Paulus versit berge Tema: Wees bly – Filippense 4:2-9 Youtube Somerstrand 09:00 11 Oktober 2020
Skakels
Verwelkoming
Welkom by ons geloofsgemeenskap op Youtube. Mag die Here jou op ‘n spesiale manier met hierdie boodskap seën.
Eredienste in die kerk
Ons begin al hoe meer na normaal toe terugkeer. By die kerk kan 250 bywoon. Ons sing reeds met maskers om die Here te loof en aanbid. Ons doen dit gelyktydig met die Youtube erediens dat ons geestelik saam met mekaar die Here kan loof en aanbid.
Kerkkantoor
Die kerkkantoor begin ook na normaal terugkeer. Ons volg al die regulasies, maar ons admin personeel is weer terug op kantoor. Pastorale besoeke vind ook by voorkeur daar plaas. Jy is welkom om ‘n afspraak te maak met my.
Byeenkomste in die kerk
Die Ark asook die konsistorie is beskikbaar vir Bybelstudiegroepe. Bespreek asseblief by Liésl 041 583 51115, of “nul sewe drie 4713 647”, of epos haar by info@somerstrandgemeente.co.za. Handhaaf asseblief die Covid-protokol: Dra maskers en saniteer die stoele en oppervlaktes wat gebruik word. Temperatuurmeter en handreiniger sal beskikbaar wees.
Reinhardt Botha, Reinier Botha, Megan Millard, Estelle Rautenbach, en Hannes Theron verjaar vandag! Baie geluk! Isabelle Arndt word op 15 Oktober 13 jaar oud. Luka Gouws word dieselfde dag 6 jaar oud. Michael Marais word op 17 Oktober 11 jaar oud. Baie geluk.
Inry Kermis
“Curry bunny” R25 en poeding R15 vir Vrydag 16 Oktober. Dankie aan Elbe Snow “nul agt twee” – 2 9085 674 wat aangebied het om in Janneke se plek beskuit te bak.
Die nege graad 11’s het hulle kategese voltooi. Die belydenisaflegging is 22 November. Ons sien uit daarna om hulle as belydende lidmate te ontvang.
Behoeftes
Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.
Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van PE Hoogland. Vandag is dit die letter “O” in ds Thania Botha se Geloofsalfabet. Waarvoor staan die letter “O” in ons Geloofsalfabet? Dit staan vir Oorvloed! Sy gebruik ‘n teekoppie om ons van oorvloed te leer. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!
Pulse
Ds Thania Botha gesels vanaand 18:00 by Pulse oor Gehoorsaamheid. Sy gebruik die verhaal van Noag. Hy kon redeneer dat niemand anders besig is om vir ‘n vloed voor te berei nie. Waarom moet hy dan? Kom ons leer by Noag hoe om gehoorsaam te wees aan wat God wil hê EK moet doen, ten spyte van wat al mense om my besig is om te doen. Ons leer ook meer van Somerstrand se naaldwerkgroep wat nou al elf jaar lank aan die gang is.
Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge
Dit is week 12 van my fokus op die lewe van Paulus. Tot en met Advent. Ons lees saam die boek Handelinge en Paulus se dertien briewe. Titel en tema: Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge.
Daar is ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 12 met die brief Filippense op die tafel. Met die tema: Wees bly.
Youtube
Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.
Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.
Votum en Seëngroet
Dit is weer Kindertyd. Ons wil baie dankie sê vir oom Jaco Barnard wat vir ons die Kindertyd tot dusver aangebied het. Hy gaan nou begin fokus op Kleingroepe in die gemeente. Baie dankie, ook vir tannie Annemarie en haar kinders Layla en Alexa wat met die redigering gehelp het.
Daarna sing ons Lied 154 en 220 Kom nou tesaam en Met ons harte sing ons
Kindertyd
Lofsang
Lied 154 en 220 Kom nou tesaam en Met ons harte sing ons
Gebed
Skriflesing en prediking
Verras deur vreugde
Is jy al verras deur vreugde? ‘n Staptog deur die Drakensberge en ‘n diep vreugde oor die wyse waarop alles net inpas by mekaar. ‘n Stap by die see en die seemeeue wat rustig dryf op die deinings wat hulle op en af laat beweeg, sonder om hulle te steur. ‘n Kleinkind wat jou hand vat en sê: “Oupa, boekie lees.” ‘n Dralende melodie wat jou vul met verwondering en vreugde soos die Serenade van Toselli.
Verras deur vreugde. ‘n Teken van transendensie. ‘n Bewussyn van blydskap. ‘n Aanraking van God self en sy intense vreugde waar dinge inpas, waar vrede heers, waar verhoudings floreer. Die geluid van ‘n klok. Die reuk van ‘n vuur. Die geluid van voëls.
Soos CS Lewis sê in sy boek Surprised by Joy:
“All joy wills eternity—wills deep, deep eternity!”
In ‘n sekere sin gaan die lewe oor niks anders nie. Soos die Westminster Korter Kategismus se eerste vraag en antwoord dit sê:
- 1. What is the chief end of man?
- Man’s chief end is to glorify God, [a] and to enjoy him for ever. [b]
[a]. Ps. 86:9; Isa. 60:21; Rom. 11:36; 1 Cor. 6:20; 10:31; Rev. 4:11. [b]. Ps. 16:5-11; 144:15; Isa. 12:2; Luke 2:10; Phil. 4:4; Rev. 21:3-4
En let op, ons teks vandag, Filippense 4:4, is een van die verwysings wat daar vir vreugde aangegee word.
Blydskap is natuurlik nie dieselfde as geluk nie. ‘n Mens se geluk is afhanklik van omstandighede. Dit hou verband met jou sintuie. Blydskap oorskry egter omstandighede en sintuie, want dit is iets wat jou met God self in aanraking bring. Soos C. S. Lewis dit beskryf:
“I doubt whether anyone who has ever tasted it would ever, if both were in his power, exchange it for all the pleasures in the world.”
Geen berg waarop ons kan klim, geen blom wat ons kan vind, geen horison waarheen ons ooit kan gaan, sal egter ooit ons soeke na vreugde vervul nie. Want, hierdie ervarings van vreugde, wonderlik soos dit is, maak ons slegs bewus van ons diepste behoefte. ‘n Behoefte aan God. Die enigste Een wat ons hart tot rus kan bring. Wat ons diepste begeertes kan bevredig.
Augustinus skryf oor die Christelike lewe as ‘n “heilige begeerte”. Hy sê God gebruik hierdie begeerte na Hom om ons soos ‘n leersak te rek en strek om met meer van God self gevul te word. Die ervaring van vreugde rek ons binnekant om met meer en meer van God self gevul te word.
Dit is hierdie blydskap, hierdie intense vreugde, waaroor Paulus hier in sy brief skryf. Hy is in die tronk in Rome. Hy is in huisarres. Sy bewegings is beperk, maar hy beskryf hierdie intense vreugde in die Here wat vir die gelowiges in Filippense ook beskikbaar is. Hy skryf:
2 Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintige om in die Here eensgesind te wees. 3 Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker (jukgenoot – kan ook ‘n eienaam Sisigus wees), help hierdie vroue. Hulle het saam met my vir die saak van die evangelie gestry, ook saam met Klemens en my ander medewerkers wie se name in die boekrol van die lewe staan. 4 Verbly julle altyd in die Here! Ek sê weer: Verbly julle! 5 Laat julle welwillendheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank. 7 En die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. 8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, wat reg is, wat rein is, wat lieflik is, wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig. 9 Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het — doen dit. En die God van vrede sal met julle wees. (Filippense 4:2-9 – BDV)
Ek het ‘n eenvoudige boodskap uit hierdie gedeelte. Paulus wat sê: “Wees bly.”
1. Hierdie vreugde is “in die Here.”
Blydskap kom wanneer jy dit soek in die Here en in sy teenwoordigheid.
- “The joy of the Lord is your strength,” sê Nehemia 8:11.
- “Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut,” sê Klaagliedere 3:22-23.
- “Verbly julle altyd in die Here! Ek sê weer: Verbly julle!” sê Filippense 4:4
Dit neem net ‘n paar minute om in die oggend te fokus op dít wat jou bly maak, dít waaroor jy dankbaar is, dít wat jy van God ontvang het. Om dit vir die Here te sê in gebed, en jou dan te verbly in die vreugde wat die Here gee.
Wat baie help is om ‘n joernaal te hou en gereed daarin neer te skryf wat jou vreugde gee, waaroor jy dankbaar is. Sodat jy in tye van aanvegting kan terugblaai daarheen.
Dit is wat ons ook moet doen as ons by medegelowiges kuier. Om ons saam in die Here te verbly. Paulus gebruik hier die woord chairete (blydskap/vreugde) waarmee hy nie net die innerlike blydskap beskryf wat ons in God se teenwoordigheid kan hê nie, maar ook ons gesamentlike blydskap in die gemeenskap van gelowiges.
Paulus moedig ons aan om mekaar se lewens te verryk deur te vertel van dié dinge wat ons bly maak en die Here saam te loof daarvoor.
2. Ons moet bekend wees as mense van vreugde
Dit is iets wat ons ook moet voorleef in die samelewing. In vers 5 sê Paulus:
“Laat julle welwillendheid aan alle mense bekend word.”
Daarmee bedoel Paulus dat dit nie net in die gemeenskap van gelowiges is waar ons in vreugde moet lewe nie, maar dat hierdie gesindheid ook die wyse waarop ons met die publieke gemeenskap saamleef, moet stempel.
Die bereidheid om te skik, om te luister na rede, om bereid te wees om van ander te leer, of soos een kommentaar dit stel, om met: “sweet reasonableness” op te tree, moet die uitstaande kenmerk van ons as gelowiges se interaksie met die wêreld wees.
Hoe raak dit vir ons moontlik? As ons regtig diep gaan nadink oor wat Paulus hier sê: “die Here is naby.” Die primêre rede wat hierdie vreugde en welwillendheid aanwakker, is dat die Here naby is – beide in terme van die wederkoms, die manier waarop ons dit normaalweg interpreteer, maar ook in terme van Sy teenwoordigheid in die hede.
Die gemeente kan dit dus waag om met vreugde te lewe, en inskiklik te wees teenoor alle mense, want die Here is nie ver van hulle af nie.
Dit beteken onder andere dat Hy die vermoë het om in te tree en op te tree in alle situasies binne en buite die gemeente. En daarvoor kan ‘n mens saam intree soos die volgende punt ook sal uitspel.
3. Hierdie vreugde maak jou vry van bekommernisse.
Ons kan ook bly wees, want daar is niks waaroor ons hoef bekommerd te wees nie. Trouens, Paulus sê in vers 6:
“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank.”
Omdat God naby is, kan ons oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed. Letterlik staan daar in vers 6:
“maak in alles (alle situasies) julle versoeke bekend aan God deur gebede en versoeke/petisies met danksegging.”
Daaraan is ‘n belofte gekoppel in vers 7:
“die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”
Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word. Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly.
Dít is hierdie vrede wat ons harte en gedagtes sal bewaar. En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as jou beste beplanning!
Jy sal weet wat die dinge is wat jou vandag bekommer. Hier het jy die oplossing daarvoor. Om met alles na die Here toe te gaan. En dan op te tree op die wyse waarop Hy lei.
Dit is wat ons ook moet doen met die dinge wat ons ontstel op die publieke terrein. Ek kan nie anders as om te verwys na wat hierdie week in Senekal gebeur het nie. En die wyse waarop dit ‘n simbool geraak het van ‘n breë gemeenskap wat net sê, só kan ons nie aangaan nie.
Kom ons bid dat die Here dit sal gebruik om oplossings te bring vir die moorde wat vermenigvuldig op ons plase en wat dreig om ‘n hele gemeenskap te vernietig. Bid dat die Here murg in ons politici se pype sal sit om die regte ding te doen en veiligheid te verseker vir ons uitgelewerde verguisde boeregemeenskap.
Natuurlik moet ons ook bid vir die ander “hotspots” in ons land. Ons het ‘n onaanvaarbare hoë moord en geweld syfer. Dit ontstel my hoe kinders in die kruisvuur vermink en vermoor word op talle plekke in ons land.
Maar, dit is nie al nie.
4. Hierdie vreugde laat jou fokus op wat regtig belangrik is.
Waarmee ons egter ons gedagtes moet vul, as ons al ons behoeftes aan die Here afgegee het, en ook bereid is om op te tree soos Hy ons lei, is wat Paulus in vers 8 sê:
“alles wat waar is, alles wat eerbaar is, wat reg is, wat rein is, wat lieflik is, wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
Paulus spel dus vir ons die tipe gedrag uit wat by dié tipe lewenshouding (vreugde en welwillendheid) en dié tipe gebed pas, nl. ’n waarderende positiewe lewe. Hy moedig die gemeente aan om hulle gedagtes (beplanning) te rig op alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien – watter deug of prysenswaardige saak daar ook mag wees.
Ons het die grootste vryheid om hierdie positiewe denke op alles te rig wat rondom ons is en oor alles wat ons op watter wyse ook al aanraak. Ons mag, trouens moet, kreatief wees in ons fokus op dié dinge wat lewe gee en lewe bring. Niks moet ons keer nie. Niks moet ons aan bande lê nie.
En waar ons kies om oor die waarheid na te dink – oor dit wat eerbaar is, om ons te verbly oor alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien – dan vul dit ons met ‘n groot vreugde, skep ons moed, raak ons binnekant sterk, sodat ons die dinge wat verkeerd is, kan hanteer.
“Wees bly.”
Gebed
Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys. Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.
NGK Somerstrand
Absa Tjekrekening 01008731388
Takkode 632005
Ons luister na Evelyn Lotz oor haar bediening in Cradock en daarna sing ons Lied 284 – Laat Heer u vrede deur my vloei
Bydrae
Evelyn Lotz
Slotlied
Lied 284 – Laat Heer u vrede deur my vloei
Seën
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! (2 Kor 13:13)
En die gemeente sê: “Amen!”