NGK Somerstrand 22 Mei 2022 09:00 | Kerk en Youtube
Verwelkoming
Aankondigings
Die kerkraad het verlede jaar vier prioriteite geïdentifiseer.
- Ons wil weer momentum bou na die inperking van Covid-19. Ons dink aan ‘n basaar in September-Oktober wat ‘n R100 000 inspuiting vir ons geloofsgemeenskap kan wees.
- Ons wil ons erediensbywoning verbeter om weer ‘n sentrale deel van ons geloofsgemeenskap te wees. Ons wil ook al hoe meer groepe akkommodeer. Daarom werk ons aan ‘n “blended worship” met meer as een musiekstyl.
- Ons wil fokus op ons jeug en jongmense. Daarom het ons gekies vir ‘n jong senior leraar, Vian, wat bewese ervaring het om ‘n hele gemeente te lei, maar wat veral die onder veertigs in die hoofstroom van die gemeente kan kry.
- Ons wil fokus op geestelike groei. Ons kleingroepe het gestagneer in die Covid-19 tyd. Die fokus op die beloftes en leesplanne via Whatsapp en Bybelskool bereik wel ‘n 2 500 mense, en dit is wonderlik, maar ons het nodig om weer in mekaar se geselskap te kom. Ons dink aan Alpha en ‘n fisiese Bybelskool. Miskien is daar ook ander idees of behoeftes. Ons sal graag luister daarna.
Pinkster – nog sop en brood nodig
Hemelvaart – 18:30 Donderdag
Toetrede
Flam 112b Ek roem u Naam – bedieningslied
Flam 5 (Afr/Eng) Daar is geen grens aan U guns en genade – sit
Votum en seëngroet
Lofsang
Psalm 119:19,22 Net soos ‘n lamp wat my die weg wys – staan
Lied 167:1-2 Jesus, bron van al my vreugde – staan
Kindertyd
Waar is die hemel? Hoe lyk dit daar? Dink julle dit is ‘n goeie plek? Onthou julle die prentjie wat ek so ‘n tydjie gelede vir julle gewys het? Hier is dit weer.
Het julle geweet dat die son nie meer nodig is in die hemel nie? Hoekom nie? Want, God is daar. En die Bybel vertel vir ons dat Hy is soos lig. Hy laat sy lig skyn oor almal. Dit laat almal in die hemel “gloei”. Almal het wit klere. So wit soos lig. Hulle skyn van binne af. Soos met ‘n glowstick.
God se lig skyn ook hier op aarde. Elke keer as ons die Bybel lees, skyn God se lig in ons lewe. Ons leer daar hoe ons moet lewe soos God van ons vra.
En dan raak ons ook soos ligte. Soos glowsticks.
Julle weet mos hoe dit werk? Jy moet hom knak, dan gloei hy. Hier is ook connectors dat julle dit as ‘n armbandjie kan dra.
Kom ons sing van die lig wat God vir ons gee.
Vonkk 83 Kom ons wandel in die lig van God – sit
Verootmoediging
Jesus sê in die Bergrede:
19“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. 20Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. 21Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
22“Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees. 23Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie.
24“Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” (Matteus 7:19-24)
Jesus gee hier ‘n nuwe doel en strategie vir die lewe. Aan die basis daarvan lê ‘n revolusionêre waardestelsel. Aardse skatte is onderworpe aan verganklikheid – mot, roes, en diefstal. Moet dus nie jou lewe instel om dit na te jaag nie. As jy ryk raak in God – dws hemelse skatte vir jou vergader – sal jy ervaar dat daardie skatte vir ewig bly, want dit kan nie opgevreet of vernietig word nie.
Dit gaan ten diepste oor waar jou hart en jou oog is. ‘n Fokus op jouself bring ‘n gebrek aan insig oor wat regtig belangrik is. ‘n Fokus op God laat jou leef in die lig wat God gee. Laat jou alles beoordeel vanuit sy hoek uit.
Jesus wil hê ons moet enkelvoudig leef. “Single-minded”. Ons oë moet op God en sy wil vir die lewe gerig wees. Want, as jou oog sleg of boos is – dws as jy ander maatstawwe aanlê vir wat reg of verkeerd is – sal jou hele lewe in duisternis verval.
Jy kan nie twee base dien nie. Dit is die eenvoudige waarheid van die lewe. Jy sal óf vir God leef en Hom dien en op Hom vertrou. Sy wil uitvoer. Óf jy sal vir jou eie welvaart lewe en dít dien en daarop vertrou.
Tyd vir stil gebed.
Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ‘n ewige lewe.
Skriflesing en prediking
Fahrenheit 451
Dit is êrens in die middel van die 21ste eeu. Guy Montag is ‘n brandweerman wat boeke in ‘n futuristiese Amerikaanse stad verbrand. In Montag se wêreld begin brandweermanne vure eerder as om dit te blus. Hulle spuit paraffien oor huise met boeke daarin om dit af te brand, eerder as water om die vuur te blus.
Dis die konteks van Ray Bradbury se fiktiewe futuristiese distopiese verhaal. Met die titel Fahrenheit 451. Want, dit is die temperatuur waarteen die papier van boeke verbrand. 451 grade Fahrenheit – 233 Celsius.
En die redes vir hierdie verbranding van boeke? Twee redes:
1) In die eerste plek, die mense in hierdie futuristiese samelewing lees nie boeke nie. In plaas daarvan kyk hulle TV op muurgrootte toestelle. Jy het gearriveer as jy TV op al vier mure in jou sitkamer kan kyk. Hulle luister ook nog radio, maar boeke lees is heeltemal uit.
2) In die tweede plek, en dit is die dieper rede, die samelewing het besluit dat boeke net konflik veroorsaak. Die “minderhede” in die samelewing het oor ‘n baie lang tyd so baie beswaar gemaak teen die inhoud van boeke wat hulle aanstoot gee dat skrywers opgehou het om boeke te publiseer wat aanstoot gee. Kort voor lank het boeke almal dieselfde begin lyk, want alles is daaruit gehaal wat aanstoot gee.
Soos Montag se hoof Beatty op ‘n punt sê oor hulle tipe samelewing:
“We must all be alike. Not everyone born free and equal, as the Constitution says, but everyone ‘made’ equal. Each man the image of every other; then all are happy… So! A book is a loaded gun in the house next door. Burn it. Take the shot from the weapon… We can’t have our minorities upset and stirred.“
Daarom word alle boeke voor die voet verbrand. Daar was altyd iets wat een of ander “minderheid” gepla het in boeke. En die samelewing het as geheel besluit om bloot boeke te verbrand eerder as om botsende menings toe te laat.
Soos Montag in die loop van die roman agterkom, is sy medeburgers egter nie soseer gelukkig nie as geestelik leeg, geestelik gestroop. Mense in hierdie gestroopte wêreld word voortdurend gebombardeer met advertensies en vlak vermaak. Die resultaat is ‘n samelewing wat toenemend selfsugtig, plesiersoekend, en leeg word.
So, as jy boeke in jou huis wegsteek, en iemand dit uitvind, dan kom die brandweer en verbrand jou huis met al jou boeke. Jou boeke is ‘n “loaded gun” wat “minderhede” kan ontstel.
Op ‘n dag reageer Montag op ‘n (brand)alarm. Hulle moet ‘n ou vrou se huis afbrand met ‘n groot voorraad versteekte boeke. Dit is egter ‘n skokkende ervaring vir hom, want die vrou kies om saam met haar boeke lewendig verbrand te word. In ‘n roerende toneel staan sy self met ‘n vuurhoutjie in haar hand nadat die brandweer paraffien oor alles gespuit het en sê: “You can’t ever have my books.” En sy verbrand haarself saam met haar boeke.
Montag het egter een boek uit die huis van die vrou gesteel. Hy kon nie glo dat sy só sterk oor haar boeke gevoel het nie. Hy wou daarom self agterkom wat in die boeke staan.
Hy neem die boek toe na ‘n professor wat hy een keer ontmoet het, professor Faber. Faber herken die boek as die Bybel. Faber is skoon opgewonde oor die Bybel, alhoewel hy nie juis godsdienstig is nie, en vertel vir Montag aan die hand van die Bybel van die waarde van boeke. Die waarde van boeke, sê Faber, is dat dit die kwaliteit van jou lewe verhoog. En soos jy die boodskap daarvan verteer en deel van jouself maak, begin jy regtig leef.
Faber mymer egter in sy gesprek met Montag oor wat die samelewing met die Christus van die Bybel gedoen het, juis omdat hulle nie meer die Bybel gelees het nie:
“Christ is one of the ‘family’ now. I often wonder if God recognizes His own son the way we’ve dressed him up, or is it dressed him down? He’s a regular peppermint stick now, all sugar-crystal and saccharine when he isn’t making veiled references to certain commercial products that every worshipper ‘absolutely’ needs.“
Montag begin daarom so vinnig hy kan om te lees in die Bybel, al is hy bang dat die woorde daarvan soos sand deur ‘n sif kan wegraak. Hy lees Jesus se Bergrede. Die boek Job. Prediker. Openbaring. Ook ander gewone boeke. Maar, hy word verraai, nogal deur sy eie vrou, Mildred, en moet vir sy lewe vlug. Hy kry dit net met groot moeite reg om te ontvlug stroomaf met ‘n rivier.
Terwyl hy egter moedeloos en ontredderd op die spore van ‘n ou toegegroeide spoorlyn wegstap van sy bekende omgewing ontmoet hy ‘n groep afvallige intellektuele. “Boekmense.”
Hierdie “Boekmense” is deel van ‘n landwye netwerk van boekliefhebbers – duisende mense wat buite die grense van die normale samelewing leef – wat talle groot werke van letterkunde en filosofie gememoriseer het. Hulle is, soos hulle van hulleself sê:
“bums on the outside, libraries inside.“
En Montag is skielik tuis tussen mense wat ook boeke liefhet. Hy kom agter dat hierdie “Boekmense” nie oorlog wil maak met die ander wat nie boeke lees nie, maar tog hoop dat hulle ‘n herwaardering van boeke in die wêreld kan bewerkstellig.
Die tyd daarvoor breek vinniger aan as wat hulle gedink het wanneer daar ‘n verwoestende oorlog uitbreek en ‘n groot deel van Montag se stad vernietig word. Die verbranding van boeke het niks gehelp om die mense gelukkig te maak en meer van mekaar te laat hou nie. Daarom het hulle mekaar uitgewis.
Die tyd vir verandering het dus aangebreek. Die “Boekmense” besluit daar en dan om in die nadraai van die oorlog die oorblyfsel te gaan help met hulle kennis. Om die mensdom te herbou met hulle kennis.
Die boek eindig met die volgende woorde wat in Montag roer. Dit is dan ook die woorde waarmee hy die ander moed gee.[1]
Dit is die woorde van Openbaring 22. Kom ons lees dit:
Openbaring 22:1-5
1Toe het die engel aan my ‘n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam. 2In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies. 3Daar sal geen vloek meer wees nie. Die troon van God en die Lam sal in die stad wees, en sy diensknegte sal Hom dien. 4Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe. 5Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van ‘n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.
Van Eden tot Eden
Die verhaal van die mens begin by die tuin van Eden. Genesis 2. Dit eindig ook in die tuin van Eden. Openbaring 22.
Met die een groot verskil. Adam en Eva het nooit van die boom van die lewe in die eerste Eden geëet nie. Deur hulle sonde is die voorreg hulle ontneem.
Die situasie verander egter met die herstelde Eden. Elke kind van God sal van die boom van die lewe in die tuin van God kan eet. Dit is die belofte van God waarna ons uitsien.
Die boom van die lewe
En let op. Die hele boom is van waarde.
Die vrugte gee lewe vir almal. Daar is ‘n nuwe stel vrugte elke maand van die jaar.
Dit sluit aan by die metafoor van die boom wat vrugte dra in Psalm 1. In Psalm 1 is die boom by die water ‘n prentjie van elke kind van God wat leef uit die Woord van God. Wat kies om God se Woord elke dag te lees en oordink en daaruit te leef.
Hier in Openbaring 22 is die boom die prentjie van die lewe van God self. Waar ons deel in die vreugde van die vrugte van die boom van die lewe.
Maar, daar is meer.
Die blare van die boom van die lewe bring genesing vir die nasies. Die vloek van konflik en stryd wat sedert Genesis 3 op die mensdom rus, word opgehef.
Dit beteken dat God se oordeel afgehandel is. Dat sy oordeel opgehef is. Dat ons net in sy seën sal kan leef.
En dit beteken dat die aanstoot wat ons so maklik neem in ons verhoudings met mekaar uitgewis word. Ons sal nie meer nodig hê om in kompetisie met mekaar te leef nie. Mekaar se boeke te verbrand nie, a la “Fahrenheit 451”. Ons sal elkeen ‘n plekkie in die son hê, in die lig van God, en in sy seën kan lewe.
Ons sal as konings heers
Openbaring 22 sê dus vir ons dat ons as gelowiges verenig sal word voor God se troon om Hom te aanbid en dien. In sy lig sal ons almal floreer. God sal vir ons alles gee wat ons nodig het om vir Hom en in harmonie met mekaar te leef. God sal boonop ons ‘n plek gee saam met Hom op sy troon om as konings te heers.
Ons sal almal met onbedekte gesig die lig van God se teenwoordigheid indrink, en daarin en daaruit leef.
Wat beteken hierdie boodskap vir jou?
1. Ray Bradbury gebruik hierdie beeld van die boom van die lewe uit Openbaring in sy boek om sy tyd aan te spreek om meer aandag aan boeke te gee as aan TV. Ek dink dit is ‘n boodskap wat ons vandag ook nodig het. Ons moet almal “Boekmense” raak. Ons moet waarskynlik almal iets uitleef van hulle slagspreuk: “bums on the outside, libraries inside.”
2. Bradbury deel met ons sy droom dat die aanslag van “minderhede” wat aanstoot neem aan bykans enigiets wat iemand anders sê op een of ander manier beëindig word. Dat ons nie die knie sal buig voor – in ons tyd – die “woke”-brigade wat alle gevestigde waardes in die samelewing op sy kop probeer draai nie. Dat ons die uitdaging sal aanvaar om “nee” te sê vir die altyd-veranderende politieke korrekte siening van die lewe en nie te val vir die leuens wat aan ons as die waarheid verkoop word nie. Leuens wat die binêre karakter van menswees verwerp en daarmee saam die basis van ‘n gelukkige samelewing, die instelling van die huwelik en die koestering van ‘n gesonde familie-wees.
Maar, Openbaring 22 gaan oor veel meer. Dit gaan vir my oor twee uiters belangrike boodskappe wat ons vandag moet omarm.
3. Die eerste is die troos dat die oorwinning behaal is. Die belofte om te kan eet van die boom van die lewe is reeds gemaak. Ek en jy sál van die vrugte van die boom van die lewe eet. Die blare van die boom sál die vloek van stryd en konflik van Genesis 3 ophef. Ons sál as konings saam met God op sy troon sit. Die uitsoek plek van al God se skepsels.
Ek betrap my dikwels dat ek moedeloos raak as ek sien hoe leuens veld wen in hierdie wêreld. Selfs in die kerk. Maar, dit is nie hoe God daaroor voel nie! Hy lag vir die planne van mense wat Hom nie wil erken nie. Wat sy Woord verander of verwerp.
God is nie net voorbereid om sy eie planne uit te voer nie. Om sy Woord te vervul nie. Hy het dit reeds afgehandel. Jesus sit reeds op die troon en wag net dat God die finale skuiwe maak om ons te verwelkom in die tuin van Eden.
4. Die tweede boodskap wat jy vandag moet omarm is die boodskap dat jou gehoorsaamheid en bydraes, jou gebede en getuienis, ingespan word in God se plan. Kyk, dit is mos só dat as jy glo dat jy kan, dan gee dit jou die krag om alles in die stryd te werp om iets reg te kry. As jy byvoorbaat dink jy gaan dit nie maak nie, dan begin jy met ‘n agterstand.
Dit is dieselfde in die geestelike lewe. “Begin with the end in mind.” God het reeds alles gereed vir die nuwe wêreld.
Sy goddelike krag het vir jou alles gegee wat nodig is vir ‘n godvresende lewe, ‘n lewe waarin ons deel kry aan die goddelike natuur, sodat ons die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is, kan ontvlug (2 Pet 1:3-4).
- Elke gebed wat jy bid, word deur God ingespan om sy nuwe wêreld te bring. Dit is sóós ons bid dat God mense tot bekering roep, mense se binnekant verander, mense genees en seën.
- Elke woord wat jy getuig teenoor iemand anders – van God se beloftes, van God se krag, van God se betrokkenheid, van God se voorsienigheid – word deur God ingespan om mense in te trek in sy teenwoordigheid in.
- Elke ding wat jy doen vir God en vir ander mense word deur God ingespan om hulle te oortuig van sy werklikheid.
Gebed
EFT en Snapscan
Slotlied
Lied 411:1-3 Kom, almal laat julle stem verrys! – staan
Seën
Respons
Lied 189 Halleluja! Halleluja! Halleluja! – staan
[1] Fahrenheit 451 – Ray Bradbury – 1953 – Grafika van die boom van die lewe: https://blog.reformedjournal.com/wp-content/uploads/sites/2/2020/04/TreeOfLifeLarge.jpg