Handelinge 4:5-12 – Son 3 Mei 09

Die getuienis van ‘n 5-jarige

‘n Predikant vertel van ‘n 5 jarige dogtertjie, Lauren wat sy elke Sondag na Sondagskool raakloop en vir wie sy dan vra: “Lauren, wat het jy vandag by die Sondagskool geleer?” en dan antwoord sy:  “Ek het geleer dat Jesus my liefhet”.

So was dit elke week … die predikant vra dieselfde vraag en Lauren gee dieselfde antwoord.

Na etlike weke van hierdie selfde gesprekke, het Lauren se ma haar onderbreek:  “Maar jy sê dit elke week.”

Die predikant het vir die ma gesê:  “Wel, sy is reg!  Dis wat dit op neerkom – vir 52 Sondae probeer ons hierdie boodskap deurgee: ‘Jesus het jou lief!’ Ek wens meer mense snap dit.”

Terwyl sy dit sê, stap klein Lauren na die ingang van die kerk en sê vir ‘n besoeker:  “Jesus het jou lief.” Haar eerste preek … die besoeker glimlag.

Sy was nie ‘n predikant se kind nie, ook nie die ster van haar klas nie, net ‘n gewone 5 jarige ….

Die getuienis van Petrus en Johannes

Jesus gebruik gewone mense om Sy boodskap van liefde aan die wêreld te bring.

Dit is die boodskap van hierdie gedeelte in Handelinge, soos vers 4:13 dit stel: “die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense.”

Petrus en Johannes, twee baie gewone eenvoudige mense, vissermanne nie geleerdes nie, bring die boodskap van Jesus se liefde aan ‘n wêreld wat dit nodig het.

Want onthou, hierdie verhoor vind plaas in reaksie op die genesing van die verlamde man deur Petrus een middag kort na Pinksterdag (3:1-10).  Hy en Johannes het gaan bid by die tempel, so 3-uur die middag, die tweede gebed van die dag (godvresende  Jode het 3 keer ‘n dag gebid by die tempel, 9-uur, 3-uur en 6-uur) en op pad die verlamde man genees, omdat Jesus hom liefhet.

As kinders het ons Petrus se woorde gesing: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop.” Ons het nog van goud en silwer gesing, soos dit in die oorspronklike teks staan: “Argurion kai chrusion ouch hupargei moi.” – “silwer en goud besit ek nie.”

En Petrus (en Johannes – sy stille vennoot) het sommer die geleentheid gebruik om hulle Pinksterdag preek voort te sit by die Pilaargang van Salomo.  “Hoekom is julle hieroor (die genesing) verbaas?  … Deur die geloof in sy Naam het Hy (Jesus) die bene van hierdie man … sterk gemaak.  God … (het) Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ‘n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Die genesing lok reaksie uit van die Joodse Raad

Die Joodse Raad kon darem nie dié optrede toelaat nie en laat vang hulle laat middag, net voor die laaste bidtyd, en sit hulle oornag in die tronk.  Uit Josefus se geskrifte weet ons dat die Joodse Raad ‘n raadsaal direk aan die westekant van die tempelterrein gehad het, vanwaar hulle die preek seker kon hoor en waar die verhoor die volgende dag waarskynlik ook plaasvind het.

Die volgende môre het die Joodse Raad (waarskynlik sinoniem met die Sanhedrin) vergader.  Die Joodse Raad was die hoogste regsprekende en godsdienstige liggaam van die Jode.  Hulle het bestaan uit 71 lede, afkomstig uit invloedryke families, en saamgestel uit die geledere van die priesters en die Sadduseërs (wat die liggaam gedomineer het), met die hoëpriester aan die hoof.  Dit was die politieke en religieuse elite van die Jode.  Hulle het oor alle sake wat op die godsdienstige en algemene lewe van die Jode betrekking gehad het, die beslissende sê gehad.

Ons lees hier van die familiehoofde (letterlik “die oudstes”), die senior priesters, en die skrifgeleerdes.  In vers 6 word enkele leidende priesters by die naam genoem.  In hierdie stadium het Annas al afgetree as hoëpriester (hy het van 6-14 n.C. as sulks gedien) en het Kajafas die amp beklee (18-36 n.C.).  Annas het steeds groot aansien geniet as patriarg van die familie waaruit die meeste hoëpriesters gekom het.

Terloops, Kajafas se been-kis is onlangs opgegrawe.  Die Johannes wat hier vermeld word, het hoëpriester geword in 37 n.C.

Die apostels het voor die raad verskyn wat in ‘n halfsirkel gesit het.  Die vraag wat die raad wou ondersoek, was deur watter krag en in wie se naam die apostels die wonders verrig het wat hulle gedoen het.

Petrus tree op vol van die Heilige Gees

Lukas vertel dan dat Petrus onder die leiding van die Heilige Gees geantwoord het (vers 8): “vol van die Heilige Gees”.  Só word Jesus se woorde in Matteus 10:17-20 waar, dat die dissipels nie sou hoef bang te wees wat hulle moes sê as hulle voor hooggeplaastes oor Hom moet getuig nie.

Let op hoe beleefd Petrus begin (vers 8).  Hy maak dit egter duidelik dat die apostels verhoor word oor ‘n goeie daad wat hulle verrig het (vers 9).  Hy bely vervolgens dat hy die verlamde man in die Naam van Jesus gesond gemaak het (vers 10).  Hy het dit reeds in 3:16 aan die skare verklaar, so dit was nie ‘n geheim nie.

Hy maak dit nou ook duidelik dat dit dié Jesus is wat die raad laat doodmaak het, in wie se naam die apostels optree.  Die uitspraak moes die spanningsvlakke in die vertrek opgejaag het!  Dis nie meer die Petrus wat vir ‘n slavin skrik nie.

Dan haal hy uit Psalm 118:22 aan (vers 11).  Dié Psalm is telkens deur die vroeë Christene op Jesus se optrede van toepassing gemaak (vgl. Ef. 2:20; 1 Pet 2:4-6).  Die Psalm getuig dat God vir Jesus, wat deur die Jode verwerp is, verhoog en verheerlik het.

Petrus insinueer dus dat hulle oordeel oor wie in die naam van God optree, in die verlede verkeerd was.  Dit is daarom ook eerder die Joodse Raad wie hier verhoor word en nie hy nie.

Jesus bring die verlossing en niemand anders nie

Petrus gaan voort en sê dat net Jesus nou mense in die regte verhouding met God kan bring (vers 12).  Daar is letterlik geen ander een na wie toe mense kan draai nie.  “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”

Dit moes die Sadduseërs en die priesters wat die tempel beheer het, ernstig ontstel het.  Jesus maak dus nie net siekes gesond, soos die verlamde man by die Mooipoort nie (in vers 10 sê Petrus letterlik dat die man nou “heel” is).  Jesus se dood en opstanding bied nou ook hoop en verlossing vir almal (nie net die Jode nie) wat ver van God af leef.  Jesus se Naam bring dus universele redding.

Na Petrus se skerp woorde aan die Joodse Raad, was hulle almal verbaas oor sy vrymoedigheid omdat hy en Johannes geen formele opleiding in die wet van Moses by een van die amptelike rabbynse skole ondergaan het nie.  Hulle kon ook nie veel aan die apostels doen nie, want die verlamde man van vroeër het immers nou gesond langs hulle gestaan as die lewende bewys van Petrus se woorde (vers 14)!

Uiteindelik kon hulle net die apostels dreig en hulle loslaat.

Wat is hier op die spel?

Twee goed:

1.      die gesag van Jesus as Verlosser vir die wêreld en

2.      die getuies wat dit met gesag kan verkondig.

Die gesag van Jesus as Verlosser van die wêreld

Watter gesag lê daar in Jesus as Verlosser van die wêreld, soos Petrus hier sê, die enigste een wat die verlossing bring en niemand anders nie?

1) Ek dink ons begryp nie altyd hoe sentraal Jesus in die wêreldgeskiedenis is nie.

‘n Mens word soms verlei deur die agnostici en ateïste in die media se uitsprake oor geloof  in die algemeen en Jesus se boodskap in die besonder om te dink dat geloof as sodanig en meer spesifiek geloof in Jesus eintlik iets is wat net in jou huis gehoor moet word, en darem ook in die kerk.

Maar die media en die regering en die ekonomiese – en vermaaklikheidswêreld is van meer belang op die publieke terrein en eintlik van groter historiese belang.

Nou dit is bog.

H.G. Wells, die beroemde skrywer en geskiedkundige, was een van die grootste kritici van die Christendom, maar hy het wel gesê: “I am an historian, I am not a believer, but I must confess as an historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very centre of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history.

2) Nog dieper as dit, Petrus maak dit duidelik dat Jesus nie net nóg ‘n weg na God en vergifnis is nie.  Hy is volgens sy getuienis die enigste weg.

Dit is nie ‘n populêre standpunt vandag nie.  Dit klink vir baie net te kompromieloos, te kontroversieel, te eksklusief.  Kan dit regtig so wees dat verlossing net in een Naam beskikbaar is: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”?

Daar is immers 10 000 onderskeibare godsdienste, waarvan ‘n 150 meer as ‘n miljoen volgelinge het (Barrett).

Kan dit wees dat net 1 godsdiens reg is en 9 999 verkeerd?

Daarom dat baie mense, ook Christene, een of ander vorm van pluralisme aanvaar – die geloof dat nie een enkele godsdiens daarop kan of mag aanspraak maak dat dit normatief vir alle mense is en meerderwaardig is as al die ander godsdienste nie.

As jy só ‘n pluralistiese standpunt konsekwent wil handhaaf, moet jy ook aanvaar dat alle godsdienste gelyk is.  Soos ‘n Japanese idioom sê: “Alhoewel alle paaie na die kruin verskil, van die bergtop sien ‘n mens dieselfde maan.” Of die Hindoes se godsdiens-figuur Krishna wat in die Ghagava-Gita sê: “Watter pad mense ook neem, dit is my pad; maak nie saak waar hulle loop nie, dit lei na my toe.”

Maar, al klink dit ook hoe goed, kan ‘n mens pluralisme nie konsekwent handhaaf nie:

  • Sommige godsdienste se idees en praktyke stuit ‘n mens teen die bors. Die menslike offers van sommige Amasone stamme of die Hindoes se verbranding van weduwees, hoewel daar hervormings hier rondom gekom het in die vorige eeu, kan tog nie op dieselfde vlak as ander godsdienste gestel word wat ‘n etiek van liefde en verantwoordelikheid verkondig nie?
  • En dit is onsinnig om te sê dat alle godsdienste uiteindelik min of meer dieselfde dinge sê, want dit is doodgewoon nie waar nie, en die meeste godsdienste sal self sê dat hulle verskillend is.

Natuurlik hoef ons nie alles te verwerp van ander godsdienste nie.  In Pinkster sal ek bv. aandui hoe Paulus in Athene aansluit by die idees van twee Griekse groepe, die Epikureërs en Stoïsyne, en die evangelie aan hulle verkondig.

Daar is immers ooreenkomste sowel as verskille.

Maar ons kan verseker onderskei en ‘n ingeligte keuse maak, terwyl jy oopbly vir nuwe insigte – anders as bv. ateïste wat glad nie verdraagsaam is teenoor mense wat in God glo nie, maak nie saak in watter een nie.

Waarom is Jesus die enigste weg?

Wat sit Petrus op die tafel vir sy standpunt wat geloof in Jesus die enigste verlossende geloof maak?

Drie goed:

  1. Die opstanding van Jesus uit die dood en
  2. die goeie dade, wat in Jesus se Naam gedoen word, soos met die wonder-genesing van die verlamde man geïllustreer is.  En
  3. die inspirasie en oortuiging van die charisma wat kom van die Heilige Gees (4:8), en wat duidelik sigbaar was in die welsprekende en oortuigende getuienis wat hy voor die Joodse Raad kon lewer.

Nou oor die laaste twee sou jy nog argumente kon voer, ander godsdienste doen ook goed aan ander, en daar is baie charismatiese leiers, maar jy kan beswaarlik kies om te glo in die opstanding van Jesus uit die dode, en dan ook nog dink dat Jesus en Mohammed op dieselfde vlak is.  Die opstanding is dié onderskeidende faktor.

Die verlossing is in Jesus en nie in ons nie

Terwyl ‘n mens dus, soos Petrus, kies vir die standpunt dat Jesus die enigste verlossende geloof is, kan ‘n mens Kurt Marti se styl in gedagte hou.  Hy maak 2 opmerkings :

  1. Die verlossing is in Jesus Christus – nie in ons wat Christene is nie.
  2. Die verlossing is in ‘n Persoon – nie in dogmas of ideologiese standpunte nie.

Dit beteken dat ons nie kan dink en praat oor die verlossing asof dit ons geestelike besitting is nie. En hierdie verlossing word slegs ‘n werklikheid in gesprekke met en getuienis oor grense heen wat met gasvryheid en liefde  gedoen word … wat meer is as die konfrontasie van opponente, waar elkeen net harder praat sonder om ook te luister.

Jesus is dus die enigste weg na God, die enigste verlosser.  Hy bring die verlossing en niemand anders nie.

Maar daar is nog baie meer op die spel.

Wie kan die boodskap van Jesus met gesag verkondig?

Wie se boodskap is dit?  Wie kan dit met gesag verkondig?

In ‘n merkwaardige studie van Elliot het hy aangetoon dat daar twee dominante sosiologiese ruimtes in Lukas en Handelinge is, naamlik die “tempel” en die “huishouding“.

Lukas evangelie begin en eindig by die tempel (Luk 1:5-23 / 24:50-53), maar Handelinge begin en eindig by huishoudingstonele in die bovertrek (Hand 1 – weliswaar nog by die tempel, maar as mense wat aan ‘n nuwe huishouding behoort) en Paulus in die gevangenis-huis waar hy die evangelie “vrymoedig en onverhinderd” verkondig (28:30).

Wat het gebeur dat Lukas se twee verhale in twee sulke verskillende sosiologiese ruimtes afspeel?

In Handelinge 3 met die genesing van die verlamde man vind ons die antwoord. Hier vind die sosiologiese verskuiwing plaas!

  • In Handelinge 1-8 kry ons talle huis-tonele … dit is waar die gelowiges vergader, eendragtig saambid, brood breek, in eenvoud saameet, die Gees ontvang, mededeelsaamheid beoefen, versterk word en groei.
  • In dieselfde hoofstukke word die tempel (die sentrum vir politieke en godsdienstige beheer van die volk) geteken as die plek waar mense jare verlam lê, aalmoese soek, oproer beleef en skaregeweld, gearresteer word, in tronke gestop word, gedreig word, ‘n swygverbod opgelê word, geslaan word en selfs ‘n moord gepleeg word (Stefanus).

Dié twee instellings dra dus elkeen ‘n afsonderlike karakter en gesag.

  • Die tempel is (volgens Elliot) “an alienating form of collective institutional life”
    • terwyl die huishouding “a creative form of integrative group life” weerspieël.
  • By die een word regeer en oorheers (= om lewe te neem) en
    • by die ander word getuig van die opstanding deur na elkeen se behoefte om te sien (= om lewe te gee).

Die dissipels het nog aanvanklik die tempel besoek (hfst. 3), maar na al die moeilikheid by die tempel en ook Stefanus se steniging omdat hy “dinge teen die heilige tempel sê” (6:13) word die huishouding die draende ruimte van die evangelie.

En Paulus se bediening onder die heidene loop eweneens deur huishoudings en “huisgemeentes”.   Hy begin weliswaar by die sinagoges, maar dit is telkens in die huishoudings wat geloof groei.

Die tempel word in die res van Handelinge plekke van sameswerings, beplande moorde, politieke gekonkel en strydgesprekke oor reinheid.

Die huishouding vervang dus die tempel as sfeer van die reddende teenwoordigheid van God.

Wat het dit alles met die Naam van Jesus te doen?

Wel, Jesus se lewe en naam kon duidelik nie meer aan die tempel gekoppel word nie, so maak Handelinge 4 duidelik, maar wel aan ‘n nuwe sosiale groepering waar sy waardes gelewe word, die gemeenskap van gelowiges in hulle huisgemeenskappe.

Iets wat Jesus self natuurlik al voorspel het in die gesprek met die Samaritaanse vrou by die put van Sigar: “daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg (Gerisim) en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie … (maar) deur die Gees en in waarheid sal aanbid.” (Joh. 4:21-24)

Slot

Wat ons terugbring by die verhaal van Lauren.

Die eenvoudige boodskap van Handelinge 4 is dat Jesus jou liefhet, en dat elkeen wat dit vir ‘n ander persoon sê, ‘n getuie word van die mees ongelooflike boodskap wat dié wêreld ooit gekry het.

En daarvoor gebruik God eenvoudige en doodgewone mense, mense soos jy en mense soos ek.  En hy gebruik ons in ons huise en ons buurtes.  Die kerk kan net effektief bestaan en funksioneer as ons as ‘n huishouding funksioneer, en nie as ‘n tempel nie.

“The essence of hospitality is a heart open to God, with room prepared for the Guestness of the Holy Spirit, that welcomes the presence of Christ.  This is what we share with those to whom we open our doors.  We give them Him.” Karen Burton Mains

 

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.