Wat is wysheid? – 1 Korintiërs 1:18-25

Pulse – 7 Maart 2021 – Youtube van 06:00 af

Wat is dwaasheid?

Wat is die dwaasste ding wat jy al gedoen het?

Ek het  in matriek my kuif met ‘n skêr probeer knip. Dit was ‘n disaster. Ek kon dit net nie gelyk kry nie. Dan knip ek die regterkant te hoog. Dan die linkerkant. Amper soos hierdie ou wat darem ‘n bietjie beter doen met ‘n haarknipper. Maar, dit is ook maar net so ‘n bietjie meer suksesvol as wat ek was. Uiteindelik het ek gesit met geen kuif nie. Die volgende oggend by die skool was ek die centre of attraction. Selfs die hoof het my ingeroep om te kyk na die nuwe haarstyl.

Dink ‘n bietjie wat jy al gedoen het.

Haresny is natuurlik een ding. Maar, ‘n mens kan jou lewe in gevaar stel met sommige dom dinge wat mense doen. Soos hierdie ou wat in sy taxi besig is met sosiale media terwyl hy ry. Hy dink nie aan sy passasier nie! Hy dink nie aan die ander op die pad nie. Groot skrik! Gelukkig het hulle dit oorleef.

Miskien het jy al self sulke dwase dinge gedoen. Dwaasheid is om te dink jy weet iets, maar eintlik weet jy nie baie nie. Om te dink jy weet wat om te doen – ek kan mos my eie hare knip – en dan agter te kom, maar dit werk eintlik glad nie. Om te dink jy kan wegkom met iets – soos die ou op sy selfoon – maar dan agter te kom dat jy eintlik net jou eie lewe in gevaar stel, en natuurlik ander saam met jou op die pad.

Wat is wysheid?

Wat dink jy is wysheid?

  • Is dit insig – om bv ‘n wiskundige formule te kan toepas?
  • Is dit common sense – om eerder ‘n haarknipper as ‘n skêr te gebruik?
  • Is dit goeie oordeel – om eerder jou selfoon te los as jy met ‘n motor ry?
  • Is dit ‘n besondere vaardigheid – om te weet watter hou om op watter plek te speel op ‘n gholfbaan, soos ‘n Tiger Woods?

Maar om hierdie goed te kan doen, help jou net in spesifieke situasies.

Dink ‘n bietjie aan die celebrities wat jy volg op Instagram.

Swemmers. Gholfspelers. Skaakspelers. Moviesterre.

Mense wat goed is in die dinge wat jy van hou.

Maar, jy het seker al agtergekom dat baie van dié mense nie cope met die lewe nie. Hulle sukkel in die lewe. Hulle is nie noodwendig wyse mense nie. Ten spyte van hulle vermoëns, gee dit hulle nie wysheid nie.

Wat sê God daaroor?

God dink nie baie van die wysheid van hierdie wêreld nie.

Hoekom?

Want, die wysheid van hierdie wêreld kry dit nie reg om God raak te sien nie. Die wysheid van hierdie wêreld help mense nie om by God uit te kom nie.

Want dit is wysheid, om God raak te sien en sy woorde te aanvaar vir jou lewe. Om regtig na Hom te luister en te doen wat Hy sê. Want, Hy is die enigste wat ware wysheid kan gee.

Wysheid het met God se woorde te make. Woorde wat Hy vir ons gee. Woorde van lewe. Woorde van wysheid. En ons het ‘n hele biblioteek van 66 boeke waarin sy woorde vir ons opgeteken is. Wat vir ons wysheid gee.

Een van die belangrikste woorde van wysheid wat God vir ons gegee het, is sy plan vir ons sonde. Want, die straf vir die sonde is die ewige dood. Dit is soos daardie man op sy selfoon. As jy sulke dom dinge aanhou doen, sal jy êrens ‘n ongeluk maak en dood gaan.

Kom ons lees van God se plan vir die sonde in Paulus se brief aan die Korintiërs:

God se Slim Plan

18 Daar is baie mense wat hulle nie aan God steur nie. Hulle kan nie verstaan waarom Jesus aan die kruis gesterf het nie. Sulke mense is op pad hel toe. Maar ons wat vir Jesus lief is, weet dat God baie sterk is. Hy maak ook vir ons sterk.

19–20 Ja, daar is ook ’n klomp mense wat dink dat hulle baie slim is. Maar eintlik weet hulle niks nie. Dit is regtig net soos die Bybel sê:

“Die mense dink verniet hulle is so slim. Eintlik is hulle baie dom. Dit is net God wat slim is.”

21 Sommige mense kan nie verstaan hoekom God vir Jesus aan ’n kruis laat sterf het nie. Dit lyk vir hulle baie dom. Maar hulle verstaan nie die dinge van God nie. God het besluit dat Hy die mens op so ’n manier weer sy vriende wil maak.

22–24 Maar party mense wil hê God moes ons op ’n ander manier kom red het. Die Jode sou graag meer wonderwerke wou sien. Die Grieke sou weer na slim praatjies wou luister. Maar God het verkies om ons op ’n baie eenvoudige manier sy kinders te maak. Tog is dit ’n baie slim plan. God se plan werk so: Jesus het aan ’n kruis gesterf vir ons sondes. Nou gaan God ons nie meer straf omdat ons verkeerd gedoen het nie. As ons Jesus liefhet, is ons nou God se vriende. Die Jode en Grieke dink dit is heeltemal belaglik. Ons wat Christene is, weet dit is die manier hoe God ons graag sy vriende wil maak. Ons dink ook God was baie slim om dit so te doen. God is darem regtig baie lief vir ons dat Hy selfs sy Seun vir ons laat sterf het.

25 Ek gee nie om as mense wat nie Christene is nie, dink dit is belaglik. Ek weet God is baie slim, ja baie slimmer as enige mens. God is ook sterker as wat enige mens is. (1 Korintiërs 1:18-25 – Die Nuwe Testament vir kinders in ’n taal wat hulle verstaan`)

Ek wil net twee goed wat Paulus sê, beklemtoon.

1. Mense wat sonde doen, is op pad hel toe.

Die eerste ding wat ons moet weet, is dat mense wat sonde doen – en dit is almal van ons – op pad is hel toe. Die straf vir die sonde is die ewige dood.

Die Bybel praat baie oor die sonde. Sonde is al die lelike en verkeerde goed wat ons dink en doen. Sonde is om dinge te doen wat die Bybel sê ons MAG nie doen nie – soos lelike goed van ander sê, steel, en lieg. Sonde is om nie die dinge te doen wat die Bybel sê ons MOET NIE doen nie – soos bid, vertrou, omgee vir ander.

Die straf vir sulke sonde is die hel.

2. Jesus het gekom om aan die kruis vir ons sondes te sterf.

Die tweede ding wat ons moet weet, is dat God ‘n plan het vir die sonde. God se plan werk so: Jesus het aan ’n kruis gesterf vir ons sondes. As ons Jesus liefhet, as ons in Hom glo, as ons op Hom vertrou, word ons God se kinders. Dan vee God ons sonde uit. Hy vergewe ons. En Hy straf ons nie meer met die hel nie. Nee, Hy gee vir ons die ewige lewe, ‘n lewe by Hom in die hemel.

Wat is wysheid dan?

Om hierdie twee dinge te glo.

  • Dat God sonde straf met die hel.
  • Dat Jesus vir ons sondes sterf aan die kruis.

Elkeen wat in Jesus glo, sal nie hel toe gaan nie. Elkeen wat op Jesus vertrou, kry die ewige lewe as ‘n geskenk van God.

Wysheid is om hierdie plan van God vir die lewe te glo.

Dit sit jou voet op ‘n pad van wysheid. Op die pad sal jy al hoe meer God se plan vir jou lewe verstaan. Die Here sal vir jou die gawe van die Heilige Gees gee. Hy sal jou skoonmaak van jou sondes dat jy kan lewe soos wat God sê ons moet. Hy sal jou gawes gee sodat jy vir Hom kan werk in hierdie wêreld. Hy sal jou help sodat jy lief kan wees vir Hom en vir al die mense met wie jy daagliks in aanraking kom.

Dit sluit in wat sy plan is vir jou werk eendag. Wat sy plan is vir jou huweliksmaat. Wat sy plan is vir jou in die kerk. Wat sy plan is vir jou daar waar jy woon en werk.

Kies dan vir hierdie wysheid: om te lewe soos wat God wil hê jy moet. Daar is nie ‘n ander pad nie.

Gebed

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.