Deuteronomium 6:1-9 – Gesin Vernuwing
God is vir ons
Ek het twee weke terug ’n bietjie deur Genesis gewerk vir my preek verlede Sondag by Klema, en net weer onder die besef gekom dat God ons op ’n baie spesiale manier gemaak het. Ons is Sy verteenwoordigers. Hy het ons gekies uit alles wat bestaan, as sy beeltenis, as dié skepsels wat Sy merk dra, wat lyk soos Hy, wat is soos Hy.
Dié God is net so angstig oor ons as wat ons oor ons eie kinders is. Hy is net so begerig soos ons is oor ons eie kinders, dat Sy karaktereienskappe in elkeen van ons tot hulle reg sal kom. Hy wil Homself sien in wie ons is en hoe ons leef en optree.
Sy droom vir ons is steeds presies wat dit in die tuin van Eeden was – ons moet die aarde bewoon, bewerk en bewaar. Hy wil hê dat ons veilig en voorspoedig woon op hierdie aarde. Hy wil hê dat ons lewensvervulling in ons werk en verhoudings sal ervaar. En Hy wil deur ons die wêreld ’n leefbare plek sal maak, beide in terme van die evangelie van Jesus Christus as in terme van die bewaring van die aarde.
En God gee vir ons alles wat ons nodig het om te floreer en met oorgawe die lewe te kan geniet. Die lewe in oorvloed, Sy lewe deur die Gees wat in ons werk, Sy teenwoordigheid waarop ons kan vertrou.
As ek terugdink aan my jongdae was my aardse pa altyd daar vir my, op vele maniere. My ma was daar vir my, op vele maniere. Hulle het saam ’n ruimte geskep waarin ek kon ontwikkel en groei en myself kon wees.
Dit is wie God ook is vir ons. Maar nog baie meer en baie dieper as dit. Hy is die ruggraat van ons lewens. Hý is die Een wat voorsien, wat vrymaak, wat nuwe lewe gee. Ons kan Hom daarvoor vertrou.
En dit is ook Hý wat jou sal help om ’n pad met jou kinders te loop. En om ’n pad met jou ouers te loop …!