Verwelkoming
God nooi ons uit en ons kom tot rus
Lied 169:1 Heilig, heilig, heilig, Heer, God almagtig (sit)
Votum
“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Seëngroet
Lofsang
Lied 107:1,2,12 Die mense wat behou is, moet sê: “Ons is bevry!”(Tweede melodie) (staan)
Lied 190:1-3 Grote God aan U die eer (staan)
Verootmoediging
Geloofsbelydenis
Lied 499:1 Die Heer is God, en niemand meer, sy almag ken gee perke (sit)
Gebed
God praat met ons en ons luister
Skriflesing
Paulus sit in ’n soort “catch 22”-situasie in sy verhouding met die gemeente in Korinte. Sommige mense skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Hy antwoord daarop deur te wys dat dit die liefde van Christus is wat hom dring. Hy probeer nie geld maak uit die evangelie, soos baie van sy teenstanders gedoen het nie (2:17).
2 Korintiërs 6:1-13
6 As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding
Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.
3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.
8Ons ontvang eer en oneer,
ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers,
en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes,
en tog is ons goed bekend;
as sterwendes
en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf,
maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes,
en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes,
maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie,
en tog besit ons alles.
11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!
Woordverkondiging
Passie vir die evangelie
God se genade ontsluit in ons ’n passie om dit met ander te deel. Hy bring ons in ‘n lewende verhouding met Hom as Vader, Seun en Heilige Gees. Hierdie verhouding verander ons lewe. Ons is nie net kinders van die lewende God nie, maar ons hele identiteit word vanuit hierdie nuwe familie gestempel.
Daarom lewe ons nie meer vir onsself nie, kan ons nie meer vir onsself lewe nie, maar vir God.
Dit sluit in dat ons God se genade deel met die mense rondom ons. Ons word geroep om dit met passie te doen.
Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie.
Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar.
Oswald Sanders
Dit laat my dink aan die verhaal van Oswald Sanders. Voor sy vyftigste verjaardag het Oswald Sanders alreeds so erg aan artritis gely dat hy skaars uit die bed kon kom. Hy moes eintlik op vroeë pensioen gaan.
- Hy het nie. Inteendeel, ten spyte van sy lyding het die mees produktiewe jare van sy lewe eers toe begin.
- Op vyftig het Sanders ‘n suksesvolle loopbaan as prokureur in Nieu Zeeland laat vaar om die China Inland Mission (deesdae die Overseas Missionary Fellowship) te lei.
- Na verskeie geseënde jare aan die spits van dié organisasie het hy afgetree.
- Net om toe die uitvoerende direkteur van ‘n Christelike kollege te word. Toe het hy weer afgetree.
- Sy laaste twintig lewensjare het hy as spreker opgetree, reg rondom die wêreld, gemiddeld meer as 300 lesings per jaar. Respek en waardering vir hom het gegroei, hoewel hy nooit die kalklig gesoek het nie.
- Oswald Sanders was ten tye van sy dood byna negentig en besig om aan ‘n boek te werk.
Paulus se lewe
Paulus was net so ‘n passievolle mens. Hy het met passie die kerk vervolg. Maar Jesus stuit hom in sy spore op pad Damaskus toe. Só word die koers van sy lewe verander. Nou leef hy vir God, met dieselfde passie, maar nou om die roeping om God se genade met die mense rondom hom te deel.
Soos Oswald Sanders het Paulus verstaan dat ons in ‘n groot wêreld lewe. Die mense rondom ons is nie net die bure of die mense wat in die kantoor langsaan werk nie. Die bure is ook ons woonbuurt, ons stad of dorp, ons provinsie, ons land, ons kontinent, ons hele wêreld.
Dit tref my dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe, dws: al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10). Dit is die paradoks van die Christelike bediening – die “dood” van die bedienaar is die “lewe” van die wat bedien word. Hy stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees (vers 8), want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.
Ons is geroep om op só ‘n manier passievol te lewe dat die evangelie ons hele wêreld bereik.
Waaroor dit gaan
Waaroor gaan die Christelike lewe nou eintlik? Wat dryf ons? Wat skep die passie in ons om vir God te leef en werk? Wat vuur ons aan?
Dit is belangrik om uitsluitsel hieroor te kry. Paulus waarsku ons dat die risiko lewensgroot is dat ’n mens die genade van God tevergeefs mag ontvang (1). Tevergeefs verwys hier na die gevaar dat die genade nie ‘n aktiewe, lewensveranderende krag in jou lewe word nie. Die genade wil jou juis aanvuur.
Hoe kan ons seker maak dat ons die genade nie tevergeefs ontvang nie?
Paulus skryf in ons teks oor drie perspektiewe wat die passie in ons hart nie net kan aansteek nie, maar sorg dat ons die genade van God nie tevergeefs ontvang nie:
Een: Nóú is die tyd!
‘n Aanhaling uit Jesaja 49 oor die kairos-moment, die regte tyd, moedig ons aan om dag vir dag die evangelie passievol te beliggaam:
Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor,
Op die dag van redding het Ek jou gehelp.
Paulus maak die “regte tyd” meer intens: dit is “nou” die regte tyd.
Mens leef elke dag soos iemand wat voor ‘n vurk in die pad te staan kom. Dan moet jy kies om die regte dinge te doen. Jou lewensreis plaas jou voor keuses. Jy moet die regte koers kies. En jy moet dit nóú doen, jy moet dit dáágliks doen.
Geleenthede raak verspeel as mens nie dag vir dag die regte pad kies nie.
Hierdie keuses verg van jou om met onderskeiding te lewe. Jy moet die regte voorbereidings tref sodat jy voorbereid is om geleenthede te benut.
Twee: Voorbeeld van ander gelowiges
Daarvoor het ons die voorbeeld van talle gelowiges uit die verlede en die hede om ons aan te spoor. In wie se lewens ons kan sien hoe dit werk.
In ‘n lang gedeelte (verse 3 tot 10) verduidelik Paulus hoe sy lewe in diens van die evangelie verloop het, hoe dit hom gevorm het, en watter waardes dit by hom gevorm het.
Sy beliggaming van sy roeping beteken dat:
- Sy identiteit as dienaar van God die allesoorheersende motief in sy lewe geword het (4);
- Hy geleer het om geduldig (4), onberispelik, met begrip verdraagsaamheid en vriendelikheid op te tree (6);
- Hy ontdek het sy roeping kan net in die liefde van God, in gemeenskap met die Heilige Gees, deur woorde van waarheid, en deur die krag van God gedoen word (6-7);
- Die wapen vir aanval en verdediging nie die selfregverdiging van die ou mens is nie, maar die doen van die wil van God (7).
Paulus is ‘n goeie voorbeeld van hoe die roeping van God ‘n mens se lewe oorneem.
Só het ons vele mense in dié gemeente gehad wat vir ons ’n voorbeeld tot sulke diens was en is:
- jongmense wat by sending betrokke geraak het en steeds is: Jean en Louise Greyling, Hugo en Jakkie Wolmarans, Hannes Hattingh, Lieb en Elspeth Liebenberg, Evelyn Lotz, Gerrit en Sonja Brink, Corneille du Plooy, Lourens Oberholzer – te veel om op te noem.
- En mense wat by dienswerk hier rondom om ons betrokke geraak het en steeds betrokke is – ek wil nie nou name noem nie, net nou laat ek ’n 100 of so uit – maar dit is van die bosslapers af, Vistarus, kinders kosgee, Maranatha, bejaardes, gestremdes, weeskinders, die herstel van allerlei, selfs met regsake in die platteland, kleingroepe, en die breër gemeenskap.
- Danie Mouton is lief om te sê, hy tref gemeentelede van Somerstrand regdeur die Oos-Kaap aan.
Ons het die voorbeeld van ander nodig wat ons help verstaan hoe om ons eie roeping te beliggaam. En in dié gemeente is daar talle en talle sulke voorbeelde.
Interessant: Mens se roeping gaan ook deur fases. Oswald Sanders het ‘n suksesvolle regspraktyk gehad. Dit het die platform geword vir die tweede fase van sy roeping: sending na China. Wat hom weer gevorm het vir die derde fase: opleiding en toerusting. Wat tot die laaste groot fase in sy lewe gelei het: internasionale spreker en mentor.
Ek sien dieselfde in ons gemeentelede se voorbeelde –mense wat deur fases gaan, en ons wat daarby betrokke bly. Elspeth saam met Lieb in Rusland, nou sonder Lieb die hoof van Campus Crusade for Christ in SA; Evelyn Lotz in Egipte, Israel, en nou hier in die Metropool besig om te werk met kinders. Hugo in Egipte en nou ’n direkteur van Arab World Ministries; Gerrit en Sonja in Noord-Irak, toe Turkye en vandag in Nederland besig met die uitreik na Moslems.
En dit bly die lewensbloed van hierdie gemeente – om wyd en naby betrokke te wees, en om saam met mekaar te groei as ambassadeurs van die versoening.
Drie: Oop harte
Paulus sluit sy gesprek in ons teksgedeelte af deur die Korintiërs tot “oop harte” aan te spoor. Sy hart was en is te alle tye oop vir die Korintiërs. Ja, oop vir alle mense wat die Here nie ken nie, en/of ‘n behoefte het aan die genade van die Here.
Dít is hoe jou lewe ook vlamvat soos die voorbeelde van gemeentelede wat ek so pas genoem het.
“Oop harte” veronderstel die vermoë om te reageer op ander mense – op wie hulle is en wat hulle benodig. “Oop harte” neem ander ernstig, en doen moeite om ‘n medemens vir ander te wees. “Oop harte” sien mense met ander oë, sien die potensiaal in hulle raak, weier om net deur die bril van menslike swakhede en mislukkings te kyk.
Só ontvang ook jy die roeping wat God vir jou het.
Soos Christus dit met ons gedoen het, die potensiaal in ons raakgesien het, ten spyte van ons sonde en swakhede, só kyk ons na ander mense, en raak ons betrokke!
‘n Navolger van Jesus moet leer om ‘n oop hart te hê. Dit verg ‘n oog wat oplettend kyk na ander en hulle omstandighede. Sagte oë wat met God se hart oplettend kyk. Dit verg oop ore wat fyn luister na wat ander sê. Dit verg empatie wat jouself onder die vel van ander – in hulle lewensomstandighede – kan indink. Dit verg voete wat loop na ander en deel word van hulle omstandighede. Dit verg dienende hande wat graag ander ophelp.
Mag ons sensitief wees vir God se roeping. En mag ons dit met passie doen. Nou is die tyd!
God stuur ons om te leef
Gebed
Dankoffers
Radio Feba
Frik Veldsman – predikant, later SAUK met godsdiensprogramme, nou by Radio Feba
Slotlied
Lied 440:1-3 Die Here salf ons met sy Gees, tot diens en heiligheid (staan)
Seën
24Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! Amen