Wat doen jy as jy moedeloos is? – Klaagliedere 2


Klaagliedere van Jeremia
Tema: Wat doen jy as jy moedeloos is? – Klaagliedere 2
Youtube 09:00 14 Junie 2020  Somerstrand Familiediens

Verwelkoming

Die lidmate wat die Eenjaar Bybelleesprogram volg van die begin van die jaar af, het vanoggend Psalm 133 gelees. Hierdie Psalm gebruik die ideaal van broers uit dieselfde uitgebreide familie wat eensgesind saamwoon op hulle gesamentlike erfporsie as metafoor vir almal in die kerk:

“Kyk hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon.”

Waar die pelgrims uit alle rigtings bymekaar gekom het in Jerusalem het hulle saam hierdie lied gesing. Want, hulle was een in die Here. Die feeste in Jerusalem was die gom wat hulle saamgebind het, sodat hulle daarna weer elkeen in sy eie rigting kon teruggaan na hulle eie stukkie van die grondgebied van Israel, maar steeds verbind bly aan mekaar as een geloofsgemeenskap.

Hierdie erediens is die viering van ‘n diep geestelike eenheid tussen ons. God se seën versprei hier op ‘n besondere manier na almal van ons. Dit is soos kosbare reukolie wat van die kop af in die baard van Aäron, die hoëpriester, tot op sy klere afloop. Tot by ons.

Hierdie seën het ook ‘n impak op ons gewone lewe. Soos Psalm 133 in die tweede metafoor in die Psalm sê, die eenheid wat ons hier ervaar, is soos oorvloedige dou wat versprei na ons alledaagse lewe. Die seën wat ons hier ervaar verander selfs die ekologie en die ekonomie, só sê Psalm 133.

Die punt is, waar ons die Here eensgesind dien, waar ons al hoe meer groei in ons gehoorsaamheid aan Hom, daar beleef ons ‘n ongelooflike seën, geestelik en gemeenskaplik.

Dit is my gebed vir hierdie erediens, my gebed vir jou.

Lament

Dit is waarom ons vandag ook ons gesamentlike angs en vrees voor die Here bring. Want, hierdie uitmergelende tyd van inperking bring ons by lament. Ons is bewus van die moedeloosheid en die verlies. Ons kies om te fokus op ons emosies en behoeftes en dit na die Here te bring. Dit is ‘n tyd om tot stilstand te kom, om te treur met die wat treur, om te ween met die wat ween.

Ons praat met die God wat hoor, die God wat sien, die God wat ons seer in sy eie liggaam ervaar het. En ons kan ons eie seer voor God uitstort sowel as die seer van ons eie tyd: om geregtigheid, om genade, om uitkoms.

Siekes en sterftes

‘n Pilaar in ons gemeente, Erra Cilliers, is dié week na die Here toe. Ons medelye aan Pieter, Jaco, Willem en hulle gesinne, ook Jakob en Riëtte van der Merwe, Erra se swaer en suster wat baie van julle ook ken. Ons het ‘n Zoom gedenkdiens gehou Vrydagmiddag. Dit was ‘n viering van ‘n lewe.

Verjaarsdae

Jenny Rautenbach en Heidi von Hagen verjaar vandag. Baie geluk.

Behoeftes

Die swart sakke wat ons in Lydenstyd met klere volgemaak het, kan steeds hierdie week afgelewer word by Jaco en Annemarie by Bognorstraat 6 enige tyd deur die dag. Klere is ‘n groot behoefte en ons probeer daarin voorsien.

Kos natuurlik steeds ook. Julle kan steeds bydrae vir Theo se lysie en Elsje se ACVV lysie.

Bydraes vir die Noodsfonds is ook steeds welkom. Merk dit net “Noodfonds” as jy EFT.

Jy is welkom om, as jy weet van nood waartoe ons kan bydra, vir my te kontak. Ons sal dit diskreet hanteer.

Pulse

Ons het verlede week ons informele erediens hervat. Dit het ‘n nuwe naam, Pulse. Ons het 205 kyke gehad teen Saterdag.

Vanaand gaan dit oor Verlies met Rethie van Niekerk. 18:00 op dieselfde kanaal. Dit is ook in ‘n aparte playlist gesit om makliker daarby uit te kom. Skakels na Youtube op die web, Whatsapp en Mailchimp.

Covid-19

Mense bel my steeds om te weet wanneer ons met eredienste in die kerk begin. Dit is egter nog te vroeg om daarmee te begin. Ons is besig met ‘n Covid-19 bedryfsplan vir voorlegging aan die kerkraad. Ons vergader 22 Junie. Ons sal die gemeente ingelig hou oor hoe ons planne ontwikkel.

Klaagliedere

Ons lees hierdie week hoofstuk twee van die Klaagliedere van Jeremia. Jy kan steeds my boek vir stiltetyd en kleingroepe op die webtuiste aflaai.

Youtube

Like sommer nou die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie.

Votum en Seëngroet

“Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Die troue liefde van die HERE vergaan nie, want sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.” (Klg 3:21-23)

Daarom groet ek jou in die Naam die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Aanbidding

Vonkk 53 – Skuil by die Vader

Kindertyd

Hier is die ID dokument wat julle moet invul.

Gebed

Skriflesing en prediking

Verlede week het ek gefokus op wat ons in Klaagliedere 1 leer as angs en vrees jou oorval.

  1. Staar die leed van die hede eerlik in die gesig
  2. Beoordeel die gevolge van sonde uit die verlede eerlik
  3. Aanvaar die oordeel van die HERE in die hede
  4. Vra die HERE se ingrype vir die toekoms met belydenis van sonde

Dit is hoe jy lament!

Vandag fokus ons op moedeloosheid.

Wat doen jy as jy moedeloos is?

Wel, ek onthou nog so goed Totius se roerende beryming van Psalm 130:

“Uit dieptes, gans verlore,

van redding ver vandaan,

waar hoop se laaste spore

in wanhoop my vergaan;

uit diep van donker nagte

roep ek, o Here, hoor,

en laat my jammerklagte

tog opklim in u oor.”

As kind het dié woorde sowel as die melodie my hart geroer en geïnspireer om selfs in die moeilikste omstandighede – “waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan” – tóg die Here aan te roep en op Hom te vertrou – “roep ek, o Here, hoor, en laat my jammerklagte tog opklim in u oor.”

Dit is juis wanneer jy moedeloos raak, wanneer dit voel asof die diep waters jou insluk en jy dreig om weg te sink dat hierdie gebed uit ‘n mens geskeur word in die hoop dat Iemand sal hoor.

En jy kan dit doen, sê Psalm 130, want daar is Iemand wat luister. Iemand in die duisternis. God self.

1. Hou rekening met God

Dit is waarom Klaagliedere nie val vir die blote politieke verklarings van die ballingskap nie. Dit is nie maar net dat die Galdeër-party die Egipte-party oorwin het nie. Want, daar was mense wat gesê het, ons hoop lê op Nebukadnesar van die Galdeërs. En ander wat hulle hewig teëgestaan het met, ons hoop lê op die Farao van Egipte.

Klaagliedere 2 wyt in die eerste tien verse die toestand waarin die land en die volk is aan die werk van die Here.

1 Ag, hoe het my Heer in sy toorn die dogter van Sion met wolke bedek. Hy het vanuit die hemel die sieraad van Israel op die aarde neergewerp.  Hy het op die dag van sy woede nie eers die voetbank van sy voete (Sion) ontsien nie.

Die Here het vanuit die hemel die donkerte van die wolke oor Jerusalem gebring.

2 Genadeloos het my Heer al die nedersettings van Jakob verswelg.  In sy woede het Hy die vestingstede van die dogter van Juda afgebreek, hulle met die grond gelyk gemaak.  Hy het die koninkryk en haar leiers onteer.

Hy het sy genade terug getrek en die koninkryk van Juda tot ‘n val gebring.

3 In sy vurige toorn het Hy die mag (horing) van Israel volledig gebreek. Hy het sy regterhand (die sterker hand) daarvan weerhou om die vyande te keer, en in Jakob het Hy soos ‘n vlammende vuur gebrand wat alles rondom hom verteer.

4 Hy het sy boog soos ‘n vyand gespan, met ‘n ferm regterhand – Hy het soos ‘n teenstander almal wat kosbaar was, om die lewe gebring.  In die tent van die dogter van Sion het Hy sy wrewel soos ‘n vuur uitgestort.

5 My Heer het soos ‘n vyand geword; Hy het Israel verswelg. Hy het al haar paleise verswelg en haar vestingstede vernietig.  Hy het verdriet en droefheid by die dogter van Juda laat toeneem.

Die Here self het soos ‘n vyand geword vir Israel. Hy het sy beskermende regterhand teruggetrek en sy wrewel soos ‘n vuur uitgestort. Hy het verdriet en droefheid laat toeneem.

9 Haar stadspoorte het in die grond weggesak; Hy het hulle sluitbalke stukkend gebreek. Haar koning en haar leiers leef sonder leiding (wet) onder die nasies; selfs haar profete ontvang nie ‘n visioen van die HERE nie.

Daar is geen onderrig meer in die wet nie,” letterlik: “Daar is nie meer ‘tôrâ’ nie“. Die begeleiding uit God se wet, sy riglyne vir die lewe, het tot stilstand geknars.

Die profete ontvang ook geen visioen waarmee God sy wil kan uitdruk nie. Die Hebreeuse woord wat hier met ontvang vertaal is, kan ook vertaal word met vind – dws selfs as die profete soek na die Here, kry hulle nie ’n antwoord nie.

10 Swyend sit die oudstes (mense van aansien) van die dogter van Sion op die grond.  Hulle het stof op hulle koppe gestrooi, en rouklere (growwe klere) aangetrek.  Die jong vroue van Jerusalem het hulle koppe na die aarde af gebuig.

Niks is gespaar nie. Dis regtig donker in Sion.

En ‘n mens moet nie probeer om dit met allerlei spitsvondighede te vergoeilik nie.

Want, sien, as ‘n mens met God rekening hou, as jy jou nood eerlik beskryf, dan kan jy ook jou gebed tot God rig vir verandering, en dit van Hom verwag.

Anders moet jy maar tevrede wees om jou lot in te gooi by die party wat jy dink jou belange die beste gaan dien. Die Galdeërs of die Egiptenare.

2. Laat jou hart breek vir jou mense

En dit is presies wat Jeremia doen. Hy beskryf die leed eerlik … sodat hy sy eie hart voor God kan ontbloot, ‘n hart wat breek vir sy mense.

Jeremia het vir veertig jaar gewaarsku. Baie verguising beleef. Baie leed beleef. Maar, hy veroordeel hulle nie nou in hulle uur van nood nie. Hy pleit by God, die een wat vir veertig dekades gewaarsku het, dat hierdie God ‘n verandering sal bring.

11 My oë is verblind deur trane; my ingewande gloei (my moed is gebreek). My hart is stukkend (my lewer – die setel van emosies – is op die grond uitgestort) oor die ineenstorting van die dogter van my volk, want kinders en babas kwyn weg op die dorpspleine.

Sy oë is gedaan van huil: “dit brand in my, my moed is gebreek.” Wat hom veral ontstel, is die effek op die weerloses in die samelewing, die kinders en babatjies wat inmekaar sak omdat hulle nie iets het om te eet of te drink nie: “In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.”

Dié lyding is só erg dat Jeremia nie eers kan of wil probeer om hulle te troos met iets wat nóg slegter is as wat die stad van Jerusalem ervaar nie. Want, daar is niks wat slegters as dit is nie.

Maar dan rig hy wel sy visier op een van die oorsake van dié tragedie:

14 Jou profete se visioene is vir jou nutteloos en niksseggend.  Hulle het nie jou skuld ontbloot om jou ballingskap te verhoed nie.

Die woord wat met “niksseggends” vertaal is, is letterlik “witgeverf” wat ’n mens laat dink aan die skrifgeleerdes en Fariseërs wat deur Jesus beskryf is as: “witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is. So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” (Matt. 23:27-28).

Die profete se visioene was dus bedoel om toe te smeer, die situasie beter voor te doen as wat dit regtig is. Maar dit het die volk in ’n ontsettende tragedie gedompel. Jeremia spel dit só uit: “Hulle het nie jou skuld ontbloot om jou ballingskap te verhoed nie.

Jeremia weet boonop baie goed dat wat hier gebeur ‘n vervulling van God se woord van eeue terug is. By die bou van die tempel het die Here al vir Salomo gewaarsku wat sal gebeur as die volk die Here nie dien nie. Die Here het gesê, meer as vier eeue terug, veertig dekades, in my eie woorde:

“As julle doen wat Ek van julle vra, sal julle voorspoed en vrede beleef. As julle afvallig raak en my gebooie nie onderhou nie sal Ek Israel uitroei uit die land sodat Israel ‘n spreekwoord en ‘n spotlied word onder al die volke. Die mense sal daar verby stap en spot, en vra, maar hoe is dit moontlik dat die Here dit gedoen het met sy volk. (1 Kon 9:1-9).

En nou eggo Jeremia hierdie waarskuwing van die Here:

15 Almal wat hier verbyreis, slaan hulle hande oor jou saam; hulle fluit en skud hulle koppe oor die dogter van Jerusalem: “Is dit nou die stad wat mense volmaak mooi noem, ‘n vreugde vir die hele aarde?”

Maar tog, Jeremia kan nie so ver kom om met die vyande saam te gesels nie. En dit is waar die evangelie in hierdie klaaglied is.

Jeremia wil die donkerte waarin die volk verkeer gebruik om hulle aan te moedig om die Here se aangesig te soek:

18 …  Muur van die dogter van Sion, laat jou trane dag en nag soos ‘n rivier stroom; gun jouself geen rus nie, laat jou oë nie tot rus kom nie.

19 Staan op, roep in die nag as die nagwaak begin (die drie nagwake het 06:00, 10:00, en 02:00 begin). Stort jou hart soos water voor my Heer uit. Lig jou hande op na Hom ter wille van die lewe van jou kinders wat van honger op elke straathoek wegkwyn.

Jeremia wil eintlik hê hulle moet regdeur die nag elke vier uur hulle voor die Here verootmoedig en sy aangesig soek. Ses-uur, Tien-uur, Twee-uur. Hulle slaap onderbreek om te pleit dat die Here uitkoms gee.

3. Pleit dat die Here jou raaksien

En dan hoor ‘n mens dat dit presies is wat gebeur. In sy gedig neem Jerusalem op hartroerende wyse die gebed van Jeremia op, die klaaglied wat hy hulle leer, en pleit by die Here:

20 Kyk, HERE, en sien tog raak aan wie U dit gedoen het! Moet vroue dan hulle vrug, gesonde kinders, eet?  Moet priester en profeet dan in die heiligdom van my Heer doodgemaak word?

21 Oud en jonk lê op die grond in die strate; my jong vroue en my jong manne het deur die swaard geval. U het hulle op die dag van u toorn doodgemaak; U het hulle genadeloos geslag.

22 Van oraloor het U dié wat my bedreig, bymekaargeroep soos op ‘n feesdag; en op die dag van die HERE se toorn het niemand ontsnap of ontkom nie.  My vyand het dié wat ek voortgebring en groot gemaak het, uitgewis.

Dit is waar die moontlikheid van verandering begin.

Wat leer Jeremia vir ons?

Drie goed:

  1. Dat ons in ons gebede eerlik moet wees oor die donker wat ons beleef. Die wolke wat spreekwoordelik oor ons toesak. Dit is bykans altyd die gevolg van valse profete wat die volk gerus in hulle sondes maak, en dié waarheid moet ‘n mens eerlik in die oë staar.
  2. Dat ons in ons gebede eerlik ons moedeloosheid en smart oor die toestand van die stad en sy mense moet uitstort. Ons harte wat breek, soos ‘n Jeremia van ouds. “Dit brand in my, my moed is gebreek.”
  3. Dat ons doodgewoon nooit moet ophou bid om die lewe van ons kinders en kleinkinders en die mense van hierdie wêreld nie. Roep tot die Here. Laat jou trane in strome vloei, dag en nag. Moet jouself nie rus gun nie. As’t ware, moenie dat jou oë verligting kry nie. Staan dwarsdeur die nag op en roep. Stort voor die Here jou hart uit soos water. Strek jou hande uit. Bid om die lewe van jou kinders.

Net van God kom verandering. Net van God kan verandering gevra word.

Gebed

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde weer wys.

Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

Ons wil jou aanmoedig om bv ‘n maandelikse EFT of Snapscan te maak wat jy kan merk “kollekte”. Of natuurlik jou dankoffer te verhoog met daardie bedrag.

Ons gaan nou luister na Elspeth Liebenberg en daarna met Lied 269 afsluit: God bly met u waar u ook mag gaan.

Elspeth Liebenberg

Loflied

Lied 269 – God bly met u waar u ook mag gaan

Seën

Goed is die HERE vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek.

Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die HERE. (Klg 3:25-26)

En die gemeente sê: “Amen!”

Snapscan

Dankie!

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.