Volhard – Jakobus 5:7-11
Jakobus fokus op die praktiese Christelike lewenswandel. Hy moedig gelowiges aan om te fokus op die praktyk van hulle geloof. Hulle moet geestelik volwasse word om te kan volhard in die geloof.
Elke uitdaging wat hulle beleef, bou hulle geloof, help hulle om te volhard:
“sodat hulle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks tekort skiet nie.” (Jak 1:2-4).
Uit die brief lei ons af dat die meeste van die gelowiges arm was. Daar was enkele rykes in hulle geledere, maar Jakobus is nie baie positief oor hulle nie. Hy spreek die rykes baie skerp aan om nie onderskeid te maak tussen dié wat belangrik is en dié wat in oë van die samelewing onbelangrik is nie. En hy brei uit oor hoe hulle die armstes van die armes kan help (Jak 2:13-17).
Maar almal – ryk en arm – word aangemoedig om nie deur wêreldse invloed meegesleur te word nie, want dit sal hulle almal laat uitsak uit die Christelike lewe. Of dit nou is vanweë beproewings (Jak. 1:2, 12), of versoekings (Jak. 1:13), of uitbuiting (Jak. 1:19-21; 2:6; 5:4), of vooroordele (Jak 2:2) of onderlinge konflikte (Jak 4:1).
Hulle moet hulle nie daardeur laat afsit nie. Rykes moet armes nie blameer nie. Armes moet rykes nie blameer nie. Die omstandighede waaronder hulle lei moet hulle nie afskrik om die Here voluit te dien nie.
Die uitdagings wat daar maar altyd in ‘n geloofsgemeenskap is, moet ook nie die skuld kry en jou laat kwaad praat van ander (Jak 4:11) of laat kla oor ander nie (Jak 5:9).
Inteendeel, hulle moet soek vir die vreugdes wat God gee in beproewing (Jak 1:2,12) en eerder die talle kere wat Hy juis hulle gebede verhoor het, vier (Jak 1:5-8). God se vreugdes en sy gebedsverhorings sal hulle help om te volhard beide in vasberade gehoorsaamheid aan die Here en in voortdurende gebed.
Jakobus moedig die geloofsgemeenskap dus aan tot volharding in die geloof. In hoofstuk 5 gee Jakobus vier perspektiewe op God wat hulle hierin moet help. (more…)








