Wat is respek?
Wat is respek? Die woordeboeke beskryf dit as om iemand te bewonder of om iemand hoog te ag.
As jy iemand bewonder, het jy respek omdat jy hulle as waardevol beskou weens hulle vermoëns, hulle kwaliteite, of hulle prestasies. Ons bewonder sportmanne wat die hoogste sport bereik. Ons het respek vir Wayde van Niekerk en Usain Bolt. Ons het respek vir wetenskaplikes soos Albert Einstein en Stephen Hawking. Ons bewonder hulle vermoëns en prestasies.
As jy iemand hoog ag, kan dit steeds wees weens hulle bewonderenswaardige kenmerke, maar dit kan ook wees weens ‘n waarde wat jyself aan hulle toeken, ongeag of hulle dit verdien of nie. Ons het respek vir oumense nie omdat hulle baie vermoëns het nie, maar omdat hulle oud is en ons aan hulle ‘n waarde toeken, ongeag of hulle dit verdien of nie, trouens soms juis ten spyte van wie of wat hulle is. Ons het respek vir gestremdes en randfigure, nie omdat ons hulle vermoëns of prestasies bewonder nie, maar juis ten spyte van hulle gebreke en tekortkominge. Ons ag hulle hoog, ons respekteer hulle, omdat ons kies om dit te doen.
In die een geval dwing mense respek by ons af. Hulle verdien ons respek. Hulle ontlok by ons respek. Ons bewonder hulle.
In die ander geval gee ons respek. Hulle verdien nie ons respek nie, maar ons gee dit in elk geval, omdat ons wil, omdat ons kies om hulle hoog te ag. Ons bewonder hulle nie juis nie, maar dit maak nie saak nie. Ons respekteer hulle omdat ons besluit om hulle te respekteer. (more…)