Handelinge 2:42 – Die Connect Faktor – Son 2 Nov 08

Ek wil julle vandag vir ‘n toer deur die boek Handelinge neem, veral die eerste 10 hoofstukke.  Ek wil wys hoe die eerste Christene geestelik gegroei het as ‘n aansporing en motivering vir jou eie reis met God en met ons. En ek gaan drie fases uitlig: Connection (onderlinge verbondenheid); Inoefening; Bediening.  
En ek besef, die boodskap is op een vlak, baie basies, maar op ‘n ander, ongelooflik beslissend.

Ons maak die fout om te praat hieroor asof dit opsioneel is, asof die onderlinge verbondenheid ‘n keuse is, asof ons aan Jesus kan glo, en nie onderling verbonde hoef te lewe nie, en daarby nie hoe te oefen in die leerskool van die gemeente nie, en nie hoef te groei tot ‘n bediening nie. En so misverstaan ons en verraai ons die evangelie.  Dwight Moody het gesê: “Christene se lewe is die wêreld se Bybel – en sommige van dié “uitgawes” het hersiening nodig.

EERSTE FASE: CONNECTION

Die verhaal begin met Jesus se hemelvaart en die belofte van die Heilige Gees.  “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ...” (1:8)

En wat doen die dissipels – hulle is dadelik terug Jerusalem toe en “het almal eensgesind volhard in die gebed ...” (1:14)

Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle dus almal op een plek bymekaar.  En hulle ervaar die wonder vervulling met die Heilige Gees, tonge van vuur wat op elkeen kom en hulle tonge aan die brand steek om van die groot dinge wat God gedoen het, te vertel.

En as 3000 mense tot bekering kom by die aanhoor van dié getuienis, lees ons in 2:42: “Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels (die didage), en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.”

En let op – die meeste van die groot dinge wat met die eerste kerk gebeur, gebeur waar hulle saam is, waar hulle saam bid, waar hulle saam eet, waar hulle saam bedien. 

Continue ReadingHandelinge 2:42 – Die Connect Faktor – Son 2 Nov 08

Johannes 12:22-26 – Son 19 Okt 08

Johannes vertel van ‘n aantal Grieke wat ‘n hoë agting vir die Joodse geloof gehad het.  Hulle het na die paasfees gekom om te aanbid.  Met die groot intog van Jesus in Jerusalem op die rug van ‘n donkie, het hulle gedink: dié Jesus moet ons ontmoet!  Hulle gaan praat toe met Filippus, moontlik omdat hy ’n Griekse naam gehad het en van Betsaida af gekom het, waar baie Jode vergrieks het en hulle kinders Griekse name gegee het.  Filippus was ‘n ywerige volgeling van Jesus, wat met die aanvanklike roeping van Jesus sommer ook vir Natanael bygesleep het om Jesus te volg (Joh 1).

Filippus doen nou eintlik dieselfde, en gaan praat eers met Andreas, wat ook ‘n Griekse naam gehad en saam met Filippus en Petrus van dieselfde omgewing gekom het, en saam gaan vertel hulle toe vir Jesus van die wonderlike ding wat besig is om te gebeur: nie-Jode begin nou ook na Jesus toe kom.

Dié boodskap het Jesus soos ‘n skoot yskoue water getref.  Want Hy het onmiddellik besef, “die tyd het gekom”. Die tyd vir die offer vir die verlossing van mense oor die hele wêreld het aangebreek.

Maar, al is hy baie bewus van wat dit gaan kos, ‘n kruis, praat Hy daaroor as ‘n verheerliking (doxazō).  Hoekom?  Want deur die dood sien Hy ook die opstanding en die verlossing van die kosmos.

Laai die hele erediens hier af.

 

Continue ReadingJohannes 12:22-26 – Son 19 Okt 08

Fil 2:1-13 – Son 28 Sept 08

 

Filippense 2

 

Paulus wil ons in Fil 2:1-4 herinner hoe om kerk te wees. (Laai die hele preek hier af)

Luister na die Word on the street se weergawe daarvan:

Some questions: (Check Yes or No)
Are there big pay-offs to having this connection with the Liberator? Yes/No
Does His love get you through the dark times? Yes/No
Does His Holy Spirit pull you together? Yes/No
Are you moved when tragic things happen? Yes/No
If you checked yes to all of the above, then make my day - love each other!
Be united, be one, pull together, sing off the same page. 
Don’t elbow people, step on people, stab  people in the back just to get yourself noticed.
Put a mirror to the real you, with no fancy “soul enhancing” lighting special effects;
then look back at anyone else and reckon they’re better than you.
Don’t just look after number 1, but also look out for each other.

Paulus het in die vorige perikoop gepraat oor drie goed:

  • Dat die gelowiges hulle allerbeste moet gee;
  • Dat hulle vir Christus moet lewe – veral dat hulle lewens al hoe meer moet ooreenstem met hoe die Bybel dit uitspel;
  • Dat hulle as vriende moet lewe – bv. saam moet stry vir die boodskap van die evangelie.

Sy motivering was, daar is groot teenstand van buite af, en sonder eenheid sal hulle nie kan staande bly nie.

In hoofstuk 2 praat hy verder hieroor, maar fokus op die gevaar wat van binne af kan kom, as gelowiges nie mekaar liefhet en een van hart en een van strewe, lewe nie.

Continue ReadingFil 2:1-13 – Son 28 Sept 08

Fil 1:20-30 – Son 21 Sept 08

Drie aspekte van Paulus se woorde in die gedeelte tref my.  Ek wil dit as volg opsom:

  • Lewer altyd jou beste!
  • Lewe ter wille van Christus
  • Lewe as vriende
LEWER ALTYD JOU BESTE!

In ’n baie ver land het ’n groep sangers van dorp na dorp gereis en musiek vir ’n lewe gemaak!  Hulle het gesukkel, want die tye waarin hulle gelewe het, was harde tye.  Geld was skaars en al hoe minder mense het as gevolg daarvan na hulle vertonings gekom.  Die groep het hieroor vergader.
“Ek sien geen punt daarin om vanaand op te tree nie.” het een gekla  “Dit het boonop begin sneeu.  Wie sal vanaand in die koue na ons kom luister?”  
“Ek stem saam,” antwoord een van die ander sangers, “gisteraand het ons  voor ’n handjie vol opgetree. Waarom gee ons nie hulle geld terug en kanselleer ons konsert nie?”

“Hoe kan jy jou beste gee as daar so min mense is? vra ’n derde sanger.

’n Vierde, ’n ouer man, ouer as die res, het na die ander sangers gekyk en gesê:  “Ek weet julle is mismoedig.  Ek ook. Maar ons het ’n verantwoordelikheid teenoor hulle wat wel kom.  Ons sal ons heel beste gee.  Dis nie die skuld van hulle wat kom dat ander nie kom nie!  Hulle behoort met ons heel beste beloon te word.”

Met sy aanmoediging het hulle ’n uitstekende vertoning gelewer.  Toe die klein gehoor huiswaarts keer, het die ou sanger hulle bymekaar geroep. In sy hand was ’n briefie wat een van die gehoor vir hom gegee  het.

“Luister hierna my vriende!” het hy met ’n opgewondenheid gesê.  Almal het met afwagting na hom geluister toe hy die briefie stadig vir hulle lees:  “Dankie vir julle wonderlike vertoning!” Dit is net onderteken “Julle Koning”.  Die Koning het stil-stil en sonder enigiemand se mede-wete, hul vertoning bygewoon!

Die sangers se optrede eggo Paulus se begeerte, sy “vurige verlange” dat hy niks sal doen waaroor hy hom sal hoef te skaam nie. Hy wil altyd, met alle vrymoedigheid, d.w.s. openlik en sonder om enigiets terug te hou, deur sy hele wese, Christus verheerlik of hy nou lewe en of hy nou sterwe.  Hy wil altyd sy beste lewer.

“Do all the good you can, in all the ways you can, to all the souls you can, in every place you can, at all the times you can, with all the zeal you can, as long as ever you can.” John Wesley.

Want, dit gaan oor Christus en dat jy alles in die lewe doen asof jy dit vir Hom doen.

Continue ReadingFil 1:20-30 – Son 21 Sept 08

Gen 50:15-21 – Son 14 Sep 08

GENESIS IS ‘N BOEK OOR FAMILIES.
  • As Adam alleen tussen die diere woon, gee God vir hom ‘n vrou.
  • As Kain vir Abel doodslaan, en Kain ‘n swerwer word, dan sorg God dat Adam en Eva se familie nie doodloop nie, en Set word gebore.
  • As Noag ‘n boot bou om die oordeel van God te trotseer, dan neem hy sy vrou en seuns saam met sy skoondogters saam met hom in die Ark.
En so kan ‘n mens aangaan, Abraham, Isak, Jakob en uiteindelik ook Josef – elkeen se storie word as familie stories vertel, uitgebreide familie stories, met neefs en niggies en ooms en tannies en goeie en slegtes.  Selfs die slawe word ingesluit in die familie stories.
GENESIS HELP JOU OM JOU EIE FAMILIE VERSTAAN
En daar is nie ‘n intrige wat jy en ek in ons eie families kan beleef, wat jy nie op ‘n manier terugvind in Genesis nie.
  • Het julle ‘n weerbarstige ou in die familie?  Dink aan Lameg (Gen 4) – hy was sewe keer erger as Kain!
  • Het julle onheilige verhoudings?  Niks kom by die storie van Lot en sy dogters nie – en dit het ernstige langtermyn gevolge gehad vir die Midde-Oosterse situasie met broers, Jood en Palestyn, wat dit nie met mekaar kan uithou nie.
  • Het julle konflik?  Wel konflik is die “name of the game” in Genesis, tussen Adam en Eva, tussen Kain en Abel, tussen Abraham en Sara, tussen Sara en Hagar, tussen Jakob en Esau, tussen Josef en sy broers.  Die mense het ‘n lae frustrasie drempel gehad – soos ‘n sielkundige nou die dag opmerk.
  • Het julle ‘n schemer in die familie?  Dink aan Jakob – hy het nie sy gelyke gehad nie!  Sy broer, sy pa, sy oom, sy kinders – almal loop deur onder sy skemas!  Hy het natuurlik ‘n uitsonderlike ma, Rebekka, gehad, wat self kon onderhandel, reeds al by die put met die kneg van Abraham, en sy het vierkantig op Isak se kop gesit.
  • Het julle ‘n heilige in die familie?  Niemand was heiliger as Henog nie – hy het naby God geleef (5:24) – en Noag – sy pa het van hom gesê: “hierdie seun sal ons opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.” (5:29)
  • Het julle ‘n bedaarde effens ingetoë ou?  Dink dan aan Isak, hulle moet selfs sy vrou vir hom êrens gaan haal.
  • Het julle ‘n wyse?  Wel Josef vat die koek as dit kom by wysheid – hy is ook die arrogantste, maar dis so ‘n bietjie vroeër in sy lewe.
Genesis is dus ‘n verhaal wat jy moet lees as jy die dinamiek van jou eie familie wil verstaan, en wil agterkom hoe God werk met families, en jou eie rol beter wil verstaan.  Volgende kwartaal gaan ons in die Bybelskool onder andere daaroor verder gesels.

Die verhaal van Josef word ook as ‘n familie storie vertel.

En daar is baie van hulle – as Jakob op Josef se uitnodiging uiteindelik Egipte toe trek, is hulle ‘n groep van so 150 (70 mans – 46:26)!

Maar ons tref die familie aan by ‘n baie netelige situasie as die aartsvader Jakob in Egipte sterf en dit ou wonde oopkrap.
  • Lees Genesis 50:15-21

Continue ReadingGen 50:15-21 – Son 14 Sep 08

Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08

VERWELKOMING

Ons erediens gaan vandag ten diepste oor ons identiteit.
  • Ons identiteit is dikwels gekoppel aan ‘n bepaalde plek, bv. mense wat sê: “ons is Bosvelders”.
  • Soms is dit gekoppel aan ‘n bepaalde werk wat ons doen of aan ‘n besondere lewensstyl. 
  • Dit is meestal ook gekoppel aan ons moedertaal. 
  • Maar vir Christene word ons identiteit ten diepste bepaal deur wat God van ons dink en die soort verhouding waarin ons met Hom leef. 
Kom ons raak nou stil en dink elkeen na oor ons identiteit.
  • Wat is jou kern-identiteit?
  • Wie is jy regtig?
  • Praat in stilte met God daaroor en wy jouself opnuut aan Hom.
  • Raak bewus van die feit dat God hier is en jou uitnooi om by Hom te kom rus.
  • Dink dan daaraan dat dit deel van jou identiteit is - dat jy iemand is wat by God rus vind.

VOTUM EN SEËNGROET

LOFLIEDERE

‘n Christelike identiteit  gaan in die eerste plek oor ‘n gerigtheid op God.

Die eerste woord wanneer ons byvoorbeeld oor die NG Kerk identiteit praat, behoort nie “Gereformeerd” te wees nie. Ons is nie in die eerste plek “Gereformeerdes” nie. Ons is in die eerste plek “christene”, mense wat aan God behoort en in Hom leef en wandel.

Ons bely dus nie ‘n Gereformeerde geloof nie, maar, saam met die kerk van die eeue, bely ons die Christelike geloof (soos byvoorbeeld in die twaalf artikels opgesom).

Tog weet ons dat hierdie Christelike geloof nie “uit die lug” val nie.

Daar lê  ‘n interpretasie en ‘n geskiedenis daaragter.

En in ons geval, verstaan ons die algemene christelike geloof, wat al vanaf die apostels kom, vanuit ‘n Gereformeerde perspektief. Die sinode het verlede jaar ‘n dokument oor Gereformeerde Identiteit goedgekeur en ek het dit opgelaai op die voorblad van ons webtuiste.  Dit bevat nege kernpunte oor God, die kerk, die koninkryk, die verbond ens.  Ek sal bly wees as julle dit daar aflaai en lees.

Om ons geloof te vier, bely ons graag ons geloof in woord en sang.  En die diepste hart van ons geloof, van enige Christen se lewe, is ons Here Jesus Christus.  Ons liedere gaan dus uitmond in ‘n loflied op Hom.

  • Lied 154 “Kom nou tesaam , laat ons vergader” staan
  • Lied 167 “Jesus , bron van al my vreugde” staan
  • Lied 177 “Jesus , gróót bo almal”(x2)  sit
 

Continue ReadingMatt 16:13-20 – Son 24 Aug 08