Hoe verander hierdie wêreld? – Handelinge 13-16:5

Die verhaal van die kerk
Tema: Hoe verander hierdie wêreld? – Handelinge 13-16:5
Youtube 09:00 2 Augustus 2020  Somerstrand Familiediens

Verwelkoming

Welkom by ons geloofsgemeenskap op Youtube. Ons gemeenskap oorspan nou werklik alle grense. Tot in die hoeke van die aarde. Die bande wat ons bind in die Here oorspan die grense van plek en selfs tyd. Want jy kan te enige tyd luister!

Mag die Here jou op ‘n spesiale manier met hierdie boodskap seën. Trouens, jou só aangryp dat jy self ‘n boodskapper sal word.

Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Dit is week 2 van my fokus op die lewe van Paulus. Tot en met Advent. Ons lees saam die boek Handelinge en Paulus se dertien briewe. Titel en tema: Die verhaal van die kerkPaulus versit berge.

Daar is ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 2 met Handelinge 13-16:5 op die tafel.

Ek werk met die metafoor van Paulus wat berge versit. My gebed is dat die kerk hierdie pioniersgees weer sal herontdek. Spesifiek in ‘n tyd waar ons uitgelewer is aan nie net natuurlike rampe nie, maar ook vervolging op só baie plekke in hierdie wêreld.

Paulus se pionierswerk het aan die begin die verhaal van die kerk geword. Ek bid dat jy jou plek en rol in daardie verhaal vandag sal ontdek en sal volstaan.

Verjaarsdae

Baie geluk aan René Beyers, in my belydenisklas, Neil Gerber (10) en Anelyne Rheeder wat almal vandag verjaar. Lys van verjaarsdae is op die web. Bel en wens geluk deur die week.

Sterftes en siekes

Slegte nuus is dat Tony Clark dié week oorlede. Ons bid vir jou Leonora en jou familie vir krag in hierdie uitdagende tyd.

Ons bid ook steeds vir almal wat steeds behandeling vir ander siektes ontvang. Valda de Villiers gaan dié week in vir ‘n operasie. Christine Schreiber sukkel met asma by die huis. Baie sterkte vir julle. En vir almal wie se familie en vriende die virus opgedoen het. Ons dink aan Gerrit van tannie Bets Viviers. Mag die Here julle almal beskerm en bewaar.

Ons bid ook spesifiek vir die mense wat in die voorste linies veg teen die virus. Dokters, verpleegsters, admin personeel. Mag die Here julle ook beskerm en bewaar.

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van ds Thania Boha van PE Hoogland. Vandag is dit E vir Engele in haar Geloofsalfabet. Ons leer meer van engele. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan oor die tema van ‘n verhouding met God. Ds Deon Loots gaan dit hanteer.

‘n Bietjie statistiek.

Ons was baie opgewonde aan die begin van die jaar toe ons gemiddeld 65 mense by die aanddiens was. Die inperking het ons egter aanvanklik tot stilstand geruk. Ons moes eers herorganiseer as gemeente voor die Here dit op ons harte gelê het om met Pulse te begin. Ons is nou al twee maande aan die gang en die bywoning het ons verstom. Die gemiddelde bywoning vir die 8 dienste is 194 “views” wat natuurlik baie meer mense beteken. Die eerste twee dienste is trouens al elkeen 291 keer gekyk, want dit is die voordeel van Youtube dat jy kan kyk op ‘n tyd wat jou pas. Saam met die gemiddeld 346 “views” van die Familiediens in die oggend, staan ons gemiddelde “views” vir die twee maande op 540! Voorwaar ‘n voorreg om die Woord van die Here só aan ‘n groterwordende gehoor te kan bedien.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

Ek herinner julle aan die waarheid van God se liefde tot geloofsversterking:

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:16)

Ek groet jou in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Dit is weer Kindertyd met oom Jaco Barnard.

Kindertyd

Gebed

Kom ons sing van God se liefde

Loflied

Lied 286 – Here God van liefde

Skriflesing en prediking

Hoe verander hierdie wêreld?

Ek wil vandag gesels oor die tema: Hoe verander hierdie wêreld?

Kom ons kyk eers na ‘n inset van CCV Media, die Media Arts Team van Christ’s Church of the Valley in Phoenix, Arizona: No other Name. Die invalshoek wat hulle kies, is vir my ‘n eerste antwoord op die vraag, iets waarop ek dan wil uitbrei wanneer ons na die tweede hoofstuk van Paulus se verhaal gaan kyk.

Video

Die verlange na verandering

In elke mensehart is daar ‘n bewussyn van die ewigheid weggelê (Pred 3:11). ‘n Verlange na betekenis. ‘n Verlange na heelheid. ‘n Verlange na God.

Mense soek die waarheid. Mense soek vir antwoorde vir die konflikte waarin hulle lewe. Hulle soek na verandering. Na vrede. Na geluk. Na lewe.

En daar is soveel maniere waarop hulle dit soek.

  • Hulle soek dit in vryheid van reëls en konvensies. Dit werk natuurlik net halfpad, want die een se vryheid is die ander se verslawing. En baie keer moet jy juis ander se vryheid inperk om jou eie vryheid te kan geniet. Dink maar aan die konflik tussen vryheid van spraak en haatspraak. Die een se brood is die ander se dood.
  • Hulle soek dit in die opwinding van plesier. Dit werk ook net vir ‘n tyd, want daar is altyd gevolge. Te veel van ‘n goeie ding, is nie ‘n goeie ding nie. Jy het altyd meer opwinding nodig, omdat die alledaagsheid van die lewe jou dood-verveeld kan laat.
  • Hulle soek dit in die begeerte na mag. Dit is waarskynlik die grootste versoeking vandag. Mense dink dat as hulle net beheer kan neem – oor die politiek, oor die ekonomie, oor gedagtes – dan sal alles beter wees. Maar mag korrupteer. En absolute mag korrupteer absoluut.

Hoe verander hierdie wêreld?

Daar is maar net een manier wat die behoefte aan verandering bevredig kan word. Dit is net God wat ons sug na verandering kan bevredig.

Van die begin af is verandering God se domein. Sy eerste woorde ná die sondeval in Eden was: “ʾayyekkâ”: “Waar is jy?” Daarin lê die hoop van verandering in hierdie wêreld.

So, hoe verander hierdie wêreld?

Regdeur die Bybel lees ons dat verandering kom waar God se stem gehoor word. Waar sy aanbod van verlossing aangegryp word. Waar sy stem in Jesus Christus gehoorsaam word.

Waar is God?

Wat ons in die eerste hoofstuk van Paulus se lewe moes raaksien, is dat alles verander het toe God na vore getree het.

  • By ‘n Stefanus in sy marteldood terwyl hy van Jesus getuig.
  • By ‘n Saulus (Paulus) op die Damaskus pad terwyl hy Jesus vervolg.

Jesus was oral betrokke. By sy volgelinge sowel as by sy vervolgers. Dit is Hy wat Stefanus in sy marteldood in die hemel ontvang. Dit is Hy wat ‘n Saulus uit sy dwase rebellie roep om die evangelie tot aan die einde van die aarde te neem.

Waar is jy?

Wat ons in hierdie tweede hoofstuk van Saulus se lewe moet raaksien, is hoe God mense verander deur die verkondiging van die Woord. En hoe daar oral op die reis van Paulus deur hierdie wêreld mense is wat bestem was vir die ewige lewe. En verander in dissipels van Jesus.

Hulle luister na die woorde van Barnabas en Saulus, want hulle hoor die roepstem van God daarin: “Waar is jy?”

En hulle antwoord, “Hier is ek!” En kom tot inkeer. Die verandering wat hulle begeer, die verandering wat hierdie wêreld nodig het, begin in hulle eie hart. Waar God hulle verlos van hulle sonde en hulle voete op die pad van gehoorsaamheid plaas.

Sewe gemeentes

‘n Mens sien dit oral op hierdie eerste sendingreis van Saulus. Saulus is sy Hebreeuse naam. Paulus sy Griekse naam. Ek gebruik sy name aanvanklik uitruilbaar. Saulus se reis neem hom na ‘n hele paar plekke (waarvan ons lees) op sy eerste sendingreis (volg die op hierdie kaart). Ongeveer 2 000 km te voet. In die jare 46-47 n.C.

Lukas vertel vir ons die storie van sewe gemeente wat in die proses gestig is.

1. Salamis

Saulus begin sy reis in Antiogië in antieke Sirië – vandag Antakya, Hatay Provinsie, Turkye – naby die mond van die Orontes rivier so 12 km van die grens tussen Turkye en Sirië.

Hulle reis na Seleukië aan die kus in antieke Sirië – vandag Çevlik in dieselfde Turkse provinsie. So 25 km van Antiogië af. En vaar na Siprus, so 160 km per boot.

Hoekom?

Want dit is waar Barnabas gebore is!

Hy was ‘n Leviet wat reg aan die begin van die ontstaan van die Christelike kerk tot bekering gekom het. Die dissipels het in sy suster, Maria, se huis bymekaar gekom. Barnabas het grond besit in Siprus, grond wat hy verkoop het om die armes in Jerusalem te help (Hand. 4:36).

Die eerste plek wat Saulus-hulle bedien is Salamis op die eiland Siprus – naby Famagusta vandag. Hulle vestig ‘n patroon deur eerste van alles na die Joodse sinagoge te gaan en die woord van God daar aan die Jode te bring.

Ons hoor nie van enige reaksie – goed of sleg – in Salamis nie, maar lees dat Saulus-hulle Siprus deurkruis het tot in Pafos (kaart). Uiteraard het hulle langs die pad die evangelie verder verkondig, want dit is so ‘n 160 km te voet.

2. Pafos

By die stad Pafos – vandag Kouklia – is daar egter groot reaksie. Ons lees die volgende in Handelinge 13:

7Die goewerneur Sergius Paulus, ’n verstandige man het Barnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor. (Hand. 13:7)

Hierdie man het nog maar net gehoor dat die woord van God verkondig word, maar stel onmiddellik belang. Sy hart is al geroer net deur die eerste boodskap wat sy ore bereik.

Onmiddellik is daar egter ook teenstand, want ‘n towenaar wat die goewerneur wou keer om te glo, staan Saulus – dit is Paulus, sê Lukas, want van hierdie punt af gebruik Lukas sy Latynse naam – hom teë. Ons lees:

9Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: 10Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? 11En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son ’n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei. (Hand. 13:9-11)

Die wonder is egter dat hierdie teenstand nie hierdie goewerneur gekeer het nie. Ons lees:

12Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo. (Hand. 13:12)

Dit is hoe die evangelie werk. God stuur iemand om die woord van God te bring. Die woord roer die hart van ‘n soekende mens. En die verandering kom diep binne in hulle hart. Hulle glo en raak ‘n volgeling van die Here Jesus Christus, die Een wat deur sy Gees die agent van verandering in hierdie wêreld is.

3. Perge

Daarna vaar Paulus-hulle die 280 km per boot na Pamfilië in Klein-Asië en bedien in Perge, ‘n dorpie so ‘n entjie van die kus af – vandag ’n ruïne in Antalya.

Hoekom?

Want dit is waar Saulus gebore is.

Hy het wel sy opleiding in Jerusalem aan die voete van Gamaliël gekry, maar sy wortels het gelê In Tarsus – ‘n stad wat vandag deel van ‘n groot metropool in Turkye is, met drie miljoen inwoners. Te voet so 230 km van Antiogië in Sirië. Maar hulle het gekies om nie daardie roete te volg nie. Paulus sou dit wel volg met sy volgende reise saam met Silas en Timoteus.

Lukas vertel nie vir ons van enige reaksie in Perge nie.

4. Antiogië

Paulus-hulle reis die 160 km deur die Touros berge noord waar ‘n groot deurbraak vir die evangelie by die mense van Antiogië in Pisidië – naby Yalvaç vandag – plaasvind.

Paulus begin weereens in die Joodse sinagoge. Na die voorlesing van die wet en die profete kom hy aan die woord en verkondig op grond van die boodskap van die OT vir Jesus as die Verlosser wat God nie net vir Jode gestuur het nie, maar ook vir die godvresendes uit die heidene wat daar saam met die Jode in die erediens was.

Ons lees in Handelinge 14:

26Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur. (Hand. 14:26)

Paulus verkondig die dood en opstanding van Jesus en verkondig die vergifnis van hulle sonde:

38Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, 39en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word. (Hand. 14:38)

Die woorde het hulle harte geroer en regdeur daardie week het Paulus en Barnabas met die mense van Antiogië gesels oor die evangelie en die vryheid wat Jesus bring deur die vergifnis van sonde.

Die volgende Sabbatdag gaan Paulus verder om die Woord van God te verkondig. Hy begrond dit in hulle eie verhale – die verhale van die Uittog uit Egipte, die tyd van die Rigters, die tyd van die profete en konings, met Dawid die een uit wie die Messias gebore is. Hy haal talle kere uit die Skrifte aan wat hulle so goed ken (Ps. 2:7, Jes. 55:3, Ps. 16:10 en Hab. 1:5).

Dan maak Paulus ‘n sterk appèl op hulle om die woord van God in geloof te ontvang, sodat die vergifnis wat Jesus gebring het ook hulle lewe kan verander.

Dit bring egter weereens groot teenstand, hierdie keer nie net van een mens, ‘n towenaar soos in Siprus nie, maar hierdie keer van ‘n hele aantal van die Joodse leiers. Ons lees ons die volgende:

45Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. (Hand. 14:45)

Dit bring ‘n wending in Paulus-hulle bediening:

46Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie. (Hand. 14:46)

Hy haal dan uit Jesaja 49:6 aan:

47want so lui die Here se opdrag aan ons: Ek het U gegee as ’n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” (Jes. 49:6)

Die keersy van hierdie teenstand is dat dieselfde woorde soos salf in die ore van die heidene was wat na hom geluister het. Ons lees:

48Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. (Hand. 14:48-49)

Let op wat Lukas vir ons hier skryf: Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword!

Hoe verander hierdie wêreld?

Deur elkeen wat na die woord van God luister, dié wat vir die ewige lewe bestem is, en in Jesus Christus glo en Hom begin gehoorsaam.

Want, van hierdie heidene wat gelowig word af, versprei die woord van die Here na die hele streek.

Wat ons hier leer is die volgende:

  • Aan die een kant wys die Jode se teëstand duidelik uit dat hulle die ewige lewe nie werd is nie (hulle spreek ’n oordeel oor hulleself uit!).
  • Aan die ander kant wys die geloof wat onder die heidene posvat dat geloof ‘n gevolg is van God se verkiesing. God se werk word sigbaar in die geloof al dan nie van alle mense.

Verandering kom in die harte van diegene wat God van altyd af gekies het om positief op die boodskap van Jesus te reageer. En op hulle beurt raak hulle dissipels, draers van die boodskap van verandering wat regdeur hierdie wêreld moet gaan.

5. Ikonium

Die tyd ontbreek my om die verdere verhaal in detail te vertel. Julle kan meer lees in die Bybel en in my boek. Paulus-hulle reis hiervandaan na Ikonium in Klein-Asië – naby Konya, in die sentrale gebied van Anatolië in Turkye, so ‘n 140 km verder. ‘n Groot aantal Jode en Grieke het daar in Jesus begin glo.

6. Listra

Die teenstand van die ongelowige Jode het hulle egter weggedryf na Listra in Klein-Asië – naby Hatunsaray – so 50 km verder. Daar moes hulle net keer dat die mense hulle nie as gode vereer nie, want hulle genees ‘n man met kreupel voete. Die Jode agtervolg hulle egter ook daar en kies om Paulus te stenig en vir dood agter te laat.

Die gelowiges het egter rondom hom kom staan en die Here het hom weer genees. Nog was het einde niet, en Paulus besoek nog een stad, Derbe.

7. Derbe

In Derbe in Klein-Asié – naby Karaman vandag – ook so 50 km verder, maak Paulus en Barnabas nog ‘n aantal dissipels, voor hulle die reis terug vat. Hulle keer met dieselfde roete terug om die nuwe gelowiges in Listra, Ikonium, Antiogië, en Perge te versterk.

Voordat hulle uiteindelik na ongeveer twee jaar terugkeer na hulle tuisgemeente vanaf die kusdorp Attalia in Pamfilië – vandag Antalya aan die kus van die Mediterreense See – om verslag te doen van die reaksie op die evangelie in Antiogië in Sirië.

Hier werk hulle in Antiogië vir ‘n geruime tyd voor hulle in 49 n.C. na Jerusalem vertrek vir die belangrike beslissing oor die besnydenis.

Hoe verander hierdie wêreld?

Daar is net een manier. Dit is deur die boodskap van die Here Jesus Christus. Deur mense wat die roeping van God aanvaar om die boodskap te neem na hulle geboorteplekke. En uiteindelik na hierdie hele wêreld.

Daar is nie ‘n ander manier nie. Dit is plan A. Daar is nie ‘n plan B nie.

Kom ons bring dit in ons eie leefwêreld in.

Paulus en Barnabas reis 2 000 km oor ‘n tydperk van twee jaar. Dit is min of meer van Port Elizabeth af tot in Johannesburg en terug.

Stel jou voor dat jy só aangegryp is dat jy die pad vat om die mense van Uitenhage en Cookhouse, Steynsburg en Bloemfontein, Welkom en Kroonstad en natuurlik die grote Gauteng van die Here Jesus te gaan vertel. Dit is sewe dorpe en stede in ons eie land.

Maar, sê jy, daar is reeds kerke daar! Wel, daar was sinagoges in elke stad wat Paulus besoek het.

En uiteindelik gaan hy na die mense wat nie in die sinagoges was nie. Na die gebreklike man langs die pad in Listra. Na die mense wat die Here gekies het om positief op die boodskap te reageer.

Nou, ek wil hiermee net jou visie op die wêreld rondom jou verhelder. Want, die ding is, ons kla oor die chaos en konflik in hierdie wêreld. En dan bly dit ook maar net daar.

Wat sal dit kos om jou te oortuig om die boodskap van Jesus na jou eie wêreld te vat?

Want, dit is die enigste manier waarop hierdie wêreld gaan verander. Deur God se Woord wat by mense uitkom.

En as dit nie jou hart roer nie, is die vraag natuurlik, het die Woord al by jou uitgekom? Het die Here jou eie hart al verander?

En as die Here vir jou ‘n werklikheid geword het, waarvoor wag jy dan?

Bid en vas en laat die Gees jou roep na die plek wat Hy vir jou het as vennoot in verandering.

Die wêreld wag steeds vir die verandering wat slegs God kan bring. En God het ook vir jou daarin nodig.

Gebed

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys.

Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Bydrae

Hugo Wolmarans het vir ons ‘n bydrae gestuur.

Kom ons luister daarna.

Slotlied

Ons lied is ‘n belydenis van ons vertroue dat God se liefde ons nooit in die steek sal laat nie. Dit is die boodskap wat hierdie wêreld verander.

Vonkk 156 – As vreugde my deel is, of smart my verteer

Seën

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees wees en bly met julle.

En die gemeente sê: “Amen!”

 

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.