You are currently viewing God se geduld met ons is ‘n geleentheid tot verlossing – Rigters 8

God se geduld met ons is ‘n geleentheid tot verlossing – Rigters 8

NGK Somerstrand 09:00 | 14 Mei 2023 | Kerk en Youtube (jammer, Internet was af weens tegniese probleme, daarom geen Youtube uitsending nie!)

VERWELKOMING EN AANKONDIGINGS

  • 15 Komberse vir bosslapers – Jan-Hendrik
  • Dankie vir die 8 ton trok vir Theo

Judges 8 – English Translation

TOETREDE

Flam 232 In Christ alone

Flam 118 Bly volhard soos atlete

VOTUM EN SEËNGROET

LOF

Psalm 128:1-3 Geseënd hy wat handel (staan)

Vonkk 345:1-4 Seën ons huisgesinne, Heer. (sit)

VEROOTMOEDIGING

Lied 526 Waar daar liefde is / Ubi caritas (sit)

KINDERTYD

GEBED

SKRIFLESING EN PREDIKING

Dit is duidelik dat die tyd van die rigters ‘n tyd van groot afvalligheid en ongehoorsaamheid aan die Here was. Die volk het telkens weer afvallig geraak van die Here en die omringende nasies se afgode aanbid en by hulle onsedelikheid betrokke geraak. Presies dié dinge waarteen Josua, en voor hom Moses, hulle gewaarsku het.

Die leiers wat die Here gebruik het om van tyd tot tyd in te gryp, was egter nie van dieselfde statuur as ‘n Moses en ‘n Josua nie. Dit het beteken dat die verlossing wat die Here deur hulle bewerk het, meesal net vir ‘n tyd was, waarna die volk weer afvallig geraak het.

Ons sien dit ook in die verhaal van Gideon.

Die Here se geduld met Gideon

Die Here verskyn aan Gideon by die parskuip en bemoedig hom op verskillende wyses – sigbaar en onsigbaar. Maar, Gideon wil telkens fisiese tekens hê wat God se woorde moet staaf. Soos die vuur wat uit die rots kom om die offer wat Gideon voorberei het, verteer.

Selfs as die Gees van die Here van Gideon besit neem (Rigt 6:34), dan vra Gideon die Here moet nog twee tekens vir hom gee. Die vag wol moet nat wees en die grond rondom droog. En net daarna moet dieselfde vag wol droog wees en die grond rondom nat (Rigt 6:36-40).

In dit alles wys die Here sy geduld en genade vir Gideon. Hy laat Gideon nie aan sy eie genade oor nie. Hy sorg dat Gideon die roeping wat Hy vir hom het, kan deurvoer. Hy sorg dat Gideon die Midianiete verslaan. En Hy doen dit op ‘n wonderbaarlike manier, net met 300 man. Dit is eintlik die swaard van die Here wat die oorwinning bring, nie die swaard van Gideon nie.

Maar, Gideon kry dit nie reg om te volhard tot die einde van sy lewe nie.

Gideon se moed begewe hom

En wanneer die Midianiete op die vlug slaan, nie soseer omdat Gideon-hulle ‘n geraas gemaak het die nag nie, maar omdat die Here dit bewerk het dat hulle mekaar net daar in die kamp begin doodmaak, dan maak Gideon die fout om die oorwinning in ‘n bloot menslike een te begin verander.

Sy moed begewe hom weereens. Hy volstaan nie met die soldate wat die Here hom gegee het nie. Nee, hy stuur boodskappers na die manne van Efraim en roep hulle ook op om saam te veg (Rigt 7:24-25). En hulle gehoorsaam, maar val dan uiteindelik vir Gideon aan, want hulle verkwalik hom dat hy aanvanklik net met die 300 soldate geveg het. Hulle is vies vir hom dat hy hulle uitgelaat het (Rigt 8:1).

Gideon probeer mense tevrede stel

Gideon probeer hulle heel diplomaties die heuning om die mond smeer met die metafoor van die na-oes van Efraim se druiwe wat dan kwansuis beter sou wees as die volle oes van sy familie in Manasse (Rigt 8:2).

Hy probeer tog ook wys daarop dat dit God is wat die oorwinning gee, maar loop deurentyd die gevaar dat hy met sy poging om hulle te paai die oorwinning na ‘n bloot menslike een toe degradeer. Hy begin dus doodgewone diplomatiese politiek bedryf, want hy probeer mense tevrede stel (Rigt 8:3).

As jy eers een keer vir mense toegee, moet jy dit vir almal doen

Gideon slaag wel daarin om die manne van Efraim se bui te laat sak en vrede met hulle te maak, maar die skade is reeds gedoen. Want as jy eers begin om na ander se pype te dans, dan sal jy dit uiteindelik vir almal moet doen.

Dit sien ‘n mens direk hierna by die mense van Sukkot (in die stamgebied van Gad) wat hulle nie wil help in die agtervolging van twee ander Midianitiese konings, Sebag en Salmunna, nie (Rigt 8:4-7). Dit laat Gideon sy humeur verloor en hy sweer wraak teen hulle, ook teen die mense van Pniël wat hom en sy manne op dieselfde laakbare manier hanteer (Rigt 8:8-9).

Uiteindelik moet Gideon dus optree teen dié mense wat hy probeer paai het. Ná die uitmergelende oorlog teen die Midianiete het hy hulle wreed gemartel met doringstruike en haakdorings. Pniël se toring het hy platgeslaan en die mense van die stad doodgemaak.

Die gevolg is dat God uit die prentjie verdwyn

Die verhaal raak nog meer tragies as Gideon sy oudste seun, Jeter, nog ‘n blote kind, probeer oorreed om die twee gevange konings, Sebag en Salmunna, om die lewe te bring. Einde ten laaste maak hy hulle self dood en neem die maanversierings aan hulle kamele se nekke vir hom self. Dié versierings was moontlik ‘n aanduiding van hulle koninklike status.

Geen wonder dat die Israeliete nou vir Gideon koning wil maak nie. Want, as jy eers jou voet op ‘n pad gesit het waarin jyself op ‘n kragdadige wyse moet handhaaf, dan is daar nie meer keer nie. Die Israeliete wou dus hê dat Gideon ‘n dinastie van konings moet stig sodat hy en sy nageslag hulle met mag en mening kon verdedig.

Die gevolg is, die Here en sy verlossing word op die agtergrond geskuif, ook in die gedagtes van die mense.

Gideon val vir die versoeking van gierigheid

Tot sy krediet weier Gideon dié aanbod, want die Here moes die enigste koning bly, het hy gesê. Ons lees daarvan in Rigters 8:23:

23Maar Gideon het hulle geantwoord: “Dit is nie ek wat oor julle sal heers nie, en my seun sal ook nie oor julle heers nie. Die Here alleen heers oor julle.”

Maar, die versoeking was net te groot vir hom. Gideon se gierigheid kry die oorhand oor hom. Ons lees in Rigters 8:24-26:

24Gideon het ook vir hulle gesê: “Ek wil aan julle ‘n versoek rig: Gee elkeen vir my ‘n ring uit sy buit.” Die Midianiete het goue ringe gehad, want hulle was Ismaeliete.

25“Ons gee dit graag!” sê hulle, en sprei ‘n oorkleed oop. Elkeen het ‘n ring uit sy buit daarop gegooi. 26Die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was eenduisend sewehonderd sikkel goud; dit was afgesien van die halfmaantjies, die oorbelle en die purperrooi kledingstukke wat die Midianitiese konings gedra het, en afgesien van die kettinkies wat aan hulle kamele se nekke was.

Die verhaal van Aäron en die goue kalf speel hom dus nou weer in ‘n ander gedaante af en verlei die volk tot afgodery. Ons lees in Rigters 8:27:

27Daarmee het Gideon ‘n efod gemaak en dit in sy tuisdorp, in Ofra, opgestel. Die hele Israel is daar deur die efod tot afgodsdiens verlei; en dit het vir Gideon en sy huis ‘n valstrik geword.

Dit is onseker presies hoe die efod gelyk het, maar ‘n efod was die skouerkleed van die hoëpriester wat gebruik is wanneer hy die Here se beslissing gevra het (Eks 39). Die Urim en die Tummim was in ‘n sak in die kleed (Eks 28; Lev 8). Miskien was die beeld in die vorm van ‘n mens met ‘n priesterskleed aan.

Hoe dit ook al sy, die efodbeeld is uiteindelik aanbid as ‘n afgodsbeeld. Die beeld het dus vir Gideon self en vir sy mens ‘n valstrik geraak en hulle ontrou aan die Here gemaak.

Die gevolg is dat die mense afvallig raak

So, al het Gideon sy mense van die juk van die Midianiete verlos, het hy dit nie reggekry om die mense aan God en aan God alleen te verbind nie. Ons lees in Rigters 8:33-34:

33Maar net nadat Gideon dood is, het die Israeliete weer agter die Baäls aan gehoereer. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak. 34Die Israeliete het nie meer gedink aan die Here hulle God wat hulle gered het uit die hand van al hulle vyande rondom hulle nie.

Dit is wat altyd gebeur as ‘n mens enige ander oorweging in die plek van God plaas. Hetsy om mense op ‘n diplomatiese wyse aan jou kant te kry of om mense hulle sin te gee deur te doen wat hulle goedvind, eerder as dit wat die Here goedvind.

Afvalligheid wreek hom uiteindelik ook op jouself

Trouens, dit baat jouself uiteindelik ook nie! Soos Rigters 8:35 sê:

35Hulle het ook nie trou bewys aan die huis van Jerubbaäl, dit is Gideon, vir al die goeie dinge wat hy aan Israel gedoen het nie.

Watter ironiese opmerking. As jy vir mense gee wat hulle wil hê, is die uiteinde nie net dat hulle die Here verlaat nie. Die uiteinde is dat hulle jou ook verwerp.

Die volgende hoofstuk sal selfs wys hoe sy eie kind, Abimelek, teen hom in opstand kom, en vir groot hartseer in Israel verantwoordelik was (Rigt 9).

So, wat maak ‘n mens van die verhaal van Gideon?

Gideon bly steeds ‘n geloofsheld in die NT

Die oordeel van die NT oor die Rigterstyd is nie so negatief as wat ons miskien sou verwag nie.

Dit is veral die Hebreërskrywer wat vol lof is vir die rigters. As hy terugdink aan die Rigterstyd dan sluit hy vyf van die rigters in as geloofshelde:

32En wat moet ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, en ook van Samuel en die profete – (Hebr 11:32)

Hulle word in dieselfde asem as koning Dawid en die profete genoem. Trouens, nie een van die profete se name word genoem nie, net dié van die rigters.

Die skrywer lys van die dinge wat hierdie rigters onder andere gedoen het wat hulle laat kwalifiseer vir die galery van geloofshelde – en ‘n mens kan Gideon se naam by ‘n hele paar van dié gebeure plaas, miskien veral die wat “krag ontvang het in hulle swakheid”:

33hulle wat deur geloof koninkryke verower het, wat gedoen het wat reg is, wat beloftes verkry het, wat die bekke van leeus toegestop het, 34wat die geweld van vuur geblus, die skerpte van die swaard ontvlug het, wat krag ontvang het in hulle swakheid, wat magtig geword het in oorlogvoering, wat slagordes van vreemdes afgeweer het. 35Vroue het hulle dooies deur opstanding terugontvang; ander weer is gemartel toe hulle nie die vrylating wou aanvaar nie, sodat hulle ‘n beter opstanding kon verkry; 36nog ander het die toets van bespotting en slae verduur, en boonop van boeie en gevangenskap. 37Hulle is gestenig, middeldeur gesaag; deur teregstelling met die swaard het hulle gesterf, in skaapvelle het hulle geswerf, in bokvelle, behoeftig, verdruk, mishandel – 38die wêreld was hulle nie werd nie – terwyl hulle in verlate plekke en oor berge rondgeswerf het, en in grotte en in gate in die grond. (Hebr 11:33-38)

God praat steeds met ons deur hierdie geloofshelde

Die beste perspektief hou die Hebreërskrywer egter vir laaste, en dit is dat baie van dié geloofshelde nie gekry het wat beloof is nie, al het hulle met hulle hele wese uitgesien daarna, omdat God nie wou hê dat hulle die voleinding bereik sonder ons nie:

39En hoewel daar oor al hierdie mense vanweë hulle geloof met lof getuig is, het hulle nie die belofte ontvang nie, 40aangesien God iets beters vir ons voorsien het, sodat hulle nie sonder ons volmaak gemaak sou word nie. (Hebr 11:39-40)

Voordat ons dus ‘n te onbarmhartige oordeel oor die rigters fel en oor die tyd waarin hulle opgetree het, dink daaraan dat dit deel van God se beplanning was ter wille van ons. As hulle die voleinding sou bereik het in hulle eie tyd, sou ons miskien nooit die lig gesien het nie.

God roep ons op om ons eie wedloop met volharding te hardloop

Maar, dan gaan die Hebreërskrywer verder en roep ons op in Hebreërs 12:1:

1Daarom, terwyl ons ook so ‘n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

Ons moet luister na die groot wolk van getuies – ook na Gideon – en leer uit sy verhaal. Ons moet hoor dat ons die laste moet afgooi en die sonde wat ons so maklik verstrik. In Gideon se geval dat hy op mense begin staatmaak het. Dat sy gierigheid die oorhand gekry het. Dat hy uiteindelik gedoen het wat die mense gevra het, en hulle so in afgodsdiens laat beland het met die efodbeeld.

Ons moet ons oog rig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof

Maar, dit is nie al nie. Hebreërs 12:2-3 sê:

2die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het. 3Dink inderdaad aan Hom wat so ‘n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom verduur het, sodat julle nie geestelik moeg raak en uitsak nie.

Gideon is ‘n onvolmaakte voorbeeld van geloof en gehoorsaamheid. Ons kan en moet baie by hom leer. Maar, die eintlike een wat ons moet begelei is die Here Jesus self. Hy is nie net die begeleier van ons geloof nie – die Leidsman. Hy is ook die Voleinder van dié geloof, ook jou geloof.

Hy het nie teruggedeins toe Hy vir sy geloof moet ly nie. Hy het die kruis verduur – al was Hy onskuldig – en die beloning vir sy volharding gekry. Die ereplek aan die regterkant van die troon van God.

Al het almal teen Hom opgestaan – soos Gideon dit ook ervaar het van die Eframiete, en van die stede van Sukkot en Pniël – al het die Jode hulle vyandskap op die ergste moontlike manier op Jesus laat neerkom, het Hy nie geestelik moeg geraak en uitgesak nie. Nee, Hy het volhard tot die einde toe.

God se geduld met ons is ‘n geleentheid tot verlossing

En daarom sê Hebreërs 12:4 vir ons:

4Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

Dit is immers waar ons grootste stryd vandag nog lê. Om nee te sê vir die sonde. Om ons nie oor te gee aan die suigkrag van die sonde wat ons slawe maak van ons eie en die wêreld se begeertes, maar toe te laat dat die Here ons reinig van alle ongeregtigheid.

Ek sluit met die wyse waarop die apostel Petrus hierby aansluit. Hy sê in 2 Petrus 3:15

15En beskou die lankmoedigheid (geduld) van ons Here as ‘n geleentheid tot verlossing.

God se geduld met Gideon moet ons aanmoedig en bemoediging in ons eie geloof. Want, ons kan in die pad wat God met hulle geloop het, God se geduld en genade aan die werk sien.

Beskou God se geduld met jou as ‘n geleentheid om Hom nie net te vra vir verlossing nie, maar te leef in die verlossing wat Hy gee.

GEBED

DANKOFFERS

Largo (G.F. Handel)

SLOTLIED

Lied 475:1-2 Allerhoogste Hemelvader (staan)

SEËN

RESPONS

Lied 533:1-3 Stuur ons, Here (met voorsangers).

Deurkollekte

Spesiale kollekte vir Instituut van Blindes

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.