Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan. Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref.
‘n Mens sou wou dink dat die probleme van die verlede oorkom is. Hulle oorwin juis dié mense waarteen hulle ouers verloor het 38 jaar gelede (Num. 14:45). Ek het drie weke terug oor die vier voorbidders voor die volk in Numeri 14 gepreek.
En ‘n mens begin opgewonde raak oor die feit dat hulle dié keer die Here aanroep in gebed, selfs ‘n gelofte aan Hom maak, en alles vir Hom gee, elke stukkie van die buit wat hulle in die oorlog maak.
Verset lei tot veroordeling
Maar nee, die opgewondenheid oor die tweede generasie verdamp wanneer dié groot oorwinning opgevolg word deur nog ‘n tranedal van verset oor kos en water. Die skrywer gee dit weer met ‘n perfekte idioom: “die siel van die Israeliete het kort geraak.” Hulle het sat geraak vir hierdie slegte kos.
Die blydskap oor die oorwinning was dus van korte duur. In plaas daarvan om soos met die bedreiging van koning Arad van die Kanaäniete tot die Here te bid, vaar hulle uit teen Moses en die Here oor hulle omstandighede. Die reis deur die woestyn het ‘n groot tol van hulle geëis. Miskien was daar verwyte teen hulle ouers. Maar dieper was die ongeduld met die Here.
Die Here se reaksie dié keer op hulle verset is weereens drasties. Hy stuur giftige slange onder hulle in en baie van die Israeliete sterf. Die giftigheid van hulle verset word begroet deur die gif van God se oordeel. Verset lei tot veroordeling.
Vertroue lei tot verlossing
Die Here se oordeel word egter genadiglik begroet met skuldbelydenis deur die volk – teenoor die Here sowel as teenoor Moses – en die hoeveelste voorbidding deur Moses vir die volk in verset. Op bevel van die Here maak Moses hierdie keer ‘n koperslang maak met die belofte: “Elkeen wat gepik is en daarheen opkyk, sal lewe.”
Die slang het die vloek voorgestel wat hulle getref het. Deur die slang “op te lig” teen die paal is die vloek weggeneem, sodat, wanneer hulle daarheen gekyk het, ‘n teken van geloof en vertroue, hulle genees sou word.
En dit is presies wat gebeur. Soos hulle na die koperslang opgekyk het in vertroue, het die gif uit hulle sisteem verdwyn en het die lewe teruggekeer en is hulle genees. Vertroue lei tot verlossing.
Uit die hierdie boodskap wil ek ‘n paar gevolgtrekkings trek vir jou eie geestelike lewe.
- Download English translation: Numbers 21
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:
Verwelkoming
Aankondigings
Toetrede
Ons begin met ‘n lied waarin ons God die Vader aanbid.
VONKK 53 Skuil By Die Vader – sit
Votum en Seëngroet
Lofsang
Ons sit ons aanbidding en lof voort met twee liedere. Die een oor die vreugde wat Jesus bring. Die ander oor die Heilige Gees wat in ons werk.
Lied 258 Vreugdevolle tyding, bron van hartverblyding – evangeliewoord! – staan
Lied 439 O Heil’ge Gees, o God in ons – staan
Gebed
Skriflesing gekombineer met kindertyd
Numeri 21
Steek jou hand op as jy al ooit in ‘n restaurant was. Hoe was dit? Beskryf vir my die spyskaart. Hoe was die diens. Wat het dit gekos?
Het jy al ooit kos geëet waarvan jy nie gehou het nie?
Prediking
Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan. Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref.
‘n Mens sou wou dink dat die probleme van die verlede oorkom is. Hulle oorwin juis dié mense waarteen hulle ouers verloor het 38 jaar gelede (Num. 14:45). Ek het drie weke terug oor die vier voorbidders voor die volk in Numeri 14 gepreek.
En ‘n mens begin opgewonde raak oor die feit dat hulle dié keer die Here aanroep in gebed, selfs ‘n gelofte aan Hom maak, en alles vir Hom gee, elke stukkie van die buit wat hulle in die oorlog maak.
Verset lei tot veroordeling
Maar nee, die opgewondenheid oor die tweede generasie verdamp wanneer dié groot oorwinning opgevolg word deur nog ‘n tranedal van verset oor kos en water. Die skrywer gee dit weer met ‘n perfekte idioom: “die siel van die Israeliete het kort geraak.” Hulle het sat geraak vir hierdie slegte kos.
Die blydskap oor die oorwinning was dus van korte duur. In plaas daarvan om soos met die bedreiging van koning Arad van die Kanaäniete tot die Here te bid, vaar hulle uit teen Moses en die Here oor hulle omstandighede. Die reis deur die woestyn het ‘n groot tol van hulle geëis. Miskien was daar verwyte teen hulle ouers. Maar dieper was die ongeduld met die Here.
Die Here se reaksie dié keer op hulle verset is weereens drasties. Hy stuur giftige slange onder hulle in en baie van die Israeliete sterf. Die giftigheid van hulle verset word begroet deur die gif van God se oordeel. Verset lei tot veroordeling.
Vertroue lei tot verlossing
Die Here se oordeel word egter genadiglik begroet met skuldbelydenis deur die volk – teenoor die Here sowel as teenoor Moses – en die hoeveelste voorbidding deur Moses vir die volk in verset. Op bevel van die Here maak Moses hierdie keer ‘n koperslang maak met die belofte: “Elkeen wat gepik is en daarheen opkyk, sal lewe.”
Die slang het die vloek voorgestel wat hulle getref het. Deur die slang “op te lig” teen die paal is die vloek weggeneem, sodat, wanneer hulle daarheen gekyk het, ‘n teken van geloof en vertroue, hulle genees sou word.
En dit is presies wat gebeur. Soos hulle na die koperslang opgekyk het in vertroue, het die gif uit hulle sisteem verdwyn en het die lewe teruggekeer en is hulle genees. Vertroue lei tot verlossing.
Uit die hierdie boodskap wil ek ‘n paar gevolgtrekkings trek vir jou eie geestelike lewe.
1. Moenie net kla nie, bid!
Die eerste gevolgtrekking is dat daar ‘n groot verskil is tussen kla en bid. Die verskil lê egter nie in die inhoud nie, maar net in die gerigtheid.
- Die Israeliete kla oor God toe hulle behoeftes nie bevredig word nie, met destruktiewe gevolge.
- Die Israeliete bid tot God toe hulle gebyt word deur die slange, met positiewe gevolge.
Dieselfde het gebeur toe hulle net daarvoor aangeval is deur die Kanaäniete. Gebed bring verlossing. Klagtes bring verwydering.
Ek wil dit deurgee aan jou as bemoediging. Soos Paulus in sy brief aan die Filippense skryf: “Maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Fil. 4:6-7). Moenie net kla nie, bid!
2. God bring verlossing vir dié wat op Hom vertrou
Die tweede gevolgtrekking is dat God dié verlos wat op Hom vertrou. In Jesus se gesprek met Nikodemus verwys Hy na die koperslang as ‘n OT skadubeeld van die verlossing wat God bring: “Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:14-15).
Dit is die konteks wat Jesus gee aan die bekende uitspraak van Joh. 3:16: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Ek wil die wonderlike versekering vandag vir jou gee dat Jesus vir jou aan die kruis van Golgota verhoog is, sodat jy nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Dit is die belofte wat Hy vir jou gee. Dit is die belofte waarop jy kan vertrou.
Jesus gaan verder om te sê: “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie.” (Joh. 3:17-18a). Hy hang aan die kruis tot ons redding. As jy dit glo, word jy nie veroordeel nie, sal jy gered word, sal jy die ewige lewe hê.
3. God bring veroordeling vir dié wat nie in Jesus glo nie
Daar is egter ‘n ander kant waaroor mense nie vandag genoeg praat nie, die derde gevolgtrekking. Jesus se boodskap van verlossing is werklik, net so werklik soos die koperslang in die woestyn was. Dié wat opgekyk het, het bly lewe.
Maar, dit is net so waar, dié wat nie opgekyk het nie, wat nie op God se verlossing vertrou het nie, het nie bly lewe nie. Wie anders verkondig, is besig met ‘n valse evangelie.
Soos Jesus dit in Johannes 3 aan Nikodemus stel: “Wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.” (Joh. 3:18b). Wat waar was in die woestyn, is waar vir ons vandag ook.
Daar kom ‘n skeiding tussen die duisternis en die lig
“En so kom die skeiding”, sê Jesus. Wat Johannes reeds in die eerste hoofstuk vir ons gesê het: “Die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad.” (Joh. 3:19a). Hoekom? “Want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.” (Joh. 19b-20).
Soos Johannes in sy Openbaring later sal skrywe, sal ons hierdie skeiding al hoe duideliker raaksien in die wêreldgeskiedenis. Dié mense wat ongehoorsaam is aan God se Woord sal die lig haat, sodat hulle dade nie aan die kaak gestel word nie. Hulle sal ‘n boodskap verwelkom wat na hulle smaak is, wat aanpas by hoe hulle wil lewe.
4. Kom na die lig, sodat dit duidelik kan blyk dat jy in gehoorsaamheid aan God lewe
Dit is waarom ek in die vierde plek dringend by jou aandring om in die lig te lewe. Om die genade van God te benut in ‘n lewe van gehoorsaamheid.
Want, dit is hoe mense leef wat op God vertrou. Dié mense wat op God vertrou, sál aan sy Woord vashou en al hoe meer daaraan gehoorsaam word. Soos Jesus sê: “Wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”
Dít is waarom die oproep tot ‘n heilige lewe so belangrik is, en so konsekwent deur die NT beklemtoon word. Geloof in Jesus Christus lei altyd tot gehoorsaamheid aan sy wil vir die lewe. Daarsonder is geloof dood en nutteloos en kom mense onder sy oordeel: “Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”
5. Laat ons Christus nie uittart deur in verset teen God te kom nie
As Paulus daarom na die verhaal van die koperslang in Numeri 21 verwys, gebruik hy dit as ‘n waarskuwing dat God nie deur afgodsdiens en onsedelikheid uitgetart moet word nie, want só ‘n verset teen God sal jou dood beteken, omdat dit ‘n verset en verwerping van Christus inhou.
Ek wil daarom in die vyfde plek hê dat jy raaksien in Paulus se skrywe aan die Korintiërs dat Paulus ‘n dubbele betekenis aan die preëksistente Christus se optrede teenoor die volk toeken. Hy sê: “Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle het deur slange omgekom. En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom. Hierdie dinge het oor hulle gekom as ’n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.” (1 Kor. 10:9-11).
Let op dat vir Paulus Christus dus die een was wat die volk in die woestyn laat omkom en laat lewe het. ‘n Duidelike verwysing na die dubbele betekenis wat Jesus vir mense het in terme van verlossing en oordeel, soos Jesus dit self uitspel in Johannes 3.
6. God voorsien oorvloedig vir mense wat op Hom vertrou
Ek wil afsluit met ‘n sesde gevolgtrekking, iets wat ons eintlik in die afloop van die verhaal van die koperslang, vind. Julle kan dit gerus gaan lees by die huis in die res van hoofstuk 21.
Die verlossing van die gif van die slange is nie die enigste voorsiening van die Here hier in die woestyn toe die volk se “siele kort geraak het” nie. Op hulle verdere trek noord langs die Dooie See op, waar hulle met die Amoriete en Refaïete, die reuse, slaags sou raak, voorsien die Here vir hulle water by ‘n put. In ‘n besondere lied word dié gebeurtenis gedenk.
Hulle verslaan ook ‘n aantal konings op pad, selfs voor hulle die beloofde land binneval. Gaan lees hoe Israel ‘n bestaande gedig van die Amoriete oorneem waarin die Amoriete liries was oor hulle eie oorwinnings, en hoe hulle op subtiele wyse spot met die Amoriete met die byvoeging: “Maar nou het ons op hulle losgetrek”! Selfs Og van Basan, die reus met ‘n bed van yster, sowat vier meter by twee meter groot, val voor hulle.
God voorsien oorvloedig vir mense wat op Hom vertrou. Jy kan dit dié week nie net onthou nie, maar daarop vertrou.
Gebed
Dankoffers
Vonkk 107 Heer God Almagtig – koor
Gemeentevraelys
Slotsang
Lied 532 Gemeente v1 en 3; Koor v2 Ons Vader, neem ons hande en maak ons één – staan
Seënbede
Amen
Respons
Lied 189 Halleluja!