Klere maak die man – Jesaja 61:10-62:3

Tema: Klere maak die man – Jesaja 61:10-62:3
27 Desember 2020  Somerstrand 09:00 Youtube

Verwelkoming

Verjaarsdae

Daar is nie iemand wat vandag verjaar nie. Maar, Emma van der Merwe  word 5 jaar oud hierdie week. Charl Posthumus word 13 jaar oud. Morné Saayman word 11 jaar oud. Baie geluk.

Youtube

As jy hou van ons eredienste op Youtube is jy welkom om in te teken met die rooi subscribe knoppie.

Toetrede

Vonkk 40 – Kom en vul ons met vrede

Votum en seëngroet

Loflied

Lied 542 – Jesus ons loof U

Gebed

Skriflesing en prediking

Klere maak die man

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Klere maak die man.”

Dit bedoel: jou klere wys wie jy is. Dit dui bv jou status aan, of jou beroep, of jou stand. Die spreekwoord druk die waarheid uit dat ‘n mens baie keer na die uiterlike beoordeel word.

Die interessante is dat hierdie waarheid baie keer dieper gaan as net die uiterlike.

Joyce Sandberg in die Augsburg Sermons reeks vertel die storie van ‘n diefstal wat skeef geloop het as gevolg van klere. Die twee diewe het ‘n slim plan beraam. Een van hulle het soos ‘n polisieman aangetrek. Met die diefstal was die idee dat hy ‘n “mislukte poging” sou aanwend om sy makker te vang. Alles het vlot verloop, behalwe vir een probleem. Die sogenaamde polisieman het so outentiek gelyk dat almal by hom vir hulp kom aanklop het. Nadat hy die hele dag soos ‘n eerlike polisieman opgetree het, het hy sy makker gearresteer toe hy, soos afgespreek, van die misdaadtoneel probeer ontvlug het!

Aspoestertjie is min of meer dieselfde storie. Deur ‘n towerwoord ontvang sy ‘n pragtige rok en die mooiste skoentjies en uiteindelik daarmee saam, die man van haar drome. Alles net as gevolg van haar klere.

Dieselfde met uniforms. Daar is ‘n implisiete verwagting dat as jy die klere van ‘n verkeersman aan het, dat jy inderdaad soos ‘n verkeersman sal optree. Dieselfde geld ‘n verpleegster. En ‘n dokter. Selfs met ‘n skooluniform. Ek onthou hoe ons geleer is op hoërskool dat ons in die publiek die naam van ons skool hoog moet hou deur ons uniform korrek te dra, en niks doen wat oneer kan bring nie.

Die klere van verlossing

Dit is in ‘n geestelike sin ook waar. Die klere maak die man. Die klere maak die vrou. Die klere maak die mens.

Dit is wat Jesaja vir ons leer in hoofstuk 61-62:

10 Ek verheug my grootliks in die Here; my hele wese juig oor my God. Want Hy het vir my klere van verlossing aangetrek, ‘n mantel van geregtigheid het Hy my omgehang, asof ek ‘n bruidegom is, soos ‘n priester met ‘n tulband, soos ‘n bruid met haar versierings. 11 Ja, soos die grond sy plante voortbring en ‘n tuin sy saailinge laat uitspruit, so sal my Heer, die Here geregtigheid en lof laat uitspruit voor al die nasies.

62:1 Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem nie rus nie, totdat haar geregtigheid deurbreek soos ‘n helder lig, haar verlossing brand soos ‘n fakkel. 2 Nasies sal jou geregtigheid sien, en al die konings jou roem. Aan jou sal ‘n nuwe naam gegee word; die mond van die Here self sal dit bepaal. 3 Jy sal ‘n sierlike erekroon wees in die hand van die Here, ‘n kosbare koninklike hoofband in die handpalm van jou God. (2020-vertaling)

Onthou dat die volk in ballingskap is. Dat hulle sukkel om ‘n bestaan te maak. Dat daar op hulle neergesien word. Hulle het die oorlog verloor teen Nebukadnesar. Hulle het die Here in die steek gelaat. Hulle met afgode besoedel. Onsedelik geraak in hulle verhouding met God. In ‘n geestelike sin soos ‘n geskeide of verstote man of vrou.

God gee die klere van verlossing

Nou profeteer Jesaja in hoofstuk 61 dat die Here besluit het om vir hulle nuwe klere aan te trek. Klere van verlossing. ‘n Mantel van geregtigheid. Sodat die mans weer soos ‘n bruidegom kan lyk. Soos ‘n priester met ‘n tulband. Sodat die vrouens weer kan lyk soos ‘n bruid met haar versierings.

Hoekom? Want, dit is wat hoofstuk 62 sê. Die klere maak die man. Die klere maak die vrou. Die klere maak die mens. Die Here wil hê dat hulle geregtigheid soos ‘n helder lig sal deurbreek. Dat Jerusalem se verlossing sal brand soos ‘n fakkel. Dat alle nasies haar geregtigheid sal sien en die Here sal loof.

Die klere is die belofte. Van verlossing. Van geregtigheid. En waar dit biddend ontvang word, gaan dit in vervulling. Word dit ‘n werklikheid. Begin die volk leef as verlostes. Begin hulle om die geregtigheid na te jaag.

Jy kan nie jou eie klere aantrek nie

Die klere van verlossing, die klere van geregtigheid, is God se geskenk aan sy mense. Dit is iets wat jy ontvang van God. Dit is klere wat Hy jou gee.

Maar, dit beteken dat jy nie moet probeer om jou eie klere aan te trek nie. Jou eie geregtigheid, jou eie pogings om God se guns te wen nie. Veral nie jou eie idee van wat reg en verkeerd is nie.

Jy moet God se klere aantrek, soos Hy dit in die Skrif vir ons beskryf.

‘n NT voorbeeld hiervan is die gelykenis van die bruilof vir die koning se seun wat Jesus vertel het in die laaste week van sy aardse bediening. (Matt 22:1-14). Die eerste genooides het allerhande verskonings gehad, sodat die koning sy diensknegte uitgestuur het om enigiemand wat hulle kon vind, te versamel. En die saal het vol geword van gaste by die bruilof van die seun. Maar, dan sien die koning ‘n gas sonder ‘n bruilofskleed. Die man het ingekom sonder dat hy die klere aangetrek het wat die gasheer vir hom verskaf het. En die man is uitgegooi.

Waarmee Jesus die boodskap bring. Jy is net welkom in die koninkryk van God – want dit is waarop die metafoor van die bruilof dui – met die klere wat Hy vir jou gegee is. In Jesaja se taal, met die klere van verlossing, met die mantel van geregtigheid.

Trouens, Johannes praat in die Openbaring ten minste tien keer van hierdie tipe klere. Hy noem dit “wit klere” of “fyn linne” en hy beskryf die klere as die “regverdige dade” van die heiliges. Jesus is die Een wat hierdie klere uitdeel (Openb 3:18). Daarsonder kom jy nie in die hemel nie (Openb 3:4-5; 4:4; 6:11; 7:9, 13-14; 19:8). En hy voeg by dat ‘n mens versigtig moet wees om jou klere – die klere van verlossing – te besoedel nie (Openb 16:15).

Ek sal nie stilbly nie

Dit is waarom Jesaja sê, ek sal nie stilbly nie, ek sal aanhou om hierdie boodskap te bring, totdat almal dit glo, en die geregtigheid deurbreek soos ‘n helder lig. God se beloftes word dus in vervulling gebid!

Later in die hoofstuk sal Jesaja van die “wagters op die mure” praat wat geroep word om saam te werk en die Here aan sy beloftes te herinner in hulle voorbidding.

6 Op jou stadsmure, Jerusalem, het ek wagte uitgesit. Dwarsdeur die dag en nag sal hulle nie ‘n oomblik lank swyg nie. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! 7 Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem ‘n loflied op aarde gemaak het! (Jes 62:6-7 – 2020-vertaling)

Bid dat God se beloftes in vervulling gaan

God skep nuwe werklikhede. Die Here spreek en dit gebeur. Die woorde wat by God se mond uitgaan is kragtig en keer nie leeg terug nie.

En ons het nodig om dit hierdie jaar regtig weer en weer te hoor. 2020 was een van die moeilikste jare vir mense reg rondom die wêreld. Ons is ingeperk. Ons moes ons lewensstyl aanpas. Baie van ons het ‘n geliefde, vriend of kennis weens Covid-19 aan die dood afgestaan. Die ekonomiese verwoesting van Covid-19 het baie lewens ingrypend verander.

Dit is ook nog nie die einde nie. Nie van Covid-19 nie.

En, daar is ‘n moedeloosheid in die kerk, ‘n inperking van die gees, en op baie plekke ‘n verval in ‘n wêreldse gesindheid. Waar mense die gevaar loop om hulle klere te besoedel. Om nie langer die geregtigheid van God na te jaag nie saam met die ander kinders van die Here wat “wit klere” dra nie.

Onthou dan hierdie opdrag. Om te bid dat God se beloftes in vervulling gaan.

Ons is vandag die wagte op die mure wat God se beloftes in vervulling bid.

Moenie swyg nie. Moenie rus nie.

Gun die Here ook nie rus nie, totdat Hy sy geregtigheid gevestig het. In ons. En in hierdie hele wêreld.

Gebed

Dankoffers

Jy kan met Snapscan of EFT jou dankoffer inbetaal.

Kerkkantoor

Die kerkkantoor is gesluit tot in Januarie.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Slotlied

Vonkk 58 – Ons vind ons krag in die Here

Seën

En die gemeente sê:

Lied 314

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.