Hoopvol op pad – 1 Tessalonisense

Die verhaal van die kerk
Tema: Hoopvol op pad – 1 Tessalonisense 4:1-8
Youtube 09:00 96 Augustus 2020  Somerstrand Familiediens

Skakels

Verwelkoming

Welkom by ons geloofsgemeenskap op Youtube. Mag die Here jou op ‘n spesiale manier met hierdie boodskap seën.

Kerkdienste

Goeie nuus is dat ons ‘n eerste voet in die water sit om weer ‘n erediens in die kerkgebou te hou. Dit begin volgende week, 23 Augustus om 09:00. Ons sal al die Covid-19 protokolle handhaaf.

Ons vra dat mense per e-pos sal inskryf by Liésl Knipe (ngksomer@global.co.za) voor Woensdag 19 Augustus 12:00. Indien daar meer as 50 is, sal ons ‘n tweede erediens hou om 10:30. Ons sal ‘n e-pos stuur met die riglyne en die tye. Maksimum dus 50 elk by die twee moontlike eredienste (wat die personeel insluit). Laai die vormpie af wat jy moet invul en bring dit saam.

Onthou:

  • Persone wat bo 60 is en persone wat ander risikofaktore het, word aangemoedig om nie eredienste by te woon nie.
  • Almal moet die vormpie invul.
  • Ons groet mekaar deur vir mekaar te wuif.
  • Ons gaan een en in die kerkgebou in. Staan 2 meter van mekaar af buite.
  • Elke persoon moet die gebou met ‘n masker betree wat die neus en mond bedek en dit moet deur die loop van die hele diens gedra word.
  • Handreiniger sal beskikbaar wees en temperatuur sal geneem word.
  • Voltooide vorms word aan die span oorhandig.
  • Ons sit op die gemerkte sitplekke wat 2 meter van mekaar is.
  • Dankoffer by die deure of met Snapscan of EFT.
  • Enigiemand wat positief toets vir die virus moet ons in kennis stel.

Die Youtube diens sal egter voortgaan. Ook die kleiner video en klankbaan sal steeds beskikbaar gestel word.

Korona kermis

Dit is weer sulke tyd!!! Ons gaan begin met kermis aktiwiteite. Versprei dit so wyd as moontlik ook onder nie-gemeentelede en buite-Somerstrand mense. Enige hulp en enige bydrae sal baie en opreg waardeer word. As iemand miskien ‘n kontant bydrae wil of kan maak, betaal direk by die kerk in met verwysing : kermis of fondsinsameling.

Indien alles goed gaan hoop ons om 7 of 14 November kermis te hou.  Voorlopig dink ons aan ‘n tema soos: Korona Kermis.  Voordat ons finaal daarop besluit wil ons eers ander idees oorweeg, so dit sal baie waardeer word indien julle met enige idees vir ‘n tema vir ons kermis 2020, vorendag sal kom.

Esmé Dorfling kan te eniger tyd geskakel word, per epos of Whatsapp by 082 448 1412

ESME DORFLING EN KAREN BECKER

SAMEROEPSTERS

Verjaarsdae

Baie geluk aan Enesta Knoesen wat vandag verjaar. Esau Louw verjaar die 21ste en word dan 11 jaar oud. ‘n Lys met al die verjaarsdae die week is op die web. Bel en wens mekaar geluk deur die week.

Sterftes en siekes

Slegte nuus is dat Suzi Vermaak van Somerson dié week oorlede is. Ons bid vir die familie, spesifiek vir haar dogter Magriet Honiball en haar gesin.

Ons bid ook steeds vir almal wat steeds behandeling vir ander siektes ontvang. En vir almal wie se familie en vriende die virus opgedoen het.

Ons bid vandag ook spesifiek in die ring vir die mense wat in die voorste linies veg teen die virus. Dokters, verpleegsters, admin personeel. Mag die Here julle beskerm en bewaar.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan.

Die bydraes vir kos het minder geword, en die punte wat ons bedien het meer geword. Drie plekke bygekom. Mense die nood is hoog. Al gaan laai jy net een blikkie of pakkie ‘n week daar af, gaan dit iemand se maag vol maak in hierdie moeilike tyd.

Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Vandag is dit G vir Glo en Getuig in haar Geloofsalfabet. Ons leer vandag oor G-eloof en G-etuig! Wat glo ons? En hoe kan ons dit met ander mense deel? Iemand spesiaal kom kuier en wys ook vir ons ‘n oulike aktiwiteitjie! Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan ook oor die tema van getuienis. Elspeth Liebenberg gaan dit hanteer. Youtube.

Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Dit is week 4 van my fokus op die lewe van Paulus. Tot en met Advent. Ons lees saam die boek Handelinge en Paulus se dertien briewe. Titel en tema: Die verhaal van die kerkPaulus versit berge.

Daar is ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 4 met 1 Tessalonisense op die tafel.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op hierbo en op Whatsapp, nuusbrief, en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

Ek groet julle met die groet van Paulus, Silvanus (dit is Silas) en Timoteus in die brief aan Tessalonika op hierdie tweede sendingreis:

Aan die gemeente van die Tessalonisense, in God die Vader en die Here Jesus Christus: Genade vir julle en vrede. Ons dank God altyd oor julle almal wanneer ons aan julle dink in ons gebede.

Dit is weer Kindertyd. Ons gee vir oom Jaco Barnard ‘n blaaskans die volgende twee Sondae. Vandag gaan ons luister na oom Sieg en Sakkie.

Kindertyd

Al die kinders kan nou luister. En die grootmense ook. Ek wil met julle oor hoop gesels. Dit is ‘n groot woord, nê. Kom ons luister na oom Sieg en Sakkie. Hulle praat oor hoop. (video)

Sakkie het gehoor van die wederkoms. Dit is nog ‘n groot woord, nê. Die wederkoms is die woord wat ons gebruik vir Jesus wat weer gaan kom aarde toe. Hy het een keer aarde toe gekom. Hy sal weer kom, ‘n tweede keer. Dit is wat wederkoms beteken.

Soos Sakkie hoef ons nie in ‘n hoop te gaan lê oor die wederkoms nie. Ons kan uitsien na Jesus wat weer kom. Ons kan hoop daarop.

Hierdie hoop help ons om nie moedeloos te raak as dinge swaar gaan nie. Want, ons weet Jesus kom om alles reg te maak.

Paulus skryf oor die wederkoms en sê:

“Vriende, ons wil graag hê dat julle moet weet wat sal gebeur met die gelowiges wat gesterf het. As julle dit weet, dan sal julle nie huil en treur soos die heidene wat niks het wat hulle kan hoop nie.” (1 Tessalonisense 4:13-14 ABA)

So wat hoop ons?

Paulus sê:

“Wanneer die Here Jesus kom, dan sal Hy hard roep en sê wat moet gebeur … Die Here Jesus self sal uit die hemel kom, en die mense wat gesterf het en wat in Christus glo, sal eerste weer lewe. Daarna sal God ons wegvat, ons wat nog lewe en wat oorgebly het op die aarde. Hy sal ons en die mense wat gesterf het en wat weer lewe, saam wegneem tot in die wolke. Dan sal ons die Here Jesus in die lug ontmoet, en so sal ons altyd by die Here Jesus wees.” (1 Tessalonisense 4:16-17 ABA)

Dit is wonderlike nuus, nê! Dit is wat ons hoop. Dit laat ons harte rustig raak. Al gaan dit swaar. Ons het hoop.

Kom ons sê vir die Here dankie

Gebed

Dankie Here Jesus dat U weer kom. Dit gee ons hoop. Ons sien uit daarna om U weer te sien. Amen.

Loflied

Kom ons sing van ons hoop in die Here.

Lied 184 – Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere

Skriflesing en prediking

Onthou jy nog die uitsien na ‘n vakansie?

Ons gesin het graag met tente en later karavaan vakansie gehou. So, ons kon oral gaan. En ons het. Die hele land vol. Glentana. Met ‘n Peugeot 403 – 1 468 cc, 48 Kw, 102 Nm enjin – wat ‘n 15 voet karavaan daar teen die steil bult uittrek! Sederberge op ‘n plaas waar ons later moes meet en pas om ons kos te laat uitkom, want die pad Citrusdal toe was ver. Ek onthou die brood wat my ma laat rys het buite onder ‘n doek, en die varke wat dit opgevreet het. Die Drakensberge, Injasuti, Champagne Castle. Port Elizabeth, Gonubie en Struisbaai, stranddienste. Bettiesbaai en die diep swart bergwater van die dam.

Daar was die koekies bak, en die bordspeletjies vir saamneem, Slangetjies en leertjies, Risk en Monopoly, die meet en pas met die inpak, die piekniek langs die pad met die lekkerste padkos, die speletjies op die pad, krieket was ‘n gunsteling met verskillende motors wat die getal lopies bepaal het, en met ‘n Volkswagen Kewer was jy uit, en dan die afwagting vir wie sien eerste die see …

Onthou jy?

Op pad na die ewige lewe

Ons is ook as kinders van die Here op pad. Na die ewige lewe. Nie met Google Maps nie, maar met die Bybel. Nie met ‘n GPS se stem nie, maar met die Gees wat ons lei. En ons hoor ook “recalculate”, herbereken, as ons afdwaal. Want, die Here wil ons by ons ewige bestemming uitbring.

Dit is hierdie hoop wat ons lewe bepaal. Dit is die ewige lewe waarvoor ons regmaak. Dit is die Wederkoms van Jesus waarna ons uitsien.

Soos Paulus sy heel eerste brief aan die Tessalonisense skryf:

2Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede 3en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader.” (1 Tess 1:2-3)

Dit is nou al ‘n paar maande ná Paulus se baie suksesvolle bediening in Tessalonika. Timoteus het vir hulle die goeie nuus gebring nadat Paulus hom van Athene af gestuur het om hulle te gaan bemoedig en te hoor hoe dit gaan (1 Tess 3:2).

Timoteus het vertel dat die gelowiges van Tessalonika voorbeelde geword het van die verandering wat die boodskap van Jesus bring. Hulle het die afgode gelos en hulle tot die lewende God bekeer.

Trouens, oral in Griekeland praat mense daaroor. Ten spyte van die verdrukking wat hulle ervaar het van die Joodse leiers wat Paulus ook daar vervolg en weggejaag het, hou hulle vas aan die woorde van die evangelie. Kan almal in hulle die blydskap van die Heilige Gees sien. Praat hulle oral oor die wonderlike verlossing wat Jesus gebring het.

Die Tessalonisense is dus goed op pad na die ewige lewe. Hulle het hulle nie net bekeer nie, maar dien nou die lewende God:

En verwag sy Seun uit die hemele … Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.” (1 Tess 1:9-10)

Dit moes vir Paulus ‘n ongelooflike gerusstelling gewees het om te hoor in sy jaar en ‘n half verblyf in Korinte dat sy werk in Tessalonika ‘n paar maande gelede nie tevergeefs was nie.

Die mense van Tessalonika was op pad. Hulle het die boodskap van die ewige lewe aangegryp. Hulle het die boodskap van die Wederkoms aangegryp. Hulle hoop was gevestig op die Here Jesus se tweede koms, dié Jesus wat hulle van die toekomstige toorn sal verlos.

Is daar regtig ‘n hemel en ‘n hel?

Dit is daarom jammer om al hoe meer te hoor dat daar baie teoloë en predikante vandag is, selfs van ons lidmate, wat hierdie boodskap van die ewige lewe afmaak as ‘n “pie in the sky when you die.” Wat sê, daar is nie regtig ‘n hemel en ‘n hel nie.

Hemel en hel is wat ons hier beleef. As dit goed gaan, en ons goed is vir mekaar, dan beleef ons hemel. En as dit sleg gaan, en ons is lelik met mekaar, dan beleef ons hel.

Baie lidmate word verlei om dié boodskap te glo. Dit is só hartseer. Dit is só destruktief. Want dit vernietig ons hoop op die ewige lewe.

Paulus se boodskap is egter radikaal anders. Hy is baie bewus van die hemel en die hel; die “ewige lewe” en die “ewige verderf of verdoemenis”, die “toekomstige toorn”, soos hy dit hier noem, sy woorde vir die hel.

Daarom skryf Paulus hierdie brief aan die gemeente in Tessalonika. Want, hy wil hulle bevestig in die boodskap oor die ewige lewe en die Wederkoms. Hy wil hulle laat koers hou, laat volhard in die hoop op pad daarheen. Ook vir ons wat soos die Tessalonisense in Jesus se Wederkoms glo.

Die ewige lewe

Paulus is aan die een kant baie bewus van die “ewige lewe” waartoe hulle geroep is, ‘n lewe wat hulle nou reeds in staat stel om die suigkrag van die dood en die doderyk te ontsnap (vgl 1 Kor 15:55 – ‘n aanhaling uit Hos 13:14; vgl ook Jes 25:8).

Die ewige lewe is die hoop van onverganklikheid, van onsterflikheid, van die tipe lewe wat God self besit, ‘n geskenk aan ons om vir ewig saam met Hom te geniet, soos Paulus later verder sal uitbrei aan die Korinte, Romeine en Efesiërs (1 Kor 15:42, 50, 52-54; Rom 2:7; Ef 6:24 – “almal wat onse Here Jesus in onverganklikheid liefhet”!; 1 Tim 6:16).

En hy sluit aan by iets wat Spreuke in die OT al op gehoop het: “Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van dié pad is onsterflikheid.” (Spr 12:28).

Die ewige verderf

Maar, Paulus praat aan die ander kant telkens van die ewige lewe in die konteks van God se “toekomstige toorn” (1 Tess 1:9), van die “ewige straf” wat Hy gaan uitdeel, die “ewige lyding en benoudheid” wat God gaan bring oor dié wat in hierdie lewe aan sy Seun ongehoorsaam was, soos hy later aan die Romeine gaan skryf (Rom 2:1-11).

Die ongelowiges word in Romeine beskrywe as “voorwerpe van sy toorn” en die gelowiges as “voorwerpe van sy ontferming.” (Rom 9:22-23).

In sy tweede brief aan die Tessalonisense sal Paulus boonop die Wederkoms beskryf as ‘n verblindende vuur met die Here Jesus en sy engele wat in “vuur en vlam” uit die hemel sal verskyn.

Jesus sal by sy Wederkoms dié mense straf wat nie vir God ken nie. Hy sal dié straf wat sy evangelie nie gehoorsaam het nie. Die “ewige verderf of verdoemenis” sal die ongelowiges se straf wees. Dit sal ‘n “ewige vernietiging” wees, ‘n vernietiging wat vir ewig sal aanhou. Want, hulle sal vir altyd geban wees uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. Oorgelaat aan ‘n “ewige verderf” (2 Tess 1:8-9).

En ek wil jou bemoedig dat dit ‘n woord is wat jy ook kan glo.

Ek wil dit nog sterker sê, moenie jou ore uitleen aan diegene wat hierdie boodskap van die ewige lewe en die ewige hel versag of verwerp nie. Dit sal jou fokus wegneem van jou roeping. Dit sal jou hoop op die ewigheid laat kwyn. Dit sal die vlam van hoop doodblaas in jou. Al wat sal oorbly, is die lewe hier en nou. En jy sal die krag van God verloën in jou eie lewe.

Etiese vrae

Nou die meeste van die gelowiges in Tessalonika het hierdie boodskap geglo. So het Timoteus Paulus-hulle kom verseker. Die gelowiges het aan die ewige lewe vasgegryp en onwrikbaar volhard daarheen. Hulle het die woorde van Paulus aangegryp as die “woord van God” (1 Tess 2:13). Selfs al het die Jode hulle vervolg, ook die Grieke, en hulle probeer verhinder om dié boodskap aan almal te verkondig (1 Tess 2:14-16).

Maar, hulle het gesukkel met etiese vrae. As ons nou op pad is na die ewige lewe, hoe moet ons hier lewe? En hulle het twee groot vrae gehad oor seks en werk. Hoe moet ons maak met ons seksuele behoeftes? Hoe moet ons maak met ons alledaagse behoeftes? En hulle wou meer weet oor die Wederkoms.

Paulus begin om iets te sê oor seks.

1. Oor seks

Nou, ons moet verstaan, onsedelikheid (porneiahoerery – die woord word hier heel algemeen gebruik vir enige seks buite die huwelik) was geen probleem in die Griekse wêreld nie, anders as in die Joodse wêreld, aangevuur deur losbandige praktyke by die tempels.

Paulus het dus geweet dat dit vir hulle ‘n groot uitdaging sal wees. Maar, hy kan nie die boodskap versag nie, want dit is na alles een van die sentrale dinge wat die “sinode” in Jerusalem oor saamgestem het.

Christene weerhou hulle van onsedelikheid (porneia). Maak nie saak van watter godsdienstige of kulturele agtergrond af jy kom nie. Dit is wat jy doen. Anders verloën jy die geloof.

Paulus spoor hulle dus soos volg aan in hoofstuk 4:

1 Verder dan, broers, vra ons julle, en spoor ons julle ter wille van die Here Jesus aan: Julle is deur ons onderrig oor hoe julle moet leef om God te behaag; julle leef inderdaad reeds hiervolgens, maar julle moet nog al hoe meer so leef. 2 Julle weet tog watter voorskrifte ons vir julle gegee het deur die Here Jesus. 3 Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef. Julle moet julle van onsedelikheid weerhou. 4 Elkeen van julle moet weet hoe om sy eie vrou te bekom, op ‘n heilige en eerbare wyse, 5 en nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie. 6 Niemand van julle moet in hierdie opsig oortree en sy broer bedrieg nie, want, soos ons tevore vir julle gesê en nadruklik bevestig het, die Here vergeld al hierdie dinge.  7 God het ons immers nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid. 8 Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie ‘n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het. (1 Tess 4:1-8)

Aansporing tot ‘n heilige lewe

Paulus moedig hulle dus aan om as ongetroudes en as getroudes in hulle huwelikslewe met selfbeheersing (“weerhou julle van” en “moenie oortree nie”) en integriteit  (“niemand bedrieg nie”) op te tree.

Ons hoor hierin die besluite van die “sinode” van Jerusalem weerklink wat alle gelowiges gewaarsku het teen onsedelikheid, dws enige seks buite die huwelik (Hand. 15:29). Maar Paulus se oproep is nie maar net ’n morele of Joodse lewensles wat hy hulle gee nie. Dit is God se wil vir hulle. Hierop sou hy nog verder uitbrei in sy briewe aan die Korintiërs (1 Kor. 5:1; 6:12-20; Rom. 1:18-32).

Niemand moet persoonlik hierin oortree nie. En niemand moet iemand anders seksueel benadeel of uitbuit nie.

  • Die benadeling (huperbainō – om God se wil en wet te oortree, om die grense wat Hy stel, te oorskry) waarvan Paulus praat, dui op bv voorhuwelikse seks waar jy die heiligheid van iemand anders se toekomstige huweliksmaat wegneem sowel as op seksuele geweld deur bloedskande of verkragting.
  • Die uitbuiting (pleonekteō – “to take advantage”) waarvan Paulus praat dui op bv seksuele immoraliteit of skandelike seksuele begeertes soos wat Paulus hierna eksplisiet sal uitwys in sy brief aan die Romeine.

Want, sê Paulus, God het ons nie geroep tot onsedelikheid nie (akatharsia – onreinheid, ’n woord wat weer in Romeine 1:24 gebruik sal word), maar tot heiligheid (hagiasmos – toegewy aan God).

En hy of sy wat durf waag om dié voorskrif te verwerp, verwerp nie maar ‘n menslike gesag nie, maar die gesag van God, die gesag van die Heilige Gees wat in ons en tussen ons woon.

Soos Paulus later vir Timoteus sal skryf, iemand wat losbandig lewe, is “lewendig dood.” (1 Tim 5:6)

Dan skryf Paulus iets oor werk.

2. Oor werk

Lidmate, sê Paulus, moet mekaar liefhê deur hulle met hulle eie sake besig te hou, en self in hulle eie lewensonderhoud te voorsien. Paulus praat met arm mense. Daarom het Paulus daar self in sy lewensonderhoud voorsien, waartoe die gemeente in Filippi ook bygedra het.

Maar steeds skryf hy aan hulle om seker te maak dat hulle selfvoorsienend word sodat hulle van niemand anders afhanklik sou wees nie. Trouens in sy tweede brief sal hy hulle waarsku om nie leeg te lê en op ander te teer nie (2 Tess 3:7-12).

Dit is wat broederliefde (philadelphia) ook van ons vra, die liefde vir die geloofsgemeenskap. Hierdie liefde word teenoor almal beoefen, mans en vroue, die broers en die susters. Dit is die eerbare leefwyse wat die agting van die mense buite die gemeente afdwing.

‘n Lewe wat volgens die standaarde van die kultuur of samelewing geleef word, dwing geen agting af nie. Dit het geen aantrekkingskrag nie. Dit nooi mense nie uit na die ewige lewe nie, ‘n lewe waarin hierdie heiligheid sy hoogtepunt, sy volle verwerkliking sal bereik.

Paulus skryf laastens iets oor die Wederkoms.

3. Oor die Wederkoms

Dit is net natuurlik dat hierdie begronding van ‘n heilige lewe sal uitloop op die lering in die laaste deel van die brief oor wat met ons sal gebeur op pad na die ewige lewe.

  1. Eerstens stel Paulus ons gerus dat die “ontslapenes in die Here”, dit wil sê gelowiges wat volhard het in geloof tot hulle dood, saam met ons die ewige lewe sal beërwe (1 Tess 4:13-14).
  2. Tweedens stel Paulus ons gerus dat ons wat lewe by die Wederkoms van die Here Jesus, ook die ewige lewe sal beërwe (1 Tess 4:15-18). Ons sal mekaar in die wolke ontmoet en vir altyd saam met die Here Jesus wees.

En, sê Paulus, ons moet mekaar bemoedig met hierdie woorde. Dit is die basis vir ons hoop. Dit is die verwagting wat ons laat volhard. Wat ons help om heilig te lewe.

  1. Derdens beskryf Paulus die Wederkoms self wat onverwags soos ‘n dief in die nag sal kom. Niemand weet wanneer nie. Al wat ons weet, is dat almal nog rustig hulle eie gang sal gaan, en dan skielik is die vernietiging op hulle. Die toorn van God wat losbars op almal wat nie in Hom glo nie (1 Tess 5:3).

Ons hoef nie daarvoor bang te wees nie, want ons is kinders van die lig. Ons leef nie in die duisternis van die sonde nie. Maar, ons moenie dwaas wees en dink ons kan in die sonde leef, en die toorn van God vryspring nie.

Ons moet die borsharnas dra van geloof en liefde en die helm op ons kop van die hoop op die “saligheid” – beelde wat Paulus 10 jaar later in Efesiërs 6 verder sal uitbou en konsepte waarmee Paulus ook die brief begin het. God het ons nie bestem tot die toorn nie, maar tot die “saligheid”, die “ewige lewe” saam met Hom (1 Tess 5:4-11).

Met dié gedagte moet ons mekaar bemoedig en opbou sodat ons kan volhard in hierdie hoop.

  1. Vierdens roep Paulus hulle op om die leiers in die gemeente te erken en hoog te ag in hulle bediening en vermaning. Trouens, hulle moet saamwerk deur self die onordelikes te vermaan, die kleinmoediges te bemoedig, die swakkes te ondersteun, en lankmoedig met almal te wees.

Blydskap, dankbaarheid en gebed moet ‘n deurlopende fokus in hulle geestelike lewe wees. ‘n Lewe in die Gees. Soos Paulus net hierna sou skrywe aan die Galasiërs: “Julle lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook julle gedrag bepaal.” (Gal 5:25).

Hulle moet ook ‘n sensitiwiteit vir profesieë bevorder, iets wat Paulus in sy brief aan die Korintiërs op sal uitbrei. Profesieë is boodskappe wat mense opbou (hulle potensiaal ontsluit), aanspoor en bemoedig (1 Kor 14:3-4 – oikodomeō, parakaleō, paramuthion).

Daarby, elke ding, ook die profesieë, moet getoets word aan die waarheid wat aan hulle verkondig is (vgl 1 Kor 12:10; 14:29 – gawe van onderskeiding; beoordeling van ander profete), en net dié dinge wat die toets deurstaan, moet behoue bly.

Elke vorm van kwaad moet vermy word.

Paulus sluit af met ‘n gebed tot God om die gelowiges van Tessalonika volkome heilig te maak, om hulle hele menswees, gees (die kontak met God), siel (die kontak met ander), en liggaam (die kontak met hulleself) geheel en al onberispelik te bewaar vir die Wederkoms van ons Here Jesus Christus.

Hy wat ons roep tot die “ewige lewe” is getrou. Hy sal dit doen.

Lekker lees aan hierdie eerste brief van Paulus. Mag dit jou inspireer om hoopvol op pad te wees na die ewige lewe.

Gebed

Baie gemeentes bid vandag saam in die onderskeie ringe van ons kerk in die Oos-Kaap. Vir die pandemie, gesondheidsdienste, werkloosheid en armoede, plaaslike bestuur, droogte en waterkrisis, en geweld en misdaad.

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys.

Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Bybelgenootskap

Bybelgenootskap se groot 200ste verjaardag feesnaweek is volgende naweek, 23 Augustus. Die virtuele feeskonsert onder leiding van Richard Cock gaan iets besonders wees.

Hier is drie skakels. Die eerste twee is na hulle YouTube en Facebook platforms waar die erediens en feeskonsert gehoor kan word. Die derde skakel is indien enigiemand nog aan ons virtuele stap en draf vir Bybels wil deelneem.

Bydrae

Die Mina’s uit Egipte het ‘n bydrae. Bid ook vir hulle in ‘n moeilike tyd daar.

Slotlied

Kom ons sing van die God van ons hoop.

Vonkk 159 – Heer, ons dink aan Afrika

Seën

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees wees en bly met julle.

En die gemeente sê: “Amen!”

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.