01 Aanbid

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

Ons begin met die eerste element van gebed: Aanbidding.

Om jou daarvoor voor te berei, wil ek eers iets sê oor die plek waar jy bid.

‘n Alleenplek

Almal van ons het ‘n plek nodig, ‘n plek waar jy alleen kan wees met God. ‘n “Binneste kamer”.

6 Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon. (Matt 6:6).

Die Griekse woord tameion word hier gebruik vir “binneste kamer”. Dit dui op ‘n kamer in die middel van die huis, baie keer gebruik as ‘n stoorkamer, wat nie vensters gehad het nie, en ‘n sleutel om dit mee te sluit.

Só ‘n alleenplek hoef natuurlik nie ‘n fisiese kamer te wees nie. Jesus het baie keer Homself afgesonder op ‘n berg, omdat daar net geen stilte was waar Hy saam met sy dissipels gebly het nie (Matt 14:23). Petrus het bo-op die dak gaan bid om alleen te wees (Hand 10:9).

Die belangrik punt is dat dit daar in die alleenheid, daar wat jy nie onderbreek kan word nie, dit is daar wat jy die Vader moet gaan ontmoet. Dit is daar wat Hy vir jou wag om jou gebede te verhoor. Dit is daar wat sy teenwoordigheid jou hart sal verander. Dit is daar – afgesluit van ander, maar opgesluit met God – wat jy sal leer om te bid.

Bid tot jou Vader

Dit is dan ook waar gebed begin, by die Vader. Die Vader wat in die verborgenheid is, maar wat sien in die verborgenheid. Die woord vir verborgenheid is kryptō wat ook vertaal kan word met “in die geheim” of “privaat”.

Dit is wat Elisa gedoen het toe hy vir die seun van die Sunemitiese vrou wat van sonsteek gesterf het, gebid het. Hy het hom afgesonder, in die privaatheid van ‘n kamer wat hy gesluit het:

33 Hy het ingegaan, die deur agter hulle twee gesluit en tot die Here gebid. 34 Toe klim hy op die bed, gaan lê op die kind en plaas sy mond teen die kind se mond, sy oë teen sy oë en sy palms teen sy palms, en buig so oor hom. Die kind se liggaam het warm geword. 35 Elisa het toe nog ‘n keer heen en weer geloop in die vertrek, op die bed geklim en oor hom gebuig. Die seun het sewe keer genies. Toe die seun sy oë oopmaak, 36 het hy Gehasi geroep en gesê: “Gaan roep die Sunemitiese vrou!” Hy het haar geroep en sy het na Elisa gekom. Hy het gesê: “Tel jou seun op!” 37 Sy het na binne gegaan, by sy voete neergeval en diep neergebuig teen die grond. Toe tel sy haar seun op en gaan uit. (2 Kon 4:33-37).

Petrus het dieselfde gedoen met Tabita (Dorkas), die dissipel in Joppe. Hy het almal uitgestuur, gekniel en in die stilte gebid. Toe het hy na die liggaam omgedraai en gesê:

“Tabita, staan op!”

En sy het regop gesit (Hand 9:40).

Laat u Naam geheilig word

Wat ons bring by die eerste element van gebed soos die Here Jesus sy dissipels geleer het: Aanbidding. Jesus het ook begin by die Vader:

9 Só moet julle dan bid: “Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.” (Matt 6:9).

Terwyl ons gewoonlik eers ons eie behoeftes in gebed na God toe bring en dan nadink oor wat aan God en sy belange behoort, keer die Here Jesus die orde om. Eerstens: u naam, u koninkryk, u wil; dan: gee ons, vergewe ons, lei ons, en verlos ons.

En die heel eerste gebed is om God se Naam te heilig, om Hom te aanbid as die Heilige. Om in eerbied voor Hom te kniel, soos die vier Lewende Wesens in die hemel; soos die 24 ouderlinge op hulle trone gerangskik om God se troon.

Jesus gebruik die woord hagiazō vir “geheilig”. Dit beteken om God te eerbiedig. Om sy Naam te laat uitstaan tussen al die ander name wat rondom ons is. Om Hom alleen te aanbid, soos die eerste en tweede gebod ons leer.

Soos Psalm 29 dit stel:

2 Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam! Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid. (Ps 29:2)

Regdeur die OT word God veral as die Heilige bekendgestel. In die NT word Hy veral as die Vader aan ons geopenbaar. Maar, die eerste ding wat ons tot die Vader bid, is steeds dat sy Naam geheilig sal word.

God is heilig en moet as sodanig erken word:

3Deur diegene wat naby My is, moet Ek as heilig erken word; ten aanskoue van die hele volk moet Ek geëer word.” (Lev 10:3)

Dit is immers omdat Moses en Aäron die Here nie erken het as die Heilige nie wat die Here hulle nie toegelaat het om die Beloofde Land binne te trek nie (Num 20:12).

Dit bring ons by die inoefening van die eerste element van gebed: Aanbidding.

Prakties

Vir aanbidding werk dit die beste om ‘n spesifieke tema te kies, soos God se geregtigheid, sy Woord of sy skeppingsdade. Jy kan Hom dan in jou eie woorde aanbid vir wie Hy is.

Om jou hiermee te help, fokus ons vandag op God se heiligheid. Ek gebruik Psalm 99 wat in drie dele God vir sy heiligheid aanbid (Ps 99:3, 5, 9). Ek gee aan die einde, van die geskrewe dokument op die webtuiste, nog meer opsies vir Psalms om in jou aanbidding te gebruik in die toekoms.

Ek gaan die Psalm lees en telkens stilte gee met musiek (First Light) op die agtergrond dat jy die woorde van die Psalm kan gebruik om self die Here te aanbid vir sy heiligheid. Aan die einde sluit ek af met die laaste deel van die Ons Vader.

Gebed

1 Die Here regeer – laat die volke bewe! Hy troon oor gerubs – laat die wêreld sidder! 2 Die Here in Sion is groot, verhewe is Hy bo al die volke. 3 Laat hulle u groot en ontsagwekkende Naam prys – “Heilig is Hy!”

Stilte

(Laat hulle) 4 die krag van die Koning (prys), Hy wat die reg liefhet. Dit is U wat billikheid, reg en geregtigheid gevestig het in Jakob; U het dit gedoen. 5 Verheerlik die Here ons God, buig in aanbidding voor die voetbank vir sy voete: “Heilig is Hy!”

Stilte

6 Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het. Wanneer hulle die Here aangeroep het, het Hy self hulle geantwoord. 7 Uit ‘n wolkkolom het Hy met hulle gepraat. Hulle het sy bepalings nagekom, ook die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het. 8 Here, ons God, U self het hulle geantwoord. U was vir hulle ‘n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle dade vergeld. 9 Verheerlik die Here, ons God, buig in aanbidding voor sy heilige berg, want heilig is die Here, ons God.

Stilte

13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)

Opsies vir die toekoms

Hier is 25 Psalms waarmee jy God kan aanbid in die toekoms: Psalm 8; 9; 66; 77; 86; 92; 93; 94; 95; 96; 97; 98; 99; 100; 111; 113; 114; 117; 135; 138; 145; 147; 148; 149; 150.

Jy kan ook die volgende 25 verse in die Psalms gebruik wat God aanbid en sy Naam besing: Ps 5:12; 7:18; 18:50; 29:2; 30:5; 33:21; 34:4; 44:9; 45:18; 48:11; 63:5; 68:5; 69:13; 72:18-19; 83:19; 103:1-5; 118:1-4.

Jy kan ook Jesaja 6 of Openbaring 4 gebruik om van God se heiligheid bewus te word en van die frases daarin in jou aanbidding te gebruik.

Die tweede gebed is Wag.

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.