Wie het Finding Nemo gesien?
Bruce is ‘n groot wit dood haai in die fliek. Hy is die leier van die Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep wat vriende maak met Marlin, Nemo se pa, die anemoonvis, en Dory, die doktersvis, wie se geheue haar so in die steek laat.
By een van sy Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep sessies – geskoei op Alkoholiste Anoniem se 12 stap program – word Marlin en Dory saamgenooi met twee ander haaie, Anchor en Chum. Dit is immers die viering van stap 5: Bring ‘n vis-vriend.
Ongelukkig kom daar ‘n bietjie bloed in die water en Bruce se natuurlike instinkte skop in. Sy oë verander van helderblou tot donkerswart en hy wil met alle mag en geweld sy nuutgevonde vis-vriende, Marlin en Dory, opeet. Dit is net met moeite wat Marlin en Dory aan dié bloeddorstige wit dood haai ontkom.
Bruce is ‘n goeie siel. ‘n Aangename haai. Hy is vrolik, vol grappies, almal se pel. “Visse is vriende, nie voedsel nie,” so herinner Bruce homself telkens. Maar sy persoonlikheid verander die oomblik wanneer sy instinkte inskop, en dit maak van hom ‘n “mindless eating machine”.
Instink is sterker as afrigting
Nou, dit is maar ‘n fliek. Maar, in die werklike lewe is dit steeds ‘n realiteit. Instink by wilde diere is doodgewoon sterker as enige afrigting. Jy kan ‘n dier tem, maar jy kan nooit heeltemal die instink beheer nie. As jy weghardloop van ‘n cheetah, selfs in ‘n beheerde omgewing, sal hy jou probeer vang.
Dit is nie anders in die geestelike lewe nie. Ons leef in ‘n wêreld wat van God afvallig geraak het. In ‘n wêreld wat leef asof Hy nie bestaan nie. En die suigkrag van hierdie sondige wêreld kom nie net van buite af na ons toe nie. Dit is binne ons. Dit is deel van ons. Dit is deel van ons sondige natuur.
Ons het deel gekry aan God se natuur. Watter genade! So het ons in 2 Petrus 1 gelees. Maar die sondige natuur bly steeds lewendig in ons. En God se natuur en ons sondige natuur is in ‘n voortdurende konflik met mekaar. Soos ek met die grafika probeer illustreer. Die water en die vuur in stryd met mekaar in ons harte.
Wat is die oplossing?
Wat is die oplossing dan vir die konflik binne ons? Hoe kry ons dit reg dat ons nie kop verloor soos Bruce, die groot wit dood haai, nie.
Kom ons lees wat Paulus daaroor skryf in Galasiërs 5:
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS
Download the English Translation: Live by the Spirit – Galations 5_13-26 (more…)