Ons het gekom om Hom te aanbid – Matteus 2:1-12
Daar is een woord wat my tref in die verhaal van die wyse manne in Matteus 2. Dit is die woord aanbid. Dit word twee keer gebruik.
Die wyse manne, sterrekykers of sterrekenners, vra:
“Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die ooste gesien en het gekom om Hom te aanbid.”
Dit is duidelik dat hulle die Messias wou aanbid. Hom hulde wou bring. Met Hom hulle lewensreis wou aanpak.
Wat my egter ontstel, is dat dieselfde van Herodes gesê word. Wanneer hy hoor dat die Skrif aandui dat hierdie koning in Betlehem gebore sal word, roep hy die wyse manne in die geheim en beveel hulle:
“Gaan doen noukeurig navraag oor die Kind; en wanneer julle Hom kry, vertel dit vir my sodat ek ook kan gaan en Hom aanbid.”
Ja. Jy het reg gelees. Aanbid.
Dit is egter duidelik dat hy eerder die Messias wou uitwis. Dat sy aanbidding antipatie was. Wat hy wys met die kindermoord net hierna.
Die mees ontstellende in die gedeelte, wat my aan die hart ruk, is egter dat ons die woord aanbid glad nie hoor in verband met die priesterhoofde en skrifkenners nie.
Hulle is tevrede om Herodes te help om die Bybel te lees, om die regte antwoord daarin te vind, en dan terug te sit en niks te doen daaraan nie.
Verstommend, die priesterhoofde en skrifkenners gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie! Net 8 km suid van Jerusalem. ‘n Paar uur se reis. So ver soos The Camponile van ons kerkgebou af. 12 minute se ry.
Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis, heeltemal. Weens hulle onverskilligheid, hulle apatie.
Hoe het die wyse manne dit reggekry? Hoekom het hulle geslaag waar Herodes, die priesterhoofde en skrifkenners gefaal het?
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:








