08 Sê dankie

Belydenis

Na die gewigtige gebede van waak en voorbidding kom ons by die dankbaarheid en vreugde wat God in ons hart gee, omdat Hy ons hoor en ons ook verhoor.

Die agtste element is: Sê dankie (Youtube).

Ons sien dit in Paulus se aanmoediging van die Kolossense om te volhard in gebed, om te waak en te bid, en dit dan af te sluit met ‘n oproep tot dankbaarheid.

2 Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid. (Kol 4:2)

Paulus het die Filippense immers geleer in sy oproep:

 6 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. (Fil 4:6-7)

Danksegging is eintlik ook ‘n belydenis. Maar nie van skuld en sonde nie. Nee, van alles waarmee die Here ons seën.

Dankbaarheid het diep wortels in die OT

Dankbaarheid het diep wortels in die OT. Elke oggend en elke aand moes die Leviete hulle plek inneem en die Here prys en dank by die tempel (1 Kron 23:30).

Maar dit was ook die voorreg van elke Israeliet om die Here te kom dank by die tempel. Soos Psalm 116 een gemeentelid se verklaring verwoord:

12 Hoe kan ek die Here vergoed vir al sy goeie dade aan my? 13 Die beker van verlossing sal ek oplig en die Naam van die Here aanroep. 14 My geloftes aan die Here sal ek betaal, daar voor sy hele volk. 17 Aan U sal ek dankoffers bring en die Naam van die Here aanroep. (Ps 116:12-14, 17; vgl Lev 7:12-15)

As die psalmis praat van die “beker van verlossing” verwys hy na die wyn wat uitgegiet is terwyl die dankoffers vir die Here gebring is by die tempel en waarmee die volk God geprys het vir al sy verlossingsdade.

Maar, hierdie danksegging was nie net deel van die rituele in die tempel nie. Dit was deel van elke maaltyd wat gelowiges geëet het. By elke maaltyd is God gedank vir sy voorsiening. Dit was eintlik die gebed wat die meeste gebid is, omdat by elke maaltyd erkenning aan God gegee is.

Dankbaarheid is ‘n lewenstyl

Geen wonder nie dat dankbaarheid eintlik ‘n lewenstyl geword het vir die vroeë kerk. Soos Paulus aan die Kolossense skryf:

6 Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; 7 in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. (Kol 2:6-7)

Jesus Christus is die bron van ons dankbaarheid. Soos ons Hom aangeneem het as persoonlike Verlosser, soos ons leef in Hom, gewortel is in Hom, opgebou word in die geloof, is dankbaarheid die vanselfsprekende resultaat.

Trouens, soos een kommentaar sê, dankbaarheid is eintlik die Christelike alternatief vir “small talk” of “silly talk”!

Hy lei dit af van Paulus wat die Efesiërs aanraai dat daar onder hulle nie van “dwase of lawwe praatjies” sprake moet wees nie, “eerder van danksegging”. (Ef 5:4)

Dink net watter effek ons op mekaar kan hê as ons eerder as om te kla of om oor oppervlakkige sake te praat, eerder met mekaar sal deel waaroor ons dankbaar is.

Dit sal ons gesprekke – en natuurlik ons gebede – in ‘n heel ander atmosfeer laat plaasvind.

Wees in alle omstandighede dankbaar

Dankbaarheid is moontlik beide in die goeie as die slegte tye in ‘n mens se lewe. Soos Job eenmaal in gebed vir die Here gesê het:

21 Die Here het gegee  en die Here het geneem. Mag die Naam van die Here geprys word!” (Job 1:22)

Al het Job al sy besittings verloor, en al is al sy kinders deur rampe van hom weggeneem, kon hy steeds voor die Here in aanbidding buig en die Naam van die Here prys, sonder om te sondig, en sonder om enigiets ongerymds aan God toe te skryf.

Trouens, toe hy daarna ook sy gesondheid verloor, het hy vir sy vrou gesê

10 Die goeie wat van God kom, dié aanvaar ons, maar die slegte – moet ons dit nie ook aanvaar nie?” (Job 2:10)

Dit is wat Paulus ook vir die Tessalonisense geleer het:

16 Wees altyd bly; 17 bid sonder ophou; 18 wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus. (1 Tess 5:16-18)

Soos dit God se wil is dat ons heilig sal lewe, die huwelik sal eer sonder enige onsedelikheid, (1 Tes 4:3), só is dit ook God se wil dat ons in alle omstandighede dankbaar sal wees.

Paulus gee vir ons in sy brief aan die Romeine meer leiding vir hoe hierdie dankbaarheid in ons lewe werk:

3 Ons beroem ons ook op ons verdrukking, omdat ons weet verdrukking bewerkstellig volharding, 4 en volharding lei tot betroubaarheid, en betroubaarheid tot hoop. 5 En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. (Rom 5:3-5)

Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik vir “beroem” is die woord kauchaomai wat ook vertaal kan word as “verheug” of “trots”. Ons dank die Here dus nie vir die swaarkry as sodanig nie, maar vir die vrug wat dit in ons lewe kan dra.

Prakties

Dit help baie om ‘n “dankie sê” joernaal vir jouself aan te skaf. Want, dan kan jy maklik terugblaai om jou seëninge te kan tel. Probeer om elke dag ook iets nuuts daarin te skryf waarvoor jy die Here nog nie voorheen dankie gesê het nie. Jy kan natuurlik jou gewone joernaal ook gebruik.

Psalm 92 is ‘n pragtige dankpsalm. Ek gaan dit gebruik om die tyd van dankie sê in te lei, waarna ek jou tyd gaan gee om dit Here te dank vir al sy gawes en voorsiening aan jou. Ek gebruik sagte musiek in die agtergrond (In Dulci Jubilo).

Gebed

1 ‘n Psalm. ‘n Lied vir die Sabbatdag.  2 Dit is goed om die Here te dank, om u Naam te besing, Allerhoogste;  3 om in die môre u troue liefde  te verkondig, en u trou in die nagte –  4 met tiensnarige instrumente,  met harpe en die speel van liere. 5 Want U maak my bly  met u werk, Here,  oor u handewerk jubel ek. 6 Hoe groot is u werke, Here,  hoe uitermate diep u gedagtes! (Ps 92:1-6)

Stilte

Sê dankie vir geestelike seëninge wat die Here vir jou gegee het, ook deur die geloofsgemeenskap waaraan jy behoort.

Stilte

Sê dankie vir materiële, fisiese en seëninge wat die Here vir jou gegee het.

Stilte

Sê dankie vir die vrug in jou lewe van dinge wat vir jou moeilik was om te hanteer.

Stilte

13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)

Die negende gebed is Sing (Youtube).

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.