Inleiding
‘n Ouma vertel dat hulle saam met hulle jong kleinseun, Richard, vakansie gehou het in die Drakensberge. Een dag het hulle twee so gestaan en die prag van alles aanskou. Na ‘n paar minute van stilte, het klein Richard die stilte verbreek:
“Ouma, om te dink dat God dit alles gemaak het met net een Hand!”
Die ouma het gewonder wat bedoel hy daarmee en toe vir hom uitgevra: “Ag, oumie, jy weet mos die Bybel sê dat Jesus sit op die regterhand van God!”
Vir kinders is die almag van God ‘n werklikheid!
Wat bely ons?
Maar ons bely ook hierdie werklikheid as ons Sondae hardop sê:
“Ek glo in Jesus Christus… wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader.”
Hy is almagtig en in beheer. Hy is die eintlike regeerder van hierdie wêreld. Hemelvaart sê dis ‘n werklikheid!
Die Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 49
Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons ?
Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel as Voorspraak by die Vader is. Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur, deur wie se krag ons soek wat daar bo is waar Christus aan die regterhand van God sit, en wat nie op die aarde is nie.
Skriflesing
Een van die OT tekste wat die vroeë Christene met die Hemelvaart verbind het, was Psalm 110, en wat ook deur die Revised Common Lectionary vir vandag voorgeskryf word.
Psalm 110 is een van die tien konings Psalms in die Ou Testament en kan, na aanleiding van die drie orakels of Godsprake (‘n woord van die Here) daarin vervat, in drie dele verdeel word (verse 1-2, 3-4 en 5-7).
Kom ons lees dit so met kommentaar:
Lees Vers 1-2 – HEERSER
Hierdie is die eerste orakel: “Kom sit aan my regterhand … Ek sal jou vyande aan jou onderwerp”. Die Psalmis is soos ‘n profeet optree wat namens die Here tot die koning (“my heer”) spreek, met die boodskap dat die koning se ere posisie aan God se regterhand hom verseker dat hy alle teenstand sal kan onderwerp. En as teken daarvan word die septer, die simbool van gesag aan hom oorhandig.
En let op dat die vers heel moontlik daarop dui dat die inhuldiging van die koning in ‘n tyd van spanning en dreigende oorlog plaasgevind het. En die opdrag is: “heers dan oor u vyande!”
So die prentjie van die Koning as HEERSER word hiermee op die tafel gesit.
Lees Vers 3-4 – PRIESTER
Met die tweede orakel, in vers 3 en verder, word die tafel gedek vir die “heilige stryd”. God voorsien die mense vir die stryd. Hy monster sy magte, en dit is die jongmense veral wat die stryd gaan voer.
Dan, interessant, word in vers 4 naas die militêre mag, soos deur die septer gesimboliseer, ook ‘n priesterlike seën oor die koning uitgespreek. Die koning kry die magte van ‘n priester. Die seënbede dui op ‘n tradisie wat baie ouer is as dié wat na Aäron, uit die stam van Levi, teruggevoer kan word, naamlik die van Melgisedek, die priester-koning van Salem (die vroeëre naam van Jerusalem).
Volgens Gen. 14 het hy nie net aan Abraham voorrade voorsien in sy veldtog teen sy vyande nie, maar hom ook soos ‘n priester geseën. En Abraham het hom ‘n tiende gegee van sy buit, wat ‘n mens onmiddellik laat dink aan ‘n Goddelike person.
Maar die punt is, die koning wat ingehuldig word, is soos Melgisedek, ‘n koning en priester tegelykertyd.
So die prentjie van die heerser word uitgebrei met die prentjie van die koning as PRIESTER, iemand wat omgee en tussen God en mens funksioneer.
Lees Vers 5-7 – OORWINNAAR
Na die tweede orakel volg ‘n beskrywende gedeelte waarin dit duidelik gemaak word dat Jahwe self in die komende heilige oorlog die leër teen die vyand sou aanvoer. Vgl. wat Hy alles belowe om te doen in vers 6 – Hy straf die nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke.
Dit word afgesluit met ‘n soort heilige seremonie langs die pad waar die koning water drink uit die stroom langs die pad wat ‘n mens laat dink aan soortgelyke seremonies by kroningsgeleenthede (vgl bv. 1 Konings 1:38-40 waar Salomo se koningskap by die Gihon-fontein bevestig word. Moontlik verwys vers 7 na die seremonie.)
Die Koning word hier dus as OORWINNAAR geteken.
Nuwe Testament
Nou die interessante van hierdie Psalm is dat dit so baie in die NT aangehaal word. Trouens dit is die Psalm wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word. En Jesus self en die skrywers van die Nuwe Testament gebruik hierdie Psalm dikwels as “bewysplaas” vir sy Messiasskap. Daarom word dit ook Messiaanse Psalm genoem.
- In ‘n stryd gesprek met die Fariseërs (Matt. 22:41-46) verwys Jesus bv. na vers 1 van die Psalm, waarvolgens Hy die seun van Dawid en van Jahwe is, om hulle van sy Goddelike afkoms en sodoende van sy Messiasskap te oortuig.
- Jesus as HEERSER.
- in Hebreërs 7 word na aanleiding van vers 4 van die Psalm (wat handel oor Melgisedek) na Christus se ware en blywende priesterskap verwys.
- Jesus as PRIESTER.
- En in aansluiting by Jesus se getuienis voor die Sanhedrin (Matt. 26:64), het die apostels en die skrywers van die Nuwe Testament die “gaan sit aan my regterhand” (vers 1) veral op Jesus hemelvaart, maar ook die opstanding en finale oorwinning oor die vyand van toepassing gemaak (vgl. veral Hand. 2:34ev in Petrus se toespraak, maar ook 5:31; Rom. 8:34; 1 Kor. 15:23-28; Efes. 1:20; Hebr. 1:3, 13; 8:1; 10:12ev; 12:2; 1 Pet. 3:21 ev.; Openb. 3:21).
- Jesus as OORWINNAAR.
Drie sake word dus op die tafel gesit. Jesus:
1. Heers oor die aarde
2. Gee om en staan tussen ons en God
3. Oorwin die vyande
Wat is die betekenis daarvan vir ons?
Hemelvaart sê Jesus is in beheer en sal sy vyande oorwin!
Dis wat die belydenis “opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader”, beteken. Ons vergeet dit te maklik. Ons vergeet maklik van al die magtiges en koninkryke wat al tot ‘n val gekom het. En ons vergeet maklik dat Hy wat in die hemel woon, lag vir hulle (Psalm 2:4). Ons vergeet heeltemal te maklik dat daar ‘n dag kom wanneer Hy in heerlikheid gaan verskyn op die wolke! Dit is hoekom ons so maklik en so onnodig swartgallig kan raak.
Soms word ons mislei deur mense wat sinies en skepties is oor God se beheer, wat soort van sê, die mense wat glo is in die minderheid, so die mening van die meerderheid, dat God nie in beheer is nie, tel.
Soos Isaac Asimov vertel van ‘n Rabbi, ene Feldman, wat moeilikheid met sy gemeente gehad het. Hulle kon oor niks saamstem nie. Die president van die Joodse gemeente het ‘n vergadering belê om die saak uit te sorteer. 12 van hulle sit toe om ‘n pragtige mahonie hout tafel. Soos die vergadering aangaan, het dit al hoe duideliker geword dat die rabbi ‘n alleen stem in die wildernis was!
Die president van die sinagoge het toe gesê: “Komaan, Rabbi, genoeg van hierdie gepraat. Kom ons stem, laat die meerderheid heers.” Hy het die papiertjies uitgedeel en elkeen het sy stem uitgebring. Die president het dit getel en gesê: “Rabbi, jy kan self tel as jy wil. Maar dit is 11 teen 1. Ons is die meerderheid.”
Die Rabbi het opgestaan en gesê: “So, julle dink as gevolg van dié stemmery is julle reg en ek is verkeerd. Wel, dit is nie so nie! Ek staan hier en roep tot die Heilige Een om vir ons ‘n teken te gee dat ek reg is en julle verkeerd is!”
Skaars was hierdie woord uit sy mond of daar was ‘n oorverdowende klap van donderweer en ‘n weerligstraal het die mahonie tafel in twee gebreek!
Die kamer was gevul met rook en vlamme en die president en oudste was op die vloer neergegooi. Die rabbi het onaangeraak gestaan en met ‘n glimlag op sy gesig alles aanskou.
Stadig het die president opgestaan, sy hare was geskroei, sy bril het aan een oor gehang en sy klere was deurmekaar.
Uiteindelik het hy gesê: “Nou goed, 11 teen 2! Maar ons het steeds die meerderheid!”
NB – Maak nie saak wat die wêreld sê of dink nie, of hulle dink hulle het die meerderheid nie! Hemelvaart sê Jesus is in beheer en die oorwinning is syne. En ons sal dié oorwinning sien.
Die uitdaging aan ons: Ons kan ons koppe optel en met trots die naam Christen dra. En ons kan begin om waar daar onreg is, die saak van die magteloses op ons te neem, namens Christus.
Jesus is naby ons en gee om
Ek lees onlangs ‘n bydrae van Flip Theron in die Kerkbode oor die Hemelvaart. Hy het die baie belangrike opmerking gemaak:
- Die Hemelvaart is nie ‘n reis binne ons ruimte nie.
- Dit is ‘n reis na buite ons ruimte.
Daarvan is die wolk wat met God geassossieer word in beide Testamente ‘n teken.
As Jesus dus “met ‘n wolk weggeneem word” (Hand. 1:9) terwyl die dissipels kyk, dan word Hy in God se ruimte opgeneem, dit wat ons die hemel noem.
En daarom is Jesus, weens sy Hemelvaart, net so naby aan ons as wat God is.
Jesus sê immers in Matteus (28:20), “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
En Hy verskyn ná sy Hemelvaart steeds aan:
- Saulus op pad na Damaskus (Hand 9:3 vv) waar Jesus vir Saulus verklaar: “Ek is Jesus … Dit is vir My wat jy vervolg.”
- En aan Annanias, die “volgeling van Jesus” in Damaskus om hom te gebruik om vir Saulus te gaan bid (Hand 9:10 vv). Ananias sê “Hier is ek Here … maar Here, ek het al baie van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo … aangedoen het.”
- En regdeur by genesings en toesprake word die voortgaande aktiwiteit van Jesus veronderstel. Bv. Petrus sê aan Eneas in Lidda: “Jesus Christus maak jou gesond.” (9:34)
- En aan Petrus op die dak met die visioen (Hand 10:13), waar Petrus God aanspreek met “Here”, die naam wat Petrus in sy eerste toespraak aan Jesus toedig (“God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” – Hand 2:36).
- En later as die Gees Paulus verhinder om verder in Asië te werk en Hom stuur om die evangelie na Europa te neem, dan word die Gees spesifiek die “Gees van Jesus” genoem. (16:7)
Soos Flip Theron sê: “Hy is binne roepafstand.” Om die waarheid te sê, sê Flip: “Nee nog nader … Hy is só naby deur sy Gees dat Hy ons hoor sug” (Waar was Christus die 40 dae voor sy hemelvaart? – Kerkbode 1 Mei 2009)
Wat sê dit vir ons?
Dit stel ons gerus – Hy is in beheer en Hy is naby.
Maar dit sê ook vir ons dat ons daardie waarheid kan gaan leef teenoor en saam met ander mense
En ons doen dit beide as heersers saam met Christus, en as priesters.
Dit beteken ook dat ons nie ons HEERSER funksie kan uitoefen los van ons PRIESTER funksie, ons omgee vir mense, nie.
Ek luister dié week in Stellenbosch na Scott McKnight wat ‘n prentjie van die eerste gemeentes teken wat my geboul het. Hy sê:
- Jesus het nie die onreg in die wêreld aangevat en ‘n “heilige oorlog” gevoer teen die owerhede of samelewingstrukture nie.
- Nee, Jesus het ‘n gemeenskap gevorm, wat mense wat onreg belewe, insluit deur self vir hulle te sorg! Hy het die nederiges, die hongeriges, die siekes, die blindes, die lammes, die mense wat onreg belewe ingesluit en op dié manier deur onderlinge omgee ‘n sosiale verandering gemaak.
Om die waarheid te sê, die sosiale verandering het baie keer eerste gekom voordat mense persoonlik getransformeer is.
Dit is die uitdaging vir ons as gemeente – om dinge te verander deur om te gee. Om die grense oor te steek, soos die Gees ons dit wys. Die grense na mense wat onreg belewe,
- sommige as gevolg van gender diskriminasie,
- sommige omdat hulle jonk is of omdat hulle oud is,
- sommige omdat hulle ‘n ander taal praat,
- sommige omdat hulle vel te veel of te min pigment het,
- sommige omdat hulle van ‘n ander kultuur as die heersende is,
- of sommige selfs wat net anders is as die heersende kultuur al deel hulle dit histories.
Kom ons stap die pad met mekaar dié Pinksterweek, kyk uit vir die mense wat die Here oor ons pad stuur, en steek die grense oor!