Verwelkoming
- Vraelys – PowerPoint twee slides: Waar die skakel is en waarheen die skakel jou neem.
- Simpatie – Ons innige simpatie aan Gerrit Venter, kinders en familie met die heengaan van Rita. Ons innige meegevoel ook aan Louis Marx, kinders en familie met die heengaan van Elizabeth. Ons bid vir julle die sterkte van die Here toe.
Toetrede
Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader, één as sy kerk, één in sy Naam.” (gemeente vers 1 en 3, koor vers 2) sit
Votum
Seëngroet
Lofliedere
Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied: Vrede op aarde – God die eer – Hy daal tot die sondaar neer.” staan
Lied 373 “U, Jesus, eersgebore Kind, u lig sou bewe in die wind, dit flikker in die donker.” sit
Kindertyd
Hoe leer julle lees?
In Dolfyntjie skryf hulle mos julle name op ‘n bord en dan leer julle om dit te herken.
Kyk gou hierna: kan julle die naam herken? Rethie
En met die foto by?
Kom ons probeer nog een. Chris
En in graad 1 leer julle mos om prentjies en woorde met mekaar te verbind.
Ken julle die woord al? boek
En met die prentjie?
Kom ons probeer weer. lyf
As ‘n mens dit genoeg doen, uiteindelik dan kan jy lees en verstaan wat jy lees!
En dan kan ‘n mens die koerant oopmaak en verstaan wat mense sê.
En jy kan ‘n boek lees en verstaan wat die skrywer sê.
En jy kan leer oor diere en dan kan jy ‘n dieredokter word.
Of jy kan leer oor mielies en dan kan jy ‘n mielieboer word.
En jy kan leer oor pype en water en krane en dan kan jy ‘n loodgieter word.
Dit is hoe die lewe werk – en alles is afhanklik daarvan dat ons kan lees.
Dit is net soos die Bybel ook werk.
Ons leer om die Bybel te lees.
Dan begin ons om te doen wat die Bybel sê, en
kort voor lank dan kan jy doen wat die Here wil hê jy moet doen.
En dan raak die Here vir jou alles in die lewe.
Hy raak soos ‘n huis waarin jy woon.
Hy bly by jou, Hy is lief vir jou, en julle kan met mekaar praat en
ons raak familie.
Gebed
Skriflesing
Dit is ‘n wonderlike gedeelte.
Hy gebruik eintlik die woordjie beklee in vers 12 om die gedagte van iets waarin ‘n mens woon of leef oor te dra: “Beklee julle dan … en dan volg die vyf goed wat hy sê waarmee hulle hulleself moet beklee:
1. die 5 deugdes (meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam),
2. die liefde vir mekaar (wat met sy geduld en vergifnis die hoofbestanddele is van die gemeenskapslewe wat onder ons moet heers),
3. die Woord van God in al sy vorme (prediking, lering en onderrig),
4. die liedere vir God in al sy vorme (psalms, lofsange en geestelike liedere), en
5. hulle lewenswandel in die wêreld (wat ons sê of doen).
En die middelste mededeling – om die Woord in ons te laat woon – is die hart van die gedeelte, want dit is die bron waaruit die ander 4 opdragte hulle krag kry. Alles word gekoppel word aan hierdie oproep dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in hulle moet bly, as’t ware in hulle moet woning maak, of anders gestel ‘n huis moet word waarin hulle woon.
Ons kan volgens God se riglyne leef as ons dit alles doen, waarvan ek vandag spesifiek gaan konsentreer op die 3de opdrag, om in die Woord te bly, dat dit ons huis word.
Kolossense 3:12-17
Woordverkondiging
Die Bybel is God se verhaal
Die Bybel is die verhaal van God. Dit strek van die begin van die skepping af regdeur die geskiedenis tot by die verhaal van Jesus Christus. En na Jesus se lyding, dood, opstanding en hemelvaart vertel die Bybel ons van die Gees wat deur die kerk die koninkryk van God laat kom. En Johannes skryf ten laaste oor die nuwe skepping wat God belowe het vir almal wat in Hom glo. Van begin tot einde is dit God se verhaal.
Dit is ook die evangelie. Dit is die fondament van wat ons glo. En dit waarom ons die Bybel die Woord van God noem. Dit is Sy verhaal.
Dit leer ons op God vertrou
Hierdie Bybel nooi ons telkens uit om met hierdie verhaal, die verhaal van God, rekening te hou. Dit nooi ons uit om te vertrou op God se nabyheid, sy beloftes, sy krag. Dit nooi ons uit om sy wil te soek en te doen, en eerder met Sy onsigbare werklikheid rekening te hou as met dit wat ons rondom ons sien. En dit nooi ons uit om te leef soos Hy van ons vra eerder as soos almal rondom ons leef.
Dit leer ons om anders as die wêreld te leef
In die Bergrede noem Jesus, byvoorbeeld, diegene gelukkig, geseënd wat agter in die tou staan, as ‘n mens volgens gewone wêreldse standaarde sou meet: die armes, die sagmoediges, die barmhartiges – want, sê Jesus, aan hulle behoort die koninkryk van die hemel, hulle sal die nuwe aarde ontvang, en aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
Die ongelooflike belofte word aan reinhartiges gemaak, hulle sal God sien. Die vredemakers sal kinders van God genoem word. En dié wat vervolg word omdat hulle Jesus navolg, hulle sal hulle loon ontvang in die hemel (Matt 5:1-9).
Die Bybel leer ons om nie so besorg oor allerhande dinge te wees nie, ons nie so moeg te maak oor aardse goed nie, maar eerder ‘n skat na te jaag wat groter is as kos en klere en sukses en status (Matt 6:25-34).
Dit leer ons om anders as die wêreld nie te dink oor wie ons kan uitsluit nie, maar eerder oor wie ons kan insluit, soos die verhaal van die barmhartige Samaritaan ons leer. Daar is niemand wat ooit in beginsel, van die begin af, uitgesluit word net omdat hulle is wie hulle ook al is nie. Ons mag ‘n naaste word vir dié wat ons kan help op ons pad deur die lewe (Matt 22:34-40).
Want dié Bybel wat hierdie verhale vertel, is ‘n boek wat aan ons eie adres gerig is. Dit sê vir ons: “Gaan en doen jy net so.”
Dit leer ons om ander met mekaar te leef
Net so fokus Paulus ons gedagtes hier in Kolossense op die manier waarop ons met mekaar moet leef in die gemeenskap van gelowiges.
Daar is 1) 5 deugdes wat God van sy uitverkore volk verwag: meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam.
Hy wil hê dat ons 2) mekaar moet liefhê deur geduld met mekaar te hê en mekaar te vergewe as iets verkeerd gaan. Dit is die hoofbestanddele van die gemeenskapslewe wat onder ons moet heers.
En die hart van hierdie gemeenskapslewe is om 3) op die Bybel te fokus, wat uitmond in 4) ons spreke met God in ons liedere en 5) ‘n lewe wat God se eer voorop stel.
Maar die belangrikste hiervan is die fokus op die Bybel, die middelste van die 5 bestanddele, want al die ander dinge hang daarvan af.
Hoe word die Bybel ‘n werklikheid?
Regdeur die eeue word hierdie Bybel op dieselfde manier vir ons die Woord van God as ons in drie eenvoudige stappe daarna luister: ons lees dit, ons dink daaroor na en ons leef dit. (Vgl Dirkie Smit se uitstekende weergawe hiervan in Neem, lees)
Ons lees die Bybel
Die lees van die Bybel kan eenvoudig wees (in jou stiltetyd), én baie kompleks (akademies: tradisie-histories of retories); dit kan alleen gedoen word én in groepe; dit kan inzoom op een vers of selfs een woord in ‘n ‘n vers, én dit kan die breë lyne probeer vasvat. Dit kan in die kerk wees én in ‘n huis of saam met ‘n groep vriende.
Hierdie eerste stap bly die eerste liefde, die ding wat die vonk verskaf, waarvan alles afhang.
- Soos Augustinus onder die vyeboom gedoen het in 439 toe hy die kinderstemme hoor sing het, Tolle lege, Tolle lege, Neem, lees, Neem lees, en ingehardloop het en in Romeine begin lees het – en sy hele lewe verander het.
- Of soos Karl Barth in 1918 onder ‘n appelboom gesit en lees het en die Bybel vir hom, asof vir die eerste keer, oopgegaan het. En sy ontdekking het ‘n impak gehad in die Christelike wêreld wat enorm was, bv. met sy kommentaar op die (toevallig ook) Romeine brief, waarin hy weer sterk beklemtoon het dat God na ons kom, zenkrecht von oben, en nie maar net langs die weg van humanistiese ontwikkeling nie.
- En laat ons nie vergeet van Luther wat ook in die Romeine brief die eerste ervaring gehad het dat die Bybel vir hom oopgaan, en hy God se genade in Jesus vir die eerste keer ervaar het.
As ‘n mens die Bybel só lees, dat die betekenis daarvan vir jou vasvang en dit die rigsnoer vir jou lewe word, dan word die Bybel vir jou soos ‘n huis om in te woon, ‘n wêreld waarin jy tuis kan wees en jou kan verheug, elke dag, ook vandag in die 3de millennium na Christus.
Ons dink na oor die Bybel
Die tweede stap van Bybellees is net so belangrik. Dit is om die Bybel herhalend, en met groeiende nadenke te lees; om nie tevrede te wees totdat die betekenis daarvan vir jou oopgaan en jy die praktiese betekenis vir jou lewe daaruit kon haal nie.
En die nadink van die Bybel kan baie dinge insluit: dit kan meditatief wees met baie stilte en verwondering; dit kan akademies wees met baie vrae en met baie instrumente; dit kan in groepsverband wees of juis in ‘n oor-grense-luister, waarin nuwe perspektiewe vir jou oopgaan.
- Ek sal nooit vergeet hoe ek in ‘n luister sessie met VGK dominees oor ‘n baie bekende teks gesels het, die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg (dit is toevallig ook die tyd in die kerkjaar wat ons vandag vier!), en een van hulle my gevra het wat ek maak met die verskyning van Moses en Elia saam met Jesus op die berg; wat ek dink daar gebeur het. En toe ek sê, maar hulle het seker uit God se wêreld, die hemel, verskyn, het hy begin praat oor die wyse waarop hy oor die voorvaders dink vanuit ‘n Christelike perspektief, en hulle die “living dead” genoem. Geen sprake van aanbidding nie, maar net erkenning dat hulle nie opgehou bestaan het nie, en steeds ‘n rol kon speel.
Nou, dit bly steeds vir my ‘n vreemde konsep, maar ten minste iets waaroor ek begin dink omdat ek blootgestel is aan ‘n ander manier van dink oor die Bybel. En dit beteken dat daar groter begrip vir mekaar kom, al bly die konsepte steeds vreemd. En die toenadering in ons begrip het met die nadenke vanuit ander hoeke te make.
Ons leef die Bybel
Maar, dit moet altyd ook die derde stap insluit, om die Bybel te gaan leef, om te doen wat God in sy Woord van ons vra.
Soos Paulus hier leer in Kolossense, moet die boodskap van Christus, sy logos, in sy volle rykdom in ons bly. Dit beteken dat ons mekaar moet leer en onderrig met alle wysheid in die betekenis van die Bybel. En let op dat Paulus hier van drie verskillende vorme van verkondiging praat: prediking, lering en onderrig. Nou, die punt is nie om dit noodwendig presies te gaan identifiseer en onderskei van mekaar nie, maar om te sê dit moet omvattend wees, en op verskillende maniere gedoen word.
Hierdie leef van en uit God se werklikheid sluit in dat ons met dankbaarheid in ons harte psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God moet sing. Weereens word drie vorme van sang genoem, om te sê dat daar ‘n verskeidenheid moet wees en dat dit regtig ‘n belangrike rol moet speek in die samekoms van God se mense. Die Psalms sê nie verniet dat God woon waar die lofsange van sy mense weerklink nie.
Om die waarheid te sê, hierdie Woord se aanspraak op ons lewens is so omvattend, dat Paulus sê, “wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”
En dit moet in die praktyk van die lewe geleef word.
Die leef van die Bybel is nie vanselfsprekend nie
Maar laat ons eerlik met mekaar wees. Die leef van die Bybel is nie vanselfsprekend nie. Dit bly steeds die moeilikste deel van die besig wees met die Bybel. Ons sien dit alreeds in die verhale van die skares wat Jesus gevolg het, wat aanvanklik verwonderd was oor Hom en die wonders wat Hy doen, maar toenemend sy woorde moeilik gevind het om te doen, en uiteindelik gerebelleer het teen Hom en Hom verwerp en gekruisig het.
Die kruis het nie gebeur omdat die skares slegte mense was nie, maar omdat die navolging van Jesus toenemend moeiliker geword het, en hulle die prys daarvoor nie wou betaal nie. Sy woorde was in konflik met die huise waarin hulle gewoon het, hulle verstaan van wat belangrik is en wat nie. En dan moet die een wat konflik vir jou veroorsaak uit die weg geruim word, nie waar nie, want hoe anders kry jy sy stem stil?
Vandag maak ons Sy stem stil deur in die eerste plek ons lees te beperk – ‘n vinnige blaai deur die Bybel vir ‘n teks wat ons opval, of nog erger net in ‘n dagboek te lees en glad nie meer die Bybel te hanteer nie. In die tweede plek lees ons oppervlakkig, sonder om diep daaroor na te dink en die betekenis te laat insak in ons harte. Gevolglik word ons nie uitgedaag om ons lewens te verander nie, want daar is nie diepte in ons nadenke nie. En in die derde plek – en dit is die grootste gevaar – lees ons sonder om te doen. Gevolglik verdwyn nie net die uitdaging van die Woord nie, maar die Woord self uit ons lewe, soos die Satan die Woord oppik uit ons harte. Dit kry nie eers kans om wortel te skiet nie, laat staan nog om kans te kry om sy werk te doen nie.
Sommige teoloë het hieroor so sterk gevoel dat hulle half raadop voorgestel het dat die Bybel eerder verbrand moet word, want mense maak ‘n bespotting daarvan deur nie te doen wat dit vra nie.
Schleiermacher skryf op ‘n keer in sy dagboek dat hy dink die Bybelgenootskappe moet toemaak, en alle Bybels moet gekonfiskeer word en vernietig word, terwyl hulle sê: Here, ons doen liewer dit, en erken daarmee openlik dat ons tog nie van plan was of is om van die Bybel of uit die Bybel te lewe nie. Ons wil nie in hierdie huis van die Woord woon nie.
Ook Thielicke, wat ons die beste ken uit sy boekie Die gebed wat die wêreld omspan, het soortgelyke gedagtes geopper omdat hy besorg was oor die kerk se geloofwaardigheid. Die kerk vertel vir ander van die Bybel, maar doen nie self wat die Woord vra nie.
Ons leef die Bybel deur die Gees van God
Dit is waarom die werk van die Gees so belangrik is. Dit is wanneer Hy ons vrymaak, ons harte sagmaak, laat reageer op die fluistering van die Woord in ons lewe, dat ons dit regkry om in die anderster wêreld van die Woord te woon, om daarvan ons huis te maak.
En dit gebeur wanneer ons toelaat dat die Woord ons begin lees.
Wat ek daarmee bedoel, is dat ‘n mens die Bybel moet lees totdat dit iets binne in jou begin roer, dat jy ervaar die sluier word van jou oë gelig en jy begin met God se oë kyk na jouself, na die wêreld, en na Hom en sy teenwoordigheid in die lewe, en jy daardie roering begin koester.
O, die wonder van só ‘n lees, waar jou lewe opgeneem word in die lewe van God, en Hy jou só vol maak van Homself dat jy eintlik deursigtig raak en God oral uit jou begin skyn.
Dan raak die Bybel regtig vir jou ‘n HUIS om in te woon.
Amen.
Gebed
Dankoffers
Koor: Ons vind ons krag in die Here – Vonkk 58.
Ouderlinge voorstelling
Slotlied
Lied 494 “Gelukkig is die mens wat op die Here bou, God self sal in sy nood sy hande om ons hou.” ( vers 1 en 3 almal, vers 2 koor) staan
Seën
Gemeenterespons
Lied 228 “Halleluja!” (koor 1x, en gemeente 1x)