Uitverkiesing – merk van die dier – wegraping

INLEIDING

Baie dankie – NG Kerk Heidekoppie – vir die uitnodiging om oor die laaste dinge te gesels, die eskatologie, die leer van die laaste dinge. Julle het gevra dat ek aan drie sake aandag gee. Die uitverkiesing. Die wegraping. Die merk van die dier. En daarby iets sê oor Inenting – ja of nee. Want, daar is natuurlik mense wat die entstof met die getal 666 verbind. (jy kan dit op Youtube ook kyk)

Nou, dit is ‘n mondvol.

  • Ek wil julle eerstens verwys na ‘n Pinksterreeks wat ek verlede jaar gehou het. Ek het die boek Openbaring in sy geheel behandel. Die drie sake word daar meer uitvoerig hanteer. Daar is ook nege Youtube video’s wat jy kan kyk. En die pdf van my boek oor Openbaring, Ek kom gou, kan jy ook daar gratis aflaai. Hier is die skakel.
  • Ek het ook meer oor die tema van die uitverkiesing geskryf op my webtuiste. Jy kan daar ‘n hele paar bydraes lees. Ook oor die wegraping.

Kom ons begin met die eerste onderwerp.

UITVERKIESING

Die uitverkiesing is natuurlik ‘n onderwerp wat deeglik in ons belydenisskrifte hanteer word.

  • Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 16 oor die ewige verkiesing van God.
  • Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 54 oor Jesus se verkiesing van ‘n gemeente tot die ewige lewe.
  • En dan veral die Dordtse Leerreëls hoofstuk 1 en 2 wat die uitverkiesing as ‘n onveranderlike voorneme van God uit louter goedheid beskryf. Dat sommige in ongeloof bly, is hulle eie skuld. Dat sommige in God glo, is God se werk.

Hierdie geloofsbelydenisse is ook almal op my webtuiste bybelskool.com as jy dieper hierop wil ingaan. En dit is belangrik dat jy dit deeglik bestudeer. Wat daar staan, het die toets van die tyd deurstaan. Wat ek gaan sê, is daarop gebaseer en kan ook altyd daardeur gekorrigeer word.

Ek wil egter nie op die dogma van die uitverkiesing konsentreer nie. Ek wil die uitverkiesing behandel aan die hand van twee boeke waarvan ons in die Bybel lees. Die boeke wat God gebruik om ‘n oordeel oor ons lewens te fel. Want, dit help ons om nie net die uitverkiesing te verstaan nie, maar daaruit te leef.

Die fundamentele belang van die boekrol van die lewe

Elkeen van ons sal saam met alle ander mense deur twee boeke geoordeel word.

  • Die eerste is die boek met die werke van alle mense (Openb. 20:12). Dit geld almal van ons. Dit gee ons ‘n perspektief op die uitverkiesing van ons kant af, van ‘n menslike kant af. Hoewel ons nie in die hart van ‘n mens kan insien nie, kan ‘n mens geloof of ongeloof aflei uit iemand se werke, soos Jakobus ook in sy brief skryf.
  • Die tweede is die boek van die lewe. Dit is die perspektief van God se kant af. Daarin word net die name van die gelowiges opgeskryf wat deur God uitgekies is om vir ewig met Hom te lewe. Dié name is reeds vóór die grondlegging van die wêreld daarin neergeskryf. Jy kan die ses verwysings in Openbaring daarna nagaan (Openb. 3:5; 13:8; 17:8; 20:12, 15; 21:27). Nie alle mense het daaraan deel nie.

Die belangrikheid van hierdie twee – die boek met die werke en die boek van die lewe – kan nie oorskat word nie. Veral die boek van die lewe speel ook ‘n rol in die res van die Bybel.

Die boeke met die werke en die boek van die lewe word by die finale “wit-troon” oordeel van God oor alle mense oopgemaak. Kom ons lees dit:

“En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (Openb. 20:12 – OAV).

Die boeke van die werke

Dit is duidelik dat alle mense hier geoordeel word op grond van wat oor hulle in die boekrolle met hulle werke opgeteken is. Ons werke is dus nie onbelangrik vir God nie!

Die boek van die lewe

Wat meer belangrik is, is dat dié oordeel ook gedoen word op grond van die feit of mense se name in die boekrol van die lewe opgeteken is, al dan nie.

15En as gevind is dat iemand nie in die boekrol van die lewe opgeteken is nie, is hy in die vuurpoel gegooi.” (Openb 20:15)

Die genade troef dus die verdienste, alhoewel die regverdige dade steeds deel van die proses is. Die oordeel van die Lam van God met sy boek van die lewe is beslissend vir ons saligheid!

Die ontsagwekkende is dat hierdie name reeds vóór die grondlegging van die wêreld daarin opgeteken is! Dit is Johannes se onomwonde boodskap op twee plekke. In Openbaring 13 praat hy bv van die ongelowiges, en verklaar dat hulle name nie in die boekrol van die lewe opgeskryf is nie:

8Al die aardbewoners sal hom (die dier uit die aarde – ek sal nou-nou iets daaroor sê) aanbid, elkeen wie se naam sedert die grondlegging van die wêreld nie opgeskryf is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie. (Openb 13:8; vgl ook Openb 17:8 en talle ander gedeeltes in die Bybel, bv Ef 1 en Rom 9-11)

Die enigste reaksie op hierdie wonderlike werklikheid is om in aanbidding voor die God wat kies, te buig. Dit is ‘n bron van groot blydskap! Soos Jesus al gesê het vir sy dissipels toe hulle opgewonde was oor hulle “werke” in sy Naam:

“Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskryf is.” (Luk. 10:20).

Die uitverkiesing is ‘n bron van bemoediging! Dit is nie net die diepste vreugde van enige gelowige se lewe dat sy of haar naam in die boek van die lewe opgeskryf is nie; dit is ook die kragbron vir jou volharding.

Jesus sê vir die gelowiges in Sardis:

“Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” (Openb. 3:5).

Die voorreg moedig ons aan om te volhard

Vir dié wie se name in die boekrol van die lewe verskyn, die regverdiges, wag die nuwe hemel en aarde, soos in Openbaring 21 uitgespel word. Om in God se teenwoordigheid vir ewig te lewe, is immers die grootste voorreg en vreugde denkbaar:

“En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.” (Openb. 21:27).

‘n Allerverskriklike oordeel wag vir dié wat die genade van die Here verspeel het

Vir die ander, die goddeloses, wag die tweede dood, die vuurpoel, dáár waar die Bose driemanskap reeds is, soos ek reeds gelees het:

“En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” (Openb. 20:15).

Wat ons bring by die merk van die dier, want dit het ‘n integrale verband met die uitverkiesing.

MERK VAN DIE DIER

Soos daar in Openbaring twee boeke is wat God gebruik om die mensdom van mekaar te skei in dié wat die ewigheid saam met God gaan deurbring en dié wat daarbuite sal vergaan, só is daar twee groepe mense wat gemerk word in Openbaring.

Daar is dus nie net een merk nie. Daar is in die eerste plek die diensknegte van God wat ‘n merk op hulle kop kry – Openbaring 7 en 14. En eers in die tweede plek is daar die diensknegte van die dier uit die aarde, die vals profeet soos dit in Openbaring 16:13 verklaar word, die een in die bose drie-eenheid wat die teenstander van die Heilige Gees is, wat ‘n merk op hulle kop of hulle regterhand kry – Openbaring 13.

Die bose drie-eenheid is

  1. die draak, die slang, die Satan (Openb 12; 20:2),
  2. die dier uit die see, die Antichris, wat met die Lam van God gekontrasteer word (Openb 13:1-10; vgl 1 Joh 2:18, 22; 4:3; 2 Joh 7; vgl ook Jesus oor die “vals christusse” in Matt 24:24 en Paulus oor die “wettelose mens” – 2 Tess 2:3-12), en
  3. die dier uit die aarde, die valse profeet, wat sorg dat die antichris aanbid word (Openb 16:13).

Die Satan is die teenstander van die Vader, die Antichris die teenstander van Jesus Christus, en die dier uit die aarde die teenstander van die Heilige Gees. Vandaar die beskrywing van hierdie drie as ‘n bose drie-eenheid.

Kom ons lees oor die eerste merk.

Gelowiges word gemerk

Ons lees in Openbaring 7:1-8 van die 144 000 van die diensknegte van God op aarde wat met ’n merk op hulle voorkoppe geseël word. Daar is ook ’n ontelbare groot skare uit elke nasie, stam, volk en taal uit die groot verdrukking wat God aanbid in die hemel en deur die Lam versorg word – vers 9-17. Oor die gelowiges in die hemel kan julle meer in my boek lees.

Kom ons lees wat Johannes gesien het van die 144 000:

1Hierna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde in bedwang gehou, sodat daar nie wind op die land of op die see of teen enige boom sou waai nie. 2Ek het ook ‘n ander engel van die oostekant af sien aankom, wat ‘n seël van die lewende God vashou. Hy het met ‘n kragtige stem geroep na die vier engele wat aangesê is om die land en die see te beskadig, en gesê: 3“Moenie die land of die see of die bome beskadig, voordat ons die diensknegte van ons God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie.” 4Ek het toe gehoor wat die getal is van hulle wat met die seël gemerk is: honderd vier-en-veertigduisend – uit elke stam van die kinders van Israel.

Die feit dat God ‘n merk plaas op die voorkoppe van gelowiges wat nog op aarde is, is om hulle te bemoedig dat die oordeelsvoltrekking nie op hulle gemik is nie, dat hulle reeds op aarde as God se eiendom gemerk is en dat hulle uiteindelike verlossing vas en seker is. Uiteraard ly hulle ook onder die oordele van pes en ellende wat die aarde tref, maar dit kan nooit hulle ewige verkiesing om in God se teenwoordigheid te floreer, bedreig nie.

Nou wie is hierdie 144 000 gelowiges?

Sommige het hulle met die Joodse volk verbind of met die Joodse deel van die Christendom. Maar, dit maak meer sin om die 144 000 met die hele volk van God, Jode en Christene, te verbind.

Dit is dus alle gelowiges wat op aarde is wat in stand gehou word as die Here Jesus se getuies en deur die simboliese seël op hulle kop beskerm word. Die finale vernietiging wat gaan losbars, sal hulle daarom nie beskadig nie, omdat God self hulle vir die ewige lewe laat merk.

Wat is hierdie merk?

Die beskrywing van die merk hier in Openbaring laat ‘n mens onmiddellik dink aan Esegiël wat ‘n soortgelyke visioen sien met die vernietiging van Jerusalem met die aanbreek van die ballingskap in 586 vC.

In ‘n ontsagwekkende toneel kom ses manne met wapens van verwoesting in hulle hand – soos futuristiese Terminators!

Die man met die linneklere wat die visioen vir Esegiël interpreteer, kry die taak om met ‘n pen uit sy skrywersakkie ‘n merk op die voorkoppe te maak van die getroue gelowiges:

“almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” (Eseg 9:4)

Esegiël praat in dieselfde taal oor die gelowiges in Jerusalem as wat Petrus in sy tweede brief oor die gelowige Lot in Sodom en Gomorra gesê het, dat hy hom gekwel het oor die losbandige lewe van sedelose mense (2 Pet 2:7).

Dit is hierdie mense, die gelowiges wat ontsteld is oor die boosheid wat floreer in die wêreld, wat God merk sodat die engele kan weet, hierdie een behoort aan die Here.

Die merk self is waarskynlik in Esegiël die Hebreeuse letter taw [תָּו], die laaste letter in die Hebreeuse alfabet. Dit is in dié tyd as ‘n X of ‘n plus-teken geskryf. Interessant genoeg lyk die merk baie soos ‘n kruis, hoewel ‘n mens nie te veel daarin moet lees nie. Die merk is waarskynlik maar soos wat ons vorms invul met ‘n x.

In Openbaring 14 is die teken die naam van God, en die naam van die Lam wat op die voorkoppe van gelowiges geskryf word.

En dit is natuurlik nie ‘n fisiese teken wat ons kan sien nie. Dit is ‘n teken vir die engele.

God se mense, dié wat nie meedoen aan die afskuwelikhede van die samelewing en daaroor treur, word dus gespaar en nie vir ewig vernietig deur die grusaamheid van die ballingskap nie. So, God merk uit die hemel sy mense. Hy het dit gedoen met Lot. Hy het dit gedoen met die ballingskap. Hy sal dit weer doen aan die einde van die tyd.

Ongelowiges word gemerk

Dieselfde gebeur met die ongelowiges. Die dier uit die aarde (onthou dit is die vals profeet – vgl Openb. 16:13) merk syne.

Dit is waarvan ons lees in Openbaring 13.

Hoofstuk 13 voltooi die prentjie van die Bose aanslag op die mensdom met die bekendstelling van twee diere, die dier uit die see (antichris) en die dier uit die aarde (vals profeet – vgl. 16:13).

Saam met die draak (Satan) vorm hulle ’n gedugte bose driemanskap wat die mensdom met hulle mag beïndruk en van God Drie-enig afvallig maak, behalwe dié wat God daarvan beskerm. Hulle teenstand sal in die volgende hoofstukke prominent geteken word, veral in die effek wat hulle op die mensdom het, sowel as op die gelowiges, totdat die wederkoms aanbreek en God hulle in die finale oordeel sal oorwin.

Die dier uit die see kan met die antichris verbind word in terme van die mag wat hy uitoefen op almal wat nié in die boek van die lewe van die Lam van God opgeskryf is nie (vgl 1 Joh 2:18, 22; 4:3; 2 Joh 7; vgl ook Jesus oor die “vals christusse” in Matt 24:24 en Paulus oor die “wettelose mens” – 2 Tess 2:3-12).

Die antichris is dus ’n direkte teenstander van die Here Jesus Christus, soos die draak die direkte teenstander van God self was (hfst. 12). Hy boots die Christus na in ’n poging om die mensdom te mislei om hom te aanbid.

Dit is waarom dit so belangrik is vir gelowiges om hiervan kennis te neem, sodat hulle nie verras word deur die teenstand en die verguising wat met die misleiding gepaard gaan nie en hulle in geloof kan volhard tot die einde toe.

Die dier uit die aarde – die vals profeet – Openbaring 13:11-18

Die dier uit die aarde opponeer die ander persoon in die Triniteit, die Heilige Gees, wat gesien kan word in die lewe wat dié dier gee aan die eerste een, sowel as aan die beeld wat van hom opgerig is.

In Openbaring 16:13 word dié dier die vals profeet genoem, dié een wat sorg dat daar ’n godsdienstige begronding geskep word vir die aanbidding van die draak, die Satan, en die dier uit die see, die antichris. Hierdie dier is dus ’n direkte teenstander van die Heilige Gees, want soos die Heilige Gees die Here Jesus verheerlik, doen die dier uit die aarde dit vir die dier uit die see en die draak.

Kom ons lees daarvan:

11Toe het ek ‘n ander dier uit die aarde sien opkom. Hy het twee horings gehad, net soos ‘n lam, maar hy het soos ‘n draak gepraat. 12Hy het met al die volmag van die eerste dier opgetree, en dit in sy teenwoordigheid gedoen. En hy laat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, die een wat van sy dodelike wond genees is. 13Hy doen ook indrukwekkende tekens; so laat hy voor die mense vuur van die hemel af op die aarde neerkom. 14En hy mislei die aardbewoners deur die tekens wat hy toegelaat is om in die teenwoordigheid van die dier te doen, deur hulle te beveel om ‘n beeld op te rig vir die dier wat deur die swaard gewond is, maar weer lewend geword het. 15Aan hom is toe die vermoë gegee om asem in die beeld van die dier te blaas, sodat die beeld van die dier ook kon praat, en om almal wat nie die beeld van die dier aanbid nie, te laat doodmaak. 16Hy het ook almal, klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe, verplig om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te laat aanbring, 17sodat niemand, behalwe dié met die merk van die naam van die dier of die getal van sy naam, sou kon koop of verkoop nie. 18Hiervoor is wysheid nodig. Wie insig het, moet die getal van die dier bereken, want dit is die getal van die mens, en sy getal is seshonderd ses-en-sestig.

Nou die beste interpretasie van die merk op die regterhand of die voorkop is dat dit die denk– en werkvermoë van die mensdom voorstel wat in diens van die bose driemanskap geplaas word (Du Rand). In Openbaring 14 word dit met die naam van die dier verbind.

Dit beteken dan ook dat dít die manier is waarop gelowiges van die ekonomie uitgesluit kan word, as hulle nie aan die heersende godsdienspraktyke wil deelneem nie, soos reg deur die eeue gebeur het in lande waar dit verbied word om die Here Jesus te dien en volg.

Die getal 666 moet dus in die lig van hierdie interpretasie uitgelê word, eerder as dat die numeriese getalwaarde van name uitgewerk word, om ’n persoon daarmee te verbind. 666 staan dus vir die doel van die dier uit die aarde, die vals profeet, se agenda om die gelowiges ekonomies te isoleer en ongelowiges te bevoordeel. Wie hierin insig het, kan planne maak om die dier se invloed minder te maak.

Dit is wel ook moontlik dat ‘n mens die getal op ‘n simboliese wyse kan verbind aan iemand soos keiser Nero. Hy was ‘n bloeddorstige vervolger van die vroeë Christus-volgelinge. Sy naam en titel in Hebreeus (Nero Ceasar – נרונקסר) het ‘n numeriese waarde van 666.

Nero sou as ‘n simboliese figuur van alle toekomstige vervolgings deur heersers en hulle regerings gesien kon word.

Maar, onthou altyd weer die ander merk, die merk van die uitverkiesing, die merk wat God uit die hemel op elkeen wat in Jesus Christus glo, geplaas het. Dit beteken dat selfs al ly ons onder die aanslae van die bose driemanskap, al maak regerings, en samelewings, dit vir ons moeilik om getrou te bly aan die Here Jesus, jy het die merk van God. Jy is syne. Jy behoort aan Hom!

Dit is waarom die visioen van die ongelowiges in Openbaring 13 opgevolg word in Openbaring 14 met ‘n visioen van die toekoms van beide die ongelowiges as die gelowiges.

Die Lam vergader die kerk as sy eiendom

Die hoofstuk skets aan die eenkant die wonderlike toekoms van die gelowiges wat aan God getrou bly, sowel as aan die ander kant die afgryslike toekoms van die ongelowiges wat nie met ontsag vir God gelewe het nie en eerder die dier en sy beeld aanbid het. Dit is nog ‘n prentjie van die wederkoms van die Here Jesus Christus.

Daar word drie dinge beklemtoon in hoofstuk 14

  • Die Lam vergader die kerk as sy eiendom – Openbaring 14:1-6.
  • Die finale oordeel en verlossing word aangekondig – Openbaring 14:7-13.
  • Die oes van gelowiges en ongelowiges word ingesamel. Dit is waarvoor die merke op die voorkop belangrik is. Dit is ‘n geestelike teken vir die engele – Openbaring 14:14-20.

Die gelowiges wat deur die Lam vergader word – soos die Heidelbergse Kategismus daaroor ook skryf – sing in die hemel ’n nuwe lied as die eiendom van die Lam in die teenwoordigheid van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in die hemel. God se Naam en dié van die Lam is op hulle voorkoppe geskryf. Hulle is gemerk as God se eiendom.

Daarteenoor word ’n grusame prentjie van foltering word aan die ongelowiges voorgehou, interessant genoeg, as waarskuwing vir die gelowiges om te bly volhard in die geloof en gehoorsaamheid. ‘n Engel roep met ‘n harde stem uit, sê Johannes:

“As iemand die dier en sy beeld aanbid, en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het10sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word.” 11En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie. 12Hiervoor het die heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo.

Dink jou in hierdie ewige straf in. Om bedags en snags geen rus te hê nie. Om altyd en ewig jouself te verwyt, het ek maar geluister. Omdat jy gemerk is as ‘n ongelowige wat die wil van God in jou lewe verwerp het, en saam met die wêreld die wil van die Satan gedoen het.

Maar, dit is gelukkig nie al nie. Die Gees oorwin die werk van die dier uit die aarde, die vals profeet, sê Johannes:

13Ek het toe ‘n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf neer! ‘Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf.’ ” “Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.”

Die Gees roep dus oor ons almal wat in Jesus glo ’n saligspreking uit van ewige rus. Ons is gemerk as God s’n. Ons dade volg ons die ewigheid in. Want, ons is die heiliges wat volhard het in die gehoorsaamheid aan God se opdrag en wat die geloof in Jesus behou het.

WEGRAPING

1 Tessalonisense 4 en Openbaring 20

‘n Kort woord oor die wegraping. Die idee van die wegraping kom nie in die Bybel voor nie. Dit is ‘n idee wat eers in die 1800’s na vore gekom het is en deur die Scofield Bible, Hal Lindsey en die Left Behind series gepopulariseer is. Dit het geen Bybelse basis nie, en kan gerus eenvoudig geïgnoreer word.

Die enigste teks in die Bybel wat naastenby daarmee verbind kan word, is 1 Tessalonisense 4:13-17.

13Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. 14Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem. 15Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here: Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms van die Here, sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie. 16Want die Here self sal met ‘n luide bevel, met die stem van ‘n aartsengel, en met ‘n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. En so sal ons altyd by die Here wees.18Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Dit is duidelik uit vers 14 dat gelowiges wat in die Here gesterf het, deur God verwelkom word saam met Jesus in die hemel.

Dit is duidelik uit vers 16 dat gelowiges wat in die Here gesterf het met Jesus se wederkoms liggaamlik uit die dood sal opstaan.

Dit is duidelik uit vers 17 dat ons wat nog lewe ná die wederkoms, ná die ontslapenes opgestaan het, in die wolke opgeneem sal word om die Here te ontmoet.

Dit is die wegraping as jy dit so wil noem. Maar dit gebeur ná die wederkoms, nie daarvoor nie.

Wat ons bring by die laaste vraag:

INENTING – Ja of Nee

Die antwoord hang af van jou beoordeling van die data. Lees die wetenskap self. Moenie net lees wat in die media vir jou as die waarheid verkondig word nie. Stel jouself bloot aan alle perspektiewe sodat jy jou eie besluit kan neem.

Oor die vaksine self. Dit is duidelik nie per se die merk van die dier nie. Die merk is immers ‘n geestelike teken.

Of jy dit moet neem of nie?

Ek hou van ons president se hantering daarvan. Hy praat van oorreding eerder as dwang. Sodat mense hulle eie keuses kan maak. Dit is in elk geval hoe die evangelie werk. God dwing niemand nie. Hy verander ons harte. Hy maak dit sag met sy liefde en deernis, met vergifnis en barmhartigheid.

Sela.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.