Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08
VERWELKOMING
Ons erediens gaan vandag ten diepste oor ons identiteit.- Ons identiteit is dikwels gekoppel aan ‘n bepaalde plek, bv. mense wat sê: “ons is Bosvelders”.
- Soms is dit gekoppel aan ‘n bepaalde werk wat ons doen of aan ‘n besondere lewensstyl.
- Dit is meestal ook gekoppel aan ons moedertaal.
- Maar vir Christene word ons identiteit ten diepste bepaal deur wat God van ons dink en die soort verhouding waarin ons met Hom leef.
- Wat is jou kern-identiteit?
- Wie is jy regtig?
- Praat in stilte met God daaroor en wy jouself opnuut aan Hom.
- Raak bewus van die feit dat God hier is en jou uitnooi om by Hom te kom rus.
- Dink dan daaraan dat dit deel van jou identiteit is - dat jy iemand is wat by God rus vind.
VOTUM EN SEËNGROET
LOFLIEDERE
‘n Christelike identiteit gaan in die eerste plek oor ‘n gerigtheid op God.Die eerste woord wanneer ons byvoorbeeld oor die NG Kerk identiteit praat, behoort nie “Gereformeerd” te wees nie. Ons is nie in die eerste plek “Gereformeerdes” nie. Ons is in die eerste plek “christene”, mense wat aan God behoort en in Hom leef en wandel.
Ons bely dus nie ‘n Gereformeerde geloof nie, maar, saam met die kerk van die eeue, bely ons die Christelike geloof (soos byvoorbeeld in die twaalf artikels opgesom).
Tog weet ons dat hierdie Christelike geloof nie “uit die lug” val nie.
Daar lê ‘n interpretasie en ‘n geskiedenis daaragter.
En in ons geval, verstaan ons die algemene christelike geloof, wat al vanaf die apostels kom, vanuit ‘n Gereformeerde perspektief. Die sinode het verlede jaar ‘n dokument oor Gereformeerde Identiteit goedgekeur en ek het dit opgelaai op die voorblad van ons webtuiste. Dit bevat nege kernpunte oor God, die kerk, die koninkryk, die verbond ens. Ek sal bly wees as julle dit daar aflaai en lees.
Om ons geloof te vier, bely ons graag ons geloof in woord en sang. En die diepste hart van ons geloof, van enige Christen se lewe, is ons Here Jesus Christus. Ons liedere gaan dus uitmond in ‘n loflied op Hom.
- Lied 154 “Kom nou tesaam , laat ons vergader” staan
- Lied 167 “Jesus , bron van al my vreugde” staan
- Lied 177 “Jesus , gróót bo almal”(x2) sit