Vertrou God en ken Hom in alles – Spreuke 3:1-12

Somerstrand Aanddiens 25 Februarie 2018

Die “regte pad” word deur ons waardes en beginsels bepaal

Spreuke maak geweldig baie van die idee dat daar ’n “regte pad” is om op te loop, en ’n verkeerde een.  Alles moet in die stryd gewerp word om dié regte pad te vind.  Niks moet jou daarvan weerhou nie.  En alles moontlik moet gedoen word om die verkeerde pad te vermy.

In die lig van uitdagings en versoekings wat oor ons pad kom, word die besluite wat ons neem deur ons waardes en beginsels bepaal. Al die situasies het nie altyd ’n voor die hand liggende regte en verkeerde antwoord nie. Om wysheid te hê in die situasie, beteken dat jy ’n sterk waardesisteem moet hê, ‘n sterk stel beginsels waarmee jy besluite kan neem.

So ’n sterk beginselvaste waardesisteem groei uit ons verhouding met God.

1. Die eerste beginsel is ontsag vir God

Dit is waarom die boek Spreuke met soveel passie begin by die begin van die pad, die eerste beginsel van die geestelike lewe, die ontsag vir God (Spr 1:1-7).  Dit is wat die eerste tafel van die wet ook beklemtoon, om God lief te hê met jou hele hart, siel, krag en verstand (Eks 20:1-11).

2. Die tweede beginsel is ontsag vir rolmodelle

Maar die interessante is, dat die beginsel van ontsag steeds die leidende waarde bly in die uitvoering van die tweede beginsel van die geestelike lewe, om die raad en begeleiding van rolmodelle te erken en volg (Spr 1:8-19).  Dit is waarmee die tweede tafel van die wet ook begin, die liefde vir die naaste, nie net in terme van dié vir wie jy iets doen nie, maar ook vir dié wat jy navolg in hierdie lewe (Eks 20:12-17).

Soos die vyfde gebod dit stel: “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.” (Eks 20:12).

Ons dink te maklik dat die liefde vir die naaste net inhou wat jy vir hulle kan beteken. Dit gaan ook oor wat die naaste vir jou kan beteken, jou rolmodelle, jou pa en ma, jou geestelike mentors, jou geestelike gesagsfigure.

Spreuke 3 brei uit oor albei beginsels

Die pa gee aan sy kind eerstens praktiese raad oor hoe om God te vertrou en in alles te ken – die eerste beginsel van ‘n stewige waardestelsel, om met ontsag vir God te lewe (Spr 3:1-12). Dit is waarby ek gaan stilstaan vanaand.

Hy gee ook praktiese voorbeelde van hoe dit lyk om die “regte pad” te volg – die tweede beginsel van ‘n stewige waardestelsel, om met ontsag vir die raad van hierdie pa, die rolmodel en gesagsfiguur in sy lewe (Spr 3:13-35). Terloops, die raad van die ma kom aan die einde van die boek, in Spreuke 31. Dit kan julle egter self gaan lees later.

Kom ons lees Spreuke 3:1-12. Jy sal sien dat dit ses beginsels bevat. Ek leer dus ook vir jou hoe om die Bybel te lees, sodat jy die boodskap daarvan vir jouself kan toeëien.

  1. Ons gaan die Bybel eers Lees.
  2. Dan gaan ons Luister na die betekenis daarvan.
  3. Dan gaan ons dit Leef.

LEES

Hierdie “lewensles” word opgedeel in ses aspekte om ons te help om die “regte pad” te kies.  Elke aspek word in 2 verse elk uitgespel. Die eerste is positief, die tweede negatief. Dit word twee keer herhaal – positief, negatief; positief, negatief. En dit is wonderlik. Elke keer word die voordeel daarvan uitgespel. Kom ons lees dit met insig.

1 My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie,
hou vas aan wat ek jou voorskryf,
2 want dit sal vir jou ’n lang lewe verseker,
dit sal maak dat jy ’n vol lewe het.
 
3 Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie;
leef daarmee saam,
maak dit ’n deel van jou lewe.
4 So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens.
 
5 Vertrou volkome op die Here
en moenie op jou eie insigte staat maak nie.
6 Ken hom in alles wat jy doen
en Hy sal jou die regte pad laat loop.
 
7 Moenie dink jy het die wysheid in pag nie,
dien die Here en vermy wat sleg is:
8 dit is die geneesmiddel vir jou,
die verkwikking vir jou liggaam.
 
9 Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes,
10 dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.
 
11 My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom
en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie,
12 want die Here straf die mens wat Hy liefhet
net soos ’n vader doen met sy seun.

LUISTER

1. Moenie vergeet wat jou pa jou leer nie → dit lei tot ’n lang en vol lewe.
1 My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie,
hou vas aan wat ek jou voorskryf,
2 want dit sal vir jou ’n lang lewe verseker,
dit sal maak dat jy ’n vol lewe het.

Die inhoud van die eerste “lewensles” van die pa aan sy seun is:

  1. Moenie vergeet wat ek jou geleer het nie (dws onthou) en
  2. Hou vas aan wat ek jou voorskryf.

Dit is waarin die geheim van jou hele geestelike lewe opgesluit lê.

Aan die een kant moet die verlossing, versorging en bevestiging van die Here in die verlede telkens in herinnering geroep word. Moet dit nie vergeet nie, sê die pa vir sy kind. Dit is die belangrikste van alles wat die pa sy kind geleer het. En onthou, dit is waarom ‘n joernaal so ‘n waardevolle geestelike “tool” is vir jou om jou te help om te onthou.

Aan die ander kant moet vasgehou word aan die wyse riglyne wat God uitspel vir die tipe lewenstyl wat nie net Sy goedkeuring wegdra nie, maar die toets van die tyd deurstaan het. Dit is die wyse waarop God se wyse raad geleef word in die praktyk van elke dag. Dit wil sê, jy moet die dinge wat jy hoor doen. Jy moet dit uitvoer.

Soos ons verlede week in die fliek gesien het (The Insanity of God), die mense in die tronk het tot bekering gekom, omdat Dmitri 17 jaar lank sy hartlied gesing het, en so gereeld soos hy kon, die Skrif in sy sel neergeskryf het tot eer van God. Dit is in die leef van dit wat jy onthou, in die vashou aan dit wat jy geleer het, wat die impak in hierdie lewe lê.

Die beloning? Vers 2 sê in die oorspronklike dat daar dan vrede in die kind se lewe sal wees. Die vrede verwys waarskynlik nie na die afwesigheid van geweld of swaarkry nie, maar moontlik eerder na ’n betekenisvolle lewe. Dit is wat met jou gebeur as jy hieraan gehoorsaam is. Jou lewe begin sin maak. Jou hart kom tot rus. Jou lewe begin betekenis kry, nie net vir jouself nie, maar ook vir ander.

Dit is so dat In ons lewe daar ongeluk, lyding en slegte dinge sal wees, maar hierdie eerste aspek van die wysheid – om nie te vergeet nie, en om vas te hou – help jou om onder leiding van die Here sin in die lewe te vind.

2. Moenie dat liefde en trou ontbreek nie → dit laat jou guns verwerf en byval vind by God en mens.
3 Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie;
leef daarmee saam,
maak dit ’n deel van jou lewe.
4 So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens.

Hierdie is só ‘n belangrike beginsel. Dit help nie ‘n mens ken die beginsels waarop ‘n betekenisvolle lewe gebou is, maar jy voer dit nie uit nie. Nie net in terme van jou verhouding met God nie, maar ook in jou verhouding met ander mense.

Ons soek almal mense om ons op wie jy kan staatmaak. Wat die pa hier vir sy kind sê, is dat hy daardie mens moet wees. Liefde en trou moet nie by jou ontbreek nie, my kind. Maak dit ‘n deel van jou lewe en jy sal vind dat jy nie net guns verwerf by ander mense nie, maar dat jy byval sal vind by God self.

‘n Ander manier om die liefde en trou te verstaan is om die woorde as getrouheid en waarheid te vertaal. Dit wil sê, om lojaal te bly, en om te alle tye die waarheid te praat. Om ‘n betroubare mens te wees, een waarvan jy weet dat sy of haar woord is hul wet. Hulle hou hulle aan dié dinge waaraan hulle hul verbind.

Liefde en trou, getrouheid en waarheid, dit is wat deel van jou lewe moet raak. Soos dit in die oorspronklike staan: “Skryf dit op die tafel van jou hart” (OAV). Laat dit in jou binnekant pos vat. Dan sal dit in jou lewe wys.

En dit is juis wat die Skrif vir ons wil gee. Dit is wat die Bybel ons wil leer, die waarheid wat vir alle tye geld. Soos Paulus sê: “ons sal in liefde by die waarheid bly” (Ef 4:15).

3. Vertrou volkome op die Here en ken Hom in alles wat jy doen → dit laat jou ervaar dat God jou die regte pad laat loop
5 Vertrou volkome op die Here
en moenie op jou eie insigte staat maak nie.
6 Ken hom in alles wat jy doen
en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Kyk, ons het nie self wysheid in pag nie. Ons wysheid, die wysheid van die mens verskil van die wysheid van God. God se wysheid is volkome en groter as wat die mens s’n ooit sal wees.

Ware wysheid begin by die ontsag vir God. Ware wysheid begin met die dien van die Here. Maar dit bly nie net daar nie. Dit stel jouself oop aan die insigte wat Hy bring, die insigte wat Hy in jou hand geplaas het, sy Woord.

Dit beteken dat ‘n mens die Here volkome moet vertrou, dat Hy dit goed bedoel met jou, dat sy Woord die waarheid is, dat jy niks anders nodig het as die openbaring wat ons in die Bybel het nie.

Billy Graham is hierdie week oorlede op 99 jaar oud. Hy het miljoene mense se lewens aangeraak. En dít was die keerpunt in sy lewe, toe hy een middag in ‘n bos gesit en bid het. Hy was onder die indruk van die liberale teoloë wat gesê het dat die Bybel nie die Woord van God is nie. En daar het hy besef, dit is presies daar wat die skeiding kom. Die Here het hom oortuig dat hy die Bybel kan glo as die Woord van God. En hy het nooit weer teruggekyk nie.

Dit was die basis vir sy vertroue op die Here, soos Spreuke ons hier uitnooi, om te vertrou op die Here “met jou hele hart” (OAV), om sy Woord as waar te aanvaar, om die insigte daarin te leef, en nie op jou eie insigte staat te maak nie.

Julle sien, in die Bybel word wysheid nie in die eerste plek gekoppel aan ’n lysie reëls en regulasies nie, maar aan ’n verhouding met God. Wysheid begin met die dien van die Here, by die doen van wat God in sy Woord openbaar.

Maar dit is net so belangrik om te besef dat daardie verhouding via die Bybel gaan en nie deur jou eie insigte nie, maak nie saak hoe wys dit op die oog af lyk of klink nie. Die woorde wat die Gees in jou lewe gebruik om jou God se wil te leer, om jou in die waarheid te begelei, is in die Bybel opgeteken. Die Bybel is:

die maatstaf vir wat ek glo, dink en doen. Dit bevat die volmaakte wil van God. Die Bybel is noodsaaklik en genoegsaam, betroubaar en duidelik. Die Bybel bevestig en begelei my om in alles volgens die wil van God tot sy eer en my saligheid te lewe.

Di is my antwoord op vraag 7: “Hoe lees ek die Bybel?” in my boek Wie is God? Daar is ook ‘n kinderboek beskikbaar Wat glo jy? (vgl 2 Tim 3:14-17; Ps 40:9; Neh 8:1-8; Luk 24:25-27; Hand 8:30-35; Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 7)

4. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, vrees die Here en vermy wat sleg is → dit lei tot genesing en heelheid.
7 Moenie dink jy het die wysheid in pag nie,
dien die Here en vermy wat sleg is:
8 dit is die geneesmiddel vir jou,
die verkwikking vir jou liggaam.

Die pa onderstreep dié waarheid nog keer, net hierdie keer uit ‘n ander hoek beskou. Ons is só geneig om te dink dat ons die wysheid in pag het, dat ons self kan besluit wat is goed en wat is sleg.

Maar, ons weet sedert die nare ondervinding van Adam en Eva in die tuin van God dat die keuse om self te besluit wat goed is en wat kwaad is ‘n totale mislukking is. Eva het gedink dat sy beter weet as God. Adam het gedink dat hy en Eva soos God sal word, en onafhanklik van Hom sal kan besluit wat goed en sleg is.

Die probleem was dat hulle in hulle onafhanklikheid van God geen manier gehad het om die goeie te kies nie. Wat help dit as jy weet wat is goed en wat is sleg, maar jy kan nie die goeie kies nie.

Want dit is wat met jou gebeur as jy dink dat jy beter as God weet. Jy kan nie meer dít wat sleg is vermy nie, en dit lei tot die dood.

Daarom waarsku die pa. Moenie dink jy weet alles nie. Moenie dink jy is wys weens jou kennis oor allerlei in die lewe nie. Erken jou afhanklikheid van God en doen wat Hy sê. Dit sal jou help om te vermy wat sleg is. Dit sal jou gesond maak met die medisyne van die siel. Dit sal selfs jou liggaam aanraak. Dit is die belofte van die Here.

5. Vereer die Here met offerandes → dit laat jou ervaar dat God jou met oorvloed seën.
9 Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes,
10 dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.

Die vyfde beginsel is die bekende belofte van die Here. Hy het ons gemaak om tot ‘n seën vir die wêreld te wees. As jy Hom gehoorsaam sal jy vind dat jy ook geseënd sal wees. Waar jy gee uit alles wat God aan jou toevertrou het, sal jy vind dat jou skure oorvol sal wees, en dat jou parskuipe sal oorloop van wyn – by wyse van spreke, natuurlik!

Dit is eintlik ’n paradoks. Deur te gee, is jy besig om jou skure vol te maak. Deur te gee, ontvang jy.

6. Aanvaar die straf en teregwysing van die Here → dit bevestig jou kindskap.
11 My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom
en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie,
12 want die Here straf die mens wat Hy liefhet
net soos ’n vader doen met sy seun.

Die laaste en sesde beginsel sluit die reeks van wyshede af met die raad vir die swaar in die lewe.

In die eerste beginsel is die seun geleer om die lesse uit die verlede ter harte te neem en daarin te lewe. Dit was in die veronderstelling gedoen dat daar ongeluk, lyding en slegte dinge in die lewe sal wees, maar dat die geheim van volharding te vind is in die fokus om te onthou, en nie te vergeet nie, in die vashou aan die Woord, en dit nie te laat los nie. Dit alles help jou om onder leiding van die Here sin in die lewe te vind.

Hier word dié swaarkry as “straf” en “teregwysing” van die Here uitgestippel. Die “straf” is natuurlik bedoel in die sin van “dissipline” en die “teregwysing” in die sin van “korreksie”. Dit gaan alles daaroor dat die Here vir ons oorsaak-en-gevolg wil leer, dat die “verkeerde pad” gevolge het, slegte gevolge; dat die “regte pad” ook gevolge het, goeie gevolge.

Dit is waarom Psalm 1 ons aanmoedig om die pad van die Woord te kies, want dan is ons soos ‘n boom wat by die waterstrome geplant is. As ons kies om ons eie kop te volg, is ons soos kaf wat deur die wind weggewaai word.

As ons dus deur swaar tye gaan – en onthou baie keer is dié dinge maar net deel van hierdie lewe se swaar, maar ek praat hier van swaar tye wat ons iets wil leer – dan moet ons onthou dat dit op ‘n paradoksale manier die Here se liefdestaal is, ‘n manier om ons te dissiplineer, om ons te korrigeer, om ons die regte pad te leer ken, sodat ons nie verdwaal op die verkeerde pad nie.

Ons sal dié pad net kies as ons leer om in ontsag vir God en vir die rolmodelle wat Hy gee te leef; as ons al hoe dieper kies om die Bybel se waarheid te omarm en daarvolgens te lewe.

LEEF

My opdrag aan jou hierdie week is daarom om in die gewoonte te kom om die Bybel as die Woord van God te lees. Om te luister na die betekenis daarvan, soos ek jou nou geleer het. Om dit te gaan doen, om dit te leef.

Hier is my kort opsomming daarvan:

  1. Onthou wat die Skrif jou leer. Hou vas daaraan. Wees daagliks gehoorsaam daaraan.
  2. Moenie dat liefde en trou ontbreek nie. Dit is die geheim van goeie verhoudinge.
  3. Vertrou volkome op die Here. Ken Hom in alles wat jy doen. Hy sal jou die regte pad wys.
  4. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie. Leef in ontsag vir die Here. Vermy wat sleg is.
  5. Wees vrygewig teenoor die Here met jou gawes. Hy sal jou met oorvloed seën.
  6. Aanvaar swaarkry. Die Here dissiplineer en korrigeer jou daarmee. Dit wys jy is sy kind!

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.