Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan wat regtig omgegee het – Lukas 10:25-37

Jaar van die Bybel 2020
Tema: Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan wat regtig omgegee het
Lukas 10:25-37
Somerstrand 22 Maart 2020 09:00

Verwelkoming

  • Goeiemôre
  • Lekker om ons eerste virtuele erediens te hou.
  • Daar is nie vandag ‘n kindertyd nie. Ons sal dit mettertyd insluit.

Aankondigings

  • Onthou ons webtuiste: https://www.ngkerksomerstrand.co.za vir inligting. Dit is ook op ons aankondigings. Ook die Facebook blad https://www.facebook.com/somerstrandgemeente. Dit is die plek waar ons kommunikeer. Julle kan my ook Whatsapp by die nommer op die webtuiste.
  • Ons dink vanoggend aan almal wat siek is. Die COVID-19 virus is nie die enigste gevaar nie.
  • Ek het gebel om te hoor hoe dit gaan met ons mense wat siek is, en sal so met verdrag by meer mense hoor hoe dit gaan. Erra Cilliers, Henry Rautenbach, Jean Struwig. Erra is uit die hospitaal. Estelle sê dit gaan goed met hulle onder omstandighede. En Jean werk steeds voltyds al maak die behandeling haar moeg.
  • Ons bid ook vir almal wat deur die pandemie geraak word. Bv besighede. Om net een voorbeeld te noem, die sluit van die KKNK het ‘n invloed op een van ons lidmate wat daar sou gaan uitstal. Dit is maar net een voorbeeld van die effek wat die self-isolasie op mense het. Om nie te praat van beleggings nie. Ons almal word hierdeur geraak, al is dit net met die beperkings wat nou op normale sosiale verkeer geplaas word.
  • Vir gesondheid. Hou by die voorskrifte wat ons met julle gedeel het. Bid vir mekaar. Die Here sal ons hierdeur dra.
  • Geluk met die verjaarsdae. Dit gaan uiteraard nou meer intieme geleenthede wees! Geluk Gerrit Cilliers, Elizabeth Jacobs (in Australië!), en Saskia Weitz. Julle verjaar vandag. Die res van die verjaarsdae kan julle op die webtuiste sien. Bel en reik uit!
  • Laastens – die kerkkantoor is finaal gesluit. Dit is ter wille van almal se veiligheid. Ons sal steeds op e-posse reageer. En julle het my selnommer. Gebruik dit.

Votum en Seëngroet

Lofprysing

Ons het nog nie ‘n lisensie vir musiek nie. So ek lees net die teks van Psalm 23, die Psalm vir alle seisoene van die lewe, ook hierdie seisoen:

Die HERE is my herder;  ek ly nie gebrek nie.  2 In groen weivelde laat Hy my rus;  na water waar daar rusplek is, lei Hy my.  3 Hy gee my nuwe lewenskrag;  Hy lei my op die regte paaie  ter wille van sy Naam.  4 Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,  is ek nie bang vir gevaar nie,  want U is by my.  Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.  5 U dek vir my ‘n tafel  voor die oë van my teenstanders.  U verfris my kop met olyfolie;  my beker loop oor. 6 Net goedheid en troue liefde sal my volg  al die dae van my lewe,  en ek sal bly terugkeer  na die huis van die HERE,  tot in lengte van dae.

Voorbidding

Skriflesing en prediking

Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan wat regtig omgegee het – Lukas 10:25-37

Hoe voel jy oor mense wat jou te na kom?

Hoe voel jy oor mense wat jou te na kom? Wat jou inloop? Wat jou verneder? Wat jou as minderwaardig beskou?

Ons het op die oomblik meer tyd om oor hierdie dinge na te dink. En die gedagtes kan jou frustreer, ontstel, laat dink om op te tree, om mense by te kom.

Miskien dink jy dan ook aan mense wat die evangelie teenstaan. Dit wil sê waar dit nie oor jouself gaan nie, maar oor die evangelie van Jesus Christus. En hulle jou getrouheid aan die boodskap van die Skrif teen jou gebruik. Jou vervolg.

Hoe voel jy oor sulke mense?

Hoe hanteer jy sulke mense?

Skud die stof aan jou voete af

Aan die een kant is die Skrif duidelik daaroor dat jy sulke mense moet uitlos. Hulle aan die Here moet oorgee. Nie jou tyd moet mors om hulle anders te probeer oortuig nie.

Soos Jesus aan die begin van Lukas 10 gesê het met die uitsending van die sewentig dissipels:

“as julle in ’n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle.’” (Luk 10:10-11).

Jesus het daarby gevoeg dat sulke mense aan die einde van die tyd hulle oordeel sal ontvang:

“Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” (Luk 10:16).

En die dissipels was baie bly toe hulle terugkom en alles vir Jesus vertel wat hulle ervaar het. Die strategie het gewerk. Baie mense het geluister en hulle kon hulle verheug in die verspreiding van die evangelie. Ander het nie geluister nie, maar hulle kon doodgewoon verder gaan en dié mense aan die eindoordeel oorlaat.

Jy mag niemand aan sy lot oorlaat nie

Aan die ander kant is die Skrif ook duidelik daaroor dat ‘n mens nooit iemand in nood kan uitlos nie. As ‘n vyand se donkie gaan lê onder sy las, mag jy hom nie aan sy lot oorlaat nie, sê die Here vir Moses (Eks 23:5).

Die gevaar was daar dat die dissipels hierdie strategie van laat-los só omarm dat hulle al hoe meer mense aan hulle lot sou oorlaat, selfs waar hulle moontlik ontvanklik vir die evangelie kon wees.

Die dissipels het immers net voor hulle groot sending uitreik ‘n probleem opgetel in Samaria. Daar was ‘n dorpie van die Samaritane wat die dissipels nie wou toelaat om vir Jesus daar verblyf te reël nie (Luk 9:51-55).

Die Samaritane het agtergekom dat Jesus na Jerusalem op pad was. Hulle het ‘n hewige renons in Jerusalem gehad, omdat hulle Samaria as hoofstad beskou het. Hulle het Jerusalem gehaat en alles waarvoor dit gestaan het.

Dit was boonop ‘n wedersydse haat. Die Samaritane was van ‘n gemengde afkoms, en die Jode het soveel waarde geheg aan hulle suiwer stambome. Hulle kon dit nie verdra dat die Samaritane ‘n mengsel van Jode was wat met ander nasies ondertrou het in die tyd na die eerste ballingskap nie.

So, Jesus kon nie by die Samaritane oorbly nie. Hy was vir hulle net nie aanvaarbaar nie. Hulle het Hom weggejaag.

Die dissipels was briesend daaroor. Hulle wou die Samaritane ‘n les leer.

Jakobus en Johannes – die twee broers wat Jesus “die seuns van die donder” genoem het (Mark 3:17) – wou vuur uit die hemel laat neerdaal om hulle te verteer, soos ‘n Elia van ouds (2 Kon 1).

Dit is nou die tyd van genade

Jesus het hulle egter tereg gewys daaroor. Die tyd vir oordeel sou kom, maar eers aan die einde van die tyd. Dit was nou die tyd van genade. Jesus wil nie hê sommige mense moet verlore gaan nie. Hy wil hê dat almal tot bekering moet kom (2 Pet 3:9).

Toe kom die geleentheid om die dissipels verder in te lei in wat hierdie genade van ‘n dissipel van Jesus vra, Lukas 10:25-37:

25En kyk, ’n wetgeleerde het opgestaan en Hom probeer uitvang en gesê: “Leermeester, wat moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan ontvang?”

26En Hy het vir hom gesê: “Wat staan daar in die wet geskrywe? Hoe lees jy daar?”

27En hy het geantwoord en gesê: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand,’ (Deut 6:5) en jou naaste soos jouself (Lev 19:18).”

28En Hy het vir hom gesê: “Jy het reg geantwoord; doen dit en jy sal lewe.”

29Maar omdat hy homself wou regverdig, het hy vir Jesus gesê: “En wie is my naaste?”

30Jesus het geantwoord en gesê: “’n Man was besig om van Jerusalem na Jerigo af te gaan en het in die hande van rowers geval, wat hom uitgetrek en herhaalde houe toegedien het, en weggegaan het en hom halfdood agtergelaat het.

31En per toeval was ’n priester besig om af te gaan op daardie pad, en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan.

32En net so was daar ook ’n Leviet, toe hy by die plek kom en hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan.

33Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het by hom gekom en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry,

34en hy het nadergegaan en sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. En nadat Hy hom laat opklim het op sy eie rydier, het hy hom geneem na ’n herberg en hom versorg.

35En die volgende dag het hy twee denarii (‘n Denarius was ‘n silwergeldstuk wat ongeveer 4 gram geweeg het, min of meer gelyk aan ‘n dag se loon) uitgehaal en vir die herbergier gegee en gesê: “Sorg vir hom, en wat jy ook al meer spandeer, sal ek jou betaal by my terugkoms.”

36“Wie van hierdie drie dink jy het die naaste geword van die een wat onder die rowers beland het?”

37En hy het gesê: “Die een wat barmhartigheid aan hom bewys het.” En Jesus het vir hom gesê: “Gaan en maak jy net so.”

Ek wil hê jy moet drie goed raaksien in die teks.

1. Die eerste is die wetgeleerde wat homself probeer regverdig met sy vraag oor wie is sy naaste (vers 29). Die 1983-vertaling het gesê, hy het homself probeer handhaaf.

Dit is ons “default” reaksie in ons hantering van mense. Ons wil beheer neem, die skade beperk. Quid pro quo.

Dit is hoe die dissipels gereageer het teenoor die Samaritaanse dorpie. Die Samaritane het Jesus sleg behandel. Hulle wou Hom nie toelaat om by hulle oor te bly op sy reis nie. Daarom wou die dissipels hulle met vuur uit die hemel doodmaak.

Die probleem daarmee is dat dit ons in volslae vyande sal verander. Dat ons mekaar sal wil uitwis. Dat ons mekaar as onversoenbare vyande beskou en so ‘n muur tussen ons bou. ‘n Oog vir ‘n oog. ‘n Tand vir ‘n tand.

Ja, ons hoef nie vloermatte te word van die Samaritane nie. Ons kan ons vrede terugtrek as hulle ons nie wil ontvang nie. Soos Jesus dit net voor die ervaring in Samaria vir die dissipels geleer het toe Hy hulle na die Joodse dorpies gestuur het. Die laat-los strategie.

Maar, ons moet waak daarteen om só skerp te reageer op teenstand dat dit gesprek vorentoe heeltemal onmoontlik maak met ander “Samaritane”, mense wat anders is as ons.

Want, waar ons mense wil uitwis, beteken dit ons kan gemaklik verby die nood van ons naaste kyk, veral waar hulle een of ander ooreenkoms met die gehate Samaritane het. Want, ons het dan ‘n verskoning. Ons kan ons gewete gerusstel. Ons kan hulle verdoem sonder om sleg te voel daaroor.

In hierdie tyd wat ons in elk geval tot self-isolasie gedwing word, kan dit maklik beteken dat ons doodgewoon nie meer omgee nie. Want, ons mag dan nie kontak maak nie. Wat ‘n verskoning!!!

2. Die tweede is die feit dat Jesus ‘n Samaritaan die weldoener maak in die gelykenis.

Dit sou die wetgeleerde se oë laat rek het!

Jesus kies mense vir sy gelykenis wat direk tot dié wetgeleerde sal spreek – mense uit sy eie omgewing, mense vir wie hy sou bewonder en soos wie hy selfs sou wou wees. Die priester en die Leviet. Ook die barmhartige Samaritaan.

Deur hierdie mense te kies, kan Jesus die wetgeleerde se gebrek aan omgee op die beste diepsinnige wyse illustreer. Want, anders as wat die wetgeleerde sou verwag het, is dit die gehate Samaritaan, die een wat van gemengde afkoms is, die een wat nie die hele Skrif as God se Woord aanvaar het nie, wat die held in die verhaal is.

Maar dit is nie al nie. Die gelykenis sou ook die dissipels se oë laat rek het!

Want, hulle het so pas gesien hoe die Samaritane optree. Hulle het die gevaar geloop dat dié ervaring sou keer dat hulle ooit by enige Samaritaan hierna sou betrokke raak.

Jesus wou dus nie net die wetgeleerde op sy gebrek aan omgee wys nie. Hy wou vir die dissipels wys hoe genade werk, sodat hulle met oorgawe by die nood in die wêreld betrokke sou raak. Selfs by dié mense wat hulle om goeie redes eintlik aan hulle eie lot sou kon oorlaat.

Jesus wou die dissipels leer om heel anders na mense te kyk, selfs na mense wat jou benadeel, of mense wat jy eintlik as jou vyande beskou.

Jesus sou later vir hulle nog verder hierdie les omklink. Die les om die pyn van onregverdige lyding te dra. Om te vergewe, selfs al kap hulle spykers in jou hande terwyl jy dit doen. Soos Jesus dit moes doen:

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk 23:34).

Soos ook Stefanus dit sou ervaar. Hy het gebid met die klippe wat op hom gereën het:

“Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie.” (Hand 7:60).

3. Die derde is dat die Samaritaan ‘n naaste word van die man wat onder rowers geval het.

Dit is die punt wat Jesus maak en waartoe Hy elke dissipel van Hom roep. Hy draai die vraag van die wetgeleerde om:

“Wie is my naaste,” en vra vir elkeen van ons: “Wie was ‘n naaste?”

En die antwoord was uiteraard, die Samaritaan. Hy was ‘n naaste.

En dit is soos hierdie Samaritaan wat ons moet wees.

Uiteindelik is Jesus natuurlik die beste voorbeeld van die barmhartige Samaritaan. Dit is Jesus wat uitreik na elkeen in nood en heling en herstel aanbied in ons verhouding met God.

Jesus beskou ons as sy naaste, is ons naaste. Hy beskou ons as die mense wie se wonde Hy verbind, vir wie Hy herberg voorsien, vir wie Hy instaan om self verder voor te sorg.

Daarom kan ons soos die barmhartige Samaritaan ‘n naaste wees vir die mense rondom ons, selfs al het hulle ons benadeel. Selfs al is ons vyande.

Kom ons wees prakties

Daar is baie kreatiewe maniere waarop ons kan uitreik. Ek sluit aan die einde ‘n artikel in oor 10 maniere waarop ons mekaar steeds kan ondersteun.

  • Ons kan mekaar bemoedig.
  • Ons kan uit ons oorvloed ander bedien.
  • Ons kan hoop gee deur ons verhale te deel.
  • Ons kan vrese besweer.
  • Ons kan tyd aan familie spandeer.
  • Aan die Here.
  • Aan die Bybel.
  • Ons kan verblyf verskaf vir ander wat dit nodig het met die nodige voorsorgmaatreëls.
  • Ons kan ons werkers billik behandel en hulle help om met een of ander vorm van vergoeding die uitdaging van self-isolasie te bowe te kom.
  • Ons kan intree by die God van die wêreld om uitkoms te gee. As getuienis van sy Almag en Omgee.

Gebed

Afsluiting

Twee artikels wat jy gerus kan lees:

  1. Die eerste is oor die vraag wat baie mense vra oor die eindtye. Is hierdie virus ‘n teken dat die einde van die tye op hande is?
  2. Die tweede is Tien maniere om na mekaar uit te reik in hierdie tyd. Nommer vyf is veral relevant (Bless others with our blessings):

Volgende week sal ek weer kleingroepmateriaal verskaf.

Dankoffer en kollektes

NGK Somerstrand
Absa Tjekrekening 01008731388
Takkode 632005

Seën

Die Here seën jou en beskerm jou.

Die Here se gesig skyn oor jou en Hy is jou genadig.

Die Here lig sy gesig op na jou en Hy gee aan jou vrede.” (Num 6:24-26)

Respons

En die gemeente sê: Amen!

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.