My Man het Dementia – Christine Veldsman

My Man het Dementia – Christine Veldsman

Ons is bevoorreg om vir Christine as deel van die liggaam van Christus in Somerstrand te hê.  Ons ken haar hartlike vriendelikheid, haar passie vir gebed en haar getroue betrokkenheid by baie van die gemeente se aktiwiteite.  Haar boek  is aangrypend …, nie net omdat die agtergrond waarteen dit plaasvind ons bekende omgewing is nie, maar omdat die mense waarvan vertel word, vir ons bekend is en die storie van die invloed van dementia daarom ook soveel meer werklik, naby.

Luister na wat Christine en ander sê:

My man Danie het in 1998 ʼn aneurisme operasie ondergaan as gevolg waarvan hy vermoedelik breinskade, dementia, opgedoen het. Dit word beskryf as “a most devastating illness. We are  not concerned about the patient but about the carer. They are a candidate for chronical depression.” Daar is geen hoop op herstel of beterskap nie.  Die psigotiese medikasie het hoogstens ʼn kalmerende uitwerking op die emosionele en aggressiewe uitbarstings.

Ek was gekonfronteer met die grootste krisis in my lewe. Sou ek as gelowige dit regkry om saam met Habakuk te kan sê: “nogtans sal ek jubel in die Here my God?”

Ek het begin skryf en so het my boek “My man het dementia” oor die 12 jaar wat hy siek was, die lig gesien.

Wat die inhoud van die boek betref, sê dr J C E Bouwer op die flapteks:

In hierdie boek maak die lewe kennis met die ervaring en gewaarwordings van ʼn eggenote wat ten nouste met haar man se dementia saamleef. Dit is geen wetenskaplike bespreking van die siekte nie, hoewel daar by tye noodwendig bepaalde feite genoem word.

Dit is eerder die intelligente, begrypende waarneming en evaluering van ʼn lewensmaat se verlies van breinfunksies deur dementia.

Hierdie werk sal ʼn kosbare bydrae maak in talle huishoudings vir liefdevolle begrip en deernis.

Dinie van Pretoria wat die boek gelees het, skryf:  Dele daarvan is vir my oorbekend, en al wil ek die probleem ontken en  weg dink onderstreep dit net weereens vir my die werklikheid. Die goeie van die boekie is dat u hoop bring. Die pad wat die Here met u geloop het en die wyse waarop u geestelik versterk is, beteken vir my baie.

Elsabe van die Kaap bedank in ʼn brief aan hulle vriende vir Cicile wat die boek vir haar gestuur het en sê: dit beteken oneindig baie vir my. Die hoofstukkie wat Christine “Laaste dinge” noem is ook deel van die rouproses waarin ons verkeer. Ek het al die brille vandag gebêre, behalwe die enigste een wat nog darem help. Neem nie meer grootdurkboeke uit nie, want hy wend nie meer enige poging om te lees nie.

Die boek kan van die skryfster by faksnommer  041 583 3341 bestel word.

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.