Daar is wydverspreide konflik in hierdie wêreld. Daar is die ekonomiese stryd tussen die Ooste en die Weste. Daar is die godsdienstige stryd tussen die groot godsdienste – Islam vs die Christendom, Islam vs Islam, ateïsme vs enige godsdiens. Daar is die stryd om bronne tussen die Eerste en die Derde Wêreld, of soos dit toenemend in opvoeding genoem word, die Minderheid en die Meerderheid Wêreld, die Globale Noorde vs die Globale Suide. Reg oor die wêreld is daar hierdie skerp verskille en konflikte wat die kohesie en wêreldvrede bedreig.
Waar kom die konflik vandaan?
Jakobus 4 trek vir ons die gordyn op hierdie tipe konflikte oop soos God daarna kyk. Hy gee vir ons God se verduideliking waar die destruktiewe kragte vandaan kom wat in ‘n hele aantal van die gemeentelede van daardie tyd aan die werk was en wat in die oorloë en gevegte te siene was wat onder hulle voorkom. En wat ook in die gemeenskappe regdeur die wêreld ‘n impak het.
Die onmin en konflik kom in die eerste plek van die “sondige drange wat julle ledemate soos soldate gebruik om te veg,” soos die NLV dit vertaal.
English translation: God wants the life He gives us only for Himself
Hier volg die hele erediens
Verwelkoming
Toetrede
Informele groep. Vian sal kies.
Votum en seëngroet
Loflied
Lied 209 Heer, met my hele hart en Lied 224 Kom prys Hom alle nasies (staan)
Verootmoediging
Lied 171 Heilig, heilig, heilig (sit)
Kindertyd
Was jy al kwaad vir jou boetie of sussie? Vertel my daarvan.
Die Here weet dat ons soms kwaad raak vir mekaar.
1. Hy wil ons help. Sy raad aan ons is in die eerste plek dat ons nie net aan onsself sal dink nie. Dat ons ook aan ons boetie of sussie sal dink en vir hulle sal omgee.
Jakobus skryf só daaroor:
Hoekom stry en baklei julle so baie? Ek weet. Dit is omdat julle net aan julleself dink en nie vir ander omgee nie. Wil jy nie miskien die hele tyd jou sin hê en doen wat vir jou belangrik is nie? Alles wat jou oë sien, wil jy hê. As jy dit nie kry nie, is jy dikmond en wil sommer met almal baklei. As iemand anders iets kry wat jy wou hê, is jy nog kwater en baie jaloers. Om te baklei en ander seer te maak gaan jou niks help nie.
Dit is darem goeie raad, nè? Om te baklei en ander seer te maak, gaan jou niks help nie. Dit gaan jou net sleg laat voel. Ook jou boetie en jou sussie gaan baie hartseer wees. Om nie te praat van jou ma en pa nie.
Dit is baie beter om vir jou boetie en sussie om te gee. Om te sorg dat hulle ook kans kry om te doen wat vir hulle belangrik is. Om nie net die hele tyd te dink wat jy wil hê nie. Maar, te dink aan wat hulle wil hê.
2. Maar, dit is nie al nie. Jakobus weet in die tweede plek dat God baie graag vir ons wil gee wat ons nodig het. Wat vir ons belangrik is. Daarom sê Jakobus ook:
Baie keer kry ’n mens nie iets nie, omdat jy dit op die verkeerde manier wil kry. Vra vir God of Hy dit nie vir jou wil gee nie.
Dit is ‘n plan! Om nie die hele tyd met ander te baklei oor wat jy wil hê nie. Maar, vir die Here te vra. Wil Hy dit nie vir jou gee nie?
3. Maar, miskien het jy al dit gedoen en niks het gebeur nie. Jakobus weet ook daarvan. Hy sê in die derde plek dat ons mooi moet dink wat ons van God vra. Hy sê:
Jy sal miskien sê: “Ons bid en bid, maar God luister nie. Hy gee nie,” sal jy miskien sê. Weet jy hoekom? Jy bid met die verkeerde gedagtes. Dit gaan net om jouself en niemand anders nie. Dis verkeerd. Jy wil nie God daarmee bly maak nie. [1]
Dís die geheim. Jy moet bid vir dinge wat God se hart sal bly maak. Dan kan jy sommer weet dat die Here dit vir jou sal gee.
God is mos lief vir ons. Hy wil vir ons gee wat ons nodig het. Maar, dan moet ons die dinge kies waarvan God hou.
Kinderlied
Flam 104 Weet jy nie jy is ‘n tempel van die Heilige Gees
Epiklese
Skriflesing en prediking
Dit is nie net boeties en sussies in ons gesinne wat met mekaar baklei nie. Daar is wydverspreide konflik in hierdie wêreld. Daar is die ekonomiese stryd tussen die Ooste en die Weste. Daar is die godsdienstige stryd tussen die groot godsdienste – Islam vs die Christendom, Islam vs Islam, ateïsme vs enige godsdiens.
Daar is die stryd om bronne tussen die Eerste en die Derde Wêreld, of soos dit toenemend in opvoeding genoem word, die Minderheid en die Meerderheid Wêreld, die Globale Noorde vs die Globale Suide.
Ons sien die veral in die stryd om opvoeding en veral die skeiding wat die vierde industriële revolusie bring tussen mense wat toegang het tot die Internet en dié wat dit nie het nie. Dit verander die wyse waarop ons werk en leef. As jy nie vandag digitaal kan werk nie, kan jy in baie gevalle nie werk nie. Punt.
Reg oor die wêreld is daar hierdie skerp verskille en konflikte wat die kohesie en wêreldvrede bedreig.
Hoekom is dit so?
Wel, die konflikte vandag is nie nuut of uniek nie. Miskien meer intens. Miskien groter. Miskien wyer. Maar dis nie iets wat net in ons tyd voorkom nie.
Jakobus 4 trek vir ons die gordyn op hierdie tipe konflikte oop soos God daarna kyk. Hy gee vir ons God se verduideliking waar die destruktiewe kragte vandaan kom wat in ‘n hele aantal van die gemeentelede van daardie tyd aan die werk was en wat in die oorloë en gevegte te siene was wat onder hulle voorkom. En wat ook in die gemeenskappe regdeur die wêreld ‘n impak het.
Waar kom die konflik vandaan?
Die onmin en konflik kom in die eerste plek van die “sondige drange wat julle ledemate soos soldate gebruik om te veg,” soos die NLV dit vertaal. Kom ons lees dit in die NLV:
“Waar kom die rusies en gevegte onder julle vandaan? Is dit nie julle sondige drange wat julle ledemate soos soldate gebruik om te veg nie? Julle wil dinge hê wat julle nie het nie, en pleeg dan moord om dit te kry. Julle is jaloers oor wat ander het, en as julle dit nie in die hande kan kry nie, veg en baklei julle om dit by hulle te vat. En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie. En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is – julle wil goed hê net om dit self te geniet. In julle huweliksverhouding met God is julle ontrou! Besef julle nie dat vriendskap met die wêreld jou ’n vyand van God maak nie? Hoor wat ek sê: As jy die wêreld tevrede wil stel, het jy klaar as vyand teen God stelling ingeneem. Of dink julle dat die Skrif sommer maar net sê: “God wil die lewe wat Hy ons gee, nét vir Homself hê”? God is egter besig om ons steeds meer genade te gee om aan Hom getrou te wees. Daarom sê die Skrif: “God weerstaan hoogmoedige mense, maar aan nederige mense gee Hy genade.”” (Jak 4:1-6 NLV)
Hedonistiese begeertes
Jakobus sê onomwonde dat die onderlinge konflik en onmin – metafories beskryf as moord – van hulle sondige begeertes (hēdonē) kom. ‘n Oortreding van die tiende gebod, jy mag nie begeer nie. Die Griekse woord beskryf ‘n begeerte na fisiese plesier, baie keer seksueel, waarvan ons woord hedonisme kom. ‘n Sug na genot, soos die HAT dit stel. ‘n Toewyding aan genot.
‘n Mens kan dit bv sien in die begeerte na besittings – soos die Tien Gebooie teen waarsku – wat vererger word deurdat hulle dié wat wel iets het, met jaloesie bejeën. In plaas daarvan om die Here te vertrou vir sy voorsiening en van Hom te vra wat hulle nodig het, veg hulle met mekaar, en veroorsaak dit vyandskappe en stryd.
En hierdie konflikte het die Here Jesus self al in die Bergrede afgekeur, want as jy bv kwaad raak vir jou broer, en hom allerhande dinge toevoeg, dan pleeg jy eintlik (karakter)moord (Matt 5:21-22). Ook die apostel Johannes het haat gelykgestel aan moord (1 Joh 3:15). Haat is daarom ‘n oortreding van die sesde gebod, jy mag nie moord pleeg nie.
Augustinus en Luther het ‘n fassinerende Latynse frase vir sondige begeertes gebruik: incurvatus in se. Dit is die toestand van “inwaarts op jouself gebuig” te wees.
Dit is die oorsaak van al die konflik in hierdie wêreld. Selfs in die kerk. Ook in onsself.
Ek luister verlede week na ‘n bydrae in Lectio365 waar die impak van ons sondige begeertes selfs ook in ons gebedslewe ‘n rol kan speel. Dit is so maklik dat ons ook in ons gebede na binne kan buig. Wanneer ek meer vir my eie behoeftes bid as dié van ander. Wanneer my stiltetyd weinig meer word as ‘n oomblik van persoonlike daaglikse terapie. Wanneer kontemplatiewe gebed die intersessie-variëteit heeltemal verdring.
As dit gebeur, loop ek ook die groot gevaar om na binne op myself te buig.
Die oplossing lê in gebed
Die oplossing, sê Jakobus, lê in gebed, die regte tipe gebed. Ons moet ons begeertes aan die Here gee, van Hom vra, by Hom aanklop, by Hom soek om bevrediging. Dit is wanneer ons regtig fokus op ons gebedsverhouding met Hom – NLV noem dit ‘n huweliksverhouding! – dat hierdie begeertes binne sy wil aandag sal kry.
Wanneer ons nie van Hom vra nie, tree ons eintlik as vreemdelinge teenoor God op – soos egbrekers – terwyl ons vriende kan wees! Ons moet as vriende van God leef, tot Hom nader, met Hom gemeenskap beoefen. Dan sal Hy vir ons die begeertes gee van ons hart.
Hoe mooi sê Dawid dit nie as ou man nie:
“Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg.” (Ps 37:4-5 NLV)
Vertrou God vir sy voorsiening
Die oplossing vir gefrustreerde begeertes is nie om te gryp na die bevrediging van jou behoeftes nie. Die oplossing is nie om jou wil op ander af te dwing om te kry wat jy wil hê nie. Nee, die oplossing is om te bid, om van God te vra, en Hom te vertrou om vir jou te voorsien.
Soos Paulus oor dieselfde saak geskryf het:
“Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank. En die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil 4:5b-7).
Hoekom is dit so belangrik?
Jakobus vat ons terug na die begin van die skepping van die mens. Die rede hoekom God dit van ons vra, is omdat:
“God hunker met besitlikheid (jaloersheid) na die gees wat Hy in ons laat woon het.” (Jak 4:5 – 2020-vertaling)
Of soos die NLV dit vertaal:
God wil die lewe wat Hy ons gee, nét vir Homself hê.
Jakobus verwys hier na ‘n redelike algemene Skrifbeginsel, eerder as na ‘n direkte aanhaling. Maar Genesis 2:4-7 kan moontlik die OT agtergrond wees vir hierdie uitspraak:
“Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het … het die Here God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende wese geword.
God het sy lewensasem in die mens ingeblaas en hom so ‘n lewende wese gemaak (vgl Gen 6:17; 7:22). God is dus jaloers op die deel van Homself wat ons wesens maak wat in gesprek met Hom kan tree.
Die Hebreeuse woord néshamah (“asem”) word in Genesis 2:7 gebruik vir die lewe wat God aan mense gegee het, nie aan die diere nie. Die mens is dus nie net ‘n lewende wese wat asemhaal nie. Ons is besiel met die lewe van God.
Daardie lewensasem van God in ons stel ons in staat om geestelike dinge te begryp:
“Dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die asem wat van die Almagtige kom.” (Job 32:8 NLV)
Daardie lewensasem van God gee ons ‘n funksionerende gewete:
“Die asem van die mens is die Here se lamp; daarmee deursoek Hy al die kamers van die binneste.” (Spr 20:27 AFR20)
Vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God
Daarom wil God ons vriend wees, nie ons vyand nie, want Hy hunker daarna om met ons in die tipe verhouding te wees wat ons met Hom in die paradys gehad het. Ons kan dus daarop staatmaak dat God ons vriend wil wees.
“God wil die lewe wat Hy ons gee, nét vir Homself hê.”
God kan nooit vrede maak met iemand wat ‘n vriend van die wêreld wil wees nie. Want vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God. As jy jou waardes laat bepaal deur iets anders as die Woord, en veral as jy dit laat bepaal deur jou eie liggaamlike sondige begeertes, dan verwerp jy God se openbaring aan jou. En dit maak jou ‘n vyand van God.
God se genade maak ons skoon van sondige begeertes
Maar, let op in vers 6 dat Jakobus hier eintlik verkondig dat God se genade groter is as ons sondigheid. Hy soek net by ons ‘n nederige afhanklikheid sodat sy genade ons kan skoonmaak van ons sondige begeertes. Dat ons vanuit die vriendskap aan die wêreld geruk kan word na vriendskap met Hom.
Daardie onderwerping aan God is die kragpunt in ons lewe wat die Duiwel laat wegvlug, soos Jakobus in vers 7 en verder verkondig. Dit is nie ons wat die Duiwel op die vlug laat slaan nie. Dit is God self. Maar, dan moet ons God die plek gee wat Hy nodig het om sy werk te kan doen.
Leef as vriend van God
Die somtotaal van Jakobus se boodskap aan ons is dat ons in afhanklikheid van God moet leef. Om ‘n vriend van God te wees, is die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry. Dít is immers waarom Hy sy lewensasem in ons laat bly, sodat ons onbelemmerde kontak met Hom kan geniet. Al sy voorsiening en vrygewige genade kom na vore in dié verhouding met Hom.
Daarom kan ons met oorgawe werk aan ons verhouding met Hom. Kan ons ons begeertes voor Hom bring en van Hom afhanklik lewe. En kan ons in deernis teenoor mekaar optree, sonder om in gevegte betrokke te raak oor dít wat ons dink ander het wat meer is as wat ons self besit.
- Vertrou God dus vir sy voorsiening.
- Vra van Hom wat jy nodig het.
- Leef afhanklik van God in alles.
Gebed
Dankoffers
Slotlied
Lied 530 Praat ek mense- engletale (staan)
Seën
Respons
Lied 526 Waar daar liefde is/Ubi caritas
[1] Joubert, S. (1999) Die Nuwe Testament vir kinders in ’n taal wat hulle verstaan. Vanderbijlpark: Carpe Diem, Jakobus 4:1–5.