NGK Somerstrand 19 Desember 09:00 net op Youtube
Verwelkoming
Dit is die vierde Advent, die Sondag van liefde. Ons steek vandag die vierde Adventskers aan. En in die prediking gaan ek aandag gee aan die ware geluk wat liefde bring. Uit die verhaal van Maria en Elisabet in Lukas 1 waar Elisabet Maria gelukkig noem, omdat sy geglo het dat die Here sy beloftes aan haar sal vervul.
Toetrede
Lied 340 – Kom ons loof die Jesuskind
Votum en seëngroet
Ek groet jou in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Gelukkig is dié wat glo dat die Here se beloftes aan hulle vervul sal word.
Loflied
Lied 112 – God wat oorvloed het voorsien
Gebed
Skriflesing en prediking
Ons lees vanoggend ‘n gedeelte van die verhaal van twee groot Godsvroue, Maria en Elisabet, Hulle was die ma’s van twee groot Godsmanne, Johannes die Doper, en Jesus, die Seun van God.
Lukas 1:39-45
39In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na ‘n dorp in Juda. 40Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet. 41Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hardop uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot! 43Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom? 44Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. 45En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.” (2020-vertaling)
God kies vir Maria as moeder van Jesus
Ons ken die verhaal van Maria goed. Die engel Gabriël is deur God gestuur na haar in Nasaret, om haar in te lig dat sy swanger sal word om aan ‘n seun geboorte te skenk. Sy moes Hom Jesus noem. Hy sou beide die Seun van God wees, as die Seun van Dawid.
Die engel het ook vir haar van Elisabet vertel, ‘n familielid van Maria, wat swanger was ten spyte van haar hoë ouderdom. Hoewel Elisabet vroeër as onvrugbaar beskou is, was sy op hierdie stadium al reeds ses maande swanger as die vervulling van God se belofte aan haar. “Geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie,” het Gabriël gesê.
Toe die engel weg is, het Maria haar onmiddellik na haar swanger familielid Elizabeth in die bergstreek van Juda gehaas. Waarskynlik omdat sy só die boodskap aan haarself verder sou kon bevestig, maar ook omdat sy so in die ander wonder sou kon deel.
God bevestig Gabriël se boodskap aan Maria
Maria kry by die besoek twee verdere bevestigings van die Here dat die boodskap van Gabriël aan haar die waarheid was.
- Die eerste bevestiging is Johannes wat in sy ma se moederskoot spring! Daarmee erken Johannes, selfs vóór sy geboorte al, beide Maria se teenwoordigheid en die betekenis van die Kind wat sy in haar baarmoeder dra. Gabriël het immers verklaar dat Johannes: “sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees.” (Lukas 1:15). Reeds voor sy geboorte al wys Johannes as die voorloper na die komende Een, die Verlosser van die wêreld.
- Die tweede bevestiging is die loflied van Elisabet. Sy weet nog nie eers dat Maria swanger is nie. Die Gees maak dit aan haar bekend. Deur haar ongebore kind se vreugde in haar moederskoot, en deur die Heilige Gees se getuienis in haar hart. Die Heilige Gees gee vir haar die woorde wat sy moet spreek en sy noem Maria “die moeder van my Here”.
Twee Godsvroue dra twee ongebore Godsmanne
Wat wonderlik is van Elisabet se lofsang is die blydskap wat dit uitstraal oor die belofte wat twee ongebore kinders vir die wêreld inhou. Die Heilige Gees het Elisabet vervul sodat sy verder kon sien, soos ‘n Maleagi van ouds, as maar net die wonder van hulle onderskeie swangerskappe.
Twee verwagtende Godsvroue wat twee ongebore Godsmanne dra. Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie deur die belofte van hierdie twee – op hierdie stadium – ongebore kinders. Soos ons uit die res van die Evangelies weet.
Elisabet seën vir Maria en vir Jesus
In haar loflied profeteer Elisabet nie net oor die toekoms nie. Sy seën beide vir Maria en vir Jesus in haar loflied, die lied wat deur die eeue bekend geword het as die Beatitude, die Saligspreking.
“Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot!”
Daarmee lui Elisabet ‘n reeks seëninge in wat as tema deur Lukas se geboorteverhale vloei en die toon van blydskap, vreugde en lof versterk. Maria, Sagaria en Simeon sal hierna almal hul lofliedere by hierdie reeks seëninge voeg. Om God te loof vir wat Hy nou in die geskiedenis doen en om almal wat hieraan deel het, gelukkig te verklaar.
Let op dat die Een wat aanvanklik die belofte gegee het – in die woorde van Gabriël aan Maria – en die Een wat gebore sou word – in die woorde van Elisabet – met dieselfde naam, Here, genoem word, Kurios.
43Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?
Daarmee bevestig sy nie net die belofte nie, maar ook die Godheid van Jesus.
Elisabet verklaar Maria gelukkig
Maar, dit is nie al nie. Let ook op watter twee woorde Elisabet gebruik om Maria se geseënde status mee uit te druk.
Elisabet noem, in die eerste woorde van haar loflied, vir Maria geseënd. Eulogêmenos. In die betekenis dat mense sal goedpraat van haar. Omdat God haar uitgekies het om sy Seun in haar te laat gebore word. Dat sy die “moeder van ons Here” is.
Maria is dus nie net geseënd in haar status as die moeder van die Here nie. Elisabet verklaar haar ook gelukkig weens haar vertroue in die belofte van God. Daarvoor gebruik sy ‘n ander woord. Makarios. Gelukkig of salig:
45En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.
Dit is dieselfde woord wat Jesus nege keer gebruik in die Saligsprekinge van die Bergrede.
“Gelukkig … is die armes van gees, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt 5:3) En wat daarop volg.
Maria is dus voorwaar geseënd, want ten spyte van alle verwagtinge is haar sosiale status omgekeer: sy sal geëer word eerder as skaam wees vir die geboorte van hierdie kind. Mense sal goedpraat van haar!
Maar sy is ook geseën met goddelike vreugde – met saligheid, met Goddelike geluk – omdat sy geglo het dat God in staat is om te doen wat God belowe om te doen. Dat Hy sy beloftes aan haar sal vervul.
Haar loflied word daarom die Beatitude genoem. Die Saligspreking.
Maria vertrou die Here dat Hy sy beloftes sal vervul
Elisabet kontrasteer daarmee implisiet Maria se vertroue op God met haar eie man Sagaria se moeite om te vertrou.
Sagaria het vir bewyse gevra dat die engel se woord aan hom waar was.
“Hoe sal ek dit weet?” (Luk 1:18)
Want hy en sy vrou was albei verby hulle vrugbare jare. Hy wou eers weet hoe dit gaan gebeur voordat hy sou glo.
Maria het nie vir bewyse gevra nie, net vir ‘n verduideliking van wat met haar gaan gebeur:
“Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met ‘n man het nie?” (Luk 1:34)
En na die verduideliking van Gabriël – “die Heilige Gees sal oor jou kom, die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu” – gee sy onmiddellik haar gewillige toestemming tot God se wil vir haar:
“Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” (Luk 1:38)
Sagaria, die priester, het getwyfel. Maria, die jongvrou, het geglo. En haar vertroue in God se belofte aan haar het die deur oopgemaak vir God om haar te seën en die hele wêreld deur haar te seën.
Elisabet vier dus in haar lied Maria se gewilligheid om “ja” vir God te sê.
45En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word.
Gelukkig is dié wat glo dat die Here se beloftes aan hulle vervul sal word
Maar, let op dat Elisabet hiermee ook ‘n algemene waarheid verkondig. Aan elkeen van ons. Dit is nie net Maria wat gelukkig is omdat sy geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sou word nie. Dit is ‘n boodskap vir elkeen wat glo. Want, dit is waarvoor beloftes daar is. Om ons geloofsoë oop te maak vir wat God doen. En om Hom dan daarvoor te vertrou.
Daar is uiteraard algemene sowel as spesifieke beloftes.
Hierdie belofte aan Maria was spesifiek. Dit is daarom ‘n belofte wat net vir haar op hierdie spesifieke manier vervul sou kon word. Sy is die moeder van ons Here. Dié voorreg kan niemand anders vir hulleself toeëien nie.
Maar, die vervulling van hierdie spesifieke belofte aan Maria, is eintlik indirek ook ‘n belofte aan ons. Dit is dat God sy beloftes hou. Saam met uiteraard dan al die algemene beloftes in die Bybel.
Daarom kan ons al die beloftes wat daar in die Bybel is, ook die wat meer spesifiek bedoel is (solank ons net besef dat dit indirek is), vir onsself toeëien. Dit is beloftes soos:
- Dat God se troue liefde van geslag tot geslag duur (Ps 77:9).
- Dat God genadig is (Ps 119:58).
- Dat God vergewe en genees (Ps 103:3).
- Dat God jou begeerte (jou siel) versadig met die goeie (Ps 103:5).
- Dat God gebede verhoor (Ps 91:15). 82 keer vind ‘n mens hierdie belofte in die Skrif.
- Dat God sy Heilige Gees gee aan elkeen van sy kinders (Hand 2:37-38).
- Dat God wysheid gee vir dié wat Hom vra (Jak 1:5)
Maar, soos Jakobus dit met hierdie laaste belofte ook uitspel:
Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. (Jak 1:6)
Gelukkig is dus dié wat glo dat die Here se beloftes aan hulle vervul sal word. Want hulle sal ervaar dat God sy beloftes aan hulle sal vervul.
So, waarvoor wag jy?
Watter belofte is daar wat jou aangryp?
Vertrou dan die Here dat Hy dit sal vervul. En as jy geloof kortkom, bid die Here in jou ongeloof, sodat Hy jou hart vas aan Hom sal anker, sodat jy inderdaad die beloftes in besit kan neem.
Gebed
Slotlied
Lied 358 – Welkom, o stille nag van vrede
Seën
Dankoffer