Afdraaipaaie – 2 Tessalonisense

Die verhaal van die kerk
Tema:  Afdraaipaaie – 2 Tessalonisense
Youtube 09:00 23 Augustus 2020  Somerstrand Familiediens

Verwelkoming

Welkom by ons geloofsgemeenskap op Youtube. Mag die Here jou op ‘n spesiale manier met hierdie boodskap seën.

Erediens in die kerk

Was dit nou opwindend om dié erediens in die kerk te reël! Die inskrywings was aanvanklik ‘n bietjie traag, maar ná Liésl mense herinner het met sms’e het ons baie vinnig die eerste 50 vol gekry. Ons hou dus nou gelyktydig met Youtube die erediens in die kerk!

Nagmaal

Volgende week 30 Augustus is daarby nagmaal. Kry solank julle wyn / druiwesap en brood reg. Vir Youtube. Die lidmate wat die erediens in die kerk gaan bywoon, skryf in by Liésl (ngksomer@global.co.za). Ons sal die nagmaal op ‘n veilige manier verskaf. Ons gaan binnekort ook ‘n doopplegtigheid hê. Die ratte begin draai vir die fisiese bymekaarkoms!

Verjaarsdae

Baie geluk aan almal wat vandag verjaar. Charmain Cilliers en Nic Janse van Rensburg. ‘n Lys met al die verjaarsdae die week is op die web. Bel en wens mekaar geluk deur die week.

Kermis

87 Hamburgers en chips is Vrydag verkoop! Baie dankie aan Esmé Dorfling en Karen Becker wat daar voorgevat het. Ons volgende Inry Padkafee is 4 September met Jaffels (R20) en Pannekoek (R5). Jy kan nou ook Kontant betaal by die kerkkantoor Woensdag 2 September tussen 09:00-10:00.

Marlene Cilliers het ook ‘n loting vir wyn – siende dat dit nou wettig is! – aan die gang. Inligting op die skerm. Alles vir die fondsinsameling.

Siekes

Ons bid steeds vir almal wat behandeling vir ander siektes ontvang. En vir almal wie se familie en vriende die virus opgedoen het.

Ons bid ook vir die mense wat in die voorste linies veg teen die virus. Dokters, verpleegsters, admin personeel. Mag die Here julle beskerm en bewaar.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan.

Mense die nood is hoog. Al gaan laai jy net een blikkie of pakkie ‘n week daar af, gaan dit iemand se maag vol maak in hierdie moeilike tyd.

Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van PE Hoogland. Vandag is dit H vir Hemel in haar Geloofsalfabet. Ons leer vandag oor die Hemel! Ds Pieter Nel gaan op reis om vir die hemel te soek! Julle moet dit sien! En sing lekker saam aan “Ons gaan hemel toe!” Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan ook oor die tema van gesag. Wimke Jurgens gaan dit hanteer. Hoe volg ons gesag as wet en orde oor die algemeen begin verdwyn? Hoe vul ons belastingvorms in as ons weet dat ‘n groot deel van ons belastinggeld in korrupte hande gaan beland? Hoe respekteer ons onderwysers as ons hulle swak punte en foute kan raaksien?

Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Dit is week 5 van my fokus op die lewe van Paulus. Tot en met Advent. Ons lees saam die boek Handelinge en Paulus se dertien briewe. Titel en tema: Die verhaal van die kerkPaulus versit berge.

Daar is ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 5 met die tweede brief aan die Tessalonisense op die tafel. Met die tema: Afdraaipaaie.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

Ek groet julle met die groet van Paulus, Silvanus (dit is Silas) en Timoteus in die tweede brief aan Tessalonika op hierdie tweede sendingreis:

aan die gemeente van Somerstrand in God ons Vader en die Here Jesus Christus:  Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.

Dit is weer Kindertyd. Ons gee vir oom Jaco Barnard ‘n blaaskans vandag.

Kindertyd

Al die kinders kan nou luister. En die grootmense ook. Ek wil met julle gesels oor klaskapteins. Hou julle van klaskapteins? Hoe julle daarvan om ‘n klaskaptein te wees? Kom ons luister na oom Sieg en Sakkie. Hulle praat oor dié keer wat Sakkie ‘n klaskaptein was. (video)

Het dit al met julle gebeur? Jy is so vies vir ‘n maatjie dat jy hom wil terugkry. Ja, nê? Sakkie het egter geleer dat dit nie ‘n goeie ding is nie. ‘n Mens moet eerder met mekaar praat totdat die saak weer reg is.

Paulus skryf hieroor:

“13–15 Moet nooit moeg word om goeie dinge te doen vir ander mense nie. Bly weg van mense in die kerk wat nie doen wat ek sê nie. Dalk maak dit hulle skaam. Dan begin hulle weer luister na die Here. Moenie lelik wees met hulle nie. Onthou, hulle is deel van God se familie. Gaan praat eers mooi met hulle. Vra vir hulle om na die Here te luister. 16 Onthou: Die Here is glad nie meer kwaad vir ons oor die lelike dinge wat ons gedoen het nie. Mag julle dit elke dag weet.” (2 Tessalonisense 3:13-16 – Die Nuwe Testament vir Kinders)

Ons moet nooit op hou om goeie dinge te doen vir ander mense nie. Selfs al moet ons soms wegbly van maats wat verkeerde dinge doen. Want, ons mag nie terug lelik wees met hulle nie. Ons moet altyd mooi praat en ander kinders van die here vra om na die Here te luister. Om te doen wat God vra. En ons moet vir hulle bid totdat hulle weer na die Here luister.

Dit is wat God ook vir ons doen. Hy het ons vergewe vir die lelike dinge wat ons gedoen het. Hy praat elke dag met ons deur die Bybel om ons te help om goeie dinge te doen. So moet ons ook vir ander mense in die kerk help.

Gebed

Dankie Here Jesus dat U my vergewe het. Dankie dat U nie meer kwaad is vir die lelike dinge wat ons gedoen het nie. Ons vergewe ook ons maats wat lelike dinge doen. En ons wil vir hulle bid en hulle help om na U te luister. Terwyl ons ook versigtig is om nie dieselfde slegte dinge te doen nie. Amen.

Loflied

Kom ons sing van vergifnis en verlossing.

Lied 154 en 220 – Kom nou tesaam en Met ons harte sing ons, Here … van ons las is ons bevry

Skriflesing en prediking

Afdraaipaaie

Ek onthou die eerste keer wat ek in Amerika was. Vir ‘n leierskapkonferensie. ‘n Groentjie met reis. Motor in SA bespreek. Staan buite die lughawegebou in Chicago. Wonder waar is die huurmotors. Stap daar rond tot iemand raaksien dat ek nie ‘n clue het nie. “Where do you wanna go?”

Uiteindelik is ek op die bus wat my na die huurmotors neem. Ek kry ‘n motor – ‘n Ford Mustang, so ‘n mosterd geel een – en ‘n GPS en ry aan die verkeerde kant van die pad daar weg. Mense, links draai is maar moeilik in Amerika, vir ons wat gewoond is om aan die regte kant van die pad te ry!

Nou luister ek vir die vrouestem wat vir my links-regs neem, maar haar opdragte en my reaksies daarop is nie goed gekoördineer nie. Maar, ek kry dit reg. Selfs om ‘n paar keer links te draai. Want, jy moet mos nou in die verkeerde laan indraai, die verste een, en hoop daar kom nie ‘n botsing nie!

Ek kom uit Chicago uit op pad na Lake Zurich en begin so effens ontspan. Tot ek by ‘n groot interseksie kom. Die opdrag van die GPS is om “slight right” te gaan. Mense, maar ek verstaan nie mooi van “slight” nie, en bly liewer presies waar ek in die baan is. Groot fout. Ek dog nog ek is op die regte pad … toe is ek op ‘n afdraaipad. Gelukkig is daar “reculculate”! Maar, dit is ‘n lang ompad. Kilometers verder kan ek eers omdraai.

So kom ek darem uiteindelik by my gasheer aan. Die afdraaipad het my darem nie heeltemal verlore laat raak nie. En dit sou ‘n paar keer gebeur. Darem al hoe minder met tyd. Maar, leer om die instruksies te verstaan, was maar moeilik!

Hoopvol op pad

Verlede week het ons gesels oor die ewige lewe en ons reis daarheen. “Hoopvol op pad.” Dit is waaroor die eerste brief aan die Tessalonisense gaan. En die rol wat die huwelik en werk daarin speel. En hoe die wederkoms sal wees.

Vandag wil ek gesels oor afdraaipaaie. Dinge wat ons van die pad af kan neem. Die eerste brief het al daaraan geraak, want as jy die huwelik nie hoog ag nie, en jou oorgee aan onsedelikheid, sal jou keuses ook vir jou ‘n afdraaipad raak. Onsedelikheid is ‘n afdraaipad. As jy dink jy kan ophou werk, en op ander teer, sal dit ook vir jou ‘n afdraaipad raak. Luiheid is ‘n afdraaipad.

Maar, daar is meer.

  • Paulus praat in sy tweede brief oor die effek wat vervolging en verdrukking op jou kan hê – hoofstuk 1. Dit kan jou ook van die pad af neem, ‘n afdraaipad laat vat om die druk te verlig. Dit is nooit lekker om lyding te ervaar vir waarin jy glo nie. En jy kan verlei word om jou te wreek op ander. Of jou geloof weg te stee
  • Paulus praat ook oor die effek wat ‘n verdraaiing van die waarheid op jou kan hê. Veral waar ‘n mens aan “wetteloosheid” blootgestel word – hoofstuk 2. En jy gevang word deur iemand wat baie welsprekend is, maar verkeerd. En jy dit nie agterkom nie. Of nie wil agterkom nie, veral nie waar dit sou beteken jy moet ‘n standpunt inneem wat teen die heersende ideologie van die samelewing of selfs van ‘n groep in die kerk gaan. Ideologie is altyd ‘n afdraaipad, want dit verdraai die waarheid. En ons moet ongelooflik versigtig daarvoor wees.

Dit is die twee groot versoekings wat Paulus hier aanspreek:

  • As jy skrik vir vervolging en verdrukking en óf wraak neem óf jou geloof wegsteek.
  • As jy val vir ‘n verdraaiing van die waarheid en ‘n ideologie aanhang.

In albei gevalle, as jy nie koers hou nie, as jy nie bly by die waarheid nie, sal jy beland op ‘n afdraaipad wat jou getuienis sal ruïneer en jou godsdiens sy krag sal laat verloor.

Paulus sal ook weer die onderwerp van werk en die wederkoms aanraak – hoofstuk 3. Maar ek gaan  nie vandag daaroor gesels nie. Julle kan dit self lees.

Hou koers

Dit is die hart van wat ek graag vandag wil deel.

Paulus wil jou help om koers te hou op pad na die ewige lewe. Hy wil die hele gemeenskap van gelowiges help om mekaar op koers te hou na die ewige lewe. Want, ons is verantwoordelik vir mekaar. En hy help ons met ‘n paar riglyne.

Eerstens oor vervolg en verdrukking.

1. Die Versoeking van vervolging en verdrukking

Paulus is dankbaar om te hoor van die gemeente in Tessalonika dat hulle geloof en liefde sterk toeneem (‘n skaars Griekse woord huperauxano wat supergroei beteken!) ten spyte van verdrukking en vervolging.

Paulus dank God daarvoor, en praat met trots daarvan in al die ander gemeentes.

En dan bemoedig hy hulle om te volhard.

Hoekom?

Want, dit is ‘n groot versoeking om jou lewe te verander om aan te pas by hoe die wêreld dink. Om óf wraak te neem op mense wat jou leed aandoen. Óf om jou geloof weg te steek sodat ander dit nie raaksien en jou kan aanvat daaroor nie.

  • Teenoor die Jode moes die gelowiges van Tessalonika bely dat Jesus die Messias is en dat Hy die enigste Verlosser is vir hierdie wêreld.

Die Jode het dit nie sommer maar só toegelaat nie. Hulle het die gelowige uit die sinagoge geban en die lewe vir hulle baie moeilik gemaak. Hulle is by die owerhede aangekla dat hulle die heersende moraliteit bedreig, dat hulle die Romeinse en Griekse gode verwerp – asof die Jode dit nie self gedoen het nie! – en in die algemeen slegte burgers was.

Die gelowiges van Tessalonika het die Joodse teenstand egter verduur en steeds die evangelie van Jesus Christus verkondig. Hulle het nie wraak geneem op die Jode nie.

  • Teenoor die Romeine en die Grieke moes hulle bely dat daar net een God is, en dat Hy op pad is om almal wat nie in Jesus glo nie, te oordeel.

Ten spyte van die feit dat dit hulle baie keer hulle werk gekos het, en hulle as “ateïste” uitgekryt is, omdat hulle die Romeinse en Griekse gode verwerp het. Asof die geloof in een God jou ‘n ateïs kan maak! Hulle het hulle geloof nie weggesteek nie.

Paulus bemoedig die Tessalonisense daarom om koers te hou op hierdie pad van volharding, om nie die afdraaipad van wraak of ‘n wegsteek van hulle geloof te neem nie. En hy bemoedig hulle só.

Die vervolging en verdrukking is eintlik iets om oor bly te wees:

5 Dit is ‘n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly. (BDV)

Vervolging en verdrukking is ‘n bewys dat jy op die regte pad is! Dit moet jou aanspoor om daarop te bly, om nie die afdraaipad van wraak te neem of die afdraaipad om jou geloof weg te steek te neem nie, maar te bly op die pad van die vrymoedige verkondiging van die evangelie en ‘n gehoorsaamheid aan die etiese riglyne wat God vir jou lewe gee.

Paulus gaan voort:

6 Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld 7 en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word. Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel saam met sy magtige engele 8 in ‘n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen op hulle wat God nie erken en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.  9 Hulle sal gestraf word met ewige vernietiging, weg van die teenwoordigheid van die Here en die heerlikheid van sy mag. 10 Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy kom om deur sy heiliges verheerlik te word, ja, om deur alle gelowiges bewonder te word. (BDV)

Paulus verwys hier na twee eienskappe van God om hulle aan te moedig om koers te hou:

  1. God se regverdigheid, wat nie sal toelaat dat die lyding wat hulle verduur ongestraf sal verbygaan nie. Aan God kom die wraak toe. Die mense wat die gelowiges nou laat ly, sal gestraf word met die ewige verdoemenis. Let op hoe die verdoemenis geteken word as ‘n plek, ‘n toestand, “weg uit die teenwoordigheid van die Here”. Calvyn het gepraat van ’n straf met ‘n “onsterflike dood.” Dit is wat die hel vir die teenstanders sal inhou aan die einde van die tyd.
  2. God se betroubaarheid, wat nie net sal straf nie, maar ook sal sorg dat hulle daar sal wees om te deel in die verheerliking wat kom. Let op dat Gód verheerlik sal word deur hulle standvastige geloof én dat húlle deur Hom verheerlik sal word (vers 12).

Dit is waarom Paulus hoofstuk een afsluit met ’n gebed dat God hulle waardig sal maak vir dié lewe waartoe Hy hulle geroep het, dat Hy hulle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome sal maak.

Lyding is nie verniet nie

Hierdie boodskap van hoofstuk een bevredig my eie sin vir regverdigheid. Lyding is nie maar toevallig of verniet nie. Dit pas in God se plan in. Dit is ‘n bewys dat ek op die regte pad is. Paulus sal later vir Timoteus skryf, elkeen wat godvrugtig wil lewe, sal vervolg word (2 Tim 3:12)! Elkeen!

En hoofstuk een gee my hoop. Gód sal my waardig maak vir die lewe waartoe Hy my geroep het. Ek kan op sy regverdigheid en betroubaarheid staatmaak, in my bediening en lewe. En dieselfde geld vir jou.

Ek hoef nie self wraak te neem nie. Ek mag net nie terugdeins en my getuienis verswak nie. Getrou tot die einde toe!

Tweedens praat Paulus oor die wetteloosheid.

2. Die versoeking van die verdraaiing van die waarheid

Dit is duidelik dat daar iemand in die gemeente opgetree het wat sommige gelowiges verwar het met ’n verkeerde interpretasie van Paulus se boodskap oor die wederkoms. Hulle het geval vir sy verdraaide interpretasie van die wederkoms en daarom op ‘n afdraaipad beland.

2:1 Wat die koms van ons Here Jesus Christus en ons ontmoeting met Hom betref, vra ons julle, broers, 2 om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur ‘n geestesuitspraak (uitspraak wat iemand sê van die Gees af kom, maar wat afwyk van die waarheid af) of ‘n woord of ‘n brief wat skynbaar van ons af sou kom en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie. 3 Laat niemand julle op enige manier op ‘n dwaalspoor bring nie;

Laat niemand julle op enige manier op ‘n dwaalspoor bring nie

Nie alles wat aan die Gees van God toegeskryf word, is van die Gees van God nie. Die eenvoudige toets wat ‘n mens aanlê om te weet, is iets van God af of nie, is om dit aan sy geskrewe Woord te toets. As ‘n lering nie in die Bybel voorkom nie, of fundamenteel daarvan verskil, kan jy doodgewoon aanvaar dat die lering ‘n afdraaipad is. Dat die lering bedoel is om jou op ‘n dwaalspoor te bring. God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie. Wat Hy eenmaal openbaar het, is vir altyd die waarheid.

Die versoeking van die “wettelose” en die “wetteloosheid”

Maar, Paulus is baie bewus van die feit dat dit ‘n groot versoeking is, daarom gaan hy voort om oor die “wettelose” en die “wetteloosheid” te praat:

Want hierdie dinge (die Wederkoms) kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het en die wettelose mens geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, 4 die een wat teenstand bied en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word. Hy gaan selfs so ver om in die tempel te gaan sit en hom as God voor te doen. 5 Onthou julle nie dat ek herhaaldelik met julle oor hierdie dinge gepraat het toe ek nog by julle was nie?

Die “wettelose” mens is waarskynlik dieselfde een na wie Jesus verwys in sy profetiese rede (Markus 13:14). Dit kan met ’n despotiese leier  sowel as ‘n demoniese mag verbind word. Dit verwys waarskynlik in die eerste plek na keiser Titus wat in 70 nC Jerusalem ingeneem het en die tempel ontheilig het. Maar, dieper as dit, verwys dit in die tweede plek ook na die Antichris in die eindtyd net voor die wederkoms van die Here Jesus. Trouens, Johannes skryf oor ‘n hele paar antichriste deur die eeue (1 Joh. 2:18).

Hoe jy hierdie wettelose mens sal uitken, sê Paulus, is in ‘n verstaansraamwerk, ‘n ideologie, wat die voorskrifte van God in die Bybel sal verander.

Dit kan ‘n ekonomiese ideologie wees, soos die sosialisme of die Marxisme of die kapitalisme. Nie een van dié sisteme is Bybelse sisteme nie, en laat jou keuses maak wat jou in konflik bring met Bybelse waardes. Natuurlik sou ‘n mens kon argumenteer dat die een ideologie beter as ‘n ander kan wees, maar almal het probleme. Dink maar net aan die verlies aan individualiteit in die Marxisme óf die feit dat reëls gemaak moet word in die kapitalisme om monopolieë te voorkom.

Dit kan ‘n politieke ideologie wees, soos die sekularisme of die kommunisme. Ons leef in ‘n sekulêre staat waarvan die ideologie is om neutraal te wees teenoor godsdiens. Die effek daarvan is dat die staat en sy organe geloof tot die private sfeer beperk. Die oomblik as jy jou geloof in die publieke terrein bely, het jy moeilikheid. Soos hoofregter Mogoeng Mogoeng wat in die publiek sy gebed vir Israel openbaar het. Daarom word hy aangekla deur ‘n Palestynse organisasie, want hulle reken hy mag nie sy private geloof in die publiek bely nie.

Dit kan ‘n kulturele of filosofiese ideologie wees. Of enige sosiale raamwerk wat die Bybelse openbaring in twyfel trek. Jy kan self die nuusberigte lees oor die dinge wat op die oomblik die aandag trek in die wêreld, ook nou in sport, en die basiese vertrekpunte van die onderskeie bewegings beoordeel aan die Bybel.

Ons moet dit mooi verstaan. “Wetteloosheid” bedoel nie dat daar nie reëls geld nie. Trouens, daar is gewoonlik baie streng reëls van wat jy mag sê en wat jy mag dink en wat jy mag doen. En mense word op grond daarvan vrygespreek of vervolg.

Maar, dit is reëls wat uit die filosofie of die wetenskap of die samelewingskultuur kom. Dit is reëls wat ‘n ander samelewing wil skep as die een wat vir ons in die Bybel beskrywe word.

En die toets wat jy aanlê om te beoordeel of dit “wetteloos” is of nie, is doodgewoon, wat is die wêreld wat dié ideologie wil skep? En bevorder dit ‘n Bybelse wêreldbeeld … of nie?

Want, die pynlike waarheid is dat enige ideologie ‘n afdraaipad is of ten minste kan wees. Dit is “wetteloosheid”. Trouens, die kinders van die Here word uitgeken in die weerstand wat hulle teen die “wetteloosheid” bied. Want, hulle is kinders van ‘n ander koninkryk, ‘n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie. Soos Paulus skryf:

 6 En nou weet julle wat dit is wat hom terughou om op sy eie tyd geopenbaar te word. 7 Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat wie hom nog terughou, uit die weg geruim is.

Hierdie terughoudende krag kan met die evangelie verkondiging, die verkondiging van die goeie nuus van Jesus Christus en die koninkryk van God verbind word. Dws, elkeen van ons wat kies vir Bybelse waardes, wat kies om die geloof in Jesus Christus te versprei, wat kies om die Bybel na te volg in gedagte en gedrag, dryf die wettelose en die wetteloosheid terug.

Dit is waarom ons verdruk en vervolg word, want dit is ‘n geloofstryd. En jy kan nie neutraal staan teenoor God en die evangelie nie. Geloof is nie bedoel vir die private sfeer van jou binnekamer en die gemeente nie. Geloof is bedoel om soos ‘n stad op ‘n berg te wees wat almal kan sien.

Paulus sê egter hier dat daar ‘n tyd sal kom wat die evangelie sy doel bereik het en die “wettelose” en die “wetteloosheid” toegelaat sal word om heeltemal oor te neem.

Maar, dit sal net ‘n oënskynlike oorwinning wees, want, sê Paulus:

8 En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis — ja, Hy sal hom deur die glans van sy teenwoordigheid vernietig. 9 Deur die werking van Satan sal die koms van die wettelose mens gepaardgaan met geweldige magsvertoon en allerlei tekens en vals wonders, 10 en met elke vorm van bose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. 11 En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, 12 en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word.

Dit toename in “wetteloosheid” moet ons dus nie soseer ontstel nie, maar bewus maak van twee goed.

  1. Daar sal ‘n einde kom aan dit alles. Jesus sal die wettelose mens deur die asem van sy mond uitwis, deur die glans van sy teenwoordigheid vernietig. Dit is onder andere waarom ons nie wraak mag neem nie, want die wraak kom God toe.
  2. Ons moet volhard in die waarheid. Ons moet die waarheid lief hê. Ons moet daarin volhard. Teenoor elke ideologie. Teenoor elke misleiding. Teenoor elke wêreldse wysheid wat ons lojaliteit aan die Here en sy Skrif probeer verswak. Want dit is net die waarheid van die Here Jesus soos Hy dit deur sy Gees uitgespel het in die geskrewe Woord wat ons kan red.

Die krag van die dwaling

Anders sal ons die “krag van die dwaling” ervaar. Sal ons later die waarheid nie meer van die leuen kan onderskei nie. En let op dat dit iets is wat God doen! Dit is Hy wat die krag van die dwaling laat kom op almal wat die waarheid nie lief het nie. Soos Paulus later in Romeine 1 sal skrywe dat God die mense oorgee aan immoraliteit, en skandelike seksuele begeertes en talle korrupte gedagtes. Omdat hulle Hom nie erken en Hom nie wil dien soos Hy dit in sy Woord vir ons voorgeskryf het nie.

Dit is natuurlik maklik om benoud hieroor te raak. Veral as ‘n mens kyk na wat op die oomblik in die wêreld aangaan. Ek sien in Amerika is daar ‘n beweging wat sê die vergelyking 2 + 2 = 4 is ‘n koloniale begrip. So as jy wiskunde doen op die basis van daardie vergelyking, bevestig jy die koloniale erfenis. Dit is hoe ver ‘n ideologie jou kan dryf.

Maar, Paulus vertel hierdie dinge nie om jou hopeloos en benoud te laat voel nie. Hy wil jou waarsku, ja. Maar, dieper as dit wil hy jou laat vasgryp aan die belofte van die Wederkoms, want dit is vir jou bedoel

Jesus kom weer en Hy sal jou met Hom herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het!

Tot dan moet jy en ek stry vir die waarheid. Die waarheid lief hê. Die waarheid verkondig. Selfs al word ons verdruk en vervolg, selfs al sien ons hoe die “wetteloosheid” toeneem.

Dit beteken dat jy ook sal moet waak teen wetteloosheid in jou eie lewe. Jy kan nie ’n norm vir jouself word nie, waar wat jy dink goed en sleg is, jou lewe begin bepaal nie. Laat staan nog vir ander só leer. Dié voorreg behoort net aan die Here.

Gebed

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys.

Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Bydrae

Gerrit en Sonja Brink deel met ons wat op die oomblik in hulle bediening in Nederland gebeur.

Bybelgenootskap

Bybelgenootskap se groot 200ste verjaardag feesnaweek is hierdie naweek, 23 Augustus. Die virtuele feeskonsert onder leiding van Richard Cock gaan iets besonders wees.

Hier is vier skakels. Die eerste twee is na hulle YouTube en Facebook platforms waar die erediens en feeskonsert gehoor kan word. Die derde skakel is indien enigiemand nog aan ons virtuele stap en draf vir Bybels wil deelneem.  Die vierde skakel is na ‘n boodskap van Ben Fourie wat vir ons bietjie vertel van die afgelope 200 jaar se geskiedenis en hoogtepunte.

Slotlied

Kom ons sing van die God van ons hoop.

Vonkk 159 – Heer, ons dink aan Afrika

Seën

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees wees en bly met julle almal.

En die gemeente sê: “Amen!”

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.