God hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie – Psalm 84
NGK Somerstrand 09:00 22 Augustus 2021 Youtube en kerk
MUSIEK VOORAF
- Jerusalem, die nuwe stad daal uit die hemel neer
- Lied 159:1-3 God is hier teenwoordig
Verwelkoming
Baie welkom hier in die kerk sowel as op Youtube. Hoop die skakel werk hierdie keer van die begin af reg! Ons is hier om die Here te aanbid. Met dieselfde lied waarmee Albert en Erika ons verwelkom het.
Toetrede
Lied 159:1-2 God is hier teenwoordig (sit)
Votum
By U wil ons skuil. ‘n Dag in u voorhowe is beter as duisend daarbuite. Ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid. Die Here God is ‘n son en skild.
Seëngroet
Ek groet jou namens die drie-enige God. Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.
Ons loof die Here met die woorde van die Psalm wat ons vandag gaan lees.
Lofsang
Ps 84:1-2 Hoe lief het ek u woning, Heer (staan)
Gebed
Dit is heerlik om hier in persoon te vergader. Om saam vir U te aanbid. Maar, ons is ook verbind aan elkeen wat aanlyn met ons vergader. Spreek met ons deur Psalm 84. Gee vir ons die vrugbaarheid en veiligheid waarvan die Psalm praat.
Skriflesing en preek
Pelgrims op pad na die Loofhuttefees
Stel jou voor ‘n groep pelgrims op pad na Jerusalem om een van die drie groot feeste van die Jode te vier. Waarskynlik die Loofhuttefees in die herfs, want hulle bid in die Psalm vir die vroeë reëns wat aan die einde van die herfs in die winter maande moes begin val.
Hulle was dus al twee keer die jaar daar.
- In die lente vir die Paasfees. Waar hulle asem geskep het na hulle hard gewerk het om te plant en die vroeë gesaaides te versorg. En hulle terug gedink het aan die verlossing uit Egipte.
- Ook in die somer vir die Pinksterfees na die oes en hulle ‘n vakansie nodig gehad het om tot verhaal te kom van al hulle werk. ‘n Fees wat later die Fees van die Gees sou word met Pinksterdag.
Nou in die herfs is dinge ‘n bietjie makliker en hulle wil fokus op die wyse waarop God hulle in die woestyn versorg het op pad na Kanaän. Daarom maak hulle hutte van loof en takke en hou ‘n “tente”-vakansie.
Maar die pelgrims is baie bewus daarvan dat die siklus van die boerdery weer gaan begin.
Hulle kom dus om die Here te dank vir sy sorg die afgelope jaar. Terselfdertyd bid hulle vir die vroeë reëns, sodat die grond voorberei kan word vir die saad. Hulle is dus tussen die oestyd en die saaityd.
Terwyl die pelgrims nog op pad is na Jerusalem – en dit kan wees dat die koning hulle die laaste deel van hierdie reis vergesel het (vers 10) – sing hulle Psalm 84. ‘n Lied van verlange en verwagting.
Psalm 84
1Vir die musiekleier. Op Haghittiet. Van die Koragiete. ‘n Psalm.
2Hoe lieflik is u woning, Here, Heerser oor alle magte!
3My hele wese verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here;
my hart en liggaam roep uit na die lewende God.
4Selfs ‘n mossie vind ‘n tuiste, en ‘n swaeltjie haar nes
waarin sy haar kleintjies neerlê, by u altare,
Here, Heerser oor alle magte, my Koning en my God!
5Gelukkig is hulle wat in u huis woon! Hulle loof U gedurig. Sela
6Gelukkig is mense wie se krag in U lê!
Die pelgrimstogte leef in hulle gedagtes:
7Trek hulle deur die Baka-vallei (‘n “dorre laagte”), maak hulle daarvan ‘n landskap ryk aan fonteine;
die vroeë reën maak dit selfs vol waterpoele.
8Hulle gaan van krag tot krag; elkeen verskyn voor God in Sion.
9Here, God, Heerser oor alle magte, hoor tog my gebed,
luister tog, God van Jakob! Sela
10O God, sien ons skild raak, slaan ag op u gesalfde;
11want ‘n dag in u voorhowe is beter as duisend daarbuite.
Ek wag liewer op die drumpel van die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.
12Ja, ‘n son en skild is die Here God; genade en eer is wat die Here skenk.
Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.
13Here, Heerser oor alle magte, gelukkig is mense wat op U vertrou! (2020-vertaling)
Psalm 84 is ‘n loflied
Psalm 84 vier God se teenwoordigheid in die gewone aardse werklikheid sowel as in die tempel. Dit vier God se voorsiening vir die vlees en sy voorsiening vir die gees.
Natuurlik was die tempel lieflik op allerlei maniere. Dit was, onder andere, ‘n lus vir die oog. Dit was die plek waar God sy teenwoordigheid op talle maniere aan die volk gewys het. Waar hy die geestelike behoeftes van sy volk bevredig het.
Maar, die skoonheid van die tempel het nie net in die prag en praal van die geboue gelê nie. Dit het ook gelê in die verknogtheid en verlange van die pelgrims na die lewende God.
Soos die mossies en swaeltjies ’n plekkie daar vind, só wil die pelgrims dit ook ondervind. Hulle beny dié mense wat gelukkig genoeg is om daar te woon (in die tempelgeboue). Want, hulle kan immers die Here gedurig loof. Vers 5.
Die Psalm loof God se teenwoordigheid dus nie net in die majestueuse tempel nie. Ook in nessies en fonteine, reën en waterstrome. Die nessies by die altare. Die wonder van die natuur. Daar waar God vir mens en dier voorsien. Vir hulle sorg.
Daarom roep die pelgrims met hulle hele wese uit – hart en liggaam – en loof God se teenwoordigheid in die hele lewe. Want, soos die mossie ‘n plek vind by God se altare, en die swaeltjie sy nes, só vind die gelowige sy plek by God. In die natuur, en in die tempel.
Psalm 84 is ‘n pelgrimslied
Dit is ‘n lied wat die volk gesing het op pad na die tempel. Vir elkeen van die drie groot feeste van die Jode. Die Paasfees (ongesuurde brood) in die lente. Die Pinksterfees (fees van die weke of oesfees) in die somer. Die Loofhutte fees in die herfs.
Hierdie feeste was ook ‘n vakansie vir mense wat hard gewerk het om hulle brood te verdien. Waarin hulle die wel en wee van hulle lewe met die Here kon deur gesels. Waarin hulle kon terugkyk na wat was, en kon vorentoe kyk na wat kom.
En hulle mekaar kon herinner dat hulle ook op pad is na ‘n fees in die teenwoordigheid van die Here, die feesmaal aan die einde van die tyd (Jes 66). Waar hulle die geswoeg om den brode, finaal kan agterlaat, om die vreugde in God se teenwoordigheid te kan geniet.
Iets wat ons vandag beter as hulle verstaan. Want, ons is op pad na die feesmaal van die Lam (Openb 19-21).
Psalm 84 is ‘n Psalm van wysheid
Op die pad terug van die tempel af, moes die pelgrim weer gereed maak om die werk te hervat. Om te wag op die verhoring van hulle gebede. Die vroeë reëns. En hulle moes God daarvoor vertrou.
Nogtans was die oomblikke van verwondering by die fees nie nutteloos nie, want daardeur is hulle harde werk weer in perspektief geplaas.
Hulle is afhanklik van die God wat voorsien, vir hulle werk en vir hulle volk, as son en skild, vir die vrugbaarheid en vir veiligheid.
En het hulle bely:
12Ja, ‘n son en skild is die Here God; genade en eer is wat die Here skenk.
Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.
Dit is wysheid. Om jou hand aan die ploeg te slaan. Om alles te doen wat die Here van jou vra. Terwyl jy op God vertrou vir vrugbaarheid en veiligheid.
Wat sê die Psalm vir ons vandag?
1. Maak God weer die sentrum van jou lewe
Al praat die psalm van die tempel en van die verlange na die tempel, gaan dit in die eerste plek om die teenwoordigheid van die lewende God. God staan in die sentrum.
“Ek wag liewer op die drumpel van die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.” Vers 11b.
Die Psalm nooi ons dus uit om deur die samekoms van die gemeente – hetsy aanlyn of in persoon – in God se teenwoordigheid te kom en Hom te geniet.
En natuurlik geniet ‘n mens sy teenwoordigheid nie net in die “tempel” nie, maar ook in die natuur. Trouens, ons het elkeen ‘n tempel van die Heilige Gees geword. God is dus nader aan my as wat my eie liggaam is.
2. Vertrou God vir al jou behoeftes
Die lewende God is die God wat jou in jou behoeftes en verlangens kom ontmoet. Presies waar jy is. Maar nie saak waar in die wêreld jy is nie. Daarom praat hierdie psalm ook van reën (waterpoele, vers 7) en regering (die gesalfde van die Here wat hulle skild is, vers 10), simbole van die ekonomie en die politiek, van vrugbaarheid en veiligheid.
Want, ons het nie net geestelike behoeftes nie. Ons het ook aardse behoeftes. Die Psalm spreek dus ook ons behoefte aan vrugbaarheid in die natuur en in ons arbeid aan, sodat ons kan floreer, sowel as die behoefte aan veiligheid in die gemeenskap, sodat ons voorspoed kan geniet.
Ons mag daarom dié dinge vra van ‘n God wat ons son en skild is. Vers 12. Ons mag van Hom lig en lewe vra soos die son dit vir hierdie aarde gee. Ons mag van Hom beskerming en veiligheid vra, want Hy is ons skild.
Al het hierdie dinge natuurlik geen absolute betekenis (los van die teenwoordigheid van God) nie – ons is immers ook pelgrims op pad na die ewige lewe – is hulle nogtans onmisbaar. En wil God ook vir ons daarin voorsien.
3. Lewe onberispelik
Daarom nooi die Psalm ons uit om met die God in gesprek te tree. Om die belofte van die Here te omarm.
“God hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.” Vers 12.
Watter belofte!
Niks wat goed is, hou die Here terug nie. Dit is groots!
Van wie? Van dié wat onberispelik lewe.
Dit beteken nie mense wat nooit enige sonde doen nie. Maar, dit beteken wel, mense wie se hele lewe gerig is daarop om deur die Heilige Gees heilig gemaak te word; om in afhanklikheid van die Here in alles te lewe.
Mag jy dit ervaar. Dat God ook in jou lewe niks wat goed is, sal terughou nie.
Gebed
Vrugbaarheid en veiligheid. ‘n Lewe wat floreer. Dit is wat ons van U vra. Nie net in ‘n geestelike sin nie, maar ook in ‘n aardse sin. In hierdie tyd wat so baie van ons aan uitdagings blootgestel is. Mag u teenwoordigheid ons hiervandaan vergesel, nie net in ons stiltetyd nie, maar in elke ding wat ons deur hierdie week gaan doen.
Aankondigings
Die kerkraad het besluit in die volgende fase van ons herstrukturering om die pos van Jeugwerker wat Thania Botha met soveel sukses beklee in ‘n deeltydse predikantspos te omskep. Die ringskommissie het die beoogde pos se voorgestelde dienskontrak en pligstaat goedgekeur. Die kerkraad gaan dus oor tot beroeping by sy volgende vergadering 30 Augustus. Ons vra julle voorbidding daarvoor.
Dankoffer is by die deure. Die Snapscan en EFT besonderhede volg ná die Amen aan die einde.
Slotlied
Lied 471:1 Soek allereers die koninkryk van God 2x (staan)
Seën
Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met elkeen van julle.
Amen
Lied 314 Amen
Snapscan en EFT