1 Petrus 1:16-21 – Die getuienis oor Jesus Christus is betroubaar

Die tweede brief van Petrus is ‘n afskeidsboodskap van die apostel Petrus aan die geloofsgemeenskap in gebiede van wat vandag die moderne Turkye is: destyds Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.  Die brief is waarskynlik uit Rome geskryf in die tyd van keiser Nero.

Petrus is bekommerd oor die dwaalleraars in die gemeente wat hulle kan laat twyfel dat die boodskap van Jesus Christus betroubaar is.  Hy waarsku hulle daarom dat die vals leraars vernietigende ketterye sal insmokkel in hulle geloofsgemeenskap wat nie net tot losbandigheid kan lei nie, maar hulle selfs kan verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak onder andere deur die wederkoms te ontken.  Hierdie dwaalleraars het net oor die hiermaals gepraat, nie die hiernamaals nie, en gesê dat ‘n mens eintlik maar kan leef soos jy wil (2 Pet. 3:4).

Petrus wil hulle aanmoedig om vas te hou aan die ware evangelie: “Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18). Hulle geloof is net te kosbaar (2 Pet. 1:1) dat hulle deur roekelose en arrogante mense (2 Pet. 2:10) op ‘n dwaalspoor gelei mag word.

Petrus is ook baie bewus van sy naderende dood (2 Pet. 1:14) en wil vir oulaas met hierdie skrywe hulle help om aan die verdorwenheid, die verderf van die wêreld, te ontvlug (2 Pet. 1:4). Hy wil hulle help om te bly fokus op God se goddelike krag wat hulle alles gegee het wat hulle nodig het vir ‘n toegewyde lewe (2 Pet. 1:3). Dan weet hy sal hulle nie struikel voor die uitdaging van die dwaalleraars nie (2 Pet. 1:10).

Omdat hierdie God op só ‘n kragtige manier in hulle werk, hét hulle die vermoë om nee te sê vir die uitdaging van die dwaalleraars, kán hulle ‘n heilige lewe lei wat aan God toegewy is, en sál hulle nie hulle standvastigheid verloor nie. “Die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus,” sal daarvoor sorg (2 Pet. 1:16).

Download the English translation here:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (more…)

Continue Reading1 Petrus 1:16-21 – Die getuienis oor Jesus Christus is betroubaar

Johannes 8:1-11 – #gracemustrise

Ingenooi deur God

Ek dink dié week weer aan die man wat gevang is teen ver oor die 200 km/h.  Sy verduideliking was: “Ek was op pad kerk toe!”  Nou of hy reg was of nie, miskien het jy ook gejaag om hier te kom.  En miskien dink jy al reeds waarheen jy na die tyd op pad is.  Óf – miskien is daar dinge wat jou jaag: ‘n onvervulde behoefte, ‘n onopgeloste vraag, ‘n diep behoefte aan rus.

Wel – die Here nooi jou uit om tot rus te kom by Hom.  Raak stil, sien as’t ware hoe ‘n deur vir jou oopgemaak word en jy binnegenooi word om in God se teenwoordigheid te kom rus … en maak jou hart oop in gebed vir God. (more…)

Continue ReadingJohannes 8:1-11 – #gracemustrise

Titus 3:3-8 – #lovemustrise

Titus die “trouble-shooter” raak ‘n begeleier van formaat

Bible Event

Paulus skryf waarskynlik hierdie brief aan Titus op dieselfde tydstip as die eerste brief aan Timoteus vanuit Masedonië (Tit. 3:12) in 62-63 n.C. op sy “vierde sendingreis”.  Titus se Griekse afkoms het hom besonder geskik gemaak om die evangelie aan Grieke te verkondig (Gal. 2:3).  Hy het onder Paulus se bediening tot bekering gekom, waarskynlik in Antiogië, omdat hy Paulus-hulle na Jerusalem vergesel met die vergadering se besinning oor die besnydenis (Gal. 2:3; Hand. 15).

Hy werk in Korinte, Dalmasië en hier op die eiland Kreta.  In Korinte was hy ‘n soort trouble-shooter” om die tweespalt in die gemeente te ontlont.  Hier in Kreta moes hy die nuwe gemeente begelei tot volwassenheid in geloof.  En hy word ‘n begeleier van formaat. (more…)

Continue ReadingTitus 3:3-8 – #lovemustrise

1 Korintiërs 3:1-9: Medewerkers van God floreer op vaste kos

Op die oppervlak is Paulus se vermaning in hoofstuk 3 baie duidelik. Daar kan nooit ‘n onderskeid kom in die Christelike geloofsgemeenskap rondom leiers nie. Die hele idee dat ‘n mens kan sê: ek is vír Paulus, óf ek is vír Apollos, óf ek is vír Petrus, óf ek is vír Christus is onvanpas.

As ‘n mens egter dieper kyk, was die probleem gehoorsaamheid. Die Korintiërs se probleem was dat hulle in gebreke gebly het om die volle boodskap van Christus deel van hulle lewens te maak. Daarom kon hulle nie groei in hulle gehoorsaamheid nie. Hulle kon die “vaste kos” van die Woord nie verteer nie, want hulle het langtermyn babas in die geloof gebly. Hulle het “melk” verkies, nie vaste kos nie. Dit het net te veel gekou gekos … en hulle lewenstyl moes by die “vaste kos” aanpas …

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (more…)

Continue Reading1 Korintiërs 3:1-9: Medewerkers van God floreer op vaste kos

#FAITHMUSTRISE – 2 Petrus 1:1-15

Wat is jou kosbaarste besitting?  Sommige van ons sal miskien dink aan die duurste ding wat jy het.  ‘n iMac of ‘n duur diamantring of ‘n goudstaaf.  Ek het een keer iemand raakgeloop wat ‘n tassie vol goudmuntstukke met hom rondgedra het, sodat hy te enige tyd die pad kan vat.  Kan jy nou meer!

Ander van ons sal miskien kyk na die oudste ding wat jy het, iets wat jy van jou pa of jou ouma of van die voorgeslagte af gekry het.  Ander sal miskien dink aan iemand wat naby aan jou is, jou meisie of jou ou, of ‘n mentor wat vir jou baie beteken.

My kosbaarste besitting is ‘n karretjie wat ek van my pa geëerf het, ‘n ou Model T Ford, ‘n speelding uit sy eie kinderjare.  Hy het dit volmaak opgepas.  Ek hoop ek kan dit ook later vir my seun laat erf.  En dit is nie so kosbaar omdat dit so baie werd is nie – dit is waarskynlik baie werd, want dit is in perfekte kondisie en amper tagtig jaar oud.  Dit is kosbaar omdat dit iets is wat my aan my pa herinner.

En daar is niks mee verkeerd om sulke kosbare goed te vertroetel nie.

Ons geloof is ‘n kosbare geskenk van God

Maar, die Bybel sê, een van die kosbaarste dinge wat ons ontvang het, is ons geloof.

Petrus beskryf die eerste lesers van sy brief as “dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van ons God en die Verlosser, Jesus Christus.”  Een van die belangrikste dinge wat hulle ontvang het, is dieselfde kosbare geloof as wat die ander kinders van die Here ontvang het.

Dit is immers waar ons lewe met God begin, wanneer ons die genade ontvang om in Hom te glo.

Hier volg die hele erediens (Bible Event):

(more…)

Continue Reading#FAITHMUSTRISE – 2 Petrus 1:1-15

Jesaja 8:23-9:6 – Jesus is die Lig aan die einde van die tonnel

Jou plek in die gesin

Wie van julle is die oudste kind?  Die res van julle is dus tweede of derde, of middelste of vierde of vyfde of laaste kinders.  En ek wonder hoe jy gevoel het oor die plek wat jy in jou gesin gehad het?  Is jy as eerste kind voorgetrek?  Of is jy juis as laaste kind voorgetrek?  Of as middelste kind oorgesien?  En as jy ‘n uitblinker ouer boetie of sussie gehad het, is jy ook die hele tyd gemeet aan hulle prestasies?   Jy is waarskynlik baie keer nie in eie reg waardeer nie.

Dit was nie anders in die tyd van die Bybel nie.  Laban het vir Jakob ‘n streep getrek en toe Jakob sy oë uitvee het hy vier vrouens, en twaalf kinders.  En hy het eintlik net oë gehad vir sy lieflingvrou Ragel en vir haar twee kinders Josef en Benjamin.  Die ander tien seuns het dit moeilik gehad in die huis, om nie te praat van Dina, die enigste suster waarvan ons lees nie.  Haar broers was lief vir haar.  Hulle het selfs koelbloedig moord gepleeg toe sy aangerand is, maar verder hoor ‘n mens nie veel van haar in die Bybel nie.

Download the English version of the service and sermon:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

(more…)

Continue ReadingJesaja 8:23-9:6 – Jesus is die Lig aan die einde van die tonnel

Jesaja 49:1-7 – Die werk behoort aan U, o Heer, die werk waarin ons staan

Die lewe is nie maklik nie!

Die lewe is darem nie maklik nie!

Ek weet nie wat jou dié jaar al te beurt geval het nie, maar baie van ons het alreeds ons kwota slegte nuus en teënspoed gehad.

Ek praat van die kwota lyding waaraan ons reeds net in die eerste twee weke van dié jaar blootgestel is.

  • ‘n Baie naby kollega en vriend se vrou is dié week met kanker gediagnoseer en moet die moeitevolle pad van behandeling begin.
  • Nog ‘n naby kollega saam met wie ek die afgelope jaar baie sakke sout opgeëet het, is dié week met kanker gediagnoseer en die prognose is baie sleg.
  • ‘n Ander vriendin, eintlik deel van ons uitgebreide familie, het haar werk in ‘n slegte sameloop van omstandighede verloor.
  • Ek was betrokke by iemand wat ons van die straat af in ‘n rehabilitasiesentrum wou kry, sonder sukses.
  • Ekself het die eerste keer in veertig jaar weer die binnekant van ‘n hospitaal as pasiënt beleef met ‘n niersteen aan die begin van dié jaar.
  • En ek sien hoe moeilik ons kinders wat afgestudeer het, werk kry. Sommige is gelukkig, maar ander juis nie.

Scott Peck is reg as hy sy boek The Road Less Travelled met die gelade sin begin: “Life is difficult.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS – download the English here: Isaiah 49

(more…)

Continue ReadingJesaja 49:1-7 – Die werk behoort aan U, o Heer, die werk waarin ons staan

Johannes 1:1-14 – Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop

In die begin was die Woord

Johannes begin sy evangelie nie by Jesus se geboorte nie. Hy begin nie met ’n geslagsregister wat Jesus binne die geskiedenis van die mensdom en die Jode sou plaas nie – anders as Matteus.  Hy begin nie met die verhaal van Johannes die Doper wat in vervulling van die profesieë van Jesaja die wegbereider vir Jesus was nie – anders as Markus. Hy begin nie met ‘n sorgvuldige geskiedenis van die eerste eeu sodat ‘n mens Jesus binne sy eie tyd kan verstaan nie – anders as Lukas.

Nee, Johannes begin by God se tyd, die ewigheid.  Hy begin vóór die geskiedenis.  Vóórdat daar enigiets was.  Vóórdat daar selfs iets was soos tyd.  “In die begin was die Woord … en die Woord was by God … en die Woord was God …  Hy was in die begin by God.” (Joh. 1:1-2).

Vóórdat daar tyd en ruimte en materie was, was die Woord.  En die Woord was by God.  En die Woord was God.

Dink ‘n bietjie hieroor na.  Jesus is nie maar net die Kind in die krip nie.  Hy is nie ook maar net die Koning aan die kruis nie.  Hy is die Woord van God.  Hy was van die begin af by God. Hy is God.  Hy bestaan van altyd af.  Hy is vóór alles.  Hy sal tot in alle ewigheid God wees.

Ongeskape.  Onvergelyklik.  Onteenseglik. God.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Download the English translation: John 1 (more…)

Continue ReadingJohannes 1:1-14 – Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop

Jesus, die Verlosser, word gebore uit die Heilige Gees – Matteus 1:18-25

Alida Bothma

Matteus begin sy evangelie met die geslagsregister van Jesus Christus – Matt. 1:1-17.  Hy neem vier vroue daarin op – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija (dws Batseba) – anders as Lukas wat net die manlike voorvaders noem. Al vier dié vroue het ‘n interessante geskiedenis waarin hulle afkoms van ander volkere, hulle verstommende inisiatief en wysheid sowel as God se genade om hulle te seën, uitstaan.  Daarmee beklemtoon hy die historisiteit van Jesus se geboorte.  Matteus wil vir jou sê, jy kan maar glo wat jy lees.  Daar is ‘n lang geskiedenis wat op hierdie wonderlike geboorte uitgeloop het, die geboorte van Jesus uit die geslag van Abraham, Dawid en Jojagin.

Dan volg Matteus dit op met die beskrywing van Jesus se geboorte waarin gefokus word op op twee goed.  Die rol van die Heilige Gees in die swangerskap van Maria waarin Josef op ‘n baie spesifieke manier ingetrek word.  En die boodskap dat Jesus God se volk van hulle sonde sal verlos in vervulling van al die profesieë en beloftes van die OT – Matt. 1:18-25.

Matteus wil dus vir ons nie net sekerheid gee oor die historisiteit van Jesus se geboorte nie.  Hy wil ons ook blootstel aan die teologiese betekenis van Jesus se geboorte.  Jesus word as mens uit ‘n gewone vrou gebore, maar ook as God deur die werk van die Heilige Gees.  En Hy het gekom om ons van ons sonde te verlos, soos dit deur die eeue in die OT profesieë voorspel is.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS: (more…)

Continue ReadingJesus, die Verlosser, word gebore uit die Heilige Gees – Matteus 1:18-25

Die Verlosser kom – Kerssangdiens 2016 – Wees Wakker en Waaksaam

Evening Landscape with Two Men by Caspar David Friedrich
Evening Landscape with Two Men by Caspar David Friedrich

’n Engel van die Here het in ’n droom aan Josef verskyn en die Verlosser van die wêreld aangekondig:

Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” – Matt. 1:20-21

Die Verlosser se aangekondiging word egter van die begin af teengestaan. Die Skrifgeleerdes het verniet vir Herodes tot insig probeer bring met ‘n aanhaling uit Miga 5:1 dat hierdie geboorte gevier moet word. Die Christus, het hulle gesê, sal gebore word In Betlehem in Judea:

En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.” (Matt. 2:5-6)

Die boodskap het egter sy hart verhard, en Herodes het die Christus teengestaan en probeer uitwis. Waarmee Herodes ‘n simbool raak van alle mense wat nie met vreugde op die Verlosser reageer nie.

Dit is egter anders met ons vandag. Ons het groot vreugde in die feit dat ons dié Verlosser nie net verwag nie, maar met vreugde reeds lankal ontvang het.

Op hierdie eerste Advent Sondag rig ons daarom oë op die wederkoms van die Here. Hy het gekom en ons het Hom leer ken. Ons sien uit na sy wederkoms en roep mekaar op om gereed te wees as die Here ons kom haal. Niemand weet die presiese dag nie, daarom moet ons wakker en waaksaam bly. Dit is wat Jesus vir ons in die profetiese rede van Matteus 24 vertel.

HIER VOLG DIE HELE ERDIENS: (more…)

Continue ReadingDie Verlosser kom – Kerssangdiens 2016 – Wees Wakker en Waaksaam