“Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”
Tussen twee tuine
Die verhaal van die laaste dag in Jesus se aardse lewe speel hom af tussen twee tuine. Die tuin van Getsemane by die Kedronspruit aan die voete van die Olyfberg waar Jesus verraai is (Joh 18:1). En die tuin van Josef van Arimatea waar Jesus se liggaam toegedraai en begrawe is na sy kruisiging en dood (Joh 19:38).
Petrus verloën die Here Jesus in die binnehof
Tussen-in is daar die verhaal van die binnehof van die hoëpriester Annas waar Petrus by ‘n vuur gestaan het in die koue en die Here Jesus drie keer verloën het (Joh 18:15-18; 25-27).
‘n Mens het in die eerste tuin nog gesien dat Petrus vir die Here Jesus opkom. Judas het daar die Here Jesus verraai en sy genade verwerp. Petrus het daar egter nog die Here Jesus verdedig deur Malgus se oor af te kap. Sy verbintenis aan Jesus, al was dit op ’n verkeerde manier, was nog stewig.
Maar hier waar die gety draai teen Jesus, waar Jesus van kerk na staat gestuur word om die hoogste prys te betaal, hier faal Petrus se moed hom, en verloën hy die Here Jesus. Drie keer.
- “Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: ‘Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?’ ‘Nee, ek is nie!’ antwoord hy.” (Joh 18:17).
- ‘n Rukkie later: “Die mense by die vuur vra toe vir hom: ‘Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?’ Hy het dit ontken en gesê: ‘Nee, ek is nie!’”
- En nog later: “Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: ‘Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?’ Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.”
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS
Verwelkoming
Toetrede
Lied 205:1 Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun, vir liefde, genade verlossing en steun, dat elkeen wat glo nie verlore mag gaan maar ewig voor Hom as verloste kan staan – staan
Votum en Seëngroet
“Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” – Joh 18:9
Lofsang
Lied 199 Loof die Here uit die hemel, loof Hom deur wie ons bestaan (v1&3 almal, v2 koor) – staan (Teks: Ps 148)
Aanbidding
Lied 329 Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het, gegee het, sodat elkeen wat glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê – sit
Koor: Lied 331 Want so lief…
Kindertyd
Ons lees uit die Nuwe Testament vir Kinders
Slegte Mense Vang vir Jesus (Grégoire Guérard se skildery The capture of Christ)
1–11 Hierna is Jesus-hulle na ’n tuin in die Kedronvallei toe. Hulle het baie soontoe gegaan. Judas, wat Jesus verraai* het, het dit geweet. Hy vat toe ’n groot klomp gewapende polisiemanne saam met hom tuin toe. Hulle het vir Jesus gaan soek.
Jesus het geweet hulle kom. Toe hulle daar aankom, vra Jesus: “Wie soek julle?”
“Jesus wat van Nasaret af kom,” sê hulle. Judas het tussen die polisiemanne gestaan.
Jesus sê toe: “Dit is Ek.” Toe Jesus dit sê, skrik die soldate so dat hulle sommer oor mekaar val.
Jesus vra toe weer: “Wie soek julle?”
“Jesus, van Nasaret,” sê hulle weer.
“Dis Ek. Ek het mos so gesê. As julle My soek, los my vriende uit.” Jesus het mos belowe dat Hy hulle sal beskerm. Hulle sal niks oorkom nie.
Simon Petrus pluk toe ’n swaard uit. Hy kap na Malgus wat vir die Joodse leiers gewerk het. Hy slaan sy regteroor morsaf. Jesus keer Petrus. “Sit jou swaard weg. Ek moet gevang word. My Vader het dit so beplan. Wil jy miskien hê Ek moet ongehoorsaam wees?”
Slegte Mense Probeer Fout Vind met Jesus (Rembrandt van Rijn se skildery Petrus se verloëning)
12–14 Die polisiemanne gryp en boei toe vir Jesus. Hulle het Hom toe na Annas toe gevat. Hy was Kajafas, die belangrikste Joodse leier, se skoonpa. Hy het mos vir die Jode gesê dat Jesus liewer doodgemaak moet word as dat die Romeine almal kom doodmaak.
15–18 Simon Petrus en ’n ander vriend van Jesus het agter Jesus en die polisie aangeloop. Die vriend het Kajafas, die belangrike Joodse leier, geken. Hulle is na Kajafas se huis toe. Hy help toe ook vir Petrus om in Kajafas se agterplaas in te kom. Die wag by die huis was ’n vrou. Petrus stap verby haar. “Is jy nie een van Jesus se vriende nie?” vra sy skielik. “Glad nie,” sê Petrus.
In die agterplaas was ’n lekker warm vuur, want dit was koud buite. Almal het in ’n kring om die vuur gestaan om warm te kry. Petrus het ook by hulle gaan staan.
19–24 In die huis het Kajafas Jesus begin uitvra. Hy wou weet wat Jesus alles gesê het en wie sy vriende was. Jesus sê toe: “Ek het niks weggesteek nie. Ek het tot hier in julle kerke gepreek. Ek het nie in die geheim mense opgesweep nie. Ek gaan nie alles weer sê nie. Die mense wat My hoor preek het, weet wat Ek gesê het.”
’n Polisieman klap Jesus toe deur die gesig: “Jy praat nie so met ons leier nie,” skreeu hy.
Jesus vra toe: “Wat het Ek gesê wat verkeerd is? Sê My. As Ek niks verkeerds gesê het nie, waarom klap jy My dan?”
Annas stuur Jesus toe geboeid na Kajafas toe.
25–27 Petrus het nog by die vuur gestaan. “Is jy nie een van daardie man se vriende nie?” vra hulle.
“Julle verbeel julle,” sê Petrus.
“Jy was dan ook in die tuin saam met hom?” sê een van Malgus se familielede. Petrus het weer gesê dat dit nie so is nie. Net toe kraai die haan.
Geloofsbelydenis
Lied 543 Here Jesus, ek is klein, maak U self my lewe rein (v1 dames, v2 mans, v3 almal. Refrein steeds almal) – sit
Nagmaal
Lied 303 (Afr almal, Eng koor, Afr almal) Eet die brood, drink die wyn. Kom na Christus, Hy stil jou honger. Eet die brood, drink die wyn. Glo in Hom en Hy les jou dors – sit
Skriflesing
Johannes 18:1-27
Die verhaal van Getsemane tot net voor die kruisiging word in 6 episodes vertel:
- Jesus word gevange geneem– Joh 18:1-11;
- Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh 18:12-14;
- Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh 18:15-18;
- Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh 18:19-24;
- Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh 18:25-27;
- Pilatus verhoor Jesus – Joh 18:28-40.
Ons lees net die eerste vyf episodes (in die BDV).
Jesus word gevange geneem
(Matt 26:47-56; Mark 14:43-50; Luk 22:47-53)
1 Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels na die oorkant van die Kedronspruit vertrek, waar ‘n tuin was. Hy en sy dissipels het toe daar ingegaan. 2 Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaar gekom het. 3 Judas het toe met die kohort (tussen 200-1 000 soldate, gewoonlik 600) soldate, en die tempelwagte van die leierpriesters en die Fariseërs, met fakkels en lampe en wapens, daar aangekom. 4 Jesus het geweet van al die dinge wat met Hom sou gebeur en het uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” 5 Hulle antwoord Hom: “Jesus, die Nasarener.” Hy sê toe vir hulle: “Dit is Ek.” Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6 Toe Hy vir hulle sê, “Dit is Ek,” het die soldate teruggedeins en op die grond neergeval. 7 Hy het weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus, die Nasarener.” 8 Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle dan na My soek, laat hierdie mense gaan.” 9 Sodoende sou die woorde wat Hy gesê het, vervul word: “Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” 10 Simon Petrus het toe ‘n swaard wat hy gedra het, getrek en daarmee na die hoëpriester se slaaf geslaan en sy regteroor (die verkleinwoordjie dui moontlik op ‘n stukkie van sy oor) afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. 11 Toe sê Jesus vir Petrus: “Steek die swaard terug in sy skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?”
Jesus verskyn voor Annas
(Matt 26:57-58; Mark 14:53-54; Luk 22:54)
12 Toe het die kohort soldate en die chiliarg (die Romeinse offisier wat bevel voer oor 1 000 soldate) en die tempelwagte van die Jode Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13 En hulle het Hom eerste na Annas geneem. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. 14 Dit was Kajafas wat die raad aan die Jode gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf.
Petrus ontken die eerste keer dat hy Jesus ken
(Matt 26:69-70; Mark 14:66-68; Luk 22:55-57)
15 Simon Petrus en ‘n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was aan die hoëpriester bekend, en hy het saam met Jesus by die hoëpriester se voorhof ingegaan. 16 Petrus het egter buite by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was (waarskynlik Johannes), uitgestap en met die deurwag gaan praat en Petrus na binne gebring. 17 Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!” 18 Die slawe en die tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by ‘n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. Ook Petrus het hom daar by hulle gestaan en warm maak.
Jesus voor die Sanhedrin
(Matt 26:59-66; Mark 14:55-64; Luk 22:66-71)
19 Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. 20 Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21 Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” 22 Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom ‘n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” 23 Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” 24 Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur.
Petrus ontken weer dat hy Jesus ken
(Matt 26:71-75; Mark 14:69-72; Luk 22:58-62)
25 Simon Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” 26 Een van die hoëpriester se slawe, ‘n familielid van die een wie se oord Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?” 27 Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het ‘n haan gekraai.
Prediking
“Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”
Tussen twee tuine
Die verhaal van die laaste dag in Jesus se aardse lewe speel hom af tussen twee tuine. Die tuin van Getsemane by die Kedronspruit aan die voete van die Olyfberg waar Jesus verraai is (Joh 18:1). En die tuin van Josef van Arimatea waar Jesus se liggaam toegedraai en begrawe is na sy kruisiging en dood (Joh 19:38).
Petrus verloën die Here Jesus in die binnehof
Tussen-in is daar die verhaal van die binnehof van die hoëpriester Annas waar Petrus by ‘n vuur gestaan het in die koue en die Here Jesus drie keer verloën het (Joh 18:15-18; 25-27).
‘n Mens het in die eerste tuin nog gesien dat Petrus vir die Here Jesus opkom. Judas het daar die Here Jesus verraai en sy genade verwerp. Petrus het daar egter nog die Here Jesus verdedig deur Malgus se oor af te kap. Sy verbintenis aan Jesus, al was dit op ’n verkeerde manier, was nog stewig.
Maar hier waar die gety draai teen Jesus, waar Jesus van kerk na staat gestuur word om die hoogste prys te betaal, hier faal Petrus se moed hom, en verloën hy die Here Jesus. Drie keer.
- “Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: ‘Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?’ ‘Nee, ek is nie!’ antwoord hy.” (Joh 18:17).
- ‘n Rukkie later: “Die mense by die vuur vra toe vir hom: ‘Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?’ Hy het dit ontken en gesê: ‘Nee, ek is nie!’”
- En nog later: “Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: ‘Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?’ Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.”
EEN: Jesus deins nie terug vir die verraad, verloëning en kruisiging nie
Die evangelie van hierdie gedeelte is eerstens dat Jesus nie terugdeins vir die inhegtenisneming nie, en in die tuin selfs so ver gaan om Homself te identifiseer aan die soldate en wagte.
- Ons lees: “Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: ‘Vir wie soek julle?’ ‘Jesus van Nasaret,’ antwoord hulle Hom. ‘Dit is Ek!’ sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe Jesus dan vir hulle sê: ‘Dit is Ek!’ het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.” (Joh 18:4-7).
- Hy moes dus hulle vrees vir Hom oorkom in die donkerte van die tuin: “Hy vra hulle toe weer: ‘Vir wie soek julle?’ En hulle sê: ‘Jesus van Nasaret.’ Toe sê Jesus: ‘Ek het vir julle gesê dit is Ek.” (Joh 18:8).
- En tot die laaste getrou aan sy mense: “As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.” En hulle het (Joh 18:9).
TWEE: Hy was getrou ter wille van jou
En hierin lê die tweede deel van die evangelie opgesluit. Johannes sê, só: “sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: ‘Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.’” (Joh 18:9).
Ons sien hierin nie net Jesus se beheer van sy eie lewe nie, maar ook sy beheer oor die lewe van sy dissipels. Die soldate – waarskynlik ongeveer 600 van hulle – stribbel nie teë nie en laat die dissipels gaan.
Jesus kies dus om die roete van die kruis te volg, om nie met geweld die koninkryk van God te vestig nie, maar Homself daarvoor op te offer. Daarom keer Hy ook vir Petrus toe dié met geweld Hom probeer verdedig, genees nog die oor van Malgus, ‘n wonderwerk met sy inhegtenisneming.
Jesus moes die lydensbeker drink. Dit was sy opdrag en daaraan wou Hy tot die dood toe gehoorsaam wees. En ons moet sê, Goddank, Hy was getrou!
Maar, daar is meer. Hy was getrou ter wille van jou. Elke deel van hierdie pad het Hy deurstaan ter wille van jou. Regdeur die verraad van die eerste tuin. Regdeur die verloëning van die binneplaas. Tot in sy begrafnis in die tweede tuin.
Hy was getrou ter wille van jou.
DRIE: God se genade vir verspeelde kanse
Dit bring ons by die derde aspek van die evangelie in hierdie gedeelte.
Van een hoek gesien, is hierdie verhaal van die kruis natuurlik ‘n verhaal van verspeelde kanse. Dit is ‘n opeenstapeling van verspeelde kanse.
- Judas verspeel sy kans op inkeer.
- Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer.
- Annas en Kajafas verspeel hulle kans om Jesus ‘n regverdige verhoor te gee.
- Petrus verspeel sy kans om vir Jesus op te kom.
- Selfs Johannes wat ingeglip het tot in die hoëpriester se huis, verspeel sy kans om vir Jesus op te kom.
- Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee.
Maar in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen. Om die kans aan te gryp wat Hy het om die lewe vir ‘n Petrus en vir elkeen van ons te bring.
- Jesus gaan nie die verraaier teë nie. Judas het by die voetewas gekies om nie die reinigingshandeling ter harte te neem nie, maar sy hart te verhard en Jesus te verraai. Trouens, selfs ná die kruisdood kies hy om selfmoord te pleeg, eerder as om in berou voor Jesus se voete neer te kniel. Tot die einde het hy kanse gehad, maar dit vir ewig verspeel. Jesus het nooit sy aanbod van genade teruggetrek nie, totdat dit finaal verwerp is.
- Jesus dwing die Jode nie tot verering nie. Hy bly getrou aan sy boodskap wat op sy eie al die Jode moes laat dink het dat daar met integriteit opgetree word. Sy dade en woorde en wonderwerke het almal van een ding gespreek, dat Jesus God is en dat Hy sy genade nou finaal aan die wêreld kom openbaar het. Jesus was inderdaad die Messias wat die Jode vir só lank verwag het. Hy staan vóór die geestelike leiers, en hulle kies om Hom te verwerp. Hulle is volhardend verwerpend. Hy is volhardend genadig, totdat hulle dit finaal verwerp.
- Jesus dwarsboom ook nie hierna Pilatus se politieke en diplomatieke spel nie. Jesus getuig steeds van die waarheid, selfs al dra Hy die pyn van die onverdiende inhegtenisneming, die valse aanklagte, die ongehoorde geseling sonder voldoende rede. Hy verdra dit selfs dat Hy onskuldig bevind word, maar steeds gekruisig word. Watter bespotlike en belaglike toepassing van die Romeinse regstelsel. Geregtelike onreg. En Pilatus kies om sy hande in onskuld te was. Die waarheid is in sy hande, die Waarheid staan voor hom, maar hy kies téén Jesus, en vir sy eie magspel. Jesus dwarsboom hom egter nie, laat hom tot die einde ‘n kans om tot inkeer te kom, tot Pilatus dit finaal verwerp.
En tog, gee Jesus Homself oor aan hierdie onreg, verdra Hy dit geduldig, stribbel Hy nie teë nie, keer Hy nie die spykers in sy hande nie, verskreeu Hy nie die soldate wat in sy leed met Hom speel en spot en Hom seermaak nie. Hy gee nooit die waarheid op nie, Hy maak nie asof wat hulle doen reg is nie, maar Hy dwing dit nie op hulle af nie.
Hoekom? Omdat Hy die belofte van God aan almal wil bevestig, dat hierdie offer wat Hy gee, hierdie lyding wat Hy vir ons dra, die weg tot lewe sal wees vir almal wat in Hom glo. Vir almal.
Soos Paulus in sy diepsinnige Romeinebrief skryf: “Die Skrif sê tog (en hy haal uit Jesaja 28:16 aan): ‘Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.’” En hy voeg daarby: “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Rom 10:11-13).
VIER: God se genade is vir jou
Ek het ‘n dringende passie in my dat jy dié boodskap hoor en vir jouself toeëien. Want dit is die vierde aspek van die evangelie van hierdie gedeelte. Soos Paulus sê: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” Ek wil so graag hê dat jy die sekerheid sal kry dat Jesus ook vir jou hierdie boodskap gee. Soos Jesus sê: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”
Die skildery van Rembrandt wat ek vir die PowerPoint gebruik wys die oomblik van Petrus se verloëning. Dit is absoluut in fokus. Dit lyk so finaal. Dit is so publiek. Maar in die agtergrond is Jesus wat so oor sy skouer loer waar Hy in die hoëpriester se huis op valse aanklagte verhoor word. Daarin lê die evangelie van die skildery, en ook van hierdie gedeelte. Jesus wys met die kyk, oor sy skouer, uit die donkerte van sy eie pyn, Ek sal jou nie verlore laat gaan nie. Jy sal nie sink nie, Petrus.
Jy kan miskien ook ‘n paar verspeelde kanse in jou lewe onthou, waar jy die Here soos ‘n Petrus verloën het, waar jy ook gesê het, Ek ken die man nie, waar jy die maklike uitweg gekies het om nie vir die waarheid op te kom nie, om nie die helder visie wat God gee in die Skrif oor ons lewe, sonder om daarteen teë te stribbel, te aanvaar nie. Waar jy gevaar geloop het om soos ‘n Judas die reinigende hand van Jesus op jou te voel, maar te kies om dit nie ter harte te neem nie.
Dit is egter nooit te laat om ja te sê nie, om die Naam van die Here aan te roep, en Hom toe te laat om jou binnekant te verander en jou na sy bestemming vir jou te begelei nie. “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”
Ek wil só graag hê dat jy die genade van die Here sal ontvang en aanvaar en jou lewe aan Hom sal toevertrou. Die passie van my hele bediening hier.
My troos is dat die Here Jesus self sê: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”
En daarby sal ek my berus, maar nie sonder dat ek jou tot my laaste asemteug sal herinner aan wat Hy vir jou gedoen het, en watter vreugde dit vir jou sal gee as jy vir Hom ja sê nie.
Gebed
Dankoffers
Slotlied
Lied 514 Ek weet vir seker: Jesus is Heer – Hy het my sonde uit liefde vergeef – staan
Seën
Respons
Lied 514:2 (laaste 4 reëls) Hy is my Leidsman – Hy laat my leef. Hy is oorwinnaar – Hy is die Heer. Uit sy genade, liefde en trou, weet ons hoe God sy kinders behou – staan
* Om agter iemand se rug hom in die moeilikheid te bring.