“Ek kom gou!” Tema: God beskerm sy kerk Pinkster 6 – Somerstrand Youtube 18:30 27 Mei 2020
KYK DIE VIDEO – LAAI DIE BOEK AF
Verwelkoming
Baie welkom by die sesde Pinksterdiens. Ons behandel die boek Openbaring.
Die eerste drie hoofstukke van Openbaring handel oor God se teenwoordigheid op aarde in die midde van die sewe gemeentes.
Die volgende vier hoofstukke – hoofstuk 4-7 – handel oor God op die troon wat deur die Here Jesus sy agenda met sy verlossende oordeel deur sewe seëls uitvoer. Dit dek die hele tydperk van Jesus se hemelvaart tot by sy wederkoms.
Die volgende vier hoofstukke – hoofstuk 8-11 – handel oor dieselfde tydperk met die blaas van die sewe trompette deur die sewe aartsengele, maar fokus ook op die rol van die kerk in gebed en getuienis.
Vanaand doen ons die drie hoofstukke – hoofstuk 12-14 – en fokus op God se beskerming van sy kerk.
- Onthou die boek oor Openbaring: “Ek kom gou!” Gratis en verniet.
- Like sommer nou die Youtube videokanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe
Votum en Seëngroet
In die woorde van Johannes aangepas vir Somerstrand:
4Van Johannes aan die gemeente in Somerstrand. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom en van die sewe Geeste wat voor sy troon is.
5En van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene van die dooies, die heerser oor die konings van die aarde.
7Kyk, Hy kom op die wolke en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die stamme van die aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!
Loflied
Lied 286 – Here God van liefde
Gebed
Skriflesing en prediking
Openbaring 12-14 (eintlik tot 15:4) fokus op die kerk. Die kerk van die eeue.
Die kerk word as ‘n vrou voorgestel, ‘n grootse figuur, beklee met die son, haar voete op die maan, met ‘n oorwinnaarskroon van twaalf sterre.
Die verhaal van die kerk word in drie dele vertel waarin veral gefokus word op God se beskerming van die kerk.
1. In hoofstuk 12 is die kerk in ‘n geweldige en langdurige stryd met die draak, die duiwel, die slang van ouds, die Satan, die aanklaer van die kinders van God. Die geveg word in die res van hoofstuk 12 uitgespel in beide die OT as die NT bedeling. Telkens gryp God in om die kerk te beskerm.
2. In hoofstuk 13 word uitgebrei op die strategie van die duiwel en sy twee trawante, die onheilige triniteit. Daar is die dier uit die see – die antichris – die teenstander van Christus. Daar is die dier uit die aarde – die profeet – die teenstander van die Heilige Gees. Daar is die draak – die Satan – die teenstander van die Vader. Dit is waar die berugte teken van die dier beskryf word, die 666.
Hulle strategie is om die werk van die ware Triniteit na te boots om mense te mislei en deur politieke, ekonomiese en godsdienstige mag te dwing om téén God en sy kerk te draai. Hulle kry dit egter nie reg om die ware gelowiges te mislei nie. Hulle geloof en volharding en wysheid help hulle om aan God getrou te bly. Hierdie tyd word as ‘n “vergunning” van die Here geskets.
3. In hoofstuk 14 word uitgebrei op die oorwinning van die kerk en die uiteindelik skeiding tussen die kinders van God en die kinders van die duiwel, uitgedruk met ‘n oes van koring, en ‘n oes van druiwe. Die koring word deur Jesus self ingesamel. Die druiwe word deur ‘n ander engel ingesamel en in die groot druiwepers van God se toorn gegooi en getrap.
‘n Wonderlike prentjie word in die eerste verse van hoofstuk 15 van die hemel gegee van die kerk wat die lied van Moses (OT) en die lied van die Lam (NT) sing. Voordat die volgende sewe oordele ons weer terugvat na God se agenda wat in die geskiedenis uitspeel waarin die politieke en ekonomiese mag van Babilon uiteindelik gebreek en verwoes word.
1. Die stryd teen die kerk
Dit is noodsaaklik dat ons kennis neem dat die kerk van die eeue altyd in stryd was met die duiwel. Iets wat al in Genesis 3:15 op ‘n verskuilde manier ná die sondeval aangekondig is deur God.
“14En die Here God sê vir die slang … 15Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Vandat die slang die eerste mense oortuig het om God se opdragte te verander en uiteindelik te verwerp, weerklink sy vraag in ons ore: “Het God regtig gesê? Dit is steeds die stryd in die kerk. “Het God regtig gesê?” Elke enkele etiese debat in die kerk wentel eintlik om daardie vraag.
En die duiwel is slim. Hy gebruik die invloed van die publieke mening – die media – om elke Bybel-getroue gelowige as oudmodies en agterlik uit te maak.
Op die koop toe val talle in die kerk vir die versoeking om self God se woorde aan te pas by die heersende wêreldse siening oor etiese sake. Ter wille van aanvaarding. Sodat hulle die stryd met die duiwel kan vermy.
Hulle raak egter uiteindelik en onvermydelik vyande van dié wat graag aan God se Woord gehoorsaam wil bly. Vyande van dié wat die slang antwoord: “Ja, God het inderdaad so gesê!”
Dit is die agtergrond vir die stryd waarvan ons lees in hoofstuk 12:
12:1’n Groot teken het toe in die hemel verskyn: ’n vrou wat beklee is met die son en die maan onder haar voete en op haar kop ’n kroon van twaalf sterre.
2Sy was swanger en het geskreeu van die geboortepyne en die swaarkry om geboorte te gee.
3Daar het toe ook ’n ander teken in die hemel verskyn: Kyk, ’n groot rooi draak met sewe koppe en tien horings en sewe krone op sy koppe.
4En sy stert sleep ’n derde van die sterre van die hemel saam en gooi hulle op die aarde. En die draak het voor die vrou, wat op die punt gestaan het om geboorte te gee, gestaan sodat wanneer sy geboorte gee hy haar kind kon verslind.
Dit is duidelik dat Johannes hier die geboorte van Jesus uit die OT kerk beskrywe terwyl die draak deur die moorddadige Herodes die Grote die Jesus-kind in die kindermoord wou uitwis.
Wat was God se reaksie?
Johannes beskryf dit so:
5En sy het geboorte gegee aan ’n manlike kind, ’n seun wat bestem is om soos ’n herder oor al die nasies met ’n ysterstaf te heers. Haar kind is egter na God toe en na sy troon weggeruk.
Die hele bediening van Jesus word in ‘n sin opgesom waarvan aanvanklik eintlik net die eindpunt, die hemelvaart, genoem word. Hierdie Jesus, wat bestem is om oor al die nasies te heers, is uit die kloue van die dood, uit die kloue van die draak, weggeruk na die troon van God vanwaar Hy nou die verlossende oordeel van God bestuur met die sewe seëls, sewe trompette, en hierna nog die sewe bakke.
Johannes beskryf egter direk daarna ‘n hemelse oorlog tussen Migael en Satan wat tegelykertyd met die aardse bediening van Jesus plaasgevind het.
7Daar het toe oorlog ontstaan in die hemel: Migael en sy engele het oorlog gemaak teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gemaak,
8maar kon nie oorwin nie, en hulle plek in die hemel was nie meer te vind nie.
9Die groot draak, die slang van die oertyd, wat ook die duiwel en die Satan genoem word, wat die hele bewoonde wêreld verlei, is toe neergegooi op die aarde en sy engele is saam met hom neergewerp.
Jesus verwys ook daarna:
“Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val,” toe die twaalf van hulle sending terugkom wat duiweluitdrywing ingesluit het (Luk. 10:18).
En met die aanvang van sy lydenspad in Jerusalem, praat Jesus ook daarvan:
“31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.” (Joh. 12:31).
Dit is dieselfde gebeure waarna Johannes se beskrywing verwys.
Die vrou moet egter hierna op die aarde agterbly, daar waar die draak nou neergegooi is vanuit die hemelse raadsaal. Saam met sy engele.
Weereens tree God op.
Twee keer word gesê dat die Here vir haar plek voorberei in die “woestyn”-tyd wat sy beleef en dat Hy vir haar voorsien met kos.
En elke strategie van die duiwel om haar te verwoes, word deur God gefnuik.
- As die draak haar agtervolg, gee God vir die kerk vlerke om die gevaar te ontsnap.
- As die draak die natuur teen die kerk wil inspan – die stroom water – dan beskerm selfs die natuur die kerk – die aarde wat die water insluk.
Dit is egter nie al nie. God gee die kerk ook die vermoë om staande te kan bly sodat hulle self die oorwinning kan smaak:
11danksy die bloed van die Lam en op grond van hulle boodskap as getuienis.
En hulle kon dit doen, omdat hulle ook nie hulle lewens, selfs tot die dood toe, liefgehad nie (vers 11) en hulle het die opdragte van God bewaar en aan die getuienis van Jesus vasgehou (vers 17).
2. Die strategie van die bose triniteit
Dit is ook noodsaaklik dat ons kennis neem van die strategie van die bose of onheilige triniteit.
Hoofstuk 13 praat van die dier uit die see. Dit is die antichris, die teenstander van Christus. Daar is ook die dier uit die aarde. Dit is die profeet, die teenstander van die Heilige Gees. Daar is natuurlik ook steeds die draak. Dit is die Satan, die teenstander van die Vader.
Hulle strategie is om die werk van die ware Triniteit na te boots om mense te mislei en deur politieke, ekonomiese en godsdienstige mag te dwing om téén God en sy kerk te draai.
Johannes bemoedig ons egter deurdat hulle – ten spyte van die groot mag wat aan hulle gegee word – dit nie regkry om die ware gelowiges te mislei nie.
Die antichris
So skryf hy oor die antichris:
5En aan hom (die dier uit die see, die antichris) is ’n bek gegee om groot te praat en God te laster. Daar is ook aan hom volmag gegee om vir twee en veertig maande op te tree (‘n beperkte tyd).
6Hy het toe sy bek oopgemaak om teen God te laster, teen sy Naam en sy woning en teen dié wat in die hemel woon.
7Hy is ook vergun om oorlog te maak teen die heiliges en hulle te oorwin. En aan hom is volmag gegee oor elke stam en volk en taal en nasie.
8Alle aardbewoners sal voor hom neerkniel in aanbidding, dit is elkeen wie se naam nie vanaf die grondlegging van die wêreld af in die Boek van die Lewe, van die Lam wat geslag is, opgeskryf is nie.
Wat moet die reaksie van die gelowiges wees?
9As iemand ’n oor het, moet hy luister!
10As iemand tot gevangenskap bestem is, gaan dan in gevangenskap;
as iemand bestem is om deur ’n swaard doodgemaak te word, met ’n swaard word só ’n persoon dan doodgemaak.
In hierdie opsig kom die volharding en geloof van die heiliges te pas.
Gelowiges moet geen kompromieë maak met die antichris nie. Selfs nie as dit tronkstraf of die dood insluit nie. Dit is waarom Johannes sê: volharding en geloof sal jou daardeur dra.
Die antichris staan natuurlik vir enige leier of veral politieke sisteem wat die boodskap van Jesus Christus onderdruk. Ons sien dit in enige totalitêre staat in die wêreld, waar vryheid van assosiasie en aanbidding weggeneem word. Waar alles wat jy mag en nie mag nie vir jou voorgeskryf word.
Maar, dit kulmineer waarskynlik aan die einde van die tyd in ‘n leier wat selfs die opstanding van die Here Jesus sal namaak – die wond waarvan Hy genees word soos in vers 3 genoem word. Ek gee ‘n paar verwysings as jy meer wil lees oor die antichris (vgl 1 Joh 2:18, 22; 4:3; 2 Joh 7; vgl ook Jesus oor die “vals christusse” in Matt 24:24 en Paulus oor die “wettelose mens” – 2 Tess 2:3-12).
Wat ons bemoedig is dat hierdie tyd eerstens beperk is – 3 ½ jaar – en as ‘n “vergunning” van die Here geskets word. Wat beteken dat dit kort sal wees, en dat Hy elke deel daarvan sal bestuur en uiteindelik ‘n einde aan sal maak. Op die koop toe gebruik Hy dit om sy eie planne uit te voer.
‘n Mens kan baie vasval in die detail van hierdie hoofstuk oor die antichris. En daar is baie verklarings – goeies en slegtes.
Die boodskap van die gedeelte is egter om ons by die punt van geen kompromie uit te bring waar ons sê:
“Ja, ons word vervolg; ja, ons sukkel ekonomies; ja, ons sukkel polities; ja, ons sukkel met die publieke mening wat teen ons gedraai het. Maar, ons sal nie afwyk van die suiwer geloof in die Here Jesus gebaseer op sy openbaring in die Skrif nie. Ons sal nie kompromieë aangaan met die heersers van die dag nie.”
Die profeet
Ek wil nie veel sê oor die tweede dier uit die aarde nie – die sogenaamde “profeet” soos Openbaring 16:13 hom noem – maar hy word gesien as die antitipe van die Heilige Gees, die een wat uiteindelik die ekonomie beheer en deelname aan die ekonomie beheer.
16Hy (die dier uit die aarde, die profeet) bewerk dit ook dat almal, die geringes en die invloedrykes, die rykes en armes, die vryes en slawe, ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop ontvang.
17En die doel daarmee is dat niemand in staat sou wees om te koop of te verkoop nie behalwe dié wat die merk het; dit is die naam van die dier of die getal van sy naam.
18In hierdie opsig gaan dit oor wysheid. Dié wat verstand het, laat hy die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ’n mens en sy getal is seshonderd ses en sestig.
Daar is baie interpretasies oor presies waarop die simboliek van die vals profeet dui. Dit kan eintlik met enige groot godsdienstige of politieke beweging verbind word wat nie net ’n ander god – of juis geen god soos in die ateïsme – aanbid nie, maar spesifiek ook anti-christelik in opset is – soos die militante ateïsme altyd is. Daar was en is talle godsdienste en regerings wat daarmee verbind kan word.
Die wyse waarop hierdie sisteme werk, is dat die denk– en werkvermoë van die mensdom wat hulle volg, in diens van die bose driemanskap geplaas word. Dit is een van die maniere om die merk op die kop en die merk op die hand te verklaar (Du Rand).
Elke sisteem wat vir jou bepaal wat jy moet dink en hoe jy moet doen, is per definisie deel hiervan. Dit gaan uiteraard nou nie oor noodsaaklike dinge soos stopstrate en vullisverwydering of vanselfsprekende dinge soos jy mag nie moord pleeg en steel nie.
Dit gaan oor die agente wat debat smoor, magtiges wat alternatiewe menings verban, invloedrykes wat reëls maak sonder om die data waarop dit berus bekend te maak.
Dit het baie keer die noodwendige gevolg dat gelowiges hierdeur van die ekonomie uitgesluit word – soos dit vandag op talle plekke in die wêreld die geval is. Want, as gelowiges nie aan die heersende godsdienspraktyke wil deelneem nie, ongemaklike vrae vra, die heerskappy van die Here Jesus oor alles in hierdie wêreld verklaar, dan word hulle gepenaliseer, uitgeskuif, en verban uit die publieke sfeer.
Dit is wat die getal 666 beteken, ‘n beskrywing van die dwingelandy van denke en dade wat moet inval by die heersende politieke en publieke diskoers. Wie hierin insig het, kan planne maak om die dier se invloed minder te maak. Of alternatiewe maniere van ekonomiese oorlewing skep sodat hulle aan die Here getrou kan bly.
Eerder as dat ‘n mens gematria gebruik, waar jy die numeriese getalwaarde van name uitwerk, om dan ’n persoon daarmee te verbind. Baie teoloë verbind 666 aan iemand soos keiser Nero. Sy naam en titel in Hebreeus (Nero Ceasar – נרונקסר) het ‘n numeriese waarde van 666.
Maar, dit oortuig nie regtig nie. Nero was al 30 jaar dood toe Johannes hieroor geskrywe het. Nero sou moontlik as ‘n simboliese figuur van alle toekomstige vervolgings deur heersers en hulle regerings gesien kon word. Maar, dit is nie ‘n uitleg wat vreeslik baie om die lyf het nie.
Wat ons bring by die oorwinning van die kerk.
3. Die oorwinning van die kerk
Hoofstuk 14 brei uit op die oorwinning van die kerk. Hierdie keer weer voorgestel met die simboliese getal van 144 000. Wie is hierdie kerk?
14:4Dit is hulle wat hulle nie met vroue besoedel het nie, want hulle is kuis, mense wat die Lam volg waarheen Hy ook al gaan. Hulle is losgekoop onder die mense as eerstelinge vir God en die Lam.
5En in hulle monde is ’n leuen nie gevind nie, hulle is vlekkeloos.
Hulle het soos “maagde” op onberispelike wyse aan die Here Jesus getrou gebly in die geloofstryd en hulle nie met die wêreld en sy verleiding besoedel nie. Hulle was getrou en onberispelik, eerlik en vlekkeloos. Hulle het hulle nie laat vang deur die wellustige onsedelikheid van Babilon nie. Hulle het die opdragte van God gehoorsaam, die Lam gevolg waar Hy ook al gaan, en die geloof in Jesus behou.
Waar die vorige tekening van die 144 000 na gelowiges verwys het wat nog midde-in die stryd op aarde is, word die skare gelowiges hierdie keer as in die teenwoordigheid van die Here self en die ander hemelse wesens geteken.
Daarmee dra dit die boodskap dat God in staat is om elkeen wat Hy gemerk het as sy eiendom, te bewaar vir die ewige heerlikheid.
Die skeiding tussen gelowiges en ongelowiges
Dit sien ons in die volgende visioen wat die laaste oordeel voorstel:
14Ek het toe gesien, en kyk! ’n wit wolk, en op die wolk sit iemand net soos ’n Seun van die mens (vgl Daniël 7; 12). Op sy kop is ’n goue kroon en in sy hand ’n skerp sekel.
15’n Ander engel het van die tempel af uitgegaan en roep met ’n kragtige stem na Hom wat op die wolk sit: “Steek jou sekel in en oes omdat die uur gekom het om te oes, aangesien die oes van die aarde ryp is.”
16Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel ingesteek op die aarde en die aarde is geoes.
Die skeiding kom dus uiteindelik tussen die kinders van God en die kinders van die duiwel.
Die koring word deur die Seun van die mens, Jesus, self ingesamel. Dit is dié wat enduit volhard het in die geloof.
Die druiwe word deur ‘n ander engel ingesamel en in die groot druiwepers van God se toorn gegooi en getrap. Dit is dié wat hulle teen God en sy gebod verset het.
17Toe het daar ’n ander engel uit die tempel in die hemel gekom terwyl hy ’n skerp sekel vashou.
18’n Ander engel het van die altaar af gekom, hy het volmag oor die vuur en met ’n kragtige stem geroep na hom wat die skerp sekel vashou en gesê: “Steek jou skerp sekel in en oes die druiwetrosse van die wingerd van die aarde omdat sy druiwetrosse ryp is.”
19Die engel het toe sy sekel ingesteek op die aarde en die wingerd van die aarde afgeoes en dit in die groot druiwepers van God se toorn gegooi.
20Die druiwepers is toe buite die stad getrap en bloed het uit die druiwepers geloop tot aan die tooms van die perde vir sestienhonderd stadia ver.
Johannes sluit hierdie gedeelte af met ‘n wonderlike prentjie in hoofstuk 15 van die hemel. Die keer sing hulle die lied van Moses (die ou bedeling) en die lied van die Lam (die huidige bedeling).
2En die oorwinnaars oor die dier en sy beeld en die getal van sy naam het by die see van glas gestaan, terwyl hulle die siters van God vashou.
3En hulle sing die lied van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam en sê:
“Groot en wonderbaarlik is u werke, Here God, die Almagtige.
Regverdig en betroubaar is u paaie, Koning van die nasies.
4Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Omdat U alleen heilig is!
Al die nasies sal kom en neerkniel in aanbidding voor U omdat u regverdige dade sigbaar geword het.”
Watter toekoms!
Voordat die volgende sewe oordele ons natuurlik weer terugvat na God se agenda wat in die geskiedenis uitspeel waarin die politieke, ekonomiese en godsdienstige mag van Babilon uiteindelik gebreek en verwoes word. Weereens gaan ons op die kerk fokus en spesifiek meer sê oor God se bevryding van sy kerk – Openbaring 15-18 (eintlik 19:4).
Gebed
Pinkster is tradisioneel ‘n tyd van gebed. Jy is welkom om die video vir ‘n paar minute te stop en te bid. Eerstens in reaksie op die prediking. Tweedens vir ons gemeentes en kerk. Derdens vir ons land en die inperking. Vierdens vir julle eie lewe.
Bybelverspreiding
Jy kan jou bydrae vir Bybelverspreiding gee met Snapscan aan die einde.
Toewyding
Lied 442 – Gees van God wat in my woon
Seën
17En die Gees en die bruid sê: “Kom!”
En dié wat hoor, moet sê: “Kom!”
En dié wat dors het, moet kom.
Dié wat wil, laat hy die water van die lewe neem, verniet!
21Die genade van die Here Jesus is met julle almal.
En die gemeente sê: Kom!