Hemelvaart 13 Mei 2021 Somerstrand Youtube
Verwelkoming
Ek lees die hele teks van die Hemelvaart in Handelinge 1 sodat jy vandag daaroor kan nadink. Ek gaan kortliks sewe aspekte van die Hemelvaart uitlig om jou leiding te gee oor waaroor om oor na te dink. Jy kan een daarvan kies en die betekenis daarvan vir jou bepeins. Ek plaas ook die teks van die Heidelbergse Kategismus aan die einde vir verdere leeswerk.
En dan gaan ek jou aanmoedig om jou op gebed toe te lê. Dit is immers wat die dissipels daardie tyd gedoen het. Dit is ook waaroor die Pinkstertema gaan: Waak en Bid.
Bybelgenootskap fondsinsameling
Onthou om Bybelgenootskap te ondersteun hierdie Pinkstertyd. Jy kan ‘n bedrag EFT – suggestie van R185, die prys van die 2020-vertaling – en net “Bybelgenootskap” as verwysing gee. Absa 100 873 1388.
Toetrede
Lied 278 – Hoor ons bid o Heer
Votum en Seëngroet
Liedere
Lied 442 – Gees van God wat in my woon
Skriflesing en prediking
Handelinge 1:1-14
1 Die eerste berig, Teofilus, het ek geskryf oor alles wat Jesus begin doen en waaroor Hy onderrig gegee het, 2 tot die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy deur die Heilige Gees opdragte gegee het aan die apostels wat Hy uitgekies het. 3 Aan hulle het Hy, ná sy lyding, deur talle tekens getoon dat Hy leef, toe Hy oor ‘n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn en met hulle oor die sake van die koninkryk van God gepraat het. 4 Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. 5 Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.”
Jesus se hemelvaart
6 Toe hulle bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” 7 Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” 9 Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en ‘n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. 10 Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle 11 en vra: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het.” 12 Daarna het hulle van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, ‘n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem. 13 Toe hulle daar aankom, het hulle opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het: Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Thomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus, seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas, die seun van Jakobus. 14 Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers. (Hand 1:1-14 – 2020-vertaling).
Die betekenis van Hemelvaart
Die Hemelvaart van Jesus is van groot betekenis vir die kerk van die Here Jesus Christus.
Ek noem sewe van die uitstaande betekenisse, want dit is die dinge waaroor jy vandag moet nadink. Dit is waarom ons hemelvaart vier (vgl Heidelbergse Kategismus vraag & antwoord 46-52 – ek plaas dit aan die einde sodat jy dit weer ‘n keer kan lees).
1. Die Here Jesus Christus is sigbaar opgeneem
Die hemelvaart het voor die oë van sy dissipels gebeur. Hy is van die aarde af na die hemel toe geneem.
“Jesus is opgeneem terwyl hulle toekyk.” (Hand 1:9; vgl Mark 16:19; Luk 24:51).
Die dissipels kon dus persoonlik getuig dat Jesus na God toe is. Dat die hemelvaart werklik gebeur het. Dat Jesus nou by God is, lewend, en in sy menslike gestalte.
Dit beteken dat jy ook in Jesus se hemelvaart kan glo. Dit berus op die goeie getuienis van ooggetuies. Net soos Jesus se opstanding uit die dode.
2. Jesus verteenwoordig ons nou by God in die hemel self.
Jesus is ons Voorspraak by God.
Soos Johannes sê: “Ons het Jesus Christus, die Regverdige, as Parakleet by die Vader.” (1 Joh 2:1; vgl Rom 8:34).
Dit is nie net die Gees in ons wat ons Voorspraak, ons Parakleet, is nie. Dit is ook Jesus. Die Gees is die Voorspraak in ons. Jesus is die Voorspraak in die hemel.
En Jesus is vir ons in die hemel ten goede, want Hy doen daar voorbidding vir ons. Dit is wat die Voorspraak doen!
Daarbenewens versterk Hy elke gebed wat ons deur Hom tot die Vader bid, pleit Hyself voor die Vader namens ons (Hebr 7:25; 9:24; Rom 8:34; Kol 3:1).
3. Jesus is ‘n betroubare waarborg dat Hy vir ons plek berei in die hemel
Jesus het sy dissipels vóór sy kruisdood alreeds verseker: “Ek gaan om vir julle plek voor te berei.” – Joh 14:2
Hulle was tereg bekommerd wat met hulle gaan gebeur met sy dood. Om nie te praat van wat na sy dood met hulle sal gebeur nie.
Daarom het Jesus hulle harte gerusgestel met wat in die hemel met hulle sal gebeur. Soos Hy ‘n plek in die hemel het op grond van die belofte van sy Vader, só het hulle dit ook op grond van sy belofte.
Dit geld uiteraard ook vir ons aan die einde van die tyd.
Maar, die hemelvaart het nie net betekenis vir die einde van die tyd nie. Dit het groot betekenis ook nou vir ons.
4. Christus is nou daar as die Hoof van alles.
Paulus sê vir ons: “God het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles.”( Ef 1:20-23; vgl Kol 1:18)
Dws, God die Vader regeer alles deur Hom. Nou. Daar is niks wat hier gebeur met ons en met die wêreld, waarvan Hy nie bewus is nie, en waarby Hy nie betrokke is nie.
Met sy hemelvaart het Jesus sy dissipels verseker: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.” (Matt 28:18)
Daarom is Hy in staat om ons met sy mag teen alle vyande te beskerm en te bewaar. Al beteken dié bewaring soms dat dit deur die dood is.
Hoekom? Want Hy het ook mag oor die ewige lewe. Daarom kan Hy belowe:
“Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh 10:28: vgl Ps 2:9; 110:1, 2; Ef 4:8).
Daar is egter meer.
5. Jesus is steeds by ons na sy Goddelike natuur.
Onthou, Jesus het twee nature. Hy is God en Hy is mens. Wat sy mensheid betref, is Hy nou in die hemel, maar wat sy Godheid betref, is Hy steeds by ons. Sy Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie, en is orals teenwoordig.
“Vul Ek nie die hemel en aarde nie?” sê die Here aan Jeremia (Jer 23:24; Hand 7:49).
Jesus se Godheid is dus ook teenwoordig buite sy aangenome mensheid. Soos Paulus sê:
“Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik.” (Kol 2:9)
(Vgl ook Joh 3:13: “Niemand het na die hemel opgevaar nie behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het – dit is die Seun van die mens.” Asook Joh 11:15; Matt 28:6).
Jesus is as God by ons in sy majesteit, sy genade en baie belangrik, sy Gees. Jesus was dus heeltemal korrek om vir die dissipels te sê dat Hy ons nie in die steek laat nie. Hy is steeds by ons en sal by ons wees tot aan die einde van die tyd.
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” (Joh 14:18)
En
“Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matt 28:20).
6. Jesus sal eendag terugkom en ons daarheen neem
Jesus sal terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het (Hand 1:11; Matt 24:30).
“Die Vader het die volle oordeel aan die Seun oorgegee.” (Joh 5:22).
Dit beteken dat ek in alle droefheid en vervolging hierdie Jesus met gespanne verwagting as Regter uit die hemel kan verwag.
“Ons burgerskap is in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag.” (Fil 3:20; vgl Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16)
Jesus het Hom tevore, dws aan die kruis, in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem.
Daarby belowe Jesus dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp.
Vir die bokke aan sy linkerkant sal Jesus sê:
“Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur, wat gereedgemaak is vir die Duiwel en sy engele.” (Matt 25:41)
Soos Paulus die Tessalonisense verseker:
“Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld.” (2 Tess 1:6)
Maar vir jou, saam met al die uitverkorenes, sal Hy na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (Matt 25:34; 2 Tess 1:7).
7. Jesus het vir ons die Gees gestuur
Maar, die belangrikste gawe waaroor ons in die Pinkstertyd gaan nadink, is die gawe van die Gees.
Aan die een kant waarborg die Gees vir ons die ewige lewe, omdat Hy vir ewig by ons bly.
“Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid.” (Joh 14:16-17; vgl Joh 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5)
Aan die anderkant is dit deur die Gees se krag wat ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie.
Volhard in gebed
En dit is waar ons die dissipels hier in die bovertrek aantref. Besig om te bid dat daardie krag van die Gees hulle s’n sal word, sodat hulle die opdrag kan uitvoer wat die Here Jesus vir hulle het, om die evangelie tot aan die eindes van die wêreld te neem.
14 Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers. (Hand 1:14 – 2020-vertaling).
Dit is hierdie volharding in gebed wat die krag van God in ons ontsluit gaan word.
Soos een kommentaar dit sê:
If the Holy Spirit is the divine gift which empowers and guides the church, the corresponding human attitude towards God is prayer. It is as the church prays that it receives the Spirit.[1]
Ek het die raamwerk van Dick Eastman in sy boek The Hour That Changes the World aangepas om dit my eie te maak.
- Ek stuur elke oggend van die 13de tot die 23ste Mei, die tyd van Pinkster, die skakel na daardie dag se aanbieding via die webtuistesco.za en bybelskool.com. Teken daar in as jy dit as e-pos wil ontvang.
- Ek stuur dit ook via my Facebook blad en die verskillende Facebook bladsye van die gemeente Somerstrand.
- Ek stuur dit ook via Whatsapp – stuur jou naam, van en selnommer as jy dit só wil ontvang. Onthou om my naam en van en selnommer op jou selfoon se kontaklys te stoor, anders sal jy dit nie kry nie (Chris van Wyk – nul agt twee 574 9191).
Daar is 14 video’s. Daar is ‘ inleiding op die reeks. En dan die 12 video’s wat elkeen een van die temas hanteer. Daar is ook ‘n laaste video wat al die elemente saamvat, met elkeen so 5 minute lank, sodat jy dit na die tyd kan gebruik om deur die 12 elemente te werk in ‘n uur van gebed.
Ek stuur Donderdag, die 20ste Mei, twee skakels om die reeks te kan inpas teen Sondag, die 23ste Mei. Dit is die twee kortste video’s: 8) dankie sê en 9) sing.
Die video’s is egter almal van die begin af beskikbaar. So, jy kan dit kyk wanneer dit jou pas.
Neem ‘n wilsbesluit
Onthou, al wat nodig is, is om die besluit te neem om te begin bid. Jy het niks meer nodig as ‘n wilsbesluit nie.
Maar, dit is ook presies daar wat jou stryd sal begin. Daar sal onderbrekings kom. Hindernisse. Afleidings. Moegheid.
Maar, dit is moontlik om tyd te maak. Begin deur die video’s een vir een te kyk en die gebed vir daardie dag te beoefen. As jy almal klaar gekyk het, gebruik die een uur video om een uur in gebed te spandeer. Kry dan jou eie ritme met al 12 die elemente, of wissel dit af.
As ‘n uur aanvanklik vir jou te veel is, begin met 12 minute ‘n dag, en spandeer een minuut aan elkeen van hierdie elemente van gebed. Of kies net vyf van die elemente en spandeer 5 minute ‘n dag daaraan.
Soos met enige oefenprogram is dit nodig om jouself te verbind daaraan. Soos jy volhard, begin jy die waarde daarvan insien, en raak dit ‘n onontbeerlike deel van jou dag.
Is jy gereed?
Die eerste gebed is aanbidding.
Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.
Gebed
Slotlied
Vonkk 058 – Ons vind ons krag in die Here
Seënbede
Sondag 18
46 Vraag: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?
Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem (a) en Hy is vir ons daar ten goede (b) totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het (c).
(a) Hand 1:9; Mark 16:19; Luk 24:51: (b) Heb 9:24; 4:14; Rom 8:34; Kol 3:1. (c) Hand 1:11; Matt 24:30.
47 Vraag: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie (a)?
Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie (b), maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie (c).
(a) Matt 28:20. (b) Heb 8:4; Matt 26:11; Joh 16:28; 17:11; Hand 3:21. (c) Joh 14:18; Matt 28:20.
48 Vraag: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.
(a) Jer 23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh 3:13; 11:15; Matt 28:6.
49 Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).
(a) 1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.
Sondag 19
50 Vraag: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan regterhand van God?
Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy Christelike kerk (a) kan betoon, deur wie die Vader alles regeer (b).
(a) Ef 1:20-23; Kol 1:18. (b) Matt 28:18; Joh 5:22.
51 Vraag: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort (a). Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar (b).
(a) Hand 2:33; Ef4:8. (b) Ps 2:9; 110:1, 2; Joh 10:28: Ef 4:8.
52 Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag (a) wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp (b), maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem (c).
(a) Fil 3:20; Luk 21:28; Rom 8:23; Tit 2:13; 1 Tess 4:16. (b) Matt 25:41; 2 Tess 1:6. (c) Matt 25:34; 2 Tess 1:7.
[1] Marshall, I.H., 1980. Acts: an introduction and commentary, Downers Grove, IL: InterVarsity Press.