RUS
Prentjie
Dit is hoe God oor jou voel. En dit is wat Hy graag vir jou gee.
Ek gee so 2 minute dat jy net tot rus kan kom in God se liefde en sorg.
Votum
Seëngroet
Aanbidding
Flam 48 – Hemelvader, ek aanbid U
Lied 519 – Wees stil en weet: Ek is die Heer
HOOR
Kindertyd
Ek wil baie graag hoor wat julle geleer het die week by: What’s in the Box?
Wil julle nie vir my teken wat julle geleer het nie?
Dan kom wys julle vir my na die tyd hier voor.
Skriflesing
Ek wil vandag iets illustreer met die lees van Psalm 40 wat ek dink lewensveranderd is.
- Ek gaan iets sê oor die Psalm en wat dit vir ons leer van ons gebedslewe. En dit op sigself is alreeds baie motiverend.
- Maar dan gaan ek ‘n verhaal vertel uit die NT wat ek dink jou oë sal laat oopgaan vir ‘n dimensie van ‘n persoonlike verhouding met die Here, wat jou lewe heeltemal kan verander.
Psalm 40
In die boekies p 16. Aantekeninge p 17. Onthou wat ek daaroor gesê het dié week:
- LECTIO (begryp)
- MEDITATIO (raak)
- ORATIO (verandering)
- CONTEMPLATIO (vrede)
Ons gaan dit nou beoefen
- LECTIO: Ek gaan dit hardop lees – luister na wat jou tref.
- MEDITATIO: Dan gee ek jou ‘n tydjie van stilte om daaroor na te dink. Kies een gedagte, miskien die fokusteks, Psalm 40:9, en dink oor die praktiese betekenis daarvan vir jou lewe – 2 minute.
- ORATIO: Kort gebed waarin jy fokus op hoe jy dié teks kan gaan LEEF – 1 minuut.
- CONTEMPLATIO: Sit net stil voor die Here en geniet sy teenwoordigheid – 1 minuut.
Woordverkondiging
Die Psalm is ‘n gebedsraamwerk
Ek gee eers ‘n paar perspektiewe op die Psalm se boodskap vir ons.
Die Psalmis is in die knyp, en sê dat hy nie self regkom nie. Sy enigste hoop is dat die Here aan hom sal dink en hom sal help. En hy hoop dat die Here nie te lank sal vat nie (vers 18).
Dit is waarom hy drie goed doen, waarmee ’n mens ook die boodskap van die Psalm kan opsom:
- ONTHOU – Vers 2-6: Hy dink terug aan sy vorige ervarings toe die Here hom gehelp het en vertel vir almal in sy kerk daarvan. Dit het vir hom gevoel asof hy in ‘n modderput geval het en dat die Here hom daaruit getrek en weer op ’n vaste rots geplaas het. Daarom moedig hy almal in sy kerk aan om God altyd te vertrou. God sal dit ook vir hulle kan doen.
- VERBIND – vers 7-11: Hy dink aan wat Hy van God weet – dat Hy gehoorsaamheid wil hê, en dat Hy wil hê dat van sy goedheid en trou vertel moet word – en verbind homself opnuut daaraan toe (om gehoorsaam te wees en van God se goedheid te vertel) en herinner die Here aan sy “track record” hieroor. “Om u wil te doen, o God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe”. Dit is wat hy sy hele lewe lank doen.
- SMEEK – vers 12-18: Hy voel egter asof hy nou weer in ‘n modderput geval het, en vra en smeek met groot erns dat die Here hom weer sal help. Want hy weet mos God is lief vir hom. God sal hom nie in die steek laat nie. God sal hom kan help soos die vorige keer.
Dit is daarom’n Psalm wat ’n mens vir jou eie gebede kan gebruik, as ‘n gebedsraamwerk. En jy kan dieselfde drie goed doen:
- Jy dink terug aan wat God al vir jou gedoen het. Jy onthou.
- Jy wy jou aan die Here toe om Hom te gehoorsaam en van Hom vir ander te vertel. Jy verbind jou aan God.
- En jy spel presies uit wat nou verkeerd is. Jy smeek die Here. En vertrou die Here dat Hy sal help. Hy ís mos lief vir jou.
En as julle ‘n korter Psalm wil gebruik wat net die smeking gedeelte bevat, dan kan julle Psalm 70 gebruik, wat net 6 verse lank is, en uit Psalm 40:14-18 gehaal is, waarskynlik om as ‘n kort skietgebed in ‘n krisis gebruik te word.
LEEF
Die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou in Johannes 4
En nou wil ek graag die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou vertel soos ons dit in Johannes 4 kry as illustrasie van hoe ‘n mens ‘n Skrifgedeelte LEEF, inkarneer.
- Jesus is onder druk – Joh 4:1-3
Die Fariseërs maak dit vir hom moeilik. Hulle vergelyk hom met Johannes die Doper, en dit stel Johannes in ‘n slegte lig. Jesus sou dan meer mense doop as Johannes – en Johannes is dan die Doper, nie Jesus nie!
Jesus weet wel, dit is eintlik nie Hy wat doop nie, maar sy dissipels. Maar Hy wil tog nie dat die doop só ‘n groot kwessie raak nie, en wil veral nie dat Hy vergelyk word met iemand anders tot dié se skade nie. Daarom besluit Hy om weer na Galilea te gaan, na Kana waar hy so baie wyn gemaak het, en na Kapernaum waar hy saam met sy dissipels en sy ma gebly het.
- Jesus is moeg – Joh 4:6
Hy is op reis deur Samaria en hulle het al ver geloop. Jesus is moeg.
- Jesus is honger – Joh 4:8
Jesus is honger. Daarom is sy dissipels na die dorp toe, Sigar, om kos te gaan koop.
- Jesus is dors – Joh 4:7
Jesus is dors. Hy sit by die put in die warm son, en hy het nie ‘n emmer nie. Toe die Samaritaanse vrou daar by hom aankom, vra hy ‘n bietjie water van haar. En wat gebeur? Die vrou weier en begin met Hom stry
-
- oor sy kultuur – Hy is ‘n Jood, sy ‘n Samaritaan (4:9);
- oor sy geslag – Hy is ‘n man, sy ‘n vrou wat al ‘n hele paar mans gehad het (4:9,16-18);
- oor sy vermoëns – jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat dié put vir hulle nagelaat het (4:12)?
- oor sy godsdiens – die Jode aanbid in Jerusalem en die Samaritane by Gerisim (4:19-20).
Wat sou julle gedoen het?
Kinders – honger is erg, maar dors! Hoe voel julle as dit warm is? Sê nou maar net dis na ‘n rugbywedstryd, of as jy ‘n lang ent gaan hardloop het, of net ‘n bal rondgeskop het. Jy is dors – en sê nou iemand wil nie vir jou water gee nie!
Wat doen Jesus?
Jesus ignoreer sy moegheid, ignoreer sy honger, ignoreer sy dors, ignoreer die druk waaronder Hy verkeer … en verdra haar, tree met haar in gesprek, antwoord geduldig haar vrae, en stel haar bekend aan die Een wat vir haar lewende water kan gee, die Een wat haar lewe kan verander, Hyself.
En dit verander nie net haar lewe nie, maar haar hele dorpie se lewe. Hulle kom na Hom toe en vind self uit dat Hy die Verlosser van die wêreld is, en kry dit reg om Hom twee dae lank daar te laat bly.om saam met hulle in hulle dorpie, Sigar, fees te vier.
Hoekom doen Jesus dit vir die vrou en die dorpie?
Hy gee vir ons sleutel in vers 34, en dit is nou hier waar jou ore moet spits: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.”
Nou, waar het ons al dié woorde voorheen gehoor?
O ja, in Psalm 40! Psalm 40:9: “Om u wil te doen, o God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe”.
Sien jy wat gebeur?
Jesus is in ‘n situasie – onder druk, moeg, honger, dors. Sy pad kruis die vrou se lewe, en sonder om twee keer te dink, tree Hy met haar in gesprek, antwoord geduldig al haar vrae, en stel haar bekend aan die Lewende water, dit is natuurlik, aan Homself.
En hoe kry Hy dit reg?
Want Psalm 40:9 het deel van sy lewe geword. Hy het dit nie net eenkeer gelees in sy stiltetyd nie. Hy het dit nie net met sy pa en ma, met die Skrifgeleerdes in die tempel, en met wie weet wie anders ook al deur sy lewe gelees nie. Nee, Jesus het Psalm 40:9 geleef!
Hy het die onderskeiding gehad dat dié teks vir Hom voorskryf hoe Hy moet lewe, vir Hom die roete uitstippel van hoe Hy keuses moet maak. Die geestelike behoefte van die vrou was belangriker as die druk wat Hy ervaar, die moegheid wat Hy ervaar, die honger en dors wat Hy ervaar. Om die waarheid te sê, die gesprek met die vrou was vir Hom kos, dit was vir Hom voedsel, dit was vir Hom die energiebron wat Hy nodig gehad het!
Ons lees nêrens dat Hy ooit water drink in dié hoofstuk nie.
- Dit waterkruik bly net daar staan waar die vrou dit los.
Ons lees nêrens dat Hy ooit eet in dié hoofstuk nie.
- Die kos wat die dissipels uit die dorp gebring het, bly net daar staan, ten spyte daarvan dat hulle dit vir hom aanbied. Uiteraard het Hy seker later geëet en gedrink en selfs fees gevier. Trouens net hierna is hy weer na Kana waar hy die 600 liter wyn so ‘n tydjie te vore gemaak het. Miskien het daarvan oorgebly!
Maar op hierdie moment, in die gesprek met hierdie vrou, in gehoorsaamheid aan die Here, is die gesprek met haar die kos wat Hy kies, en nodig het.
- “Om u wil te doen, o God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe” – sê Psalm 40:9.
- “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” Sê Jesus in Johannes 4:34.
Dit is Lectio Divina!
Dít is hoe ‘n mens die Bybel lees.
Jy lees dit vir die lewe. Jy leef dit voort in die gesprekke en die gebeure waarby jy betrokke raak. Jy leef die Bybel, soos Jesus vir ons met sy eie lees van die Bybel illustreer, waarvan ons ‘n hele klomp ander illustrasies kan aanhaal:
- in die woestyn in gesprek met die duiwel haal Hy uit 3 keer uit Deuteronomium aan, een van die boeke van die woestyn, die laaste keer in antwoord aan die duiwel se oppurtunistiese aanhalings uit die Psalms (Luk 4),
- in die nag in gesprek met Nikodemus gebruik Hy verhale uit Numeri oor die koperslang (Joh 3),
- in sy leringe van die Bergrede haal Hy ‘n hele paarkeer uit die Pentateug aan, Eksodus, Levitikus, Numeri, en Deuteronomium (Matt 5-7), en
- aan die kruis met sy beroemde kruiswoorde waarin Hy van die Psalms (22 bv) aanhaal. Kyk maar by elkeen van dié gedeeltes hoe die OT ‘n rol speel in sy bediening en lewenstyl.
Die Bybel is nie net ‘n bron van inligting oor allerlei nie. Dit is nie net ‘n boek wat van hoogstaande literêre gehalte is nie, trouens, met van die beste stories en kortverhale wat ons ken nie. Dit is nie net ‘n boek wat vir ons oor God se wêreld en God se bedoelings inlig nie – en maak geen fout nie, daar is vele diepgaande perspektiewe oor alles wat leef en beef.
Nee, die Bybel is méér en vir méér bedoel. Die Bybel is veral vir die lewe, om ons te vorm, om ons manier van leef en dink en optree te verander en ons nuut te maak, nuut te laat lewe.
Die Bybel is primêr vir ons gegee dat dit ons lewe kan vorm.
Daarom is dit so nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Soos Jesus hier gedoen het. Hy het Psalm 40:9 geken, en Hy het dit uitgeleef teenoor die Samaritaanse vrou.
Dit is hoe ons ook met die Bybel moet omgaan. Ons moet dit lees met die oog op die lewe. Ons moet dit lees en onthou wanneer ons ‘n ontmoeting met iemand langs die pad het, by die put van Sigar. So begin ons regtig die stem van God in die Bybel nie net hoor nie, maar begryp, verstaan, en leer ons hoe om Jesus prakties te volg, deur die Bybel te leef en ervaar ons die wonderlikste seën moontlik, omdat die Heilige Gees ons in God se verhaal met die wêreld inskryf.
En is dit nie die grootste avontuur denkbaar nie!
Dink net aan die verhale wat ons sal kan vertel, van al die Samaritaanse vroue by die putte van die lewe, van al die bruilowwe by die Kanas van die lewe, van al die genesings by die bad van Batesda, van al die voete wat ons kan was aan die tafels van hierdie lewe – as ons begin om die Woord te leef, soos Jesus dit vir ons hier illustreer.
Dit is Lectio Divina, die geestelike lees van die Bybel, waar die teks ‘n poort raak tot God se werklikheid, tot sy teenwoordigheid in hierdie lewe. Waar ons van die beweging
- om tot RUS te kom in Hom, skuif na die beweging,
- om Hom te HOOR deur die lees, die nadink, die bid, en die genot van Sy teenwoordigheid, uiteindelik skuif na die beweging,
- om vir Hom te LEEF.
Dit is wat dit beteken om ‘n persoonlike verhouding met Jesus en met God te hê.
Gebed
Nagmaal
Lied 303 Afr/Eng/Afr
Dankoffers
Slotlied
Lied 541 – Ons bring aan U, Heer Jesus