“Ek kom gou!” Tema: God se agenda vir die kerk en die sewe trompette Pinkster 5 – Somerstrand Youtube 18:30 26 Mei 2020
Kyk die video – Lees die boek
Verwelkoming
Baie welkom by die vyfde Pinksterdiens. Ons behandel die boek Openbaring.
Die eerste drie hoofstukke van Openbaring handel oor God se teenwoordigheid op aarde in die midde van die sewe gemeentes. Die volgende agt hoofstukke handel oor God se teenwoordigheid in die hemel en die uitvoering van sy plan vir die herskepping van die heelal.
Dit teken vir ons ‘n prentjie van God wat op alles wat bestaan ’n verlossende en veroordelende impak het. Daarom word Johannes opgeneem deur die geopende deur in die hemel om vanuit die hemelse perspektief te kan besef wat hierna moet gebeur.
Gister het ons die eerste vier hoofstukke gehanteer, hfste. 4-7. Ons het gefokus op die meer hemelse kant van hierdie deel van Openbaring met die breek van die sewe seëls. Van Jesus se hemelvaart tot by sy wederkoms.
Vanaand fokus ons op die laaste vier hoofstukke van hierdie deel, hfste. 8-11. Daarmee fokus ons meer op die aardse kant met die blaas van die sewe trompette tot by die oordeel aan die einde van die tyd. En ons kyk meer spesifiek na die rol van die kerk in hierdie verlossende oordeel.
Onthou die boek oor Openbaring: “Ek kom gou!” Gratis en verniet.
Kyk na die video by Youtube: Videokanaal. Like sommer nou die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie.
Votum en Seëngroet
In die woorde van Johannes aangepas vir Somerstrand:
4Van Johannes aan die gemeente in Somerstrand. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste wat voor sy troon is.
5En van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene van die dooies, die heerser oor die konings van die aarde.
7Kyk, Hy kom op die wolke en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die stamme van die aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!
Loflied
Lied 8:1,4,6 – O Here God, U naam is groot almagtig
Gebed
Skriflesing en prediking
Weereens gaan dit in Openbaring 8-11 oor vir breë sake. Oor God, oor die agente wat Hy gebruik, oor sy oordeel en uiteindelik oor die verlossing. Soos ons dit in Openbaring 4-7 gesien het. Die manier en orde waarop Johannes dit vertel, is egter so ‘n klein bietjie anders.
Dit is ‘n belangrike manier vir jou op sin te maak van die boeiende beelde wat Johannes gesien het om te verklaar wat is en wat kom.
- In hoofstuk 8 word kortliks oor God Die ontsag vir Hom word in die stilte oorgedra. Ek gaan nie vanaand daaroor gesels nie, maar stilte is ‘n manier om ontsag vir God te toon.
- Dan word meer uitgebrei oor God se agente. Hierdie keer is dit meervoud! Daar is die sewe aartsengele aan wie sewe trompette gegee word. Hierdie engele is God se agente, maar interessant genoeg speel die heiliges ook ‘rol deur hulle gebede. Dit is ‘n verstommende insig en ‘n inspirasie. Natuurlik is dit nog alles deel van Jesus se werk, want dit is Hy wat die seëls oopmaak waaruit die trompette en bakke voortvloei. Maar, Hy gebruik die engele en die mense in die uitvoering van God se agenda.
- Daarna begin die aartsengele hulle sewe trompette een na die ander blaas en die oordele van God skop in. Daar is dinge wat dieselfde is, maar ook ‘n hele aantal ander aspekte wat beklemtoon word as met die sewe seëls. Die res van hoofstuk 8 en die hele hoofstuk 9 gaan oor hierdie oordele.
- Dan word terugbeweeg na die rol van die kerk waarin naas die gebede van hoofstuk 8 gepraat word oor die onontbeerlike rol wat hulle getuienis Daarvan lees ons in hoofstuk 10 en die eerste deel van hoofstuk 11.
- Hoofstuk 11 sluit af met die verlossing en ‘n geopende hemel en die finale oordeel. Interessant is die kontras tussen die futiele woede van die nasies en die verwoestende woede van God. Hy vernietig almal wat Hom nie vrees nie.
Dit is die prentjie wat jy in gedagte moet hou as ons hier lees: God / Agente / Oordeel / Verlossing. Met die kerk se rol wat op twee plekke in gebed en getuienis uitgespel word.
1. God
8:1Toe Hy die sewende seël oopbreek, het daar ’n stilte van ’n halfuur lank in die hemel gekom.
Die sewende seël word deur Jesus oopgebreek en dan kom daar ‘n stilte in die hemel. Hierdie stilte is baie betekenisvol. Dit simboliseer waarskynlik die afwagting op God se optrede. Dit is soos die idioom sê: “die stilte voor die storm.”
Dit is dan ook wat hierna beskrywe word. Die oordele van God wat uit die stilte voortvloei.
Ons sien dit vroeër in Habakuk waar die profeet ‘n stilte voor God aankondig (Hab 2:20) voor God se oordele ‘n aanvang neem, die oordeel van die ballingskap (Hab 3 vv). Ook in die vierde van Sagaria se visioene (Sag 2:13-3:2) word ‘n stilte aangekondig voor God se oordeel oor die Satan ‘n aanvang neem. Hier gebeur dieselfde.
2. God se agente
8:2Daarop het ek die sewe engele gesien wat voor God staan en aan hulle is sewe trompette gegee.
Let op dat die bepaalde lidwoord gebruik word. Dié sewe wat voor God se troon gereed staan, kry die trompette om te blaas.
Hierdie sewe engele is waarskynlik die sewe aartsengele wie se name ons ken uit die eerste boek van Henog 20:2-8: Uriël, Rafael, Raguel, Migael, Sarakel, Gabriël en Remiël.
Uit die Bybel is ons bekend met Migael (bv. in die boek van Daniël en in Openbaring 12:7) en Gabriël (bv. met die verskyning aan Sagaria en Maria in die evangelie van Lukas). Die Bybelse skrywers was bekend met hierdie oud-Joodse apokriewe boek en Judas 14-15 haal daaruit aan.
Die gebruik van trompette onderstreep die bedoeling van die oordele wat gaan volg as waarskuwings, hoewel die mensdom ten spyte van die destruktiewe effek daarvan nie regtig daarop ag slaan nie, soos ons nog sal sien.
Die trompette herinner ons ook aan die val van Jerigo (Jos. 6) waar sewe priesters ses dae lank trompette (ramshorings) geblaas het met die trek om die stad om God se oordeel aan te kondig, waarna die oordeel op die sewende dag voltrek is en Jerigo ingeneem is.
Nog ‘n prentjie uit die OT om in gedagte te hou.
Die gebede van die heiliges
Maar dan word hierdie aangrypende visioen vir ons vertel:
8:3’n Ander engel het gekom en gaan staan by die altaar; hy het ’n goue wierookbak vasgehou. Aan hom is baie reukwerk gegee om dit te gaan offer op die goue altaar voor die troon saam met die gebede van die baie heiliges.
4En die rook van die reukwerk met die gebede van die heiliges het uit die hand van die engel opgestyg voor God.
5Toe het die engel die wierookbak geneem, dit vol gemaak met die vuur van die altaar af en uitgegooi op die aarde. Daarop volg toe donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing.
Hierdie gedeelte hou ook verband met die stilte in die hemel.
Dit is alreeds merkwaardig om in Josua 6 te lees dat die manskappe by Jerigo moes stilbly – in hulle geval 6 dae lank – tot die bevel op die laaste dag gegee is om te skreeu en die ramshorings geblaas is en die stad se muur geval het.
Dit was waarskynlik aan die een kant om die afwagting op God se optrede te simboliseer, soos dit ook hier in Openbaring die geval is, en ons by Habakuk en Sagaria al gesien het.
Maar, aan die ander kant, kom hierdie stilte in die hemel presies op die punt dat daar ook van die gebede van die heiliges gepraat word wat voor God uit die engel se hand saam met die wierook opstyg.
Hierdie gebede van die heiliges dien as katalisator vir die blaas van die trompette, want dit is eers ná hierdie stilte – nadat God geluister het – dat die vuur van die goue altaar voor die troon in die wierookbak gegooi en op die aarde uitgegooi word. Dan eers blaas die trompette.
God luister dus na die gebede van die heiliges dat God reg sal laat geskied. God luister ook nie net nie. Hy tree op, soos ’n mens kan sien in die feit dat die wierookbak met die gebede hierna groot ontwrigting tot gevolg het: donderslae, gedreun, weerligstrale en ’n aardbewing.
Dit is ‘n belangrike perspektief vir ons op gebed.
Al voel jy soms of jou gebede ‘n worsteling is. Al voel jy soms of jy alleen staan. Of jou gebede nêrens heen lei nie; jou gebede is van sleutelbelang in die wyse waarop God op hierdie aarde optree.
Geen wonder nie dat Jesus in sy laaste gesprekke met die dissipels vir ons almal gesê het:
7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” (Joh 15:7-8)
Leon Morris sê oor hierdie hemelse visie op gebed:
“Prayer is not the lonely venture it so often feels. There is heavenly assistance and our prayers do reach God.”
Ons weet alreeds Jesus bid vir ons. Hy is ons Eerste Voorspraak (1 Joh 2:1).
Ons weet ook dat die Gees in die tweede plek in ons bid (Rom 8). Hy is die Tweede Voorspraak (Joh 15:26).
Maar wat ons regtig moet inspireer is dat ons eie gebede in die hemel ontvang word en met hemelse ondersteuning ingespan word deur God die Vader!
Dit is betekenisvol dat die gebede geoffer word op die goue altaar voor die troon. Vandaar neem die engel dit en laat dit opstyg voor God. Dit sê vir ons dat daar ‘n stuk prysgawe en opoffering is in gebed, maar ook dat ons gebede uitkom by die plek waar dit ‘n verskil kan maak, by God self.
Ons gebede speel dus ‘n noodsaaklike rol in die Goddelike raadsplan. Dit is die nommer een verantwoordelikheid van ons as God se agente in sy verlossende oordeel.
Soos Torrance gesê het:
“What are the real master-powers behind the world and what are the deeper secrets of our destiny? Here is the astonishing answer: the prayer of the saints and the fire of God. That means that more potent, more powerful than all the dark and mighty powers let loose in the world, more powerful than anything else, is the power of prayer set ablaze by the fire of God and cast upon the earth”
God tree op teen sonde. God tree op teen goddeloosheid. God straf boosheid. Op sy eie tyd. En volgens sy eie agenda. Maar, niks gaan ongesiens verby nie.
Hy luister na gebede. Soos een keer tevore, in Egipte:
“23Die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. 24En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. 25En God het die kinders van Israel aangesien, en God het verstaan (dit ter harte geneem)…” (Eks 2:23-24).
3. Die Oordeel
Dan blaas die sewe trompette van die sewe aartsengele.
Dit herhaal van die detail van die sewe seëls en brei dit op plekke beduidend uit. Dit is asof die Here weet dat ons nie alles meteens kan inneem nie. Daarom word dieselfde oordele aangekondig, maar met meer detail, en nuwe fasette daarvan.
Die eerste drie trompette se effek op die aarde beskryf gebeure wat ons kan herken – dinge wat met die ekologie en die klimaat te make het.
Die eerste trompet
Die eerste trompet se oordeel van hael, vuur en bloed tref die aarde. Dit is gemik op die ekologie van die planteryk.
Die tweede trompet
Die tweede trompet se oordeel van ’n enorme vlammende berg (soos ’n meteoriet) tref die see. Dit is gemik op die ekologie van die oseane.
Die derde trompet
Die derde trompet se oordeel van ’n brandende ster, die Bitterals (alsemkruid, wormwood), tref die vars water. Dit is gemik op alles wat met die klimaat te make het.
Telkens word daar gesê dat daar ‘n derde van die aarde, ‘n derde van die oseane, ‘n derde van die vars water getref word. Dit beteken maar net dat die vernietiging nog nie finaal is nie.
Klimaatsverandering
Daar is geweldig baie kontroversie rondom klimaatsverandering, veral oor die verklarings daarvan. Sommige sê die mens is vir die meeste daarvan verantwoordelik. Ander sê weer dit is doodgewoon iets wat natuurlik voorkom.
Maar enigiemand wat die weerpatrone in die wêreld dophou, sal weet dat ‘n mens nie hierdie veranderinge kan ontken nie. Kyk maar net na die langdurige droogte wat ons hier in die Oos-Kaap beleef, dan weet jy daar is waarheid in die waarnemings oor klimaatverandering.
Maar, niemand in die wêreld dink daaraan dat God iets hiermee te doene het nie. Terwyl dit helder en duidelik hier in die eerste drie trompette beskryf word, dat ekologiese en klimaat versteurings ook ‘n Goddelike oorsprong het.
Openbaring is daarom eintlik ‘n wekroep vir jou om net jou oë oop te maak en God se hand in hierdie wêreld te erken, selfs al kan jy dit nie verklaar nie. Dit is iets wat Openbaring aan jou wil openbaar. Want, as jy dié dinge nie glo nie, hoe sal jy die ander dinge wat nog kom, glo?
Die vierde trompet
Die vierde trompet se oordeel van verduistering tref die heelal. Dit is gemik op die kosmos.
Waar die eerste drie trompette herkenbaar was in ons leefwêreld, is dit nie so met die vierde trompet nie. Die effek wat die vierde trompet op die kosmos het, beskryf dinge wat waarskynlik nog kom.
Dieselfde geld die vyfde en sesde trompet se demoniese oorlog teen mense op die aarde, iets wat kinders van die Here gespaar sal word, al is daar reeds tekens daarvan in sekere dele van die wêreld.
Die vyfde trompet
Met die blaas van die vyfde trompet, die eerste “wee”, is daar ’n ster wat uit die hemel op die aarde val wat die bodemlose (onderaardse) diepte oopsluit, die plek waar bose geeste en demone gevange gehou is. Dit is ook die tuiste van die dier uit die see, en die Satan.
Uit die skag van dié verskriklike plek het daar nie net rook geborrel wat die son en die lug verduister nie, maar ook sprinkane wat na die aarde geswerm het en die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie, gepynig het met hulle skerpioensterte. Dit is ‘n skrikwekkende visioen van die effek wat bose geeste en demone op mense het.
Die sesde trompet
Waar die vyfde trompet die mense gepynig het, maak die oordeel van die sesde trompet, die twee “wee”, ’n derde van die mense dood. Dit dui waarskynlik op die laaste oorlog, Armageddon, as ‘n mens dit verbind met die sesde bak, waaroor ons môre gaan praat.
Weereens kan ‘n mens die plae in Eksodus in die oordele van die trompette raaksien, wat ’n mens laat besef dat die oordeel van die trompette deel van die verlossende “woorde” van God vir sy mense is, soos die plae in Egipte toentertyd die Eksodus, die bevryding en verlossing van God se volk te weeg gebring het en hulle die tog na die Beloofde land kon aanpak (Ps 105:27-28). Die oordeel bring verlossing.
God se oordeel bring nie die mense tot bekering nie
Die oordele van die vyfde en sesde trompette tref net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. Tóg het dié oordeel geen effek op die res van die mensdom nie.
Hulle gaan doodeenvoudig voort om die lewelose afgode wat hulle self gemaak het, te aanbid, en daarmee saam ook nog demone (oortredings van die eerste tafel van die wet). Hulle kom nie tot inkeer van hulle wetsoortredinge ook van die tweede tafel van die wet nie.
Vier goed word genoem: moorde (oortreding van die sesde gebod), toordery (pharmakōn – towerspreuke en dwelms), onsedelike gedrag (porneias – oortreding van die sewende gebod) en stelery (oortreding van die agste gebod).
Die tragedie is dat hulle nooit die kloutjie by die oor kry nie. Hulle sien nie die oordeel van God raak in die ellendes wat hulle tref nie. Gevolglik kom hulle nie tot inkeer nie.
Die rol van die kerk
Waarop ek egter wil klem lê, is die rol van die kerk binne die verlossende oordeel wat God bring met die blaas van die sewe trompette. Johannes het nou al reeds klem gelê op die heiliges se gebede. In hoofstuk 10 en 11 gaan hy fokus op hulle getuienis.
Hierdie visioene is uiters noodsaaklik om die oordeel van God in konteks te plaas. Terwyl die vlakke van onderlinge boosheid toeneem in die wêreld, beide in terme van die selfvernietigingsdrang van mense en die oordele van God, bring die diensknegte van God die verlossende boodskap dat daar in Jesus Christus ’n nuwe toekoms aangebreek het.
Die rol van die kerk word hier met twee visioene uitgebeeld.
- Die oop boekrolletjie wat na die Woord van God verwys wat soet en bitter is – soet in terme van die evangelie, bitter in terme van die effek wat dit op die verkondiger daarvan het.
- Die twee getuies wat na die getuienisrol van die kerk binne die konteks van geweldige vervolging verwys.
Die oop boekrolletjie
‘n Ander sterk engel daal uit die hemel neer na Johannes met ‘n oop gerolde boekrolletjie, die Woord van God. En Jesus sê vir Johannes om die boekrol te gaan neem:
10:8Toe het die stem wat ek uit die hemel gehoor het weer met my gepraat en gesê: “Gaan neem die boekrol wat oopgerol is in die hand van die engel wat op die see en die aarde staan.”
9Daarop het ek na die engel toe gegaan en aan hom gesê om die boekrolletjie vir my te gee. En hy sê vir my: “Neem en eet dit en dit sal bitter wees in jou maag, maar in jou mond so soet soos heuning.”
10Ek het toe die boekrolletjie geneem uit die hand van die engel en dit geëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit geëet het, was dit bitter in my maag.
11En hulle sê aan my: “Jy moet weer gaan profeteer teen volke en nasies en tale en baie konings.”
Hierdie boekrolletjie in hoofstuk 10 bevat die verlossingsplan vir die aarde wat aan die kerk toevertrou is, op soortgelyke wyse as wat die vorige boekrol in hoofstuk 5 die verlossingsplan van die heelal wat aan Jesus Christus toevertrou is, bevat.
Dit kan daarom met die Woord van God verbind word en is iets wat eintlik vir die hele kerk gegee word. Johannes verteenwoordig dus hier die kerk as sodanig.
Die simboliek van die soet smaak (vgl. Eseg. 3:3) en die bitter uitwerking in die maag dui op die ervaring wat gelowiges telkens het. Die besig wees met God se Woord en sy opdragte aan ons roer aan die een kant ons hart en bring ons in beweging. Dit is wonderlik om van God se verlossing te getuig.
Aan die ander kant weet ons ook dat gehoorsaamheid aan die Woord baie keer tot konflik, stryd en teenstand in hierdie wêreld lei, soms selfs tot konflik in jouself en binne die gemeenskap van gelowiges. Dit is egter deel van die boodskap wat aan die kerk toevertrou is, die verkondiging van God se oordeel.
In beide hierdie aspekte van die boodskap van die kerk, lê ons opdrag.
- Aan die eenkant moet ons die genade van die verlossing met alles wat in ons is aan alle mense so ver as wat ons dit kan doen, verkondig.
- Aan die ander kant moet ons die sekerheid van die oordeel van God oor sonde en afvalligheid verkondig aan die hele wêreld.
Dit is die somtotaal van ons getuienis. En belangrik, dit is ook nodig dat leiers (konings) dit hoor, nie net die gewone mense van die nasies van hierdie wêreld nie.
“A comfortable, easy-minded church has no power to stir the world either to salvation or to opposition.” (Morris).
Die twee getuies
Hoofstuk 11 fokus nou op die bevestiging en beskerming van gelowiges as God se eiendom. Dit is wat die meet en tel van die aanbidders in die tempel beteken.
Die beskerming beteken natuurlik nie dat hulle van alle fisiese gevare en bedreiginge beskerm word nie. Gelowiges was nog steeds blootgestel aan teëstand en selfs martelaarskap. Maar hulle verhouding met God word deur God self in stand gehou, sodat hulle nie geestelike skade opdoen nie.
Johannes vertel ons ook van die inhoud van die getuienis van die kerk, gesimboliseer deur die twee getuies. Hulle staan vir die priesterlike en koninklike getuienis van die kerk. Of die getuienis van die wet en die profete.
Die wedervaringe van die twee getuies wys dat getuienis alles van ons as kerk vra, selfs die dood as martelare. God bemoedig ons om te volhard met die visioen dat hulle uit die dood uit opgewek word as veroordeling van die wêreld en as bevestiging van hulle ewige plek in die hemel.
Die ligpunt in hulle verhaal is dat hulle dus nie net hulle volle boodskap kon aflewer en daarom in hulle doel geslaag het nie, maar ook uiteindelik weer opgewek word. Dit is ‘n wonderlike bemoediging ook vir ons.
Soos Jesus vir sy dissipels gesê het:
27En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.” (Joh 15:27).
Dit bly onvervreembaar ook ons rol. Ons moet hierdie getuienistaak ook op ons neem.
4. Verlossing
Met die twee getuies se opstanding uit die dood is ons alreeds by die vierde deel van hierdie vertelling, die verlossing.
11:15En die sewende engel het op sy trompet geblaas. Toe het ’n groot klomp stemme in die hemel gesê: “Die koningsheerskappy oor die wêreld het die eiendom van ons Here en sy Christus geword, en Hy sal vir ewig en altyd as koning regeer.”
16Ook die vier en twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle gesigte neergeval en God aanbid 17terwyl hulle sê: “Ons is dankbaar teenoor U, Here God, die Almagtige. U is die Een wat is en wat was, omdat U u groot mag in ontvangs geneem het en as koning begin regeer het.
18Maar die nasies was kwaad en u toorn het aangebreek, ook die tyd om die dooies te oordeel en om ook u diensknegte, die profete en die heiliges en hulle wat u Naam vrees, die geringes en die magtiges, te beloon; en om die vernietigers van die aarde te vernietig.”
19Toe is die tempel van God in die hemel geopen en sy verbondsark is in sy tempel gesien. En weerligstrale en dreunings en donderslae en ’n aardbewing en ’n groot haelstorm het plaasgevind.
Die tweede hoofdeel van Openbaring, hoofstuk 4-11, word dus afgesluit met die blaas van die sewende trompet wat die koningskap van God “en sy Christus” oor die heelal aankondig en in werking stel. Nog ‘n prentjie in Openbaring van die wederkoms van die Here Jesus.
Dit ontlok lofprysing by die hemelse wesens vir God se koningskap sowel as aanbidding by die 24 ouderlinge dat God nou sy finale oordeel oor die dooies sal fel, die gelowiges sal beloon vir hulle volharding en die vernietigers van die aarde tot niet sal maak.
Môreaand fokus ons op God se beskerming van sy kerk soos ons dit in Openbaring 12-14 lees.
Gebed
Pinkster is tradisioneel ‘n tyd van gebed. Jy is welkom om die video vir ‘n paar minute te stop en te bid. Eerstens in reaksie op die prediking. Tweedens vir ons gemeentes en kerk. Derdens vir ons land en die inperking. Vierdens vir julle eie lewe.
Bybelverspreiding
Jy kan jou bydrae vir Bybelverspreiding gee met Snapscan aan die einde.
Toewyding
Lied 442 – Gees van God wat in my woon
Seën
17En die Gees en die bruid sê: “Kom!”
En dié wat hoor, moet sê: “Kom!”
En dié wat dors het, moet kom.
Dié wat wil, laat hy die water van die lewe neem, verniet!
21Die genade van die Here Jesus is met julle almal.
En die gemeente sê: Kom!