Hoe hoor ‘n mens die stem van die Here?
Daar is natuurlik baie maniere waarop die Here met ons as sy kinders praat. Deur ons ervarings met die stigting van die skool op Jeffreysbaai, het die Here op veral drie maniere met ons gepraat.
Die eerste en mees belangrike manier is ‘n bymekaarkom van ons individuele verhouding en kontak met die Here, en ons volgehoue en eerlike kommunikasie met mekaar. Die behels, aan die een kant, dat die Here vir individue, in hulle kontak met Hom, ‘n oortuiging gee van ‘n pad om te loop, of ‘n bevestiging dat ons moet voortgaan op die pad waarop ons is, en aan die anderkant dat hulle dit dan met die ander deel. Dit het dan gebeur dat daardie persoon op daardie spesifiek stadium absoluut oortuig is van die pad, terwyl die ander dan op daardie punt swak voel, of nie so oortuig is nie. Die een met die oortuiging neem dan die leiding, bemoedig die ander, hou aan met bid, en weier om in te gee. Die ander laat hulle op daardie stadium lei deur daardie persoon, en so word die wa deur daardie drif getrek. Op ‘n ander stadium is dit weer iemand anders se beurt, en dra hy of sy die groep, help hulle om vas te byt en aan te hou, en so gaan ons deur die volgende drif.
Die bostaande is afhanklik van twee dinge: In die eerste plek moet almal die Here soek en aan Hom vashou, sodat elkeen op sy of haar beurt die stem van die Here vir die ander kan wees. Die ander is ‘n volgehoue kommunikasie met mekaar, oor die dinge waarvan die Here ons oortuig, en ook in die tye wat ons geloof ons begewe.
Die tweede manier waarop die Here met ons gepraat het, is deur wat hy deur ander mense laat gebeur het. Twee voorbeelde is die ontwikkelaar wat vir ons die huur geborg het, en sodoende die eerste tasbare aanduiding was dat ons die Here vir ons die groen lig gee. Die ander was die ongelooflike ommeswaai wat die eienaars van die mall gemaak het, en vir ons die klaar ontwikkelde winkels gegee het teen dieselfde minimale huur as vir die eerste, beknopte gedeelte.
Die derde manier, wat aansluit by die eerste, is die vele kere wat die Here ons as individue bemoedig het deur sy Woord en sy Gees. Hier praat ek nie van dit wat ons noodwendig met mekaar gedeel het nie, maar eerder van wat John Stott noem ‘the discipline with which the christian leader waits upon God”. Soms kom daar ‘n jou kop die naarste spinnerakke wat jou nie net laat twyfel oor die saak nie, maar jou sommer so moedeloos en bang maak dat jy nie eers lus het vir kontak met die ander ‘wie se geloof so sterk is nie’, en dat jy ook nie meer kans sien vir dit wat die Here van jou vra nie. Om jou dan af te sonder vir ‘n paar uur, of selfs vir ‘n hele dag, en sommer net voor die Here te gaan sit, al gaan sit jy by die see en drink koffie, en blaai soms deur die Bybel, totdat die Here se Gees weer by jou vrede en rustigheid bring, totdat jou kop weer skoon is om vir die Here te sê dat jy Hom vertrou met die pad, dis die kruispaaie waar die stem van die Here ‘n absolute ‘lifeline’ word.
Johann McFarlane