God oordeel regverdig en billik – Psalm 96

Psalm 96 – God oordeel regverdig en billik

25 Desember NGK Somerstrand 09:00 – kerk en Youtube

Verwelkoming

Toetrede

Lied 117 – Loof die Heer!

Votum en Seëngroet

“Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem” – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’ (Matt 1:23; Jes 7:14)

Dit is in hierdie Naam, Immanuel, wat ek jou groet. God is inderdaad met ons.

Loflied

Lied 355 en 367 – Al was ek nie daar nie | Ere aan God

Gebed

Skriflesing en prediking

Die Psalm wat vandag wêreldwyd gelees word, is Psalm 96. Daar is twee redes daarvoor.

Aan die een kant roep Psalm 96 ons op om te sing. Om te sing van die verlossing wat die Here bring. Iets wat natuurlik onlosmaaklik met die eerste Kersfees verbind is. Met Jesus se geboorte het die hemele gebewe van die sang van engele oor die Verlosser wat in ‘n krip in Betlehem gebore is.

Aan die ander kant verkondig Psalm 96 aan ons dat ons die Here moet aanbid. Want, daar kom ‘n dag waarop God finaal sal oordeel. Billik en regverdig. Oor alle mense. ‘n Oordeel wat ons natuurlik onlosmaaklik aan die laaste Kersfees verbind. Aan Jesus se wederkoms. Wanneer die hemele weer sal bewe van die lofsang van die ganse heelal oor die nuwe hemel en nuwe aarde wat God skep.

Psalm 96 help ons dus om aan die een kant terug te kyk na die geboorte van Jesus en te sing van die verlossing wat Hy gebring het.

Psalm 96 help ons ook om aan die ander kant vorentoe te kyk na die wederkoms van Jesus en uit te sien na die finale verlossing wat Hy gaan bring.

Psalm 96 help ons om tussen die eerste Kersfees en die laaste Kersfees – by wyse van spreke – te leef. In lofsang en aanbidding.

Kom ons lees die Psalm met ‘n bietjie kommentaar om dit goed te kan verstaan.

Psalm 96 het twee duidelike dele.

1. Sing vir die Here ‘n nuwe lied – Hy is ontsagwekkend

In die eerste deel – vers 1-6 – word die ganse aarde opgeroep om die Here te loof en prys. Drie keer word gesê:

1Sing vir die Here ‘n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde! 2Sing vir die Here,

Om te sing vir die Here is nie maar ‘n opsionele ekstra nie. Dit is nie iets wat jy kan vermy nie. Want, as jy die Here ken, as jy die verlossing van die Here ervaar het, kan jy nie anders as om te sing nie.

Soos Psalm 96 dit sê:

Prys sy Naam, verkondig sy verlossing van dag tot dag. 3Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade.

Alle nasies moet van God se verlossing hoor, want die vreugde wat dit vir ons gee, is só groot. Ons is getuies daarvan dat God se majesteit groot is. Dat Hy groot dinge vir ons doen. En dat Hy groot dinge vir almal wat hulle vertroue op Hom plaas, sal doen. Alle volke moet daarom van God se wonderdade kennis neem. Trouens, alle mense word uitgenooi om deel te neem aan hierdie loflied vir God se verlossing. Soos Psalm 96 dit sê: “die ganse aarde.”

En wat moet ons vir Hom sê?

4Want groot is die Here en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. 5Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend.

Daar is niemand soos ons God nie. In vergelyking met Hom is die gode van die volke niksbeduidend. Hulle is waardeloos. Non-entiteite.

En in ‘n laaste rede verwys Psalm 96 na God se skeppingskrag:

Maar die Here het die hemel gemaak. 6Luister en glans is voor Hom; krag en heerlikheid is in sy heiligdom.

Om te sing tot lof van God is dus nie opsioneel nie. Dit is die enigste respons van iemand wat God se verlossing ervaar het, en wat weer bewus geraak het van die feit dat Hy die SkepperGod is. Die Een wat ons hele menswees omvou. Die Een op wie ons met ons hele hart kan vertrou.

Maar, dit is nie al nie.

2. Gee eer aan die Here – Die Here regeer – Die Here kom om te oordeel

In die tweede deel – vers 7-13 – word alle familiegroep, alle “tribes” opgeroep om die Here te aanbid. Daar word drie keer gesê:

7Gee eer aan die Here, familiegroepe van volke! Gee eer aan die Here vir sy heerlikheid en krag! 8Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam!

Psalm 96 moedig ons dus aan om die Here alleen te aanbid. Want, Hy alleen dra gewig. Alleen Hy is die moeite werd om te aanbid.

Ons sing dus nie net nie. Ons gee onsself:

Bring dankbewyse en gaan sy voorhowe binne. 9Buig in aanbidding voor die Here in sy glansryke heiligheid! Bewe vanweë sy teenwoordigheid, o ganse aarde!

Ons gee dus ons dankbewyse op konkrete maniere in die geloofsgemeenskap. Ons buig voor God in aanbidding. Ons luister nie net na ‘n preek in die erediens nie – by wyse van spreke. Ons kom aanbid die Here.

Hoekom? Want hierdie God is nie net die SkepperGod nie. Hy is die HeerserGod.

10Sê onder die nasies: “Die Here regeer; ja, die wêreld staan vas, dit wankel nie. Hy oordeel volke met billikheid.”

Dit sê die geskiedenis alreeds vir ons. Die geskiedenis waarvan die Bybel ons vertel. Deur die verhale van Noag, Abraham, Moses, Dawid en verder aan. Ook die geskiedenis waarvan die geskiedenisboeke ons vertel. Daar is so baie getuienisse deur die eeue dat God in beheer is. Dat Hy alleen vastigheid en sekerheid gee.

Let op hoe Psalm 96 God se karakter hier teken. In drie kort kriptiese, maar uiters betekenisvolle woorde sê Psalm 96.

  • “Die Here regeer.” God is soewerein.
  • “Die wêreld staan vas, dit wankel nie.” God gee stabiliteit.
  • “God oordeel volke met billikheid.” God is regverdig.

Maar, hierdie beskrywing van God het nie net betekenis vir die mense op aarde nie, Dit het betekenis ook vir die heelal. Daarom sê Psalm 96:

11Laat die hemel bly wees, en die aarde juig; laat die see en alles daarin dit uitbasuin. 12Laat die veld en alles daarop jubel; dan sal alle bome in die bos van vreugde uitroep 13voor die Here.

Hoekom?

Want, sy heerskappy sal uiteindelik oor alles triomfeer:

Want Hy kom, ja, Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid, en volke ooreenkomstig sy trou. (2020-vertaling)

3. Ons leef tussen die eerste en laaste Kersfees

Ons leef tussen die eerste en laaste Kersfees. En ek gebruik die woord “Kersfees” metafories.

Die eerste Kersfees het met Jesus se eerste koms na die aarde te make. Dit was alreeds heerlik. Verlossend. Genesend.

Die laaste Kersfees het met Jesus se wederkoms na die aarde te make. Ons kan vanoggend weer opnuut die Here loof en aanbid omdat ons hierdie hoop het.

Ons kan vandag  juig oor God se regverdigheid en billikheid, wat Hy reeds op soveel wyses in ons lewe bewaarheid het. En ons kan bid dat die Here Jesus met sy wederkoms sal kom om oor die aarde te heers.

Daardie wederkoms is iets wat ons vandag weer saam met die kerk van die eeue aan alle mense kan verkondig.  Saam met die Gees en die bruid, roep ons ook die laaste woorde van die Bybel aan almal uit:

“’Kom!’  En laat elkeen wat luister, sê: ‘Kom!’  En laat elkeen wat dors het, kom.  En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kry, verniet!” (Openb 22:17)

Gebed

Slotlied

Gesang 96 – Stille nag

Seën

Dankoffer

EFT en Snapscan – dit gaan vir ons barmhartigheidsprojekte – MTR Smit, CMR, en Theo Havemann – so gee mildelik. Jy kan in die verwysing net sit “Kersfees” dan weet ons om dit te gebruik vir ons barmhartigheid projekte.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.