Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.
Gebed ontsluit God se krag
Ek het al baie oor gebed gepreek. Ook verskillende Pinksterreekse oor gebed gehou. Maar, hierdie reeks is anders.
Hierdie reeks is vir gelowiges wat dieper in die praktyk van gebed wil ingaan. Wat wil leer hoe om beter te bid.
Ek is in my voorbereiding getref deur hierdie stelling van Dick Eastman:
“Where there is an absence of prayer there will be an absence of power. Where there is frequency of prayer there will be a continuing display of God’s power.” (Dick Eastman, The Hour That Changes the World).
Daar is diep in my ‘n behoefte om jou bloot te stel aan hierdie krag van gebed. Aan die werklikheid dat gebed dinge verander. Hoekom? Want God stel Homself oop om op ons versoeke en behoeftes te reageer. Gebed ontsluit God se krag in ons lewe.
Gebed is lewensnoodsaaklik
Gebed is daarom nie opsioneel nie. Dit is lewensnoodsaaklik vir ons geestelike welstand en krag.
Solank ons egter na gebed kyk net as ‘n manier om ons eie Christelike lewe te handhaaf, sal ons die volle betekenis daarvan nie regtig leer ken nie, sê Andrew Murray. Ons het nodig om gebed te leer ken as die belangrikste deel van die werk wat aan ons toevertrou is.
Gebed is die wortel en die bron van alle werk wat ons vir die Here doen. As ons regtig onsself gee vir gebed, sal ons sien dat daar niks is wat ons so nodig het om te bestudeer en te beoefen as die kuns om reg te bid nie.
Ons sal eers werklik die krag van die Here Jesus in ons geloofsgemeenskap begin ervaar as ons onsself aan die “heilige werk van voorbidding” oorgee.
Die Here Jesus wil ons leer bid
Ons staan natuurlik nie alleen in ons gebede nie. Dit is niemand minder as die Here Jesus self nie wat ons graag wil leer om te bid. Soos Andrew Murray dit in een van sy boeke oor gebed sê:
“Christus is ons lewe: in die hemel leef Hy altyd om te bid; Sy lewe in ons is ‘n altyd-biddende lewe, as ons Hom maar net daarvoor wil vertrou. Christus leer ons om nie net deur voorbeeld, deur instruksie, deur opdrag, deur beloftes nie, maar deur HOMSELF, die altyd-lewende Voorbidder, as ons Lewe te wys. Dit is wanneer ons dit glo en ook vir ons gebedslewe in Hom bly, dat ons vrese dat ons nie reg kan bid nie, sal verdwyn, en ons vreugdevol en seëvierend op ons Here sal vertrou om ons te leer bid, om self die lewe en die krag van ons gebed te wees.” (Met Christus in die skool van gebed)
Dit is dus Jesus self wat ons leer om te bid. Jesus weet wat gebed is. Hy het dit geleer te midde van die beproewings en trane van sy aardse lewe. In die hemel is dit nog steeds sy geliefkoosde werk. Gebed in sy lewe.
Deur sy Heilige Gees het Hy toegang tot ons harte en leer Hy ons om te bid deur bv vir ons die sonde te wys wat ons gebed belemmer, of ons die versekering te gee dat ons God tevrede stel. Jesus leer ons deur nie net vir ons gedagtes te gee oor wat om te vra of hoe om te vra nie, soos Andrew Murray sê, Jesus leer ons: “deur die gees van gebed in ons in te asem, deur in ons as die Groot Voorbidder te leef.”
Ons kan inderdaad en met vreugde sê: “Wie leer soos Hy?” Jesus het immers nooit sy dissipels geleer hoe om te preek nie, maar net hoe om te bid. Hy het nie baie gepraat oor wat nodig was om goed te preek nie, maar eerder hoe om goed te bid. Om te weet hoe om met God te praat, is baie belangriker as om te weet hoe om met die mens te praat. Nie krag by mense nie, maar krag by God is die belangrike ding wat ons nodig het. Jesus leer ons graag hoe om te bid.
Reeks: “Waak en bid”
Ek gebruik ‘n horlosie metafoor wat jy kan gebruik om ‘n uur aan gebed te spandeer. Daar is 12 temas of onderwerpe vir gebed. Dit is bedoel vir ‘n uur se gebed, maar jy kan elkeen van die temas ook een op ‘n slag beoefen, of afwissel, of korter of langer bid, of selfs in ‘n ander volgorde gebruik. Dit is net ‘n riglyn. Jy moet deur die Here Jesus self geleer word hoe om te bid.
My dank aan Jaco Potgieter vir die grafika! Dit is ‘n sterk visuele ondersteuning van die inhoud en praktyk wat ek graag wil oordra.
Gebedstemas
Daar is twaalf onderwerpe:
- Aanbid – waar ons leer om voor God te buig met onder andere die gebed in die Ons Vader: “Laat u Naam geheilig word.” (Matt 6:9)
- Wag – waar ons leer om God toe te laat om leiding te neem in ons gebedslewe, deur te wag op die Here! (Ps 27:14)
- Bely – waar ons weer nuut leer wat beteken dit dat God vir ons ‘n rein hart skep. (Ps 51:12)
- Bid die Woord – waar ons leer om God aan sy beloftes te herinner om te doen wat Hy gesê het (2 Sam 7:25)
- Waak –waar ons leer om God se wil te onderskei deur waaksaam te wees. (Kol 4:2)
- Tree in – waar ons leer om voorbidding te doen vir alle mense. (1 Tim 2:1)
- Vra – waar ons leer wat dit beteken dat Jesus ons uitnooi om te vra, en te ervaar dat vir ons gegee sal word. (Luk 11:9)
- Sê dankie – waar ons leer om in alle omstandighede dankbaar te wees. (1 Tess 5:16-18)
- Sing – waar ons leer om psalms, lofgesange en geestelike liedere te sing. (Kol 3:16)
- Dink na – waar ons leer hoe ons bepeinsing vir God aangenaam kan wees. (Ps 104:34)
- Luister – waar ons leer om soos Jesus se skape te luister na sy stem. (Joh 10:27)
- Loof – waar ons leer om op te staan om God te prys, omdat Hy altyd optree, altyd ons gebede beantwoord. (Ps 52:11)
Ek gebruik die Bybel 2020-vertaling vir aanhalings behalwe waar ek dit anders aandui.
Wat het jy nodig?
- Kies ‘n plek waar jy verkieslik stil kan wees sonder onderbrekings.
- Kies ‘n gemaklike stoel waarop jy kan sit as jy bid.
- Kry vir jou ‘n gebedsjoernaal waarin jy gebedsversoeke en -verhorings sowel as insigte, beloftes en opdragte kan neerskryf.
Formaat
Elke aanbieding verloop soos volg:
- Inset oor die onderwerp
- Begeleide gebed (met musiek en grafika)
Ek stuur elke oggend van die 13de tot die 23ste Mei, die tyd van Pinkster, die skakel na daardie dag se aanbieding via die webtuistes ngkerksomerstrand.co.za en bybelskool.com. Teken daar in as jy dit as e-pos wil ontvang.
Ek stuur dit ook via my Facebook blad en die verskillende Facebook bladsye van die gemeente Somerstrand.
Ek stuur dit ook via Whatsapp – stuur jou naam, van en selnommer as jy dit só wil ontvang. Onthou om my naam en van en selnommer op jou selfoon se kontaklys te stoor, anders sal jy dit nie kry nie (Chris van Wyk – nul agt twee 574 9191).
Daar is 14 video’s. Dit sluit hierdie aanbieding in wat ‘n inleiding is op die reeks. En dan die 12 video’s wat elkeen een van die temas hanteer.
Ek stuur Donderdag, die 20ste Mei, twee skakels om die reeks te kan inpas teen Sondag, die 23ste Mei. Dit is die twee kortste video’s: 8) dankie sê en 9) sing.
Die video’s is egter almal van die begin af beskikbaar. So, jy kan dit kyk wanneer dit jou pas.
Daar is ook ‘n laaste video wat al die elemente saamvat, met elkeen so 5 minute lank, sodat jy dit na die tyd kan gebruik om deur die 12 elemente te werk in ‘n uur van gebed.
Neem ‘n wilsbesluit
Onthou, al wat nodig is, is om die besluit te neem om te begin bid. Jy het niks meer nodig as ‘n wilsbesluit nie.
Maar, dit is ook presies daar wat jou stryd sal begin. Daar sal onderbrekings kom. Hindernisse. Afleidings. Moegheid.
Maar, dit is moontlik om tyd te maak. Begin deur die video’s een vir een te kyk en die gebed vir daardie dag te beoefen. As jy almal klaar gekyk het, gebruik die een uur video om een uur in gebed te spandeer. Kry dan jou eie ritme met al 12 die elemente, of wissel dit af.
As ‘n uur aanvanklik vir jou te veel is, begin met 12 minute ‘n dag, en spandeer een minuut aan elkeen van hierdie elemente van gebed. Of kies net vyf van die elemente en spandeer 5 minute ‘n dag daaraan.
Soos met enige oefenprogram is dit nodig om jouself te verbind daaraan. Soos jy volhard, begin jy die waarde daarvan insien, en raak dit ‘n onontbeerlike deel van jou dag.
Is jy gereed?
Die eerste gebed is aanbidding.
Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.