Het Jesus werklik opgestaan uit die dood? – 1 Korintiërs 15:1-11

Somerstrand 09:00 Youtube live en in die kerk 6 Februarie 2022

YOUTUBE LIVE

Musiek vooraf

Lied 417 Jesus, ons eer U, opgestane Heer

Lied 421  Die Here Jesus lewe!

Verwelkoming

Aankondigings

Ons soek steeds terugvoer oor die veranderinge in die Familiediens om meer ouderdomsgroepe te akkommodeer.

Getuienis

Ek en Lynette lees Dinsdag hierdie week in ons stiltetyd saam van die vrou in die Bybel wat van bloedvloeiing genees is. Ek bid daarna en bely teenoor die Here dat ek min van daardie genesings al in my eie bediening ervaar het. Hier en daar het ek gebid vir mense – en daar is ‘n paar gemeentemense wat daarvan sal kan getuig – en is hulle genees. Ons het as egpaar dit al self ervaar. Ek onthou ‘n keer wat ek gebid het vir Lynette en sy genees is net voor sy in George Blanco moes gaan optree. Ek onthou ‘n gebed vir my seun, Arno, dat die Here hom moet beskerm, en dat dit inderdaad gebeur het, toe hy net daarna uit ‘n kar om ‘n draai op sy kop by die deur uit geval het. Maar, steeds … My gebed Dinsdag was, Here, laat u genesende hand meer sigbaar raak in ons gemeente.

‘n Paar uur later kry ek hierdie boodskap van Christine van Niekerk van Retiefplein.

Dit is een van baie redes hoekom sy werklik glo dat God na ons gebede luister.

“My dogter is Sonè. My kleinkind is Danielle. Toe Danielle in graad 10 was het daar n knop aan die binnekant van haar knie verskyn. Eers ignoreer ons dit tot dit die grote van ‘n tafeltennisbal is. X-strale en scans volg.  Ongetwyfeld positief.

Word verwys na dr Gatjar been sjirurg. Dr sê na X-strale, dit lyk nie goed nie. Na nog scans ens sê die spesialis: 5cm onder EN 5cm bo die knie sal totaal verwyder moet word. Daarna sal ‘n totale prostese ingeplant word.  Daar’s nie tyd nie. Dis ‘n aggressiewe vorm van kanker. Dit kom meer gereeld onder meisies voor, na beengroei ophou. Sy sal Kaap toe moet gaan, soos in die volgende môre, geen uitstel nie.

In die tussentyd vergader ek en groep om die geval te bespreek. Sonè en Danielle kom sluit by ons aan, en dra die slegte nuus oor. Drie  uur is hulle terug by Dr Gatjar se spreekkamer.

Ek verskoon my by tafel en gaan na die hospitaal toilette toe. Ek maak die deur toe. Ek maak heel my siel voor God skoon. Ek bid en sê ek wil my kleindogter terughê.

Ek bid en vra vir ‘n wonderwerk in Jesus Naam. Ek bid vir absolute kansellasie van die kanker. Ek gee erkenning dat alle lof en eer God sal toekom.

Sonè en Danielle  kom terug.  Sonè begin …… Ma vandag het hier ‘n wonderwerk gebeur ….

Toe ons by dr Gatjar kom was sy eerste woorde: “Mrs Griessel, I want to show you something … Today I prayed … You prayed …. you prayed to the right God.  Look at these scans.  No signs of cancer.

Vandag is dit my getuienis … ons aanbid ‘n lewende God.

Die Here genees werklikwaar. Vandag nog.

Vandag se erediens gaan dus oor die werklikheid van die dinge wat ons glo. Sommige van dié dinge weet ons uit die Bybel en die geskiedenis uit. Sommige weet ons uit eie ervaring. Sommige daarvan lê in die toekoms en is dinge waaraan ons glo en waaraan ons vashou. En daardie vashou is só belangrik.

Reeks van drie preke oor 1 Korintiërs 15.

  • Het Jesus werklik opgestaan uit die dood? (1 Korintiërs 15:1-11)
  • Sal ons werklik self opstaan uit die dood? (1 Korintiërs 15:12-20)
  • Hoe gaan ons lyk na die opstanding uit die dood? (1 Korintiërs 15:35-50)

Toetrede

Lied 170 Heilig, heilig, heilig  2x (sit)

Votum en Seëngroet

Aanbidding

How great thou art (Pulse groep – vier verse)

Doop

Aden André Kilian van Ralph en Charday (uit Kanada)

Kindermoment

Tannie Karen het vir ons ‘n voorbeeld van ‘n graf gebou hier onder die tafel. Dit stel die graf van Jesus voor. Julle weet moet Hy het vir ons sonde aan die kruis gesterf. En hy is begrawe in ‘n graf soos dié. Kan julle onthou?

Het Jesus in die graf gebly? Wie wil gaan kyk of daar iemand in die graf onder hierdie tafel is? Is daar iemand? Nee, want Jesus het mos opgestaan uit die dood. Hy lewe vandag nog.

  1. Hoe weet ons Jesus het uit die dood opgestaan en dat Hy leef? Wel kom ons kyk wat gesê word hieroor in die Bybel en die mense wat gesien het Jesus lewe.
  2. Jesus, God se Seun, het gesterf en was in die graf vir drie dae en nagte. Maar vroeg Sondagmôre het Hy opgestaan uit die dood en is gesien deur Maria Magdalena.
  3. Maria het vir Petrus en Johannes vertel dat Jesus lewe! Hulle het vinnig na die graf gehardloop om vir hulleself te sien. Hulle het gesien dat die klip weggerol was van die opening van die graf en dat sy grafklere daar opgerol was. Dit graf was leeg.
  4. Twee mans het gestap langs die pad na ‘n dorpie Emmaus en gesels. Hulle was teleurgesteld dat Jesus gesterf het. Hulle het gedink Hy was die beloofde Messias. Jesus het toe skielik aan hulle verskyn en al hierdie dinge verduidelik oor Homself uit die Ou Testament.
  5. Daardie aand was sommige van Jesus se vriende in ‘n kamer met die deur gesluit. Skielik het Jesus verskyn daar tussen hulle. Hulle was baie bly en het geglo Hy het opgestaan uit die dood toe hulle Jesus lewend sien!
  6. ‘n Kort rukkie later, het sewe van Jesus se dissipels teruggekeer van visvang en Jesus op die strand gekry waar Hy besig om vis te braai op ‘n vuur op die strand. En hulle het ontbyt geëet saam met hom. Jesus was regtig lewendig!
  7. Nie lank daarna nie het ‘n groot skare van meer as vyfhonderd van sy vriende en volgelinge Hom tegelyk gesien! Hulle almal het Hom lewend gesien en geglo!
  8. Toe Jesus opgevaar het na by sy Vader in die hemel, het elf van sy dissipels Hom dopgehou. Baie mense het dus al hierdie dinge gesien met hulle eie oë en vir ons vertel dat ja, Jesus leef. Hy het werklik opgestaan uit die dood!

Lof

Lied 422 Die Heer, die Heer het opgestaan  (staan)

Aanbidding

Vonkk 70 Abba Vader (sit)

Skriflesing en prediking

1 Korintiërs 15:1-11

1Broers (en susters), ek herinner julle aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, en waarin julle ook vasstaan, 2waardeur julle ook verlos word; mits julle vashou aan die evangeliewoord wat ek aan julle verkondig het – tensy julle vergeefs tot geloof gekom het. 3Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte; 5en Hy het aan Sefas verskyn, en toe aan die twaalf. 6Daarna het Hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, van wie die meeste nou nog leef, maar sommige al ontslaap het. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn, en toe aan al die apostels. 8As die laaste van almal het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn. 9Want ek is die geringste van die apostels, nie geskik om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie vergeefs nie, trouens, ek het baie harder gewerk as al die ander – eintlik nie ek nie, maar die genade van God, wat met my is. 11Daarom, of dit ek of hulle is, dit is wat ons verkondig, en daarvolgens het julle tot geloof gekom.

Noodsaaklike getuienis vir jou geloof in Jesus

Ek wil eers fokus op die getuienis wat ons het dat Jesus werklik opgestaan het uit die dood. Uit die Bybel, maar gerugsteun deur onafhanklike bronne.

Want, dit is noodsaaklike getuienis vir wat ek in die tweede deel van die prediking gaan sê. Dat jy opgeroep word om vas te staan in die geloof. Dat jy moet vashou aan die evangelie wat aan jou verkondig is, want anders sal jou geloof verniet wees.

Jy kan immers nie vashou aan die werklikheid van die opstanding, die werklikheid van God se werk in ons lewe, as jy nie in die eerste plek ‘n vaste basis het om jou geloof op te bou nie.

Het Jesus werklik opgestaan uit die dood?

Gary Habermas en Michael Licona het in 2004 ‘n indringende en omvattende ondersoek geloods na die werklikheid van die opstanding van die Here Jesus Christus. Daar is baie ander, maar die boek is genoeg om vir jou antwoorde te gee op jou vrae, en antwoorde te gee aan mense wat die opstanding in jou teenwoordigheid bevraagteken. [1]

Ek sluit graag daarby aan en maak aan die hand van hulle boek die volgende drie opmerkings waarin my eie geloof in die opgewekte Jesus ook na vore kom.

Het Jesus werklik opgestaan uit die dood? Ja, Hy het. Hier is drie eerste rondte redes:

  1. Die opstanding van Jesus word deur meervoudige, onafhanklike historiese bronne bevestig. Ek sal daarop uitbrei.
  2. Die opstanding word deur vyande van Jesus (Paulus) sowel as skeptici van daardie tyd (Jakobus, een van Jesus se skeptiese broers) bevestig. Daar is geen ander manier om hulle verandering te verklaar nie. Iets moes gebeur het om hulle te oortuig.
  3. Vroeë ooggetuie verslae bevestig die opstanding van Jesus: die vroue, Maria Magdalena, Kleopas en sy vrou/vriend, Petrus en die res van die dissipels, veral Thomas, nog meer as 500 ander wat Jesus gelyk aanskou het in sy opstandingsliggaam, Paulus, Jakobus, Judas en so meer. Soos Paulus onder andere hier in 1 Korintiërs vir ons vertel.

“Minimal facts” benadering

Gary en Michael gebruik ‘n minimalistiese benadering – uitgebreid gemotiveerd – om die vier algemeen aanvaarde feite waarop hulle die opstanding begrond, te motiveer, sowel as ‘n vyfde feit wat deur die meerderheid aanvaar word. Hulle noem dit die “minimal facts approach”.

1. Jesus het aan die kruis gesterf. Daar is nege onafhanklike bronne wat dit bevestig:

    • Die vier Evangelies van die NT: Markus, Matteus, Lukas en Johannes (ek wys papirus 75, die vroegste kopie wat ons het van die Evangelie van Lukas uit die 2de eeu nC). Dit is die belangrikste bronne wat vir ons nagelaat is. Ek nooi jou uit om dit ‘n slag deeglik te lees. Jy kan my boek Prontuit die Waarheid – binnekort in gedrukte vorm beskikbaar – deurwerk wat die volle teks van die vier Evangelies bevat met my kommentaar.
    • Die Joodse geskiedskrywer Josephus, ‘n tydgenoot van Jesus, verwys twee keer na Jesus in sy Antiquities of the Jews (geskrywe in die 1ste eeu nC). Die eerste is na sy kruisdood (boek 20, hoofstuk 9), en die ander na die feit dat Hy die Christus genoem is (boek 18, hoofstuk 3). Daar is ook een verwysing na Johannes die Doper wat ook sy historisiteit bevestig (boek 18, hoofstuk 5). Daar is debat oor Josefus se verwysing na die opstanding, maar nie oor die historisiteit van die verwysings na die kruisdood nie.
    • Die Stoïsynse filosoof Mara Bar-Serapion van Sirië skryf in ‘n brief aan sy seun, Serapion, oor die dood van die “wyse koning van die Jode” in die 1ste eeu nC wat deur baie geleerdes met Jesus se kruisdood verbind word.
    • Die Romeinse geskiedskrywer en senator Tacitus verwys vroeg in die 2de eeu nC na Jesus se kruisdood onder Pilatus (Annale, boek 15, hoofstuk 44). Dit is ‘n onafhanklike Romeinse historiese bron.
    • Dan is daar nog die Griekse satirikus Lucian van Samosata in sy The Passing of Peregrinus wat na Jesus se kruisdood verwys en boonop na – in sy oë – misplaaste idee van onsterflikheid onder Christene, ook in die 2de eeu nC.
    • Die Joodse Talmoed – ‘n versameling van Joodse denke, geskryf deur rabbi’s deur die eeue – verwys ook na Jesus, hoewel altyd in ‘n negatiewe sin. Hoewel daar baie debat is oor die detail van die verwysings na Jesus, is dit ook een van die bronne wat ‘n mens vir die historisiteit van Jesus kan naslaan.

2. Jesus se dissipels het geglo dat Hy uit die dood opgestaan het en aan hulle verskyn het. Die beskrywings van die opstanding wat in die NT opgeneem is, berus duidelik op die getuienis van ooggetuies en hulle mondelinge tradisies. Die getuienis van die opstanding het dus vóór die geskrewe teks bestaan. Dit sien ons talle plekke in die NT:

    • Credo’s (vroeë geloofsbelydenisse) soos ons dit hier in Paulus se brief aan die Korintiërs kry (1 Kor 15:3-5) en waarop hy natuurlik verder uitbrei in hierdie hoofstuk.
    • Liedere (“Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood en Christus sal sy lig oor jou laat skyn.” – Ef 5:14; vgl Ef 5:19; Ook die lied in 1 Tim 3:16 wat die frase bevat: “Hy is geopenbaar in ‘n menslike liggaam … opgeneem in heerlikheid.”).
    • Verhale wat oorgelewer is, wat Lukas gebruik het vir sy navorsing om uiteindelik sy Evangelie te skryf (Luk 1:1-4).
    • Gedigte met die opstanding as begronding (Rom 8:31-38 – “Wat sal ons dan hiervan sê: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees? … Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.”; daardie onvergelyklike gedig oor die selfontleding van Christus in Fil 2:5-11; En die uitspraak: “As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef” en wat daar verder volg  in 2 Tim 2:11-13).
    • Die vier Evangelies van die NT, Markus, Matteus, Lukas en Johannes.
    • Sowel as Lukas met sy Handelinge van die apostels;
    • Daarby kom nog die onwrikbare getuienis van die dissipels wie se lewens só getransformeer is deur die opstanding dat hulle vervolging en martelaarskap verduur het vir hulle getrouheid aan die boodskap daarvan. Al die apostels het waarskynlik ‘n marteldood gesterf, behalwe Johannes, hoewel hy natuurlik ook self gemartel is in sy lewe.
    • Die opstanding kon dus per definisie nie ‘n legende gewees het wat oor tyd ontwikkel het nie. Daarvoor was die getuienis van die opstanding té vroeg en té wyd deur ooggetuies bevestig. Selfs voor daar ‘n woord op papier neergeskryf is.

3. Die vervolger van die kerk, Paulus, is skielik verander. Sy getuienis is van groot belang omdat sy verandering van vyand in vriend nie op ‘n ander manier verklaar kan word as dat die opgewekte Jesus aan hom verskyn het nie. Hy maak ook baie van die liggaamlike opstanding van Jesus (Hand 13:34-37; 1 Kor 15; Fil 3:21).

4. Die skeptiese Jakobus, broer van Jesus, is skielik verander. Sy verandering van skeptisisme toe Jesus nog saam met hulle gelewe het (Joh 7) tot onwrikbare geloof in die opgestane Jesus en leiding van die kerk (Hand 15) kan net verklaar word aan die hand van iets wat werklik gebeur het. Ditto Jesus se ander broer, Judas, wat ook ‘n brief in die NT geskryf het.

5. Die graf was leeg. Dit sou onmoontlik gewees het vir die Christendom om van die grond af te kom as ‘n beweging as Jesus se liggaam steeds in die graf was. Die graf was leeg, soos selfs die Romeine en Jode getuig het, hoewel sommige van hulle die bewering gemaak het dat Jesus se liggaam gesteel is. Die graf was egter leeg, hoe ‘n mens ook al dit sou probeer verklaar. Die vorige vier punte wys egter hoe onwrikbaar die getuienis was dat Jesus inderdaad opgestaan het. Dit is genoeg om die leë graf te verklaar as ‘n verdere getuienis van Jesus se opstanding.

Daar is ander redes wat hiermee saamgelees kan word – bv die feit dat vroue die eerste getuies was van die opstanding. Maar dié is genoegsame getuienis van die opwekking van Jesus.

Mits julle vashou aan die evangeliewoord

Dit is die evangelieboodskap waarin jy moet vashou. Dit is die feite waarop jou geloof gebou is. Jy hoef nie blindelings te glo nie. Jy kan self hierdie getuienisse nagaan en die waarheid daarvan ondersoek.

Maar, dan is dit belangrik dat jy nie net daar bly nie. Jy moet aan hierdie boodskap vashou. Niks moet jy hiervan wegruk nie. Anders sal jou geloof waardeloos wees vir jou. Soos Paulus hier sê. Hy herinner hulle aan die evangelie wat aan hulle verkondig is:

2waardeur julle ook verlos word; mits julle vashou aan die evangeliewoord wat ek aan julle verkondig het – tensy julle vergeefs tot geloof gekom het.”

Die woordjie “vashou” in hierdie teks is die Griekse woord katechō. Die woord beteken: om aan te hou glo, om aanhou te hou doen wat jy glo, om in alles in ooreenstemming met jou geloof op te tree. In Engels: “to practice what you believe.”

Vroeër in die brief koppel Paulus hierdie aanhou glo, hierdie aanhou doen, aan die inhoud van die leringe wat hy aan die Korintiërs deurgegee het (1 Kor 11:2). Wat beteken, ‘n mens kan nie sommer maar enigiets glo en beoefen nie.  Daar is een waarheid. Jy kan nie glo Jesus het liggaamlik opgestaan, en terselfdertyd glo Hy het nie liggaamlik opgestaan uit die dood nie. Paulus het dus ‘n baie spesifieke inhoud in gedagte. In hierdie geval, die opstanding van Jesus was histories, werklik en liggaamlik.

En let op dat dit dinge is wat hyself ontvang het en waaraan hy nie net vashou nie, maar aan ander verkondig. En dat dit dinge is wat daarby: “volgens die Skrifte” is.

3Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.”

Die dinge waaraan hulle moet vashou, is dié dinge wat die OT hulle geleer het, “die Skrifte.”  Dit is daardie dinge wat in Christus vervul is. Dit is daardie dinge wat die vroeë kerk vir al die gelowiges geleer het.

Paulus is baie helder daaroor dat daar niks is wat hy vir hulle geleer het wat afwys van die waarheid wat van altyd af deur God vir sy mense gegee is nie. Die OT is in lyn met die openbaring van God in Jesus Christus. En alles wat die vroeë kerk geleer het, en uiteindelik in die NT opgeneem is, was in lyn met die geskrewe Skrifte, die OT, sowel as die mensgeworde Skrif, die Here Jesus self.

En wat is die inhoud van hierdie evangelie?

  • Dat Christus vir ons sondes gesterf het: ”volgens die Skrifte.”
  • Dat Hy begrawe is en op die derde dag opgewek is: weereens “volgens die Skrifte.”
  • Dat Hy aan Sefas verskyn het (dit is Petrus), en toe aan die twaalf (dit is die eerste dissipels), toe aan meer as 500 gelowiges gelyktydig wat steeds daarvan kan getuig, omdat die meeste van hulle nog lewe, toe aan sy broer Jakobus, daarna aan al die apostels (dit lyk asof dit ‘n groter groep as die aanvanklike twaalf is), en laaste aan Paulus self, die ontydig geborene, aan wie Jesus op die pad Damaskus verskyn het om hom te roep vir die taak wat Jesus vir hom het.

Paulus sluit hiermee dan ook aan by die lering van die Here Jesus, want hy gebruik dieselfde woord, katechō, as wat Jesus reeds in die bekende gelykenis van die Saaier gebruik het. Jesus beskryf daar die goeie grond as: “daardie mense wat die woord met ‘n goeie en opregte hart aanhoor, daaraan vashou en met volharding vrug dra.” (Luk 8:15)

Dit is al manier waarop die dinge wat ons glo, die dinge wat ons in hierdie lewe vashou, ewige waarde vir ons kan word, iets wat ons volkome sal besit in die hiernamaals.

Appèl

Niks van waarde kan in jou geestelike lewe gebeur as jy nie aan die werklikheid van die historiese, liggaamlike opstanding van Jesus Christus vashou nie. Dit geld die teoloë, en die gewone lidmate. En enigiemand wat jou van iets anders wil oortuig, laat hy vir jou anathema wees, iemand om te vermy sodat sy ongeloof nie afgee op jou nie. Natuurlik moet ons na ongelowiges uitreik met die evangelie, maar ons kan geen gemeenskap duld met mense wat die opstanding van Jesus ontken nie, want dit kan soos suurdeeg jou eie geloof – en belangrik, dié van ander – laat wankel.

Gebed

Slotlied

Lied 425 Kyk die Heer het opgestaan (staan)

Seën

Respons ná Seën

Lied 189   Halleluja!

Dankoffer by die deure

[1] Habermas G. R. & M. R. Licona. 2004. The Case for the Resurrection of Jesus. Kregel: Grand Rapids. http://www.amazon.com/Case-Resurrection-Jesus-Gary-Habermas/dp/0825427886

 

 

Chris

Ek is gemeenteleraar by NGK Somerstrand Port Elizabeth. Ek het twee passies in die lewe: om God en mense met my gawes te bedien. Jy kan my volg by Bybelskool.com, Facebook en Twitter.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.