“Eyes on the road”

Tema: “Eyes on the road”
Reeks: God se wil
Pulse 22 Augustus 18:30 Live Youtube

Verwelkoming

Baie welkom by Pulse waar ons relevante temas bespreek en vanuit die Woord leiding gee. Ons gaan die Here loof en aanbid en dan gesels oor dinge waaroor die Bybel nie duidelike voorskrifte gee nie. En ek gaan vir jou ‘n slogan gee wat jou aan drie belangrike padtekens te herinner as jy God se wil soek in moeiliker sake.

Praise en Worship

Gebed

Ons is hier saam, Here Jesus, omdat U ons in die Ons Vader gebed geleer het om te bid:

“Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” (Matt 6:10b)

Ons luister graag na wat U vir ons wil leer.

#1God se wil – intro

Ons is besig om oor God se wil te gesels. In die eerste Pulse erediens het Thania beklemtoon dat om God se wil te ken – te weet wat God vir ons lewe wil hê – is om op pad te wees saam met God. Dis ‘n lewenslange journey.

Dit gee ons groot vrede om te weet God is in beheer. Maar dit laat jou ook besef, dat God se wil dikwels dit wat jy wil, gaan “override” en dat jy uiteindelik aan sy wil onderwerp is.

#2God se padtekens

In die tweede Pulse in die reeks het ons dus veral gesels oor die bekende en duidelike dinge van God. En van sy wil. Dinge waaroor die Bybel ‘n duidelike ja of nee antwoord gee, ‘n reg of verkeerd, ‘n opdrag of ‘n belofte.

Die hele Bybel is vol van God se “padtekens.” Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daarvoor moet jy die Bybel lees, elke dag, sodat jy alles wat jy dink of doen kan beoordeel aan God se wil, soos ‘n Josua met die wetboek van God in sy hand.

#3Eyes on the road

Maar, daar is dinge waaroor jy miskien wonder. Dinge waaroor die Bybel nie sulke helder en duidelike voorskrifte gee nie. Dit is dinge soos na watter hoërskool of universiteit moet ek gaan? Is hierdie my trou man of trou vrou? Wat moet ek gaan studeer? Moet ek in SA bly of oorsee gaan? Moet ek die vaksine kry of nie? Was die pandemie God se wil of nie?

Ek wil jou help met ‘n slogan: “Eyes on the road.” Dit is ‘n slagspreuk wat jy kan gebruik om jou te herinner aan wat jy moet doen as jy ‘n moeilike vraag moet antwoord. As jy wil weet in watter rigting jy moet gaan, en daar nie ‘n duidelike opdrag of belofte in die Bybel is nie.

Hoe werk dit?

Dink aan ry met ‘n motor. Om in die regte rigting te ry, moet jy jou oë op die pad hou. Anders gaan jy nie die padtekens raaksien nie. Gaan jy nie die regte pad kan volg nie. En dit spel net moeilikheid. Dit is waarom ‘n mens nie jou selfoon gebruik terwyl jy bestuur nie. Sodat jy in die pad kan ry en die padtekens kan volg. “Eyes on the road.”

Veral as jy in die nag ry. Want dan het jy net soveel minder sig. Jy kan baie keer net die wit- en geel strepe uitmaak uit die hoek van jou oog. En as dit mistig is, raak daardie strepe net nog belangriker. Dit help jou om koers te hou as die pad vorentoe nie so duidelik is nie.

Dit geld ook vir vliegtuie. Veral as hulle in die donker moet kom land. Hulle moet die vliegtuig op-“line” op die middelste wit streep wat deur al die liggies gevorm word. Die liggies moet ‘n reguit streep vorm, sodat die “pilot” nie langs die aanloopbaan land nie! “Eyes on the road.”

Dieselfde geld met bote wat kom vasmeer in ‘n hawe waar daar rotse onder die water is, en jy in ‘n spesifieke kanaal moet vaar om uit die moeilikheid te bly.

Daarom gebruik hulle “leading lights” om vir die kaptein van die boot te wys waar die kanaal is wat hy moet gebruik om in die hawe in te kom. Hulle gebruik twee of meer ligte.

As die ligte in lyn is met mekaar dan vaar die boot in die regte kanaal wat die rotse vermy. Jy moet as’t ware een lig sien. Die oomblik as jy twee of meer ligte sien dan weet jy, jy is uit lyn uit en moet jou koers aanpas, anders loop jy op die rotse. So, “Eyes on the road.”

Waarna kyk ‘n mens?

Nou, waarna kyk ‘n mens as jy moet besluit oor jou huweliksmaat? As jy moet besluit of jy moet ry of bly? As jy moet besluit of jy iets moet doen of nie moet doen nie?

Bob Mumford het ‘n boek hieroor geskryf: Take another look at guidance. Hy beklemtoon drie dinge wat jou kan help om die wil van die Here agter te kom as jy antwoorde soek wat nie direk in die Bybel is nie.

Die drie dinge is:

  1. Lees die Bybel – die objektiewe standaard. Uiteraard begin ‘n mens daar, want dit gee die algemene riglyne wat jou gaan help om in ‘n spesifieke geval ‘n besluit te kan neem. Selfs al is dit indirek.
  2. Luister na die Heilige Gees in jou gebede – die subjektiewe getuienis in jou hart. Dit is altyd belangrik, selfs in die duidelike opdragte van die Bybel. Maar, nog meer so, as jy ‘n moeilike besluit moet neem.
  3. Ontleed jou gawes en omstandighede op ‘n eerlike wyse en luister na die wyse mense in jou lewe – die voorsiening van God. Wanneer dit in lyn kom met wat die Bybel sê en hoe die Gees jou lei, dan het jy ‘n antwoord van die Here.

Wanneer hierdie drie dinge ooreenstem – soos drie “leading lights” op die see of soos tientalle liggies op ‘n aanloopbaan, of soos die aaneenlopende wit- of geelstrepe op die pad, kan jy selfs in die moeilikste besluit die Here se wil agterkom en Hom gehoorsaam.

So wat is die eerste ding waarna ons moet kyk?

1. Die Bybel

Jy kyk altyd eerste na die Bybel, want dit is wat ons verlede week by Josua geleer het. Die wetboek moet in jou hart bly en jy moet dit nougeset nakom, het die Here gesê. “Eyes on the road.” Jou oë op die Bybel.

Alle besluite wat jy moet neem, berus op wat die Bybel vir ons leer van God, van onsself en van hierdie wêreld. Daar is die gebooie wat ons verbied om te steel, om moord te pleeg, om egbreuk te pleeg. Daar is ook die opdragte wat ons aanmoedig om ons naaste lief te hê, om die ander te seën met ons gawes en besittings, om die evangelie tot aan die einde van die wêreld te verkondig.

Daarom begin ons altyd by die Bybel. Dit is die basis vir ons geestelike lewe. Die objektiewe standaard. “Eyes on the road.”

Dit is wat Jesus gedoen het. Hy het sy oë op die Bybel gehou. Die Hebreërskrywer beskryf Jesus se lewe só:

8 Daarop het ek (dit is Jesus) gesê: “Kyk, ek het gekom – in die boekrol is oor my geskryf. 9 Wat U behaag, my God, wil ek graag doen; u wet is in my binneste.” (vgl Ps 40:7-9)

Om God se wil te doen was die Here Jesus se begeerte. Om die wet in sy binneste te bêre, was sy metodiek. Telkens het Jesus na die Bybel verwys om só God se wil nie net te ken nie, maar te gehoorsaam.

Selfs as Hy worstel in Getsemane met die kruis wat vir Hom voorlê, bid Hy steeds:

“nie My wil nie, maar U wil.” (Mrk 14:36).

Hoekom? Want, Jesus het geweet uit Jesaja 52-53 – en uit baie ander gedeeltes in die OT oor die Messias – dat Hy moet sterwe en uit die dood uit opstaan om die verlossing vir my en jou te bring. Daardie woorde was in sy hart.

En Hy wou doen wat God wil.

Daarom besluit Jesus om God se wil te doen, dit wat Hy in die Bybel geleer het. En doen Hy nie wat Hyself wil nie.

Enige besluit oor God se wil begin altyd by God se openbaring, sy Woord, sy padtekens. Dit is die boek waar ons God se wil die beste kan agterkom. Dit is duidelik. Dit is genoegsaam. Dit is blywend. Dit is onfeilbaar.

Hoekom is dit so belangrik?

Dit lei ons na die antwoorde op ons “groot vrae”

Want, hierdie dinge lei ons dikwels na die antwoorde op ons “groot vrae”, sodat ons kan onderskei wat God se wil daarvoor is.

Bv. as jy wil weet of hierdie jou trouman of trouvrou is, en jy weet dat God nie wil hê dat jy moet vloek of lelik van ander praat nie en dat seks vir die huwelik bedoel is, en die ou of meisie waarmee jy uitgaan, vloek of “pressure” jou vir seks, dan weet jy dis nie die een nie.

Wat beteken dat jy jou vriende goed moet kies. Dat jy moet kyk na wat jy aantrek. Dat jy moet kyk na hoe jy met ander gesels op sosiale media. Dat jy nie dinge doen wat teen die Bybelse boodskap is nie. Dit alles help jou om die wil van God agter te kom en daarvolgens te leef.

Maar, dit is nie al nie.

2. Die Heilige Gees

Die tweede ding wat belangrik is om God se wil agter te kom, is die Heilige Gees en gebed. Die subjektiewe getuienis.

Nou, ons ontvang die Heilige Gees wanneer ons tot bekering kom en Hy in ons kom woon (Hand 2:38-39; Rom 8:9). Elkeen wat in Jesus Christus glo het die Heilige Gees (1 Joh 5). Alle kinders van God kan God se wil dus agterkom deur die Gees wat in ons God se Woord lewend maak dat ons dit kan verstaan en daarop kan reageer (Rom 8:14-15).

Hoe werk die Heilige Gees?

Die Heilige Gees gebruik die Woord om ons van God se wil te oortuig. Hy herinner ons aan die waarheid wanneer ons in ‘n situasie kom wat ons óf moet getuig vir die Here, óf wanneer ons raad nodig het, óf ‘n belofte nodig het om te volhard.

So, die Heilige Gees gebruik die Woord. Dit is immers sy boek. Hy het die skrywers van die Bybel geïnspireer om te skryf sodat almal van ons die wil van God kan ken en doen.

Die Heilige Gees gee ook in ons binneste leiding oor waarheen ons moet gaan of wat ons moet doen, soos die keer wat Hy vir Filippus gesê het om na die eunug te gaan teenoor wie Hy moet getuig (Hand 8:29). So ook vir Petrus toe die Here manne na hom gestuur het om vir Kornelius die evangelie te gaan verkondig (Hand 10:19). En talle ander kere in die boek Handelinge (Hand 13:2; 20:22-23).

Die Heilige Gees kan ‘n mens ook verhinder, soos die keer wat Paulus verder in Turkye die evangelie wou verkondig, maar die Gees gesê het, nee (Hand 16:6-7). En toe in ‘n visioen vir Paulus gelei het na Griekeland (Hand 16:9-10).

Die Heilige Gees gebruik ook jou gewete om jou te help om te kan onderskei tussen dié dinge wat God wil en dié dinge wat Hy afkeur (Rom 9:1).

Dit lei ons na meer spesifieke antwoorde op ons vrae.

Dit is die meer subjektiewe kant van die onderskeiding van die wil van God. Deur te let op wat die Heilige Gees in jou binnekant vir jou duidelik maak. Dit moet steeds in lyn wees met die Bybel. Want, die Bybel is die objektiewe standaard waaraan ons alles meet.

Maar, daar is nog ‘n manier waarop God ons lei. Deur sy voorsienigheid.

3. Jou gawes en omstandighede

So, die derde ding waarna jy kyk, is God se voorsiening.

Jy kyk na jou gawes. Gawes wat jy natuurlik het. Talente. Vaardighede. Opleiding. En na gawes wat die Gees vir jou gegee het. Onderrig. Bemoediging. Leierskap.

En jy kyk na jou omstandighede. As jy op skool is, moet jy uiteraard eers klaarmaak met jou studies voor jy in ‘n rigting kan gaan. As jy getroud is en ‘n familie het, speel dit ‘n belangrike rol in die keuse wat jy gaan maak. As jou opleiding en vaardighede op ‘n plek nodig is, dan gaan dit een van die faktore wees wat jy in ag gaan neem.

Want, al hierdie dinge is deel van God se voorsiening.

Dit beteken nie dat God nie vir ‘n nuwe pad kan voorsien nie. So is Abraham uit sy land gelei na ‘n land wat die Here vir hom sou wys. En die Here het op daardie pad nie net vir hom voorsien nie. Maar ook vir die volk wat uit Isak gebore sou word. Trouens, die hele wêreld is geseën deur die nageslag van Abraham wat aan die begin van ons jaartelling gebore is, die Here Jesus Christus.

Maar, ‘n mens neem ook deeglik in ag in watter omstandigheid jy is. Soos Paulus op ‘n keer gesê het, bly in die omstandighede waarin God jou geroep het (1 Kor 7:17-24). Behalwe as die Here ‘n baie duidelike oortuiging vir jou gee.

Hoe lei die Here dan?

Wel, “Eyes on the road.”

  1. Jy sorg dat jy daagliks die Bybel Daar kan opdragte of beloftes wees wat jou kan inspireer. Skryf dit in jou joernaal. Dit is die objektiewe standaard.
  2. Jy sorg dat jy daagliks vervul leef met die Heilige Gees. Sodat jy vatbaar is vir die leiding wat Hy jou in jou binneste gee, veral wanneer jy bid, maar baie keer ook terwyl jy in ‘n spesifieke situasie is. Dit is die subjektiewe getuienis in jou hart.
  3. En jy sorg dat jy ook goed kyk na jou omstandighede, sodat dit in lyn is met die opdragte en beloftes in die Bybel. En daarmee kan wyse mense jou help. Totdat jou binnekant vrede ervaar, of ‘n oortuiging groei en jy uiteindelik net weet, maar dit is wat die Here wil hê dat jy moet doen. Jy maak staat op God se voorsiening.

“Eyes on the road.”

Kom ek illustreer dit uit my eie lewe. Dit is nie ‘n resep nie. Maar, dit sal jou wys hoe ek deur die Bybel, die oortuiging deur die Heilige Gees, en my omstandighede gelei is om God se wil vir my lewe te ken. En jou motiveer om jou eie pad met die Here te loop om sy wil te ken en te doen.

My eie ervaring

Die Here het my in my matriekjaar geroep as predikant. Hy het met my gepraat uit die Bybel. Die Heilige Gees het my oortuig om te gaan swot. En die Here het voorsien dat ek dit kon doen.

Ek stel myself toe beroepbaar in 1986 ná my studies. Nou moet die Here sy verdere wil vir my lewe openbaar. Twee maande later sit ek die Sondag in die kerk. Die predikant – ‘n proffie van my, prof Bernard Combrinck – preek die oggend uit Psalm 37.

Toe hy vers 4-5 van die Psalm lees, het ek in my gees net geweet dit is ‘n belofte van die Here dat Hy vir my ‘n plek het in die bediening. Die teks het gelui:

“Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Dit was ‘n geweldige gerusstelling. Die objektiewe standaard uit die Bybel het my oortuig dat hierdie begeerte wat ek het, om predikant te wees in ‘n gemeente, dat die Here dit sal laat gebeur. “Eyes on the road.”

In my hart het die Heilige Gees my daar in die kerk deur hierdie teks oortuig dat Hy besig is om my na ‘n gemeente te lei. Die subjektiewe getuienis. “Eyes on the road.”

Wat ek nie geweet het nie, is dat die Here se voorsiening alreeds in plek was. Want, ek het in die kerk gesit min of meer dieselfde tyd as wat die kerkraad van Somerstrand vergader het die Sondag en besluit het om my te beroep.

Toe ek ná die kerkdiens by die huis kom, het ds Dave Marais gebel om my in te lig dat ek beroep is. En die voorsiening van God het in plek geval. “Eyes on the road.”

En ek het die beroep hierheen aanvaar.

Maar, dit is nie al nie.

‘n Paar jaar later word ek as saakgelastigde na die Wes-Kaap sinode beroep. Ek was eers baie opgewonde oor die moontlikhede, maar het toe begin wonder oor al die dinge wat daardeur geraak sou word. Dit sou ‘n meer finansiële en bestuursinset van my vra as ‘n geestelike inset. My huisgesin sou ernstig daardeur geraak word. Ek het dus gekyk na my omstandighede en die voorsiening van die Here. “Eyes on the road.”

Ek het dus hard begin soek na die stem van die Gees in my lewe en wat die Here in sy Woord vir my wil sê.

Na baie gebed en gesprek met wyse mense – wat my afgeraai het om te gaan – oortuig die Gees my om weer terug te gaan na my roeping na Somerstrand. Die geestelike merkers uit die verlede. Ek lees toe een middag laat weer my roepingsteks in Psalm 37:4-5 en my oog vang die vorige vers, vers 3. Dit het in die 1983-vertaling gelui:

“Woon en werk rustig voort.”

Nou, in die Psalm het die Here met Dawid gesels om hom nie te verknies oor die dinge wat hom pla nie. Hy het Dawid oortuig om doodgewoon op die Here te vertrou en rustig aan te gaan met wat die Here hom gegee het om te doen.

En skielik het alles sin gemaak vir my. Ek was nie in dieselfde omstandighede as Dawid nie, maar die skuif na die Kaap sou my wêreld omvergegooi het. My familiesituasie was nie gereed vir ‘n skuif met kinders op hoërskool nie. My vrou sou haar besigheid moes opgee. My gawes was nie in ‘n finansiële en bestuursrigting nie.

Psalm 37:3 het dus rustigheid en vrede gebring. En ek het die beroep bedank en hier gebly.

En my vrede het gebly. Want, die Here kon my gawes van leierskap en onderrig gebruik binne ons sinodale gebied, en met die Bybelskool wat ek ‘n paar jaar later begin het. Ek sou waarskynlik nooit geskryf het as ek in die Kaap was nie.

Nou, dit is ‘n persoonlike verhaal. Jou verhaal kan heeltemal anders verloop. Maar, die basiese patroon is dieselfde in enige keuse wat jy maak.

“Eyes on the road.”

  1. Lees die Bybel – die objektiewe standaard.
  2. Luister na die Heilige Gees se leiding in jou gedagtewêreld. Die subjektiewe getuienis.
  3. Doen ‘n eerlike ontleding van jou gawes en omstandighede, sodat die Here jou by helderheid kan bring en jy in sy wil kan Leef. Die voorsiening van die Here.

Volgende week

“Recalculating.” God se genade in afdraaipaaie en doodloopstrate.

Gebed

Slotlied

Seën

Dankoffer

Snapscan en EFT

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.