Wat is die Drie-eenheid?
Verlede week het ons gepraat oor ons Godsbeeld. God is groot en genadig, goed en getrou. Hy sorg vir alles en almal, vol liefde en trou. (Download English Version: Luke 1_26-38 – Trinity)
Met die droogte in die tyd van Elia het God geïllustreer dat Hy die kosmos beheer. Met die kraaie by die Kritspruit het God geïllustreer dat Hy vir sy profeet kan sorg. Met die meel en olie wat nie opraak in die kruike en kanne van die weduwee van Sarfat nie het God geïllustreer dat Hy self kos kan voorsien. Met die seun van die weduwee van Sarfat se opwekking uit die dood het Hy geïllustreer dat Hy selfs beheer oor die dood het.
En daarmee het God ons ook ‘n voorsmakie gegee van die opstanding uit die dood van sy Seun Jesus juis ná die dood aan die kruis … en die hoop in ons aangesteek van ons eie opstanding ná ons dood. Soms is die opstanding uit die dood reeds in hierdie lewe, soos talle dit al ervaar het. Soms is dit eers aan die einde van die tyd. Maar, opstaan sal ons opstaan!
Maar, hierdie prentjies van God is maar net uit een hoofstuk in die Bybel, 1 Konings 17, soos wat Elia dit vir ons vertel … daar is 1188 ander hoofstukke. Dink ‘n bietjie oor die grootheid daarvan.
Want, ons het sulke stories oor God nodig in ons tyd. Ons moet dit aanmekaar vir mekaar vertel. Want ons Godsbeeld bepaal ons menswees. Ons Godsbeeld bepaal ons wêreldbeeld. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te glo. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te hoop. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te doen. Ons Godsbeeld bepaal waarvoor ons bereid is om ons lewe te gee, selfs al kos dit ons dood.
Waar jou God groot is, is jy bereid om groot dinge vir Hom te waag. Waar jou God genadig is, is jy bereid om God te gehoorsaam. Waar jou God goed en getrou is, is jy bereid om God vir kos en water te vertrou. Waar jou God vir alles en almal sorg, waar Hy vol liefde en trou is, is jy bereid om in te tree vir die uitdagings wat mense ervaar, selfs waar hulle die erge kruis van die dood moet trotseer.
Die omgekeerde is ook waar. Waar jou Godsbeeld vervaag, of jy die verkeerde idee van God begin kry, kan jy eintlik nie anders as om vir jouself te begin sorg, om volgens jou eie behoeftes te begin leef. Raak jy die maatstaf vir jou eie lewe en vir dié van ander.
Waar jy met die verkeerde idee van God begin werk, skep jy jou eie gode, leef jy volgens jou eie kode. Begin jy jou eie voordeel soek. Lei dit tot uitbuiting, die grootboere teen die kleinboere, die konings teen hulle onderdane, die magtiges teen die eenvoudiges. Hele gemeenskappe verval in onsedelikheid en anargie waar God nie meer beleef en gedien word nie.
Dit is uit hierdie hoek wat ons moet dink oor die Drie-eenheid. Want die beskrywing van God as die Drie-eenheid is die beste en grootste prentjie van Hom wat ons het. Dit is die beste verduideliking van wie God is. Dit is die diepste prentjie van wie God is. Misterieus. Groots. Ontsagwekkend. Onpeilbaar. Soos ‘n waterpoel waarvan jy die diepte nie kan meet nie. Soos die heelal waarvan jy die einde nie kan raaksien nie. Maar helder en duidelik.
En laat niemand jou vertel dat dit ‘n prentjie is wat die vroeë kerk geskep het. Asof dit nie duidelik in die Bybel na vore kom nie. (more…)