle jou beledig dat jy nie saamspeel met die stroom nie.

Maar, moet nooit onderskat watter getuienis een: “Nee!  Ek gaan nie hiermee saam nie,” op mense rondom jou kan hê nie.

Groter getuienis

Soos Spreuke 14:19 sê:

“Eventually, evil will pay tribute to good; the wicked will respect God-loyal people.” (The Message).

Hoe meer jy in die stroom van die “wil van God” beweeg, hoe minder sal die “stroom van losbandigheid” ’n effek op jou hê. En hoe ’n groter getuienis sal jy hê in hierdie wêreld.

Christus het gely en gesterwe dat ons met die sonde kan klaarspeel

Dit is immers waarvoor Christus gely en gesterwe het, sodat ons, soos Hy, met die sonde kan klaarspeel. Ons hoef nou nie meer ons deur ons menslike begeertes te laat lei nie – of dit nou ons eie begeertes is, of dié van ander – maar kán nou doen wat God van ons vra.

Wat is hierdie wil van God?

Dit is God se begeerte vir menswees. Dit is hoe Hy dink oor menswees. Dit is wat Hy vir jou begeer. Dit is wat Hy deur jou in hierdie wêreld wil doen. En die Bybel is die volmaakte boek wat daardie wil uitspel.

Petrus gaan aan om in die hoofstuk God se wil uit te spel. Hy sê:

7Die einde van alles is naby. Wees dus selfbeheersd en helder van gees sodat julle kan bid.

Die tyd van inperking is ‘n bonus om juis dit te doen, belangrik, terwyl jy nie so sterk onder die invloed van vriende is wat jou kan verlei om saam met die stroom te gaan nie.

God se wil sluit in dat ons:

8bo alles vir mekaar innige liefde te hê omdat liefde ’n menigte sondes bedek.

Soos Jakobus, die broer van Jesus, ons help om dit te verstaan:

“As een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ’n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ’n siel uit die dood sal red en ’n menigte sondes sal bedek. (Jak 5:19-20)

Petrus skryf oor gasvryheid, oor mekaar bedien met die gawes wat God vir ons gegee het, om goeie bestuurders van die veelsoortige genade van God” te wees.

Gaan lees gerus verder in hoofstuk 4 oor wat Petrus ons vertel oor die wil van God. Hy sluit die hoofstuk af deur weereens vir ons te herinner dat as dit tot lyding lei, ons nie daarvoor moet skrik nie:

19Dié wat in ooreenstemming met die wil van God ly, moet hulle lewens oorgee aan die getroue Skepper, en aanhou goeddoen.

Mag die Here jou help om hierdie dinge prakties te doen. Hierdie week. Elke week.

Amen.

Gebed

Dankoffer

Jy kan jou dankoffer nou gee met Snapscan. Baie gee ook deur EFT. Ons waardeer dit.

Bydraes

Slotlied

Psalm 112:1-3 – God wat oorvloed het, voorsien – gemeente en koor

Seën

Ek sluit met die seën van die Here.

Die Here seën jou en beskerm jou.

Die Here se gesig skyn oor jou en Hy is jou genadig.

Die Here lig sy gesig op na jou en Hy gee aan jou vrede.” (Num 6:24-26)

Respons

En die gemeente sê: Amen!

Snapscan

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.