You are currently viewing Matteus 5:13 – Julle is die sout vir die aarde

Matteus 5:13 – Julle is die sout vir die aarde

NGK Somerstrand belydenisaflegging 09:00 – 12 Februarie 2023

English Translation: Matthew 5_13-16

Verwelkoming

Toetrede

Flam 22 Ek soek U, o God, my God – staan

Flam 113 Here Jesus, U skyn oor almal – staan

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 524:1-3 God roep ons om met woord en daad – staan

Vonkk 23 (Afr, Eng, Afr) – Jesus, U is die lig in ons lewe – staan

Gebed

Kindertyd

Hou julle van sout?  Hoekom?

Hoe gebruik julle sout by die huis? Op braaivleis.  Op eiers.  In kos.  Op Biltong.

Wat doen die sout?  Dit gee smaak.  Dit keer dat kos sleg raak.  Dit laat kos langer hou.

Ek het hier ’n bakkie sout.  En ek het ’n bakkie sand.

Sal jy die sout in jou kos gooi?

Sal jy die sand in jou kos gooi?

Sê nou ek meng ’n bietjie van die sand met die sout.  Sal jy dit dan eet?

Watter een verkies julle?  Suiwer sout, ja.

Jy het ook net bietjie nodig.  Dan maak dit alles anders.

Jesus sê in die Bybel:

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”

Jesus wil hê dat ons soos suiwer sout sal wees.  Ons moenie met sand gemeng wees nie.

Wat het Hy bedoel?

In Jesus se tyd het mense sout gebruik om kos lekker te laat smaak en veral dit lank te laat hou, soos ons ook doen.  Want, onthou, hulle het nie yskaste gehad nie.  Kos het daarom maklik sleg geraak.  Sout het kos langer laat hou en gekeer dat dit sleg raak.

Dit is hoe Jesus wil hê dat ons moet wees.

  • Ons moet die lewe lekker maak vir ander. Nie die hele tyd met ’n suurgesig rondloop nie.  Glimlag, help waar jy kan, geniet wat jy doen, luister na ander, veral na jou ma en pa, speel saam as daar iets gedoen word.  Vrolik wees.  Aangename geselskap.
  • Ons moet sorg dat mense vriende bly en nie vir mekaar kwaad raak nie.  Ons moet hulle help as hulle sukkel met mekaar.  Soms het mense net nodig dat iemand na hulle luister.  Ander kere moet ’n mens sommer net iets saam met hulle gaan doen.  Dan trek jy hulle aandag af en kom dinge sommer vanself reg.

Dit is hoe Jesus wil hê dat ons moet wees.  Ons moet soos suiwer sout wees.  Anders is ons soos sout gemeng met sand wat eintlik net goed is om buite weg te gooi.

Jesus sê ook:

“Julle moet elke dag soos ’n lig in hierdie donker wêreld skyn waar baie mense nie in God glo nie. Almal moet kan sien julle is my vriende… Ander mense moet kan sien dat dit baie lekker is om God se kind te wees. As hulle na julle kyk, moet hulle vir almal vertel hoe goed God is.”

Kom ons sing daarvan met die lied: Jesus maak my soos ‘n sonstraal.

Flam 108 – Jesus maak my soos ‘n sonstraal – sit

Voorskoolse kinders gaan uit

Skriflesing

Matteus 5:13-16

13“Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word.

14“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie. 15Mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n maatemmer nie, maar op ‘n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis.

16“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

Woordverkondiging

Jesus se uitspraak: “julle is die sout vir die aarde” is ‘n kragtige metafoor vir die Christelike lewe. Dit kan op twee maniere verstaan word.

1. In die eerste plek kan ‘n mens fokus op die funksie van sout.

Sout word van altyd af gebruik om geur te gee aan kos en dit te preserveer.  Dit is daarom ook gebruik as geneesmiddel vir wonde. Op ‘n soortgelyke wyse sê Jesus vir sy volgelinge dat hulle soos sout ‘n positiewe invloed moet hê in die wêreld deur hul dade, woorde en karakter.

Ons word geroep om smaak aan hierdie lewe te gee, om die ware lewe na vore te bring, die lewe wat slegs in die teenwoordigheid van God sin maak en betekenis gee. Ons word ook geroep om bederf teen te werk. Om te keer dat dinge uit mekaar val. En dit sluit beide persoonlike as publieke aspekte van die lewe in.

Ons moet ons rig op die harte en lewens van individue. En ons moet ons rig op die instellings van ons samelewing en keer dat dinge uit mekaar val. Dinge soos korrupsie en gierigheid, magsmisbruik en besoedeling.

Dit is deel van ons roeping. Ons moet ‘n verskil maak.

2. In die tweede plek kan ‘n mens fokus op die karakter van die sout self.

In die antieke wêreld was sout ‘n baie waardevolle produk. Daarom is sout gebruik as ‘n simbool van waarde en integriteit.

Nie alle sout was in daardie tyd immers ewe goed, ewe smaakvol of bederfwerend nie. Daar was ook swak sout; sout wat sy karakter verloor het weens allerlei byvoegings die sout sy krag laat verloor nie. Dan was die sout niks werd nie, en is weggegooi en vertrap.

Jesus gebruik die beeld van sout wat verslaan om die godsdiens van baie van sy Joodse tydgenote te beskryf. Jesus kon sien hoe die Fariseërs en die Skrifgeleerdes godsdiens op ‘n manier bedryf het wat sy krag verloor het. Teenoor die ware dien van God, en die lewe van gehoorsaamheid en toewyding, soos die Ou Testamentiese profete dit beskryf het, het hulle godsdiens in mensgemaakte, wettiese prosedures laat verval. Hulle het die Woord van God verander en selfs vervang met hulle eie wette.

Daardeur het hulle soos sout geword wat laf is; dit deug vir niks nie; dit het sy sout-karakter verloor; in die Goddelike ekonomie word so ‘n lewe uitgegooi, en vergaan.

Wat Jesus dus vir sy volgelinge sê, is dat hulle rekening moet hou daarmee dat hulle baie waardevol is. Hulle moet soos sout wees, die suiwer sout. Daarmee sê Hy dat hulle hul integriteit moet behou, hulle karakter, geskoei op sy Woord, terwyl hulle in die wêreld leef. Hulle moet keer dat hulle soos lawwe sout word.

Jesus roep ons hiermee dus op tot ‘n lewe van integriteit. Om self nie te val vir korrupsie en gierigheid. Om onsself nie oor te gee aan magsmisbruik en besoedeling nie.

En só ‘n lewe het ook ‘n persoonlike en ‘n publieke kant.

Om regtig sout te wees, moet ons sorg dat ons binnekant nie besoedel word deur allerlei sondes en begeertes nie. Ons harte moet rein wees, soos Jesus in die sesde saligspreking sê:

“Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.” (Matt 5:8)

Dit het te make met dié dinge waaroor ons dink en droom, waarna ons kyk en begeer. Want dit is die dinge wat ons in ons hart vertroetel wat tot sonde aanleiding gee.

Maar, dit het ook te make met ons geloofsgemeenskap, dié mense saam met wie ons die geestelike pad loop. Ons kan nie toelaat dat die sout met die sand meng en onsuiwer raak nie. Daarom moet ons sorg dra dat niemand van ons van God afvallig raak en vasgevang raak in afgodery en immoraliteit nie.

Soos Peterson Jesus se woorde oor die sout weergee:

Let me tell you why you are here. You’re here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You’ve lost your usefulness and will end up in the garbage.”

Ons roeping in die lewe is niks minder of niks meer as dit nie:

  • Mense moet God kan proe in hoe ons ‘n verskil maak in die lewe. Beide in een-tot-een situasies en in die samelewing.
  • Mense moet God kan sien in ons integriteit en karakter. Beide in ons persoonlike en gemeentelike lewe.
  1. Mense wat die wêreld verander

Die Bybel is vol mense wat as sout geleef het, en so hulle wêreld verander het:

  • Moses het ná die veertig jaar in die woestyn die lig in Egipte gaan aansteek en die volk uitgelei na die Beloofde land.
  • Elia het die Agabshuis gekonfronteer en die volk laat kies om die Here te dien en die Here het met vuur geantwoord op die berg Karmel.
  • Johannes die Doper het ’n helder bekeringsboodskap gebring en duisende Jode is daardeur voorberei vir die koms van die Messias.
  • Paulus het met groot passie die lig in Turkye en Europa gaan aansteek en die pyn van tronkstraf, steniging, ontbering en uiteindelik die dood beleef.  En tot vandag toe nog pluk ons die vrugte van sy werk.

Die koms van die koninkryk van God is op soveel plekke en maniere kragdadig gedien deur gewone mense wat sout vir die aarde was. Dit maak mens opgewonde oor wat die Here vandag deur ons en ons gemeente doen as ons bloot gaan wees wat ons reeds in Christus is.

Gebed

Belydenisaflegging

Ek gee vir elkeen van julle ‘n teks wat beide ‘n opdrag as ‘n belofte bevat.

Jared Bezuidenhout

Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie. Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef. (Efesiërs 2:8-10)

Juan Bezuidenhout

Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” (Johannes 14:6-7)

Chris du Plessis

Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. (1 Timoteus 6:12)

Dandré du Plessis

Maar jy, bly jy by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het, en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak. (2 Timoteus 3:14-17)

Juan Heydenreich

Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word, deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here. Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. (2 Petrus 1:2-3)

Ian Janse van Rensburg

En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. (1 Johannes 5:11-12)

Kelsey Kruger

Jy moet weet dat die Here jou God inderdaad God is, die betroubare God wat die verbond en troue liefde in stand hou vir duisende geslagte lank, vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom. (Deuteronomium 7:9)

Christine le Roux

Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. (Filippense 4:6-7)

Reynecke Parsons

Met die oog hierop bid ons ook altyd vir julle, dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik, sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus. (2 Tessalonisense 1:11-12)

Neil Rautenbach

Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” (Romeine 8:15)

Marge Saayman

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.” (Matteus 11:28-30)

Edwin Smith

Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee. (Johannes 15:16)

Dankoffers

Laerskool kinders na kategese

Slotlied

Lied 488 Helder skyn u lig vir die nasies – staan

Seën

Respons

Lied 189 – Halleluja – staan

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.