Gen 50:15-21 – Son 14 Sep 08

GENESIS IS ‘N BOEK OOR FAMILIES.
  • As Adam alleen tussen die diere woon, gee God vir hom ‘n vrou.
  • As Kain vir Abel doodslaan, en Kain ‘n swerwer word, dan sorg God dat Adam en Eva se familie nie doodloop nie, en Set word gebore.
  • As Noag ‘n boot bou om die oordeel van God te trotseer, dan neem hy sy vrou en seuns saam met sy skoondogters saam met hom in die Ark.
En so kan ‘n mens aangaan, Abraham, Isak, Jakob en uiteindelik ook Josef – elkeen se storie word as familie stories vertel, uitgebreide familie stories, met neefs en niggies en ooms en tannies en goeie en slegtes.  Selfs die slawe word ingesluit in die familie stories.
GENESIS HELP JOU OM JOU EIE FAMILIE VERSTAAN
En daar is nie ‘n intrige wat jy en ek in ons eie families kan beleef, wat jy nie op ‘n manier terugvind in Genesis nie.
  • Het julle ‘n weerbarstige ou in die familie?  Dink aan Lameg (Gen 4) – hy was sewe keer erger as Kain!
  • Het julle onheilige verhoudings?  Niks kom by die storie van Lot en sy dogters nie – en dit het ernstige langtermyn gevolge gehad vir die Midde-Oosterse situasie met broers, Jood en Palestyn, wat dit nie met mekaar kan uithou nie.
  • Het julle konflik?  Wel konflik is die “name of the game” in Genesis, tussen Adam en Eva, tussen Kain en Abel, tussen Abraham en Sara, tussen Sara en Hagar, tussen Jakob en Esau, tussen Josef en sy broers.  Die mense het ‘n lae frustrasie drempel gehad – soos ‘n sielkundige nou die dag opmerk.
  • Het julle ‘n schemer in die familie?  Dink aan Jakob – hy het nie sy gelyke gehad nie!  Sy broer, sy pa, sy oom, sy kinders – almal loop deur onder sy skemas!  Hy het natuurlik ‘n uitsonderlike ma, Rebekka, gehad, wat self kon onderhandel, reeds al by die put met die kneg van Abraham, en sy het vierkantig op Isak se kop gesit.
  • Het julle ‘n heilige in die familie?  Niemand was heiliger as Henog nie – hy het naby God geleef (5:24) – en Noag – sy pa het van hom gesê: “hierdie seun sal ons opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.” (5:29)
  • Het julle ‘n bedaarde effens ingetoë ou?  Dink dan aan Isak, hulle moet selfs sy vrou vir hom êrens gaan haal.
  • Het julle ‘n wyse?  Wel Josef vat die koek as dit kom by wysheid – hy is ook die arrogantste, maar dis so ‘n bietjie vroeër in sy lewe.
Genesis is dus ‘n verhaal wat jy moet lees as jy die dinamiek van jou eie familie wil verstaan, en wil agterkom hoe God werk met families, en jou eie rol beter wil verstaan.  Volgende kwartaal gaan ons in die Bybelskool onder andere daaroor verder gesels.

Die verhaal van Josef word ook as ‘n familie storie vertel.

En daar is baie van hulle – as Jakob op Josef se uitnodiging uiteindelik Egipte toe trek, is hulle ‘n groep van so 150 (70 mans – 46:26)!

Maar ons tref die familie aan by ‘n baie netelige situasie as die aartsvader Jakob in Egipte sterf en dit ou wonde oopkrap.
  • Lees Genesis 50:15-21

Continue ReadingGen 50:15-21 – Son 14 Sep 08

Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08

VERWELKOMING

Ons erediens gaan vandag ten diepste oor ons identiteit.
  • Ons identiteit is dikwels gekoppel aan ‘n bepaalde plek, bv. mense wat sê: “ons is Bosvelders”.
  • Soms is dit gekoppel aan ‘n bepaalde werk wat ons doen of aan ‘n besondere lewensstyl. 
  • Dit is meestal ook gekoppel aan ons moedertaal. 
  • Maar vir Christene word ons identiteit ten diepste bepaal deur wat God van ons dink en die soort verhouding waarin ons met Hom leef. 
Kom ons raak nou stil en dink elkeen na oor ons identiteit.
  • Wat is jou kern-identiteit?
  • Wie is jy regtig?
  • Praat in stilte met God daaroor en wy jouself opnuut aan Hom.
  • Raak bewus van die feit dat God hier is en jou uitnooi om by Hom te kom rus.
  • Dink dan daaraan dat dit deel van jou identiteit is - dat jy iemand is wat by God rus vind.

VOTUM EN SEËNGROET

LOFLIEDERE

‘n Christelike identiteit  gaan in die eerste plek oor ‘n gerigtheid op God.

Die eerste woord wanneer ons byvoorbeeld oor die NG Kerk identiteit praat, behoort nie “Gereformeerd” te wees nie. Ons is nie in die eerste plek “Gereformeerdes” nie. Ons is in die eerste plek “christene”, mense wat aan God behoort en in Hom leef en wandel.

Ons bely dus nie ‘n Gereformeerde geloof nie, maar, saam met die kerk van die eeue, bely ons die Christelike geloof (soos byvoorbeeld in die twaalf artikels opgesom).

Tog weet ons dat hierdie Christelike geloof nie “uit die lug” val nie.

Daar lê  ‘n interpretasie en ‘n geskiedenis daaragter.

En in ons geval, verstaan ons die algemene christelike geloof, wat al vanaf die apostels kom, vanuit ‘n Gereformeerde perspektief. Die sinode het verlede jaar ‘n dokument oor Gereformeerde Identiteit goedgekeur en ek het dit opgelaai op die voorblad van ons webtuiste.  Dit bevat nege kernpunte oor God, die kerk, die koninkryk, die verbond ens.  Ek sal bly wees as julle dit daar aflaai en lees.

Om ons geloof te vier, bely ons graag ons geloof in woord en sang.  En die diepste hart van ons geloof, van enige Christen se lewe, is ons Here Jesus Christus.  Ons liedere gaan dus uitmond in ‘n loflied op Hom.

  • Lied 154 “Kom nou tesaam , laat ons vergader” staan
  • Lied 167 “Jesus , bron van al my vreugde” staan
  • Lied 177 “Jesus , gróót bo almal”(x2)  sit
 

Continue ReadingMatt 16:13-20 – Son 24 Aug 08