Ek wil jou amper wed dat jy nie gedink het “sing” gaan een van die temas van gebed wees nie – J. Of miskien is dit net ek wat nie voorheen daaraan gedink het om dit in te sluit in my lering oor gebed nie!
Tog, as ek terugdink aan tye en plekke waar ek die Here se teenwoordigheid op besondere maniere ervaar het, het dit talle kere met musiek en sang te make gehad.
Ek onthou, ‘n jaar gelede dat, ek ‘n keer in ernstige gebed was op ‘n retraite. Gelukkig nie naby mense nie. En ek bewus geraak het van God se teenwoordigheid wat my binnekant tot rus gebring het. Die volgende oomblik het ek ‘n bekende melodie onthou en my eie woorde daarvoor geskryf en dit daar en dan gesing.
Vader, U is genoeg vir my
Vader, ek kom tot rus by U
Vader, U kan voorsien vir my
Vader, ek kom niks kort by U
Vader, U is genoeg vir my.
Ons kom dus by die negende element van gebed: Sing (Youtube).
Sang is ‘n opdrag
Sang is immers deel van God se opdrag aan ons regdeur die Skrif. Want, sang is natuurlik gebed op ‘n melodie. Die bekende Psalm 100 roep ons op met die woorde uit die Liedboek:
“Juig al wat leef, juig voor die Heer, dien God met blydskap gee Hom eer. Kom nader voor sy aangesig, en prys Hom met ‘n lofgedig.
Dit was een van die groot voorregte van die byeenkomste by die tempel in Israel, om die Here te loof met sang. Want, het hulle bely, God woon waar die lofsange van Israel weerklink. Die nuwe 2020-vertaling sê:
“4 U heers waar die lofliedere van Israel opklink.” (Ps 22:4)
Dit geld mans en vroue
Dit opdrag geld vir mans en vroue. Daar is die pragtige storie van Heman in die Bybel. Hy was een van die musiekleiers in die tyd van Dawid, saam met Asaf en Jedoetoen (1 Kron 25). Die ander twee musiekleiers het net seuns gehad wat saam met hulle pa’s in die tempel diens gedoen het as sangers en musikante.
Die Here het egter vir Heman geseën nie net met veertien seuns nie, maar ook met drie dogters. En so sonder enige omhaal van woorde word daar eenvoudig gesê dat hulle saam met hulle broers opgetree het, al was dit eintlik nie so ‘n gereëlde ding in daardie tyd nie. Soos dit in die Hebreeus staan:
“6 Hulle almal was onder leiding van hulle vader by die gesang in die huis van die Here, met simbale, harpe en siters, vir die diens in die huis van God volgens aanwysing van die koning: Asaf en Jedútun en Heman. (1933/53-vertaling – 1 Kron 25:6)
Dit is darem nie die enigste getuienis daarvan in die OT nie. Ons lees ook daarvan in Psalm 68, ‘n Psalm van Dawid, “vir die musiekleier”. So die sang deur beide geslagte het ook Dawid se goedkeuring gehad, soos God dit wou hê:
25 Mense sien u optogte, o God, die optogte van my God, my Koning, by die heiligdom: 26 Vooraan is die sangers, daarna dié met snaarinstrumente tussen jongmeisies wat tamboeryne slaan. 27 Prys God in die byeenkomste, die HERE by die bron (dit is die heiligdom) van Israel. (Ps 68:25-27)
Trouens, ons lees ook van die profetes Miriam wat al singende die volk begelei het na die deurtog deur die Rietsee (Eks 15). En van die rigter Debora wat ‘n lied geskryf en gesing het na sy die volk tot ‘n oorwinning oor Jabin en Sisera, die belangrike koning van Hasor in Kanaän, gelei het (Rigt 5). Die twee vroue se liedere is daarom opgeneem in die Bybel.
Die Vallei van Lofprysing
Om te sing in opdrag van die Here is ook nie net ter wille van Hom of ter wille van jou eie geestelike verdieping nie. Die Here het sang selfs gebruik in die van die oorloë wat Israel by betrokke was.
Josafat was die vierde koning van Juda. Hy het die Here gedien en die geestelike lewe reggeruk deur van die manlike tempelprostitute en die asjeras (vroulike afgodsbeelde) ontslae te raak en ‘n stelsel van kategese in te stel met reisende kategete in die wet.
Hy het ook die gemeenskapslewe reggeruk met die aanstel van regters van integriteit en ‘n versterking van sy militêre slaankrag. Dit was in die 9de eeu vC van 873-848 vC.
Maar, die interessante is dat hy die eerste oorlog wat hy onderneem nie met militêre mag tegemoet gaan nie, maar met sangers!
Ons lees in 2 Kronieke 20 dat:
21 hy sangers vir die Here aangestel (het) wat sy glansryke heiligheid moes loof terwyl hulle voor die gewapende manne uitgaan. Hulle moes sê: “Prys die HERE, want vir ewig duur sy troue liefde!” (2 Kron 20:21)
Dit is woorde uit Psalm 136:1!
22 Die oomblik toe hulle met ‘n jubelkreet ‘n loflied begin sing, het die Here ‘n hinderlaag beskik teen die Ammoniete, Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle is verslaan. (Trouens,) 23 Die Ammoniete en Moabiete het teen die inwoners van die Seïrberge opgestaan om hulle aan volledige vernietiging oor te gee en uit te delg. Toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar help vernietig. (2 Kron 20:22-23)
Die mense van Juda het vir hulleself soveel gebuit dat hulle dit nie kon dra nie. Hulle het drie dae lank geneem om al die oorlogsbuit bymekaar te maak
Daarom het hulle die vallei waar die oorwinning plaasgevind het, die Berakavallei genoem, die Vallei van Lofprysing.
Psalms, lofgesange, en geestelike liedere
Sang is deel van ons geestelike toerusting. Dit is die manier waarop ons sorg dat die Woord van God diep in ons insak. Veral waar ons Psalms sing. Dit is die manier waarop ons binnekant tot rus kom in die teenwoordigheid van God, sodat ons vreugde kan ervaar in sy inwoning.
Soos Paulus op verskillende plekke sê:
16 Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. (Kol 3:16; vgl Ef 5:19)
Dit geld nie net die goeie tye nie, ook die tye van vervolging. Soos Paulus en Silas in die tronk in Filippi na hulle rûe wreed oopgekloof is deur die owerhede. Ons lees:
25 Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. (Hand 16:25)
Ook Jakobus gee dit as ‘n algemene reël vir ons as deel van ons gebedslewe:
13 As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. (Jak 5:13)
Prakties
Daar is ‘n skat van lofliedere in ons onderskeie liederebundels. Daar is honderde lofliedere op Youtube en ander webtuistes beskikbaar. Jy kan kies om in hierdie deel van die gebed na een daarvan te luister of dit saam te sing. Dit is wonderlik hoe só ‘n wysie en die woorde daarvan met jou die hele dag kan gaan.
Jy kan ook kies om jou eie woorde te skryf na aanleiding van jou ervaring van God se teenwoordigheid, hetsy op ‘n bestaande melodie of deur jou eie een te skryf. Probeer: “God is so good, God is so good, God is so good, He’s so good to me.” Dit is ‘n melodie wat maklik sing en waarvoor jy jou eie woorde kan skryf.
Dit is wonderlik wat kan gebeur as die Gees in ‘n mens se hart werk!
Ek speel graag vir jou die bekende lied van Matthew Bridges en Godfrey Thring Crown him with many crowns, The Lamb upon his throne, soos dit in die Liedboek opgeneem is as nommer 202 – Prys Hom, die Hemelvors.
Gebed
Maak dit jou lied vir vandag en sing dit saam:
- Prys Hom, die Hemelvors,
op sy verhewe troon,
loof Hom aan Wie die hemelkoor
hul hulde steeds betoon.
Aan Hom, die Skepperheer,
kom toe die eer en mag.
Sy Woord het alles voortgebring,
roem ewig sy gesag.- Loof Hom, die Lam van God,
want Hy’s vir ons geslag.
Hy het ons met sy bloed gekoop;
besing sy reddingsmag.
Uit elke stam en taal
het Hy ons vrygemaak;
sy koninkryk, sy priesterdom –
dít het Hy ons gemaak.- Lof, eer en heerlikheid,
die wysheid en die krag
behoort aan God daar op die troon
en aan die Lam, geslag.
Tot in die ewigheid
sal ons die lied laat hoor;
die hele skepping oraloor roep
“Amen” in ‘n koor.Loof die Here verder in jou eie woorde.
Stilte
13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)
Die tiende gebed is Dink na (Youtube).
Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.