Matteus 16:21–28 – Om jou kruis op te neem

Oorgawe

1aOns is besig met ‘n reeks Volg.  Ons leer uit die evangelies hoe om Jesus te volg.  Vanaand is die tema Oorgawe.  Ons tel die verhaal van dissipelskap op in Matteus 16. English (Word)

Jesus is in die streke van Sesarea-Filippi in die noorde van Juda, so 40 km noord van die See van Galilea.  Petrus het so pas bely dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God (16:16).  Jesus het hom daarmee gelukgewens en gesê dit is ‘n openbaring van God self:

“dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.”

Jesus was so opgewonde daaroor dat Hy verder gegaan het, en daarby gevoeg het:

“Jy is Petrus, en op hierdie rots – Petrus se belydenis sowel as sy leierskap – sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”

Jy sit ook miskien vanaand hier en kan getuig van dieselfde wonderlike besef dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God.  En jy weet dit is iets wat van God af kom. Iets wat jy nie noodwendig kan verklaar nie, maar iets wat jou binnekant tot rus gebring het voor God.

En onthou, as dit nie jou ervaring is nie, dít is waarvoor ons as gemeente daar is, om jou in ‘n ervaring met die lewende God te begelei.  Ons word deur die twee woorde op die baniere hier voor gekenmerk: Ons luister na en ons leef vir God.

Terug by Petrus en die dissipels.  Jesus wil hulle dieper inlei in die geheimenis van wie Hy is, van wat God deur Hom wil bereik, en Hy neem hulle in sy vertroue:

21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

Petrus het dié nuus nie so goed gevat nie.  Dit kan tog nie wees nie?  Hoe kan ‘n mens die Christus wees, hoe kan jy die Seun van die lewende God wees, en ‘n pad van lyding volg wat tot jou dood lei? Dit maak mos nie sin nie.  As jy die Koning van die heelal is, as jy ‘n leërskare engele het wat jy kan gebied, dan kan jy mos nie jouself aan lyding oorgee nie?  Of hoe?

22Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

Ek dink dít is baie keer ook ons eie reaksie.  Ons dink dat die geestelike lewe ‘n eenvoudige optelsom is.  As jy die goeie doen, sal God jou beloon.  As jy die slegte doen, sal God jou straf.  As jy glo in God, sal Hy jou seën.  As jy nie glo in Hom nie, sal God jou straf.

Helaas, dít is nie hoe die geestelike lewe werk nie.  Dit is baie meer kompleks as dit.

23Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

In taal wat herinner aan die verhaal van Job – jy kan by Bybelskool.com saam met my die boek deurlees, en nog ‘n 58 ander boeke ook – sê Jesus vir Petrus: moenie in my pad staan nie.  Jou reaksie is vir My ‘n struikelblok.  Jy verlei My om die maklike uitweg te volg, om die pad van lyding te vermy, en die Joodse magsentrum uit te los en hulle nie uit te daag oor wat God se wil vir hierdie lewe is nie.

Ek weet dat dit vir my groot lyding gaan inhou, maar Ek wil my oorgee aan God se wil vir my lewe, sê Jesus.  My oorgawe aan God is om te doen wat Hy wil, nie wat Ek wil, of nog erger wat mense wil nie.

Dit is só belangrik om hier te vertoef, om dié moment in Jesus se lewe te oordink.  Jesus is hier besig om die dieper lewe met God uit te spel, nie net vir ons nie, maar vir Homself.  Jesus het wonderlike hoogtepunte beleef.  Hy het siekes gesond gemaak.  Hy het baie mense kos gegee.  Hy het baie mense se lewens verander, onder andere sy dissipels s’n.

Maar die dieper lewe het met totale oorgawe te make, ‘n oorgawe wat altyd getoets word deur lyding, deur dinge wat volharding vra, deur dinge wat vertroue vra op dié Een wat jou deur die aanslae van die lewe, deur die teenstand van mense wat jou oorgawe aan die Here sal toets, maar ook sal begelei.

Om ’n Christen te wees vra absoluut alles. Niks is jou eie meer nie – nie eers jou geld, tyd of lewe nie. “Matigheid voor oë” is nie van toepassing nie, maar eerder “Alles of niks”.

‘n Mens kan in die lewe met God nooit stilstaan nie.  Jy arriveer nooit nie.  Jy is eintlik altyd op reis.  Daarom dat die metafoor van die reeks ‘n paar skoene is, jou skoene, die skoene waarmee jy die pad saam met Jesus stap.

Op dié pad sal jy ook absolute hoogtepunte beleef.  Jy sal wonderlike aanrakings van die Gees beleef.  Jy sal gawes ontvang wat jy kan benut in jou lewe saam met die Here, dinge waarmee jy ander kan bedien, en wonderlike dinge vir die Here kan regkry, gebede wat verhoor word.

Maar, jou oorgawe aan die Here sal ook telkens getoets word, soos ‘n Job van ouds.  Hy was geseënd ver bo sy tydgenote.  Baie kleinvee, kamele, donkies, diensknegte, tien kinders.  Hy was so ryk dat sy kinders elke dag van die week feesgevier het, elke dag in die huis van ‘n ander een van die sewe seuns.  Maar, in ‘n oomblik is dit van hom weggeneem, ook sy gesondheid.

En hy moes volhard met die sere oor sy lyf, die wurms wat op hom geloop het, die barste en die etter, en die verdonkering van sy vel, en die koors, en die teenstand van sy drie vriende wat hom van sy sonde probeer oortuig het, al het hy niks verkeerd gedoen nie … totdat hy ‘n nuwe ontmoeting met God gehad het, en God sy lot verander het.

Jakobus sê in die NT dat ons Job as ‘n voorbeeld van volharding moet neem, iemand wat regtig homself aan God se wil vir sy lewe oorgegee het, kom wat wil, totdat God uiteindelik ook sy lot verander het (Jak. 5).  Hy is vir ons ‘n voorbeeld van totale oorgawe, kom wat wil.

Daarom lees ons verder in Matteus wat Jesus vir ons sê:

24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,

‘n Mens moet hierdie woord van Jesus goed verstaan.  Hy wil dit nie vir ons moeilik maak nie, maar net op ‘n realistiese wyse die gevolge van oorgawe aan Hom uitspel.  As jy agter Jesus wil aankom – en Hy is steeds besig om in hierdie wêreld mense vir sy koninkryk te roep – moet jy jouself verloën, jy moet jou kruis opneem, en jy moet Hom volg, dié drie dinge.

Vir Job het selfverloëning, sy kruis opneem, en die Here volg, die verlies van sy goed en sy gesondheid ingehou.  Vir jou kan dit die verlies wees van geleenthede, van aanvaarding in ‘n groep.

Hoekom is dit nodig?

 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.

Jy sal in jou lewe deur die week, op skool, op kampus, in die werkplek, voor uitdagings te staan kom.  Dit kan wees die uitdaging om ‘n onregverdige voordeel te verkry deur iemand anders se werk te gebruik en dit as jou eie voor te hou; om jou inhibisies te verloor en te eksperimenteer met seks, drank, selfs drugs; om jou stiltetyd te verwaarloos; om liewer te swot, omdat jy agter geraak het met jou werk, as om kerk toe te kom; om jou waardes op te offer en deel van ‘n in-groep te raak.

Maar, hoor wat Jesus sê:

26Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?

Die aanraking wat jy ervaar het toe jy die Here leer ken het, die ervaring van sy Gees wat jou vervul het, en jou ‘n diep vrede in jou hart gegee het, die leiding wat God vir jou gegee het om jou te help om hier te kom en saam met Hom die pad te stap, dit kan in die gedrang kom, as jy te lief raak vir die dinge wat die wêreld jou kan bied.  En jy nie meer die temperatuur van die omgewing bepaal soos ‘n termostaat nie.

Dink aan ‘n motor se enjin, of ‘n air Con, óf ‘n verwarmer, óf ‘n oond.  Hulle het almal termostate wat die temperatuur beheer sodat hulle optimaal kan werk, sê nou maar ‘n koel 20 oC op hierdie warm somerdae.

Maar, as dit die gemeenskap is waar jy bly wat bepaal hoe warm of koud jy vir die Here lewe, soos ‘n doodgewone termometer, dan is dit soms 20 oC en dan weer 50 oC of selfs 60 oC, en geen standvastigheid nie.

En moet ek jou vra, wat help dit dat jy in is met ‘n sekere groep mense wat die Here nie dien nie, en jy verloor die lewe met God?

Jesus sê:

27Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.

Dit is die uitkoms van hierdie lewe, dat die Here weer sal kom en dat Hy elkeen van ons volgens ons oorgawe – dit is wat dade hier beteken, dade van selfverloëning – sal vergeld.  Hy sal kyk of ons bereid was om onsself te verloën, ons kruis op te neem, en Hom te volg.  Ons ewige bestemming hang af van die wyse waarop ons onsself oorgee aan die Here en sy pad vir ons.

Dit is vreemde wiskunde, hierdie.  As jy bereid is om jouself prys te gee, sal jy jouself vind!  Maar, dit maak sin, want dit is die Here wat hierdie vreemde wiskunde laat klop. Daar wag beloning op ons selfopofferende diens aan die einde, net omdat daar ’n Christus is wat sy werk volbring het en wat weer kom, met die gesag om ons te beloon.

Moet dus vir geen oomblik dink dat ‘n mens dít uit jou eie kan regkry nie.  Petrus kon nie.  Nie een van die dissipels kon nie.  Hulle het almal gefaal.  Toe die soldate kom en hulle oorgawe in die tuin van Getsemane getoets is, het hulle almal weggehardloop. Petrus het die Here drie keer verloën.

Totdat die Here Jesus self hulle deur sy Gees bemagtig het en hulle die krag ontvang het om die Here te volg, kom wat wil.

Dít is wat die Here vanaand ook vir jou wil doen.  Hy wil jou deur sy Gees die krag gee om jouself aan Hom oor te gee en jouself te verloën, jou kruis op te neem, en Hom te volg.  Vandag, môre, en elke dag van die week.

Dit vra net oorgawe – ‘n gebed van stille oorgawe – sodat die Gees jou kan volmaak met sy krag en liefde en selfbeheersing om die Here te kan volg.  Ek gaan jou in ‘n gebed begelei om jouself aan die Gees se kragveld oor te gee.

Kyk ook rondom jou.  Hier is ‘n paar geloofsvriende wat saam met jou hierdie uitdaging gaan aanvaar.  Sluit aan by ‘n kleingroep.  Raak betrokke by ‘n diensgroep.  Woon die eredienste by, raak betrokke by iets wat met die erediens te make het – die band, die voorbereiding van die kerk, die klank, die kollekte, ‘n getuienis van tyd tot tyd, om nuwe mense te verwelkom, om nuwe mense hiernatoe te bring. En gesels met ons as leraars as dinge swaar gaan. Ons is hier om te mentor en te ondersteun, sodat die potensiaal wat daar in jou is, verwesenlik kan word.

Gebed.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.